Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Jehovah het my meer geseën as wat ek ooit verwag het

Jehovah het my meer geseën as wat ek ooit verwag het

‘EK MOET ’n pionier wees. Maar kan die pionierdiens regtig so opwindend wees?’ het ek gewonder. Ek was lief vir my werk in Duitsland, waar ek in die uitvoerbedryf gewerk het. Ek het kos na eksotiese plekke in Afrika gestuur, soos Dar es Salaam, Elisabethville en Asmara. Min het ek geweet dat ek Jehovah eendag voltyds in hierdie en baie ander plekke regoor Afrika sou dien!

Toe ek uiteindelik my twyfelgedagtes oorkom en begin pionier, het my lewe verander op ’n manier wat ek glad nie verwag het nie (Ef. 3:20). Maar jy wonder dalk hoe dit gebeur het. Kom ek begin by die begin.

Ek is in Berlyn, Duitsland, gebore, net ’n paar maande nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 begin het. Terwyl die oorlog se einde in 1945 nader gekom het, het militêre vliegtuie gereeld bomme oor Berlyn laat val. Gedurende een van hierdie bomaanvalle is ons straat getref, en ek en my gesin het na ’n bomskuiling gevlug. Omdat ons bekommerd was oor ons veiligheid, het ons later na Erfurt, my ma se geboorteplek, gevlug.

Saam met my ouers en suster in Duitsland, omtrent 1950

Ma het ywerig na die waarheid gesoek. Sy het boeke gelees wat deur filosowe geskryf is en het verskillende godsdienste ondersoek, maar sy het nie gekry waarna sy gesoek het nie. Ongeveer 1948 het twee van Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. My ma het hulle ingenooi en het die een vraag ná die ander gevra. Minder as ’n uur later het sy vir my en my jonger suster gesê: “Ek het die waarheid gevind!” Kort daarna het ek, my ma en my suster die vergaderinge in Erfurt begin bywoon.

In 1950 het ons teruggetrek Berlyn toe, waar ons deel van die Berlyn-Kreuzberg-gemeente was. Nadat ons na ’n ander plek in Berlyn getrek het, het ons na die Berlyn-Tempelhof-gemeente gegaan. Ma is later gedoop, maar ek het gehuiwer. Hoekom?

HOE EK GELEER HET OM MINDER SKAAM TE WEES

Ek het min vordering gemaak omdat ek baie skaam was. Alhoewel ek in die bediening uitgegaan het, het ek twee jaar lank nie een keer vir iemand getuig nie. Dinge het verander toe ek broers en susters leer ken het wat hulle moed en toegewydheid aan Jehovah bewys het. Party was in Nazi-konsentrasiekampe of in tronke in Oos-Duitsland. Ander het hulle vryheid gewaag deur lektuur  na Oos-Duitsland te smokkel. Hulle voorbeeld het my baie beïndruk. Hierdie broers het hulle lewe en vryheid vir Jehovah en hulle broers gewaag, en daarom het ek gedink dat ek ten minste moet probeer om minder skaam te wees.

Ek het begin leer om minder skaam te wees toe ek in 1955 aan ’n spesiale predikingskampanje deelgeneem het. Broer Nathan Knorr het in ’n brief, wat in die Informant * verskyn het, gesê dat hierdie kampanje een van die grootste kampanjes is wat die organisasie nog ooit gereël het. Hy het gesê dat dit die heel beste maand in die predikingswerk sal wees as al die verkondigers daaraan deelneem. En dit was beslis! Nie lank daarna nie het ek my aan Jehovah toegewy en in 1956 is ek saam met my pa en suster gedoop. Maar kort daarna moes ek nog ’n belangrike besluit neem.

Ek het jare lank geweet dat die pionierdiens die regte loopbaan vir my is, maar ek het dit die hele tyd uitgestel. Eers het ek besluit om ’n vakleerlingskap te doen in die groothandel- en invoer-uitvoerbedryf in Berlyn. Daarna wou ek ’n tyd lank werk om meer ondervinding in hierdie bedryf op te doen. Daarom het ek in 1961 ’n werk in Hamburg aanvaar, Duitsland se grootste hawestad. Hoe meer ek my werk geniet het, hoe meer wou ek die pionierdiens uitstel. Wat sou ek doen?

