Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jehovah se genade en geregtigheid na

Volg Jehovah se genade en geregtigheid na

“Lewer julle regspraak met ware geregtigheid; en bewys liefderyke goedhartigheid en barmhartighede aan mekaar.”—SAG. 7:9.

LIED: 125, 88

1, 2. (a) Hoe het Jesus oor God se Wet gevoel? (b) Hoe het die skrifgeleerdes en Fariseërs die Wet verkeerd toegepas?

JESUS was lief vir die Wet van Moses. Dit verbaas ons nie, want hierdie Wet kom van sy Vader, Jehovah, die belangrikste Persoon in sy lewe. Jesus se liefde vir die wet van God was voorspel en opgeteken in Psalm 40:8: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande.” Jesus het met sy woorde en dade gewys dat God se Wet volmaak was, dat mense daarby kon baat vind en dat alles daarin waar sou word.—Matt. 5:17-19.

2 Jesus moes baie hartseer gewees het om te sien hoe die skrifgeleerdes en Fariseërs sy Vader se Wet verkeerd toepas! Hulle het die kleinste besonderhede van die Wet gehoorsaam. Jesus het gesê: “Julle gee die tiende van die kruisement en die dille en die komyn.” Wat was die probleem? Jesus het verduidelik: “Maar julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid” (Matt. 23:23). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het te veel op die besonderhede van die Wet  gefokus. Maar Jesus het die beginsels van die Wet verstaan en wat dit van Jehovah leer.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 As Christene hoef ons nie meer die Wet van Moses te gehoorsaam nie (Rom. 7:6). Maar Jehovah het hierdie Wet in die Bybel laat opteken. Hy wil nie hê dat ons op die besonderhede van die Wet moet fokus nie. Hy wil hê dat ons die “gewigtiger sake” van die Wet moet verstaan en toepas, met ander woorde die beginsels waarop die Wet gebaseer is. Byvoorbeeld, watter beginsels leer ons uit die reëling van die vrystede? In die vorige artikel het ons gekyk na wat die vlugteling moes doen, en ’n paar lesse daaruit geleer. Maar die vrystede leer ons ook iets oor Jehovah en hoe ons sy eienskappe kan navolg. Hierdie artikel sal drie vrae beantwoord: Hoe wys die vrystede dat Jehovah genadig is? Wat vertel dit ons oor God se beskouing van lewe? Hoe wys dit dat God se geregtigheid volmaak is? Gebruik hierdie vrae om te sien hoe jy jou hemelse Vader kan navolg.—Lees Efesiërs 5:1.

WAAR DIE VRYSTEDE WAS—’N BEWYS VAN JEHOVAH SE GENADE

4, 5. (a) Wat was gedoen om dit vir vlugtelinge maklik te maak om na die vrystede te vlug, en waarom? (b) Wat leer dit ons van Jehovah?

4 Dit was maklik om by die ses vrystede uit te kom. Jehovah het vir die Israeliete gesê om drie stede aan albei kante van die Jordaanrivier te kies. Hoekom? Sodat enige vlugteling maklik en vinnig na ’n vrystad kon vlug (Num. 35:11-14). Die paaie na die vrystede was in ’n goeie toestand gehou (Deut. 19:3). Volgens Joodse tradisie was daar padtekens langs die pad om die vlugteling te help om die stad te vind. Omdat daar vrystede was, was dit nie vir ’n vlugteling nodig om na ’n ander land toe te vlug nie. Daar kon hy dalk in die versoeking kom om valse gode te begin aanbid.

5 Dink hieraan: Jehovah het beveel dat ’n moordenaar doodgemaak moet word. Maar hy het ook seker gemaak dat iemand wat ’n ander persoon per ongeluk doodgemaak het, genade bewys kon word en beskerming kon kry! ’n Bybelkommentator het geskryf: “Dit was maklik vir ’n vlugteling om baat te vind by die reëling van die vrystede. Dit was ’n bewys van God se genade.” Jehovah is nie ’n wrede regter wat net sy knegte wil straf nie. Hy is eerder ’n God “wat ryk is in barmhartigheid”, of genade.—Ef. 2:4.

