Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrede — Hoe kan jy dit vind?

Vrede — Hoe kan jy dit vind?

ONS lewe in ’n wêreld waar daar baie probleme is, en daarom moet ons hard werk as ons ware vrede wil hê. Maar selfs wanneer ons ’n mate van vrede het, sukkel ons baie keer om dit te behou. Hoe kan God se Woord ons help om ware en blywende vrede te vind? En hoe kan ons ander help om dit ook te doen?

WAT IS NODIG SODAT ONS WARE VREDE KAN HÊ?

Om ware vrede te geniet, moet ons ’n gevoel van veiligheid en innerlike kalmte hê. Ons het ook goeie vriende nodig. Maar nog belangriker, om blywende vrede te geniet, moet ons ’n hegte vriendskap met God hê. Hoe kan ons so ’n vriendskap opbou?

Die probleme van die lewe veroorsaak dat mense hulle vrede verloor

Wanneer ons Jehovah se regverdige opdragte gehoorsaam en volgens sy standaarde lewe, wys ons dat ons op hom vertrou en dat ons graag ’n vreedsame verhouding met hom wil hê (Jer. 17:7, 8; Jak. 2:22, 23). As ons dit doen sal hy nader aan ons kom en ons seën met innerlike vrede. Jesaja 32:17 sê: “Die werk van die ware regverdigheid sal vrede word, en die diens van die ware regverdigheid rus en veiligheid tot onbepaalde tyd.” Ons kan ware innerlike vrede kry deur Jehovah uit die hart te gehoorsaam. — Jes. 48:18, 19.

Ons word ook gehelp om blywende vrede te hê deur middel van ’n wonderlike gawe wat ons hemelse Vader ons gee — sy heilige gees. — Hand. 9:31.

GOD SE GEES HELP ONS OM VREDE TE HÊ

Toe die apostel Paulus die vrug van die gees beskryf het, was vrede die derde aspek wat hy genoem het (Gal. 5:22, 23). Aangesien ware vrede ’n vrug van God se gees is, moet ons toelaat dat die heilige gees ons help om ware vrede aan te kweek. Kom ons kyk na twee maniere waarop God se gees ons kan help om vrede te vind.

Eerstens, dit help ons om vrede te hê as ons God se geïnspireerde Woord gereeld lees (Ps. 1:2, 3). Terwyl ons oor die boodskap in die Bybel nadink, help God se gees ons om te verstaan hoe Jehovah oor sake dink. Ons sien byvoorbeeld wat hom motiveer om vreedsaam te bly en hoekom vrede vir hom so belangrik is. Wanneer ons sulke lesse uit God se Woord toepas, het ons meer vrede in ons lewe. — Spr. 3:1, 2.

Tweedens, ons moet bid en God vir sy heilige gees vra (Luk. 11:13). Jehovah belowe dat as ons hom vir hulp vra, “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus [sal] bewaak” (Fil. 4:6, 7). Wanneer ons tot Jehovah bid en hom vir sy gees vra, gee hy ons ’n gevoel van innerlike vrede wat hy net aan persone gee wat ’n hegte vriendskap met hom het. — Rom. 15:13.

Hoe het party hierdie skriftuurlike raad toegepas en die nodige veranderinge gemaak sodat hulle blywende vrede met Jehovah, hulleself en ander mense kon geniet?

HOE HULLE BLYWENDE VREDE GEVIND HET

Vandag is daar party broers en susters in die Christengemeente wat voorheen gou kwaad geword het, maar wat nou meer bedagsaam, goedhartig, geduldig en vreedsaam teenoor ander is (Spr. 29:22). * Kom ons kyk hoe ’n broer en suster gehelp is om hulle woede te beheer en vrede met ander te geniet.

Ons sal vrede vind as ons Bybelbeginsels toepas en God vir sy heilige gees vra

David se slegte gesindheid het die manier waarop hy met mense gepraat het, beïnvloed. Voordat hy sy lewe aan God toegewy het, was hy baie krities teenoor ander, en hy het op ’n lelike manier met sy familie gepraat. Later het David besef dat hy moet verander en vreedsaam teenoor ander moet wees. Hoe het hy geleer om vreedsaam te word? Hy sê: “Ek het Bybelbeginsels in my lewe begin toepas, en die gevolg was dat ek en my familie mekaar al hoe meer gerespekteer het.”