Ek is dankbaar dat Jehovah liefdevolle broers gebruik het om my te help om geestelike prioriteite te stel. ’n Hele paar van my vriende het begin pionier en het ’n goeie voorbeeld vir my gestel. En broer Erich Mundt, wat in ’n konsentrasiekamp was, het my aangemoedig om op Jehovah te vertrou. Hy het gesê dat broers wat in die konsentrasiekamp op hulleself vertrou het, later swak geword het. Maar dié wat ten volle op Jehovah vertrou het, het getrou gebly en steunpilare in die gemeente geword.

Toe ek begin pionier het, 1963

Broer Martin Poetzinger, wat later op die Bestuursliggaam gedien het, het ook aangehou om die broers aan te moedig en het gesê: “Moed is die kosbaarste besitting wat jy kan hê!” Nadat ek oor hierdie woorde nagedink het, het ek uiteindelik uit my sekulêre werk bedank en in Junie 1963 begin pionier. Dit was die heel beste besluit wat ek kon neem! Twee maande later, nog voordat ek ’n nuwe werk begin soek het, is ek genooi om as ’n spesiale pionier te dien. ’n Paar jaar later het Jehovah al my verwagtinge oortref. Ek is genooi om die 44ste klas van die Gileadskool by te woon.

EK LEER ’N WAARDEVOLLE LES BY GILEAD

“Moenie gou wees om jou toewysing te verlaat nie,” was een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, veral by broer Nathan Knorr en broer Lyman Swingle. Hulle het ons aangespoor om ’n sukses van ons toewysing te maak. Broer Knorr het gesê: “Waarop gaan julle fokus? Die vullis, die goggas, die armoede? Of sal julle die bome, die blomme en die gelukkige gesigte raaksien? Word lief vir die mense!” Toe broer Swingle eendag verduidelik hoekom party broers vinnig opgegee het, het hy baie emosioneel geword en trane in sy oë gekry. Hy moes ophou praat totdat hy weer sy emosies onder beheer gekry het. Dit het my diep geraak en ek was vasbeslote om nie Christus of sy getroue broers teleur te stel nie. – Matt. 25:40.

Ek, Claude en Heinrich as sendelinge in Lubumbashi, Kongo, 1967

Toe ons ons toewysings gekry het, het party Betheliete ’n groep van ons nuuskierig gevra waarheen ons gestuur is. Hulle het iets positiefs oor elke toewysing gesê totdat ek gesê het: “Kongo (Kinshasa).” Hulle het ’n rukkie stilgebly en net gesê: “O, Kongo! Mag Jehovah met jou wees!” In daardie dae was Kongo (Kinshasa) baie in die nuus as gevolg van oorloë, huursoldate en sluipmoorde. Maar ek het die lesse wat ek geleer het, in gedagte gehou. Kort nadat ons in September 1967 gegradueer het, het ek, Heinrich Dehnbostel en Claude Lindsay na Kongo se hoofstad, Kinshasa, vertrek.

 ’N WONDERLIKE GELEENTHEID VIR SENDELINGE OM OPGELEI TE WORD

Nadat ons in Kinshasa aangekom het, het ons drie maande lank Frans geleer. Toe vlieg ons na Lubumbashi, voorheen Elisabethville, naby die grens van Zambië in die verre suide van Kongo. Ons het in ’n sendinghuis in die middel van die stad gaan bly.

Aangesien die predikingswerk nog nooit in die grootste deel van Lubumbashi gedoen is nie, was ons baie opgewonde om die waarheid vir die eerste keer aan baie van die inwoners te vertel. Kort voor lank het ons meer Bybelstudies gehad as wat ons kon hou. Ons het ook vir amptenare gepreek wat vir die regering of vir die polisie gewerk het. Baie het groot respek vir God se Woord en ons predikingswerk gehad. Die mense het meestal Swahili gepraat, en daarom het ek en Claude Lindsay ook hierdie taal geleer. Kort daarna is ons na ’n Swahili gemeente gestuur.

Al het ons baie wonderlike ondervindinge gehad, het ons ook uitdagings gehad. Ons het dikwels te doen gehad met dronk, gewapende soldate of aggressiewe polisiemanne, wat valse aantygings gemaak het. Eenkeer het ’n hele groep gewapende polisiemanne tydens ons gemeentelike vergadering by die sendinghuis ingestorm en ons na die polisiestasie geneem, waar hulle ons tot omtrent tienuur in die aand op die grond laat sit het voordat hulle ons vrygelaat het.