6. Het die Fariseërs God se genade nagevolg? Verduidelik.

6 Die Fariseërs was nie bereid om genadig te wees nie. Hulle het byvoorbeeld volgens tradisie ’n persoon net drie keer vir dieselfde fout vergewe. Jesus het gewys hoe verkeerd hierdie gesindheid was deur ’n illustrasie  te gebruik. Hy het vertel van ’n Fariseër en ’n belastinggaarder wat naby mekaar gestaan en bid het. Die belastinggaarder het nederig vir God se genade gebid. Maar die Fariseër het gebid: “O God, ek dank u dat ek nie soos die res van die mense is nie: afpersers, onregverdig, egbrekers, of selfs soos hierdie belastinggaarder.” Hoekom was die Fariseërs nie bereid om genadig te wees nie? Die Bybel sê dat hulle ander “as niks beskou het nie”.—Luk. 18:9-14.

Is die “pad” na jou vergifnis altyd oop en in ’n goeie toestand? Wees nederig en maklik om mee te praat (Sien paragraaf 4-8)

7, 8. (a) Hoe kan jy Jehovah navolg as iemand teen jou sondig? (b) Hoekom moet ons nederig wees om ander te kan vergewe?

7 Volg Jehovah na, en nie die Fariseërs nie. Wees genadig. (Lees Kolossense 3:13.) Maak dit vir ander maklik om jou te vra om hulle te vergewe (Luk. 17:3, 4). Vra jou af: ‘Is ek gou om ander te vergewe, selfs al het hulle my ’n paar keer seergemaak? Wil ek graag vrede maak met iemand wat my seergemaak het?’

8 Om ander te kan vergewe, moet ons nederig wees. Die Fariseërs het gedink dat hulle beter as ander is, en daarom was hulle nie bereid om ander te vergewe nie. Maar as Christene moet ons nederig wees en ‘ander hoër as onsself ag’ en hulle vryelik vergewe (Fil. 2:3). Sal jy Jehovah navolg en nederig wees? Hou die “pad” na jou vergifnis altyd oop en in ’n goeie toestand. Wees gou om te vergewe en stadig om aanstoot te neem.—Pred. 7:8, 9.

RESPEKTEER LEWE, EN ‘GEEN BLOEDSKULD SAL OP JOU KOM NIE’

9. Hoe het Jehovah die Israeliete gehelp om te sien dat lewe heilig is?

9 Een van die hoofredes vir die vrystede was om die Israeliete teen bloedskuld te beskerm (Deut. 19:10). Lewe is kosbaar vir Jehovah en hy haat “hande wat onskuldige bloed vergiet” (Spr. 6:16, 17). Omdat God heilig en regverdig is, kon hy selfs nie ’n lewe wat per ongeluk geneem is, ignoreer nie. Dit is waar dat ’n persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het, genade bewys kon word. Maar hy moes eers sy saak met die ouer manne bespreek. As hulle gesê het dat dit wel ’n ongeluk was, dan moes die vlugteling in die vrystad bly totdat die hoëpriester dood is. Dit kon beteken dat hy sy hele lewe lank daar sou moes bly. Hierdie reëling het dit vir die Israeliete duidelik gemaak dat lewe heilig is. Om hulle Lewegewer te eer, moes hulle alles moontlik doen om nie ander se lewe in gevaar te stel nie.

10. Hoe het die skrifgeleerdes en Fariseërs volgens Jesus gewys dat lewe nie vir hulle kosbaar was nie?

10 Die skrifgeleerdes en Fariseërs het gewys dat lewe nie vir hulle kosbaar was nie. Hoe so? Jesus het gesê: “Julle het die sleutel van die kennis weggeneem; julle het self nie ingegaan nie, en dié wat ingaan, het julle verhinder!” (Luk. 11:52). Hulle was veronderstel om die mense te help om God se Woord te verstaan en die ewige lewe te kry. Maar die skrifgeleerdes en Fariseërs het mense gekeer  om Jesus, “die Hoofbewerker van die lewe”, te volg. Hulle het die mense eerder op die pad na vernietiging gelei (Hand. 3:15). Die Fariseërs was trots en selfsugtig, en daarom was ander mense se lewe nie vir hulle kosbaar nie. Hoe wreed en genadeloos!

