Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah het my nooit in die steek gelaat nie!

Jehovah het my nooit in die steek gelaat nie!

Ek was een van vier dogtertjies wat eenkeer vir Adolf Hitler ná een van sy toesprake blomme gegee het. Hoekom is ek gekies? My pa was baie betrokke by die Nazi’s en was die chauffeur van die leier van ’n plaaslike afdeling van daardie party. My ma was ’n getroue Katoliek en wou hê dat ek ’n non word. Al het my ouers sterk oor hierdie dinge gevoel, het ek nie ’n Nazi of ’n non geword nie. Kom ek vertel julle hoekom nie.

EK HET in Graz, Oostenryk, grootgeword. Toe ek sewe was, is ek na ’n skool gestuur om godsdiensopleiding te kry. Maar die onsedelikheid wat ek tussen die priesters en nonne gesien het, was skokkend. Daarom het my ma my toegelaat om die skool te verlaat nog voordat die jaar verby was.

Ons gesin saam met my pa, wat sy militêre uniform aanhet

Ek het later na ’n kosskool gegaan. My pa het my een aand kom haal en na veiligheid geneem omdat die bomaanvalle op Graz baie erg was. Ons het in die dorpie Schladming gaan skuiling soek. Net nadat ons daar aangekom het en oor ’n brug gegaan het, is die brug opgeblaas. En eenkeer het vliegtuie laag oor ons huis gevlieg en op my en my ouma geskiet. Aan die einde van die oorlog het dit gelyk asof die kerk en die regering ons in die steek gelaat het.

EK SIEN HOE JEHOVAH MY ONDERSTEUN

In 1950 het een van Jehovah se Getuies met my ma oor die Bybel se boodskap gepraat. Ek het na hulle gesprekke geluister en selfs saam met my ma na party van hulle gemeentelike vergaderinge gegaan. Sy het besef dat Jehovah se Getuies die waarheid het, en is in 1952 gedoop.

Eers was die plaaslike gemeente vir my soos ’n klub vir ou tannies. Maar later het ons ’n gemeente besoek waar daar baie jongmense was — beslis nie ’n klub vir ou tannies nie! Toe ek weer in Graz was, het ek al die vergaderinge begin bywoon en gou besef dat wat ek leer die waarheid is. Ek het Jehovah ook leer ken as ’n God wat sy knegte nooit in die steek laat nie, nie eers wanneer dit vir ons voel asof ons alleen voor reusagtige uitdagings staan nie. — Ps. 3:5, 6.

Ek wou ander van die waarheid vertel en het met my broer en susters begin. My vier ouer susters was al uit die huis uit en het as onderwyseresse gewerk. Ek het vir hulle gaan kuier in die dorpies waar hulle gebly het en hulle aangemoedig om die Bybel te studeer. My broer en al my susters het later Getuies van Jehovah geword.

’n Week nadat ek van deur tot deur begin preek het, het ek ’n vrou in haar 30’s ontmoet. Ek het ’n Bybelstudie met haar begin en sy het goed gevorder. Sy is gedoop, en later is haar man en twee seuns ook gedoop. Daardie studie het my geestelik diep geraak. Hoekom? Niemand het ooit ’n formele Bybelstudie met my gehou nie. Ek moes elke les baie goed voorberei. Dit was asof ek myself eers moes leer voordat ek my student kon leer! Dit het my regtig gehelp om groot waardering vir die waarheid te kry. Ek het my toewyding aan Jehovah gesimboliseer toe ek in April 1954 gedoop is.

“VERVOLG, MAAR NIE IN DIE STEEK GELAAT NIE”

In 1955 het ek internasionale byeenkomste in Duitsland, Frankryk en Engeland bygewoon. Ek het Albert Schroeder in Londen ontmoet. Hy was ’n instrukteur van die Bybelskool Gilead en was later ’n lid van die Bestuursliggaam. Terwyl ons op ’n toer in die Britse Museum was, het broer Schroeder vir ons ’n paar Bybelmanuskripte met God se naam in Hebreeuse letters gewys. Hy het vir ons verduidelik waarom dit so belangrik is. Dit het my emosioneel en geestelik geraak. Ek was nou meer vasbeslote om die waarheid in God se Woord aan ander bekend te maak.

