Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Doof, maar nogtans ’n ywerige prediker

Doof, maar nogtans ’n ywerige prediker

Ek is in 1941 gedoop toe ek 12 jaar oud was. Maar ek het eers in 1946 Bybelwaarhede werklik verstaan. Hoe was dit moontlik? Kom ek vertel jou my storie.

MY OUERS het ongeveer in 1910 van Tbilisi, Georgië, na Kanada geïmmigreer. Hulle het in ’n klein plaashuisie naby Pelly, Saskatchewan, in die westelike deel van Kanada gaan bly. Ek is in 1928 gebore en was die jongste van ses kinders. My pa is ses maande voor my geboorte oorlede en my ma is oorlede toe ek nog ’n baba was. Nie lank daarna nie is my oudste suster, Lucy, op die ouderdom van 17 oorlede. Daarna het my oom Nick na my en my broers en susters gekyk.

Toe ek nog ’n baie klein seuntjie was, het my oom-hulle gesien hoe ek eendag aan ’n hings se stert trek. Hulle was bang dat die perd my sou skop en het geskree dat ek daar moet wegkom, maar ek het nie gereageer nie. Ek het met my rug na hulle toe gestaan en ek het nie gehoor hoe hulle skree nie. Gelukkig het niks gebeur nie, maar op daardie dag het hulle besef dat ek doof is.

’n Vriend van my oom het voorgestel dat ek na ’n skool vir dowes gaan. Oom Nick het my na die skool vir dowes in Saskatoon, Saskatchewan, gevat. Die skool was ’n paar ure van die huis af weg. Ek was maar net vyf jaar oud en doodbang. Ek kon net skoolvakansies huis toe gaan. Maar ek het gebaretaal geleer en lekker saam met die ander kinders gespeel.

EK LEER BYBELWAARHEDE

In 1939 het my suster Marion met Bill Danylchuck getrou en ek en my suster Frances het by hulle gaan bly. Hulle was die eerste van ons familie wat kontak met Jehovah se Getuies gehad het. Gedurende skoolvakansies het hulle hulle bes gedoen om my te leer wat hulle uit die Bybel geleer het. Dit was regtig moeilik om met hulle te kommunikeer omdat hulle nie gebaretaal gepraat het  nie. Maar hulle kon sien dat ek baie lief vir geestelike dinge is. Ek kon sien dat hulle probeer toepas wat hulle uit die Bybel geleer het, en ek het saam met hulle gegaan wanneer hulle gaan preek het. Nie lank daarna nie wou ek gedoop word. Op 5 September 1941 het Bill my in ’n staaldrom vol putwater gedoop. Die water was ysig koud!

Saam met ’n groep dowes by ’n byeenkoms in Cleveland, Ohio, in 1946

In 1946 het ek gedurende die skoolvakansie huis toe gegaan en ons het ’n byeenkoms in Cleveland, Ohio, VSA, bygewoon. Op die eerste dag van die byeenkoms het my susters beurte gemaak om vir my notas te skryf sodat ek die program kon volg. Maar op die tweede dag was ek baie bly om te hoor dat daar ’n dowe groep was met iemand wat die toesprake vir hulle tolk. Uiteindelik kon ek ook die program geniet en dit was wonderlik om vir die eerste keer Bybelwaarhede duidelik te verstaan!

EK LEER BYBELWAARHEDE AAN ANDER

Die Tweede Wêreldoorlog het pas geëindig en almal was baie nasionalisties. Ná die byeenkoms was ek vasbeslote om getrou aan Jehovah te bly. By die skool het ek opgehou om die vlag te salueer en die volkslied in gebaretaal te sing. Ek het ook nie meer die vakansies gevier en saam met die ander kinders kerk toe gegaan nie. Die personeel by die skool was glad nie gelukkig nie en het my geboelie en leuens vertel om my sover te probeer kry om nie by my oortuigings te bly nie. Dit het nogal ’n konsternasie veroorsaak, maar dit het my die geleentheid gegee om vir my skoolmaats te getuig. Van my skoolmaats soos Larry Androsoff, Norman Dittrick en Emil Schneider het uiteindelik die waarheid aanvaar en dien Jehovah tot vandag toe getrou.

Wanneer ek ander plekke besoek, probeer ek om altyd vir dowes te getuig. Ek het byvoorbeeld by ’n klub vir dowes in Montreal vir Eddie Taeger, ’n jong man wat ’n bendelid was, getuig. Tot sy dood verlede jaar was hy in die gebaretaalgemeente in Laval, Quebec. Ek het ook vir Juan Ardanez ontmoet. Hy was net soos die Bereane wat ywerig navorsing gedoen het om te sien of wat hy geleer het met die Bybel ooreenstem (Hand. 17:10, 11). Hy het ook die waarheid aanvaar en het tot sy dood toe getrou as ’n ouer man in Ottawa, Ontario, gedien.

