Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 STUDIEARTIKEL 25

Vertrou op Jehovah gedurende stresvolle tye

Vertrou op Jehovah gedurende stresvolle tye

“Ek is . . . beswaard in gees.” – 1 SAM. 1:15.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom moet ons na Jesus se waarskuwing luister?

JESUS het in sy profesie oor die laaste dae gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met . . . sorge van die lewe” nie (Luk. 21:34). Ons moet na hierdie waarskuwing luister. Hoekom? Want vandag ondervind elkeen van ons stresvolle probleme.

2. Watter stresvolle probleme ondervind ons broers en susters?

2 Soms ondervind ons ’n hele paar stresvolle probleme op dieselfde tyd. Kyk na die volgende voorbeelde. ’n Getuie met die naam John, * wat aan veelvuldige sklerose ly, se hart was gebreek toe sy vrou hom ná 19 jaar los. Toe het sy twee dogters opgehou om Jehovah te dien. ’n Paartjie met die naam Bob en Linda het ander soort uitdagings gehad. Hulle albei het hulle werk verloor, en toe het hulle hulle huis verloor. Buiten hierdie probleme is Linda gediagnoseer met ’n dodelike hartsiekte, en ’n ander siekte het haar immuunstelsel begin aantas.

3. Waarvan kan ons volgens Filippense 4:6, 7 seker wees?

3 Ons kan daarvan seker wees dat ons Skepper en liefdevolle Vader, Jehovah, verstaan hoe ons gedurende stresvolle tye voel. En hy wil ons help om ons uitdagings te hanteer. (Lees Filippense 4:6, 7.) Die Bybel bevat baie verslae van uitdagings wat God se knegte moes verduur. Dit verduidelik ook hoe Jehovah hulle gehelp het om hierdie stresvolle situasies te hanteer. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

 ELIA – “’N MENS MET GEVOELENS SOOS ONS S’N”

4. Watter uitdagings het Elia gehad, en hoe het hy oor Jehovah gevoel?

4 Elia het Jehovah gedurende moeilike tye gedien en het groot uitdagings gehad. Koning Agab, een van die ontroue konings in Israel se geskiedenis, het met Isebel, ’n goddelose Baälaanbidder, getrou. Hulle twee het Baälaanbidding regoor die land bevorder en baie van Jehovah se profete vermoor. Elia het dit reggekry om te ontsnap. Hy het ook ’n verskriklike hongersnood oorleef deur op Jehovah te vertrou (1 Kon. 17:2-4, 14-16). En hy het ook op Jehovah vertrou toe hy die profete en aanbidders van Baäl uitgedaag het. Hy het die Israeliete aangespoor om Jehovah te dien (1 Kon. 18:21-24, 36-38). Elia het baie bewyse gehad dat Jehovah hom gedurende hierdie stresvolle tye ondersteun het.

Jehovah het ’n engel gestuur om Elia te help om sy kragte terug te kry (Sien paragraaf 5-6) *

5-6. Hoe het Elia volgens 1 Konings 19:1-4 gevoel, en hoe het Jehovah gewys dat hy Elia liefhet?

5 Lees 1 Konings 19:1-4. Elia het egter bang geword toe koningin Isebel dreig om hom dood te maak. Daarom het hy na die omgewing van Berseba gevlug. Hy het so mismoedig geword dat hy gevra het “dat sy siel moet sterf”. Wat het hom so laat voel? Elia was ’n onvolmaakte mens, “’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Dalk het hy oorweldig gevoel as gevolg van hierdie stresvolle situasie en omdat hy doodmoeg was. Dit lyk asof Elia gedink het dat sy pogings om ware aanbidding te bevorder, verniet was, dat niks in Israel  verbeter nie en dat hy die enigste een is wat Jehovah nog dien (1 Kon. 18:3, 4, 13; 19:10, 14). Die reaksie van hierdie getroue profeet verbaas ons dalk. Maar Jehovah het Elia se gevoelens verstaan.

6 Jehovah het nie Elia uitgeskel omdat hy gesê het hoe hy voel nie. Hy het Elia eerder gehelp om sy kragte terug te kry (1 Kon. 19:5-7). Later het Jehovah Elia se denke op ’n liefdevolle manier reggestel deur te wys hoe magtig Hy is. Jehovah het toe vir hom gesê dat daar nog steeds 7 000 mense in Israel is wat geweier het om Baäl te aanbid (1 Kon. 19:11-18). Jehovah het op praktiese maniere vir Elia gewys dat hy hom liefhet.