11. (a) Hoe het die apostel Paulus gewys dat hy God se beskouing van lewe gehad het? (b) Wat sal ons help om so ywerig soos Paulus in die bediening te wees?

11 Hoe kan ons Jehovah navolg en nie soos die skrifgeleerdes en Fariseërs wees nie? Ons moet lewe respekteer en dit moet vir ons kosbaar wees. Die apostel Paulus het dit gedoen deur die goeie nuus van die Koninkryk aan soveel mense as moontlik te verkondig. Daarom kon hy sê dat hy “rein is van die bloed van alle mense”. (Lees Handelinge 20:26, 27.) Maar het Paulus gepreek omdat hy skuldig gevoel het of omdat Jehovah gesê het dat hy dit moet doen? Nee. Paulus was lief vir mense. Hulle lewe was vir hom kosbaar en hy wou hê dat hulle die ewige lewe moes kry (1 Kor. 9:19-23). Ons moet dieselfde beskouing van lewe hê as Jehovah. Hy wil hê “dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9). Ons moet Jehovah navolg en ook lief wees vir mense. As ons genadig is, sal dit ons motiveer om ywerig te preek en sal dit ons baie gelukkig maak.

12. Hoekom is veiligheid belangrik vir God se knegte?

12 Ons wys ook dat ons Jehovah se beskouing van lewe het as ons die regte beskouing van veiligheid het. Ons moet versigtig ry en veilig werk, selfs wanneer ons bouwerk of herstelwerk aan plekke van aanbidding doen of daarheen ry. Mense, veiligheid en gesondheid is altyd belangriker as om tyd en geld te spaar. Ons regverdige God doen altyd wat reg is, en ons wil graag soos hy wees. Ouer manne het die verantwoordelikheid om aan hulle en ander se veiligheid te dink (Spr. 22:3). Daarom moet jy luister as ’n ouer man jou aan veiligheidsreëls herinner (Gal. 6:1). As jy Jehovah se beskouing van lewe het, sal “geen bloedskuld op jou kom nie”.

“OORDEEL VOLGENS HIERDIE REGSBESLISSINGS”

13, 14. Hoe kon die ouer manne in Israel Jehovah se geregtigheid navolg?

13 Jehovah het vir die ouer manne in Israel gesê om sy geregtigheid na te volg. Die ouer manne moes eers al die feite bymekaarkry. Dan moes hulle die motief, gesindheid en vorige dade van die moordenaar versigtig oorweeg. Hulle kon dan eers besluit of hulle genadig sou wees. Om God se geregtigheid na te volg, moes hulle besluit of die vlugteling “uit haat” opgetree het en die persoon aspris doodgemaak het. (Lees Numeri 35:20-24.) As daar getuies was, moes daar ten minste twee wees voordat ’n moordenaar veroordeel kon word.—Num. 35:30.

14 Nadat hulle uitgevind het wat presies gebeur het, moes die ouer manne aan die persoon dink, nie net aan sy sonde nie. Hulle het insig nodig gehad om dieper in die situasie te kyk en om te verstaan wat gebeur het. Maar hulle het veral Jehovah se heilige gees nodig gehad sodat hulle sy insig, genade en geregtigheid kon navolg.—Eks. 34:6, 7.