Saam met my pioniermaat (regs) toe ons in Mistelbach, Oostenryk, as spesiale pioniers gedien het

Op 1 Januarie 1956 het ek as ’n voltydse pionier begin dien. Ek is vier maande later genooi om as ’n spesiale pionier in Oostenryk te dien. Ek is na Mistelbach gestuur, ’n dorp waar daar geen Getuies was nie. Maar daar was ’n probleem. Ek en my pioniermaat het baie van mekaar verskil. Ek was amper 19 en ’n stadsmeisie. Sy was 25 en ’n plattelandse meisie. Ek wou soggens laat slaap, maar sy wou vroeg opstaan. Ek kon saans tot laat wakker bly, maar sy wou vroeg gaan inkruip. Ons het die Bybel se raad toegepas, ons verskille uitgestryk en lekker saam gepionier.

Maar ander probleme sou later kop uitsteek. Ons is selfs vervolg, maar “nie in die steek gelaat nie” (2 Kor. 4:7-9). Toe ons eenkeer in ’n plattelandse dorpie gepreek het, het die mense hulle honde losgelaat. Skielik was daar ’n klomp groot blaffende en grommende honde om ons. Ons het mekaar se hande vasgehou, en ek het selfs gebid: “Asseblief Jehovah, as ons moet sterf, laat dit net vinnig gebeur!” Toe die honde amper by ons was, het hulle skielik gestop, hulle sterte gewaai en weggeloop. Ons het gevoel dat Jehovah ons beskerm het. Ons het toe in die hele dorpie gepreek en tot ons verbasing het baie mense na ons geluister. Dalk was hulle verbaas dat die honde niks aan ons gedoen het nie of dat daardie verskriklike ondervinding ons nie afgesit het nie. Party van hulle het selfs later Getuies geword.

Ons het nog ’n nare ondervinding gehad. Die eienaar van die huis waar ons gebly het, het eendag dronk by die huis aangekom. Hy het gedreig dat hy ons gaan doodmaak omdat ons die bure pla. Sy vrou kon hom nie kalmeer nie. Ons kon alles bo in ons kamer hoor. Ons het vinnig stoele voor ons deur geskuif en ons tasse begin pak. Toe ons die deur oopmaak, het die eienaar met ’n groot mes in sy hand op die boonste trap gestaan. Ons is by die agterdeur uit, met al ons goed by die lang tuinpaadjie af en het nooit weer ons voete daar gesit nie!

Ons het by ’n hotel vir ’n kamer gaan vra. Op die ou end het ons amper ’n jaar lank daar gebly. Dit het ons in ons bediening gehelp, want die hotel was in die middel van die dorp en party van ons Bybelstudente wou hulle studie daar hê. Dit was nie lank voordat ons die boekstudie en weeklikse Wagtoring-studie in ons hotelkamer begin hou het nie. Soms het tot 15 mense dit bygewoon.

Ons het meer as ’n jaar lank in Mistelbach gebly. Ek is toe na Feldbach, suidoos van Graz, gestuur. Ek het ’n ander pioniermaat gekry, maar weer eens was daar nie ’n gemeente nie. Ons het in ’n kamertjie bo in ’n houthuisie gebly. Die wind het tussen die houtbalke deur gefluit en ons het die gate met koerante probeer toestop. Ons moes ook water by ’n put gaan haal. Maar dit alles was die moeite werd. Binne ’n paar maande was daar ’n groep. Omtrent 30 lede van een familie met wie ons begin studeer het, het later in die waarheid gekom!

Sulke ondervindinge het my waardering vir Jehovah vergroot. Ek het besef dat hy diegene wat Koninkryksbelange bevorder nooit in die steek laat nie. Al kan mense ons nie help nie, is Jehovah altyd daar om ons te ondersteun. — Ps. 121:1-3.

GOD SE “REGTERHAND VAN REGVERDIGHEID” ONDERSTEUN MY

In 1958 is ’n internasionale byeenkoms by die Yankee-stadion en Polo-terrein in die stad New York gehou. Ek het aansoek gedoen om dit by te woon en die takkantoor in Oostenryk wou toe weet of ek die 32ste klas van die Gileadskool wou bywoon. Ek kon nie anders as om dadelik ja te sê vir so ’n groot voorreg nie!