HOE JEHOVAH ONS SAL HELP

7. Watter versekering kry ons uit die manier waarop Jehovah Elia gehelp het?

7 Gaan jy deur ’n stresvolle tyd? Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah Elia se gevoelens verstaan het! Dit gee ons die versekering dat hy ook ons emosionele probleme verstaan. Hy weet wat ons kan en nie kan doen nie en hy weet selfs wat ons dink en hoe ons voel (Ps. 103:14; 139:3, 4). As ons Elia navolg deur op Jehovah te vertrou, sal hy ons help wanneer ons probleme het wat stres veroorsaak. – Ps. 55:22.

8. Hoe sal Jehovah jou help wanneer jy deur ’n stresvolle tyd gaan?

8 Stres kan veroorsaak dat jy negatief begin dink, en dit kan jou mismoedig laat voel. As dit gebeur, moet jy onthou dat Jehovah jou sal help wanneer jy deur ’n stresvolle tyd gaan. Hoe sal hy jou help? Hy wil hê dat jy hom van jou probleme moet vertel. En hy sal jou gebede om hulp beantwoord (Ps. 5:3; 1 Pet. 5:7). Bid dus gereeld tot Jehovah en vertel hom van jou probleme. Hy sal nie direk met jou praat soos hy met Elia gepraat het nie, maar hy sal met jou deur middel van sy Woord, die Bybel, en deur sy organisasie praat. Die verslae wat jy in die Bybel lees, kan jou vertroos en hoop gee. En jou broers en susters kan jou aanmoedig. – Rom. 15:4; Heb. 10:24, 25.

9. Hoe kan ’n goeie vriend ons help?

9 Toe Jehovah vir Elia sê om van sy werk aan Elisa te gee, het Hy Elia ’n goeie vriend gegee wat hom ongetwyfeld gehelp het toe hy baie mismoedig gevoel het. Wanneer ons ’n goeie vriend in ons vertroue neem, kan hy of sy ons ook help wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan (2 Kon. 2:2; Spr. 17:17). As jy voel dat daar niemand is met wie jy kan praat nie, bid tot Jehovah om jou te help om ’n volwasse Christen te vind wat jou emosioneel kan ondersteun.

10. Hoe gee Elia se ondervinding ons hoop, en hoe kan die belofte in Jesaja 40:28, 29 ons help?

10 Jehovah het Elia gehelp toe hy deur ’n stresvolle tyd gegaan het en hy het hom gehelp om jare lank ’n getroue dienaar te wees. Elia se ondervinding gee ons hoop. Ons gaan dalk deur verskriklike stresvolle tye wat ons fisies en emosioneel uitput. Maar as ons op Jehovah vertrou, kan hy ons die krag gee wat ons nodig het om hom te bly dien. – Lees Jesaja 40:28, 29.

HANNA, DAWID EN “ASAF” HET OP JEHOVAH VERTROU

11-13. Watter uitwerking het stres op drie van God se eertydse knegte gehad?

11 Ander Bybelkarakters het ook deur baie stresvolle tye gegaan. Byvoorbeeld, Hanna het deur ’n baie stresvolle tyd gegaan omdat sy gevoel het dat dit ’n skande is dat sy nie kinders kon kry nie, en haar man se ander vrou het haar getart (1 Sam. 1:2, 6). Hanna se oorweldigende stres het  haar so hartseer gemaak dat sy baie gehuil het en nie wou eet nie. – 1 Sam. 1:7, 10.

12 Koning Dawid was soms oorweldig deur stres. Dink aan die uitdagings wat hy gehad het. Hy het baie skuldig gevoel oor al die foute wat hy gemaak het (Ps. 40:12). Sy geliefde seun Absalom het teen hom in opstand gekom, en dit het tot Absalom se dood gelei (2 Sam. 15:13, 14; 18:33). En een van Dawid se beste vriende het hom verraai (2 Sam. 16:23–17:2; Ps. 55:12-14). Baie van die psalms wat Dawid geskryf het, beskryf hoe mismoedig hy was en beskryf ook sy vaste vertroue in Jehovah. – Ps. 38:5-10; 94:17-19.

Wat het die psalmis gehelp om Jehovah weer met vreugde te dien? (Sien paragraaf 13-15) *

13 Later het ’n psalmis afgunstig geraak op die lewenstyl van goddelose mense. Hy was dalk ’n nakomeling van die Leviet Asaf, en hy het by “die grootse heiligdom van God” gedien. Hierdie psalmis het emosionele stres gehad, wat veroorsaak het dat hy ongelukkig en ontevrede met sy lewe geword het. Hy het selfs begin wonder of dit die moeite werd is om God te dien. – Ps. 73:2-5, 7, 12-14, 16, 17, 21.

14-15. Wat leer ons uit die drie Bybelvoorbeelde oor vertroue in Jehovah?