Rachel se gesindheid is beïnvloed deur die manier waarop sy grootgemaak is. Sy erken: “Tot vandag toe raak ek maklik kwaad omdat ek in ’n huis grootgeword het waar almal kort-kort vir mekaar kwaad was.” Wat het haar gehelp om meer vreedsaam te wees? Sy sê: “Ek het gereeld gebid en Jehovah gevra om my te help.”

David en Rachel is net twee voorbeelde wat vir ons wys dat ons vrede sal hê as ons Bybelbeginsels toepas en God vir sy heilige gees vra. Selfs al lewe ons in ’n vyandige wêreld, kan ons innerlike vrede hê wat ons kan help om eenheid in ons families en met ons broers en susters te geniet. Maar Jehovah spoor ons aan om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees (Rom. 12:18). Is dit regtig moontlik? En hoekom is dit goed vir ons om vrede met ander te probeer maak?

STREEF VREDE MET ANDER NA

Wanneer ons velddiens doen, nooi ons mense om baat te vind by ons vreedsame boodskap oor die Koninkryk van God (Jes. 9:6, 7; Matt. 24:14). Ons is bly dat so baie mense op hierdie boodskap reageer. Hulle word nie meer moedeloos of kwaad oor die dinge wat hulle rondom hulle sien gebeur nie. Hulle het eerder ’n ware hoop vir die toekoms en word gemotiveer om ‘vrede te soek en dit na te streef’. — Ps. 34:14.

Nie almal sal dalk die eerste keer wanneer ons met hulle praat na ons boodskap luister nie (Joh. 3:19). Maar God se gees help ons om hulle op ’n vreedsame en respekvolle manier van die goeie nuus te vertel. Só volg ons die raad wat Jesus ons in Matteus 10:11-13 gegee het: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense; en as die huis verdienstelik is, laat die vrede wat julle dit toewens, daaroor kom; maar as dit nie verdienstelik is nie, laat julle vrede na julle toe terugkeer.” Wanneer ons Jesus se raad volg, behou ons ons vrede, en ons hoop dat die persoon volgende keer sal luister.

Ons kan ook help om die vrede te bewaar wanneer ons op ’n respekvolle manier met staatsamptenare praat, insluitende diegene wat ons werk teëstaan. Byvoorbeeld, die regering van ’n land in Afrika het nie van ons werk gehou nie, en daarom wou hulle nie toestemming gee dat Koninkryksale daar gebou word nie. ’n Broer wat voorheen as ’n sendeling daar gedien het, is gevra om die Hoë Kommissaris van daardie land in Londen, Engeland, te gaan sien in die hoop dat die saak op ’n vreedsame manier opgelos kon word. Sy doel was om die amptenaar oor die vreedsame werk van Jehovah se Getuies in daardie Afrikaland te vertel. Hoe het hierdie besoek afgeloop?

Hy vertel: “Toe ek by die ontvangstoonbank kom en sien hoe die ontvangsdame aangetrek is, het ek besef dat sy aan ’n stam behoort wie se taal ek kon praat. Toe groet ek haar in haar eie taal. Sy was verbaas en het gevra: ‘Wat is die rede vir u besoek?’ Ek het vriendelik vir haar gesê dat ek graag die Hoë Kommissaris wil sien. Sy het hom gebel, en hy het toe uitgekom om my te ontmoet en my in die plaaslike taal gegroet. Daarna het hy aandagtig geluister terwyl ek hom van die vreedsame werk van die Getuies vertel het.”

Die respekvolle manier waarop die broer ons werk verduidelik het, het enige verkeerde idees oor ons werk reggestel en die kommissaris gehelp om nie meer bevooroordeeld te wees nie. Later het die regering van daardie Afrikaland die beperkings op ons bouwerk opgehef. Die broers was baie gelukkig oor hierdie vreedsame oplossing! Ja, as ons ander met respek behandel, kan dit tot baie goeie resultate lei, insluitende vrede.

EWIGE VREDE VIR GOD SE KNEGTE

Vandag geniet Jehovah se knegte dit om in ’n geestelike paradys te lewe waarin daar vrede is. Jy sal help om hierdie vrede te bevorder as jy daaraan werk om hierdie aspek van die vrug van die gees in jou lewe aan te kweek. Nog belangriker, jy sal God se goedkeuring kry en blywende vrede in God se nuwe wêreld geniet. — 2 Pet. 3:13, 14.

^ par. 13 Die eienskap van goedhartigheid, of vriendelikheid, sal in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks oor die vrug van die gees bespreek word.