In die Gileadklas het ek langs Martin Poetzinger gesit. Hy het aaklige dinge in die Nazi-konsentrasiekampe deurgemaak. Hy was ook later ’n lid van die Bestuursliggaam. Martin het soms tydens die les vir my gefluister: “Erika, wat beteken dit in Duits?”

Nathan Knorr het halfpad deur die kursus vir ons gesê wat ons toewysings is. Ek is na Paraguay gestuur. Omdat ek nog te jonk was, moes my pa toestemming gee dat ek na daardie land kon gaan. Nadat hy toestemming gegee het, het ek in Maart 1959 in Paraguay aangekom. Ek en my nuwe pioniermaat moes na ’n sendinghuis in Asunción gaan.

Kort daarna het ek vir Walter Bright ontmoet, ’n sendeling wat die 30ste klas bygewoon het. Ons is later getroud en kon die uitdagings van die lewe saam aanpak. Wanneer ons ook al ’n ernstige probleem gehad het, het ons Jehovah se belofte in Jesaja 41:10 gelees: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk.” Dit het ons die versekering gegee dat God ons nooit in die steek sal laat as ons aan hom getrou bly en sy Koninkryk eerste stel nie.

Ons is later na ’n gebied naby die grens van Brasilië gestuur. Daar het die geestelikes jongmense opgesteek om ons sendinghuis, wat alreeds nie in ’n wonderlike toestand was nie, met klippe te gooi. Maar toe het Walter ’n Bybelstudie met die polisiehoof begin. Hy het seker gemaak dat polisiemanne ons huis ’n week lank oppas, en die moeilikheidmakers het ons toe uitgelos. Ons het kort daarna na ’n beter plek aan die anderkant van die Brasiliaanse grens getrek. Dit was baie beter omdat ons toe vergaderinge in Paraguay en in Brasilië kon hou. Teen die tyd dat ons daar weg is, was daar twee klein gemeentes.

Saam met my man, Walter, toe ons as sendelinge in Asunción, Paraguay, gedien het

JEHOVAH HOU AAN OM MY TE HELP

Die dokters het vir my gesê dat ek nie kinders kan hê nie. Daarom was ons verstom toe ons in 1962 uitvind dat ek swanger is! Ons het later in Hollywood, Florida, naby Walter se familie gaan woon. Ek en Walter kon vir ’n hele paar jaar nie pionier nie. Ons moes vir ons gesin sorg. Maar ons het aangehou om Koninkryksbelange eerste te stel. — Matt. 6:33.

Toe ons in November 1962 in Florida aankom, was ons verbaas om te sien dat die swart broers en die wit broers aparte vergaderinge hou. Hulle het ook nie in dieselfde gebied gepreek nie omdat die plaaslike mense nie daarvan gehou het dat die swart mense met die wit mense meng nie. Maar Jehovah is lief vir mense van alle rasse, en nie lank daarna nie het die broers saam begin vergaderinge hou. ’n Mens kon sien dat dit Jehovah se wil was, want daar is nou tientalle gemeentes in daardie gebied.

Walter het ongelukkig breinkanker gekry en is in 2015 oorlede. Ons was 55 jaar getroud, en hy was ’n wonderlike man vir my. Hy was ’n man wat Jehovah liefgehad het en baie broers gehelp het. Ek sien daarna uit om hom weer fris en gesond te sien wanneer hy opgewek word. — Hand. 24:15.

Ek is dankbaar dat ek al meer as 40 jaar lank in die voltydse diens is en vir die blydskap en seëninge wat dit gebring het. Byvoorbeeld, ek en Walter het gesien hoe 136 van ons Bybelstudente gedoop word. Dit was natuurlik nie altyd maklik nie. Maar ons het nie toegelaat dat dit ons keer om ons getroue God te dien nie. Ons het eerder ons verhouding met hom versterk en gewag dat hy dinge op sy tyd en op sy manier regstel. En hy doen dit! — 2 Tim. 4:16, 17.

Ek verlang baie na Walter, maar my pionierdiens help my om aan te gaan. Om die Bybel met ander te studeer help my baie, veral wanneer ek hulle van die opstandingshoop kan vertel. Ja, Jehovah het my op meer maniere gehelp as wat ek kan opnoem, en hy het my nooit in die steek gelaat nie. Net soos hy belowe het, het hy my ondersteun, my versterk en my vasgehou met sy “regterhand van regverdigheid”. — Jes. 41:10.