14 Die drie getroue knegte wat nou net genoem is, het op Jehovah vertrou om hulle te help. Hulle het intens tot Jehovah gebid oor hulle bekommernisse. Hulle het hom openlik vertel hoekom hulle so baie stres ondervind. En hulle het aangehou om na Jehovah se plek van aanbidding te gaan. – 1 Sam. 1:9, 10; Ps. 55:22; 73:17; 122:1.

15 Jehovah het medelye met elkeen van hulle gehad en hulle gebede beantwoord. Hanna het gemoedsrus gekry (1 Sam. 1:18). Dawid het geskryf: “Baie is die  rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Ps. 34:19). En die psalmis het later gevoel dat Jehovah sy “regterhand gevat” het en hom met liefdevolle raad gelei het. Hy het gesing: “Maar wat my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel” (Ps. 73:23, 24, 28). Wat leer ons uit hierdie voorbeelde? Soms sal ons ernstige probleme hê wat stres veroorsaak. Maar ons kan dit hanteer deur na te dink oor hoe Jehovah ander gehelp het, deur in gebed op hom te vertrou en deur aan hom gehoorsaam te wees. – Ps. 143:1, 4-8.

VERTROU OP JEHOVAH EN HANTEER STRES SUKSESVOL

’n Suster wou haarself eers afsonder, maar sy het beter begin voel toe sy na maniere gesoek het om ander te help (Sien paragraaf 16-17)

16-17. (a) Hoekom moet ons nie onsself afsonder nie? (b) Hoe kan ons ons kragte terugkry?

16 Hierdie drie voorbeelde leer ons nog ’n belangrike les – ons moenie onsself van Jehovah en van sy knegte afsonder nie (Spr. 18:1). Nancy, wat deur ’n baie stresvolle tyd gegaan het toe haar man haar gelos het, sê: “Daar was baie dae dat ek niemand wou sien of met niemand wou praat nie. Maar hoe meer ek myself afgesonder het, hoe hartseerder het ek geword.” Dinge het verander toe Nancy na maniere gesoek het om ander te help wat probleme gehad het.  Sy sê: “Ek het geluister terwyl ander my vertel het van die moeilike tye wat hulle deurmaak. Ek het besef dat ek, wanneer ek meer empatie vir hulle gehad het, minder jammer vir myself gevoel het.”

17 Ons kan ons kragte terugkry deur gemeentelike vergaderinge by te woon. Wanneer ons by die vergaderinge is, gee ons Jehovah meer geleenthede om ons te help en te vertroos (Ps. 86:17). By die vergaderinge versterk hy ons deur middel van sy heilige gees, sy Woord en sy knegte. Die vergaderinge gee ons ’n geleentheid om “wedersydse aanmoediging” te geniet (Rom. 1:11, 12). ’n Suster met die naam Sophia het gesê: “Jehovah en ons broederskap het my aan die gang gehou. Ons gemeentelike vergaderinge was vir my die belangrikste. Ek het gevind dat ek my stres en bekommernisse beter kan hanteer wanneer ek besig bly in die bediening en in my gemeente.”

18. Wat kan Jehovah ons gee wanneer ons mismoedig voel?

18 Wanneer ons mismoedig voel, laat ons onthou dat Jehovah nie net belowe om ons stres in die toekoms heeltemal weg te neem nie, maar hy help ons ook nou wanneer ons deur ’n stresvolle tyd gaan. Hy gee ons die “wil”, of begeerte, sowel as die krag om gevoelens van ontmoediging en wanhoop te oorkom. – Fil. 2:13.

19. Watter versekering gee Romeine 8:37-39 ons?

19 Lees Romeine 8:37-39. Die apostel Paulus verseker ons dat niks ons van God se liefde kan skei nie. Hoe kan ons ons broers en susters help wat deur stresvolle tye gaan? In die volgende artikel sal ons sien hoe ons Jehovah kan navolg deur medelye te betoon en deur ons broers en susters te ondersteun wanneer hulle stres ondervind.

LIED 44 Gebed van die bedrukte

^ par. 5 Oormatige stres of stres oor ’n baie lang tydperk kan veroorsaak dat ons fisiese en emosionele skade ly. Hoe kan Jehovah ons help? Ons sal bespreek hoe Jehovah Elia gehelp het om sy stresvolle situasie te hanteer. Ander Bybelvoorbeelde sal wys hoe ons op Jehovah kan vertrou gedurende stresvolle tye.

^ par. 2 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENTE: Jehovah se engel maak Elia saggies wakker en gee hom brood en water.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Psalmis wat dalk ’n nakomeling van Asaf is, geniet dit om psalms te skryf en met sy mede-Leviete te sing.