15. Hoe was Jesus se beskouing van sondaars anders as die van die Fariseërs?

15 Die Fariseërs het net gefokus op wat die sondaar gedoen het en nie op watter tipe persoon hy was nie. Toe die Fariseërs gesien het dat Jesus in Matteus se huis was en saam met hom geëet het, het hulle Jesus se dissipels gevra: “Waarom eet julle leermeester saam met belastinggaarders en sondaars?” Jesus het hulle gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel. Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid  hê en nie offerandes nie.’ Want ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars” (Matt. 9:9-13). Het Jesus vir sondaars verskonings gemaak? Glad nie. Hy wou hê dat hulle berou moes toon. Dit was ’n belangrike deel van die boodskap wat hy verkondig het (Matt. 4:17). Maar Jesus het besef dat party van hierdie “belastinggaarders en sondaars” wou verander. Hulle was nie by Matteus se huis net om te eet nie. Hulle was daar omdat hulle Jesus begin volg het (Mark. 2:15). Ongelukkig het die Fariseërs nie gesien wat Jesus in hierdie mense gesien het nie. Hulle beskouing was heeltemal anders as Jehovah s’n, ’n regverdige en genadige God. Hulle het nie geglo dat mense kan verander nie en hulle het gedink dat daar geen hoop vir hulle is nie.

16. Wat moet ’n regterlike komitee probeer vasstel?

16 “Jehovah het geregtigheid lief” en ouer manne moet hom navolg (Ps. 37:28). Hulle moet eers “navors en deeglik navraag doen” om vas te stel of ’n sonde gepleeg is. As dit die geval is, sal hulle die Bybel gebruik om te besluit wat hulle gaan doen (Deut. 13:12-14). Wanneer hulle op ’n regterlike komitee dien, moet hulle die feite versigtig oorweeg om vas te stel of die persoon wat ernstig gesondig het, berouvol is. Dit is nie maklik om vas te stel of ’n persoon berouvol is nie. Berou sluit in hoe iemand voel oor wat hy gedoen het en wat in sy hart is (Op. 3:3). ’n Sondaar moet berouvol wees as hy wil hê dat genade aan hom bewys moet word. *

17, 18. Hoe weet die ouer manne of ’n Christen werklik berouvol is? (Sien prent aan begin van artikel.)

17 Die ouer manne kan nie soos Jehovah en Jesus mense se harte lees nie. As jy ’n ouer man is, hoe kan jy weet of iemand werklik berouvol is? Eerstens, bid vir wysheid en onderskeidingsvermoë (1 Kon. 3:9). Tweedens, gebruik God se Woord en die publikasies van die getroue slaaf om te onderskei of ’n persoon “droefheid van die wêreld” het en of hy “op ’n goddelike wyse bedroef” is, dit wil sê ware berou het (2 Kor. 7:10, 11). Kyk hoe die Bybel persone beskryf wat berouvol en onberouvol was, wat hulle gesindheid was, hoe hulle gevoel het en wat hulle gedoen het.

18 Derdens, dink aan die persoon, nie net aan wat hy gedoen het nie. Dink aan sy agtergrond, sy motiewe en sy beperkings. Die Bybel het oor die hoof van die Christengemeente, Jesus, voorspel: “Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie. En met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, en met billikheid sal hy teregwysing gee ten behoewe van die sagmoediges van die aarde” (Jes. 11:3, 4). Ouer manne, julle is Jesus se onderherders, en hy sal julle help om soos hy te oordeel (Matt. 18:18-20). Ons is baie dankbaar dat ons ouer manne het wat vir ons omgee en wat Jesus wil navolg! Ons waardeer die moeite wat hulle doen om genade en geregtigheid in die gemeente te bevorder!

19. Watter les oor die vrystede wil jy graag toepas?

19 “Die raamwerk van die kennis en van die waarheid” oor Jehovah en sy regverdige beginsels was in die Wet van Moses (Rom. 2:20). Die vrystede leer ouer manne hoe om “met ware geregtigheid” te oordeel, en dit leer ons hoe om lojale liefde en genade aan ander te betoon (Sag. 7:9). Ons hoef nie meer die Wet te gehoorsaam nie, maar Jehovah verander nie. Geregtigheid en genade is nog steeds vir hom belangrik. Dit is ’n voorreg om so ’n God te aanbid. Laat ons sy pragtige eienskappe navolg en hom ons toevlug maak!

^ par. 16 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 September 2006, bl. 30.