Straatgetuieniswerk in die vroeë 1950’s

In 1950 het ek Vancouver toe getrek. Hoewel ek daarvan hou om vir dowes te getuig, is daar een ondervinding met ’n horende vrou wat ek nie sal vergeet nie. Ek het vir Chris Spicer op straat getuig en sy het ’n intekening op die tydskrifte aanvaar. Sy wou hê dat ek haar man, Gary, moes  ontmoet en ek het hulle by die huis besoek. Ons het ’n lekker lang gesprek gehad deur vir mekaar notas te skryf. Ek het hulle nie weer gesien totdat ons mekaar ’n paar jaar later by ’n byeenkoms in Toronto, Ontario, raakgeloop het nie. Dit was Gary se doopdag. Hierdie wonderlike ondervinding het my net weer laat besef hoe belangrik dit is om vir almal te getuig, want ons weet nie wie die waarheid sal aanvaar nie.

Ek het later teruggetrek Saskatoon toe. Daar het ek ’n vrou ontmoet wat my gevra het om met haar dowe tweelingdogters, Jean en Joan Rothenberger, te studeer. Hulle was in dieselfde skool vir dowes waar ek was. Die twee meisies het sommer gou-gou vir die kinders vertel wat hulle geleer het. Vyf uit hulle klas het Jehovah se Getuies geword. Een van hulle was Eunice Colin. Ek het haar ontmoet toe ek in my laaste jaar op skool was. Sy het vir my ’n lekker gegee en gevra of ons vriende kan wees. Sy het later ’n groot rol in my lewe gespeel—sy het my vrou geword!

Saam met Eunice in 1960 en 1989

Toe Eunice se ma uitvind dat sy die Bybel studeer, het sy die skoolhoof gevra om Eunice om te praat om op te hou studeer. Hy het selfs haar boeke afgevat. Maar Eunice was vasbeslote om getrou aan Jehovah te bly. Toe sy gedoop wou word, het haar ouers gesê: “As jy een van Jehovah se Getuies wil wees, dan moet jy jou goed vat en loop!” Toe Eunice 17 jaar oud was, is sy by die huis weg en het sy by ’n gawe Getuie-gesin gaan bly. Sy het aangehou studeer en is later gedoop. Ons is in 1960 getroud en haar ouers het nie die troue bygewoon nie. Ná baie jare het hulle ons gerespekteer vir ons oortuigings en die manier waarop ons ons kinders grootgemaak het.

 JEHOVAH HET VIR MY GESORG

My seun Nicholas en sy vrou, Deborah, dien by die Bethel in Londen

Ons het as dowe ouers sewe horende seuns grootgemaak. Dit was glad nie maklik nie, maar ons het hulle gebaretaal geleer sodat ons mekaar goed kon verstaan en sodat ons vir hulle die waarheid kon leer. Die broers en susters in die gemeente het ons baie gehelp. Byvoorbeeld, iemand in die gemeente het vir ons ’n briefie gegee om ons te laat weet dat een van ons seuns in die Koninkryksaal lelik gepraat het. Ons het hom net daar vasgevat. Vier van ons seuns, James, Jerry, Nicholas en Steven, dien Jehovah getrou saam met hulle vrouens en kinders. Hulle is al vier ouer manne. Nicholas en sy vrou, Deborah, dien by die takkantoor in Brittanje en help met gebaretaalvertaling. Steven en sy vrou, Shannan, dien by die takkantoor in die Verenigde State en is deel van die vertaalspan vir gebaretaal.

My seuns James, Jerry en Steven werk saam met hulle vrouens in die gebaretaalveld

’n Maand voor ons 40ste huweliksherdenking is Eunice aan kanker oorlede. In hierdie moeilike tyd het sy nie moed verloor nie. Haar geloof in die opstanding het haar sterk gehou. Ek sien baie uit na die dag wanneer ek haar weer sal sien.

Faye en James, Jerry en Evelyn, Shannan en Steven

In Februarie 2012 het ek geval en my heup gebreek en kon nie meer op my eie regkom nie. Toe het ek by een van my seuns gaan bly. Ons is nou in die gebaretaalgemeente in Calgary en ek dien nog steeds as ’n ouer man. Dit is eintlik die eerste keer wat ek in ’n gebaretaalgemeente is. Stel jou dit voor! Hoe het ek al die jare, van 1946 af, in ’n Engelse gemeente geestelik sterk gebly? Jehovah het sy belofte nagekom om vir vaderlose seuns te sorg (Ps. 10:14). Ek is baie dankbaar vir almal wat notas geskryf het, gebaretaal geleer het en hulle bes gedoen het om vir my te tolk.

By ’n pionierdiensskool in Amerikaanse gebaretaal toe ek 79 jaar oud was

Om die waarheid te sê, soms was ek gefrustreerd en wou ek tou opgooi. Ek kon partykeer nie verstaan wat hulle sê nie en soms het ek ook gedink dat hulle nie die behoeftes van die dowes in ag neem nie. Dan het ek altyd aan Petrus se woorde gedink toe hy vir Jesus gesê het: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:66-68). Soos baie ander dowe broers en susters van daardie jare het ek geleer om geduldig te wees. Ek het geleer om op Jehovah en sy organisasie te wag en ek het beslis daarby baat gevind! Nou het ek baie geestelike voedsel in my eie taal en ek geniet dit om die vergaderinge en byeenkomste in Amerikaanse gebaretaal by te woon. Ek het regtig ’n gelukkige en bevredigende lewe geniet in die diens van Jehovah, ons groot God.