In 1969 het ek ’n toewysing in die reisende werk ontvang. In daardie kring het ek ’n voorsmakie van die Afrikabos gekry, waar ek ver deur lang gras op modderige voetpaaie moes  loop. In een dorpie het ’n hen met haar kuikens saans onder my bed geslaap. Ek sal nooit vergeet hoe sy soggens hard gekekkel het en my wakker gemaak het terwyl dit nog donker was nie. Ek het goeie herinneringe van hoe ek saans saam met die broers om ’n kampvuur oor Bybelwaarhede gesit en gesels het.

Een van die grootste uitdagings was toe daar valse broers was, wat die Kitawala-beweging ondersteun het. * Party van hulle het deel van die gemeentes geword en verantwoordelike posisies gehad. Baie van hulle was soos weggesteekte rotse in die gemeente, maar getroue broers en susters is nie deur hulle mislei nie (Jud. 12). Jehovah het uiteindelik hierdie mense uit die gemeente verwyder, en daarna het ’n groot aantal mense in die waarheid gekom.

In 1971 is ek na die takkantoor in Kinshasa gestuur, waar ek verskillende toewysings gehad het. Party het verband gehou met korrespondensie, lektuurbestellings en diensaangeleenthede. By Bethel het ek geleer hoe om die werk te organiseer in ’n groot land wat ’n beperkte infrastruktuur gehad het. Soms het ons lugpos maande geneem om by gemeentes uit te kom. Die pos sou vanuit ’n vliegtuig op bote gelaai word wat dan weke lank vasgesit het in hiasinte wat dig in die water gegroei het. Maar die werk is gedoen ten spyte van hierdie en ander uitdagings.

Dit het my verbaas om te sien hoe die broers groot byeenkomste kon hou, al was daar baie min geld beskikbaar. Hulle het ’n verhoog uit termiethope gemaak, lang olifantsgras as mure gebruik en dit opgerol sodat dit as kussings gebruik kon word om op te sit. Hulle het bamboes gebruik om raamwerk vir geboue te maak en het rietmatte gebruik om dakke of tafels te maak. En hulle het boombas opgesny en dit as spykers gebruik. Hierdie broers het my baie beïndruk omdat hulle so vindingryk was en nie toegelaat het dat uitdagings hulle onderkry nie. Ek het baie lief geword vir hulle. Ek het so baie na hulle verlang nadat ek ’n nuwe toewysing gekry het.

’N TOEWYSING IN KENIA

In 1974 is ek na die takkantoor in Nairobi, Kenia, gestuur. Ons het baie gehad om te doen omdat die takkantoor in Kenia die predikingswerk in tien nabygeleë lande ondersteun het, waarvan party ons werk verbied het. Ek is dikwels gestuur om hierdie lande te gaan besoek, veral Etiopië, waar ons broers vervolg is en baie moeilike uitdagings verduur het. Baie van hulle is wreed mishandel of in tronke gegooi; party is selfs doodgemaak. Maar hulle het getrou volhard omdat hulle ’n goeie verhouding met Jehovah en met mekaar gehad het.

In 1980 het my lewe op ’n wonderlike manier verander toe ek met Gail Matheson getrou het, wat oorspronklik van Kanada is. Ek en Gail was in dieselfde Gileadklas. Ons het in kontak gebly deur vir mekaar briewe te skryf. Gail was ’n sendeling in Bolivia. Ná 12 jaar het ons mekaar weer in New York ontmoet. Kort daarna het ons in Kenia getrou. Ek is baie dankbaar omdat Gail so ’n geestelike beskouing het en altyd tevrede is met wat sy het. Sy ondersteun my nog steeds baie en is ’n liefdevolle maat.

In 1986 is ek en Gail gevra om reisende werk te doen terwyl ek terselfdertyd op die Takkomitee gedien het. Ons moes in baie van die lande onder die takkantoor in Kenia dien.

Ek hou ’n toespraak by ’n streekbyeenkoms in Asmara, 1992

Ek onthou nog goed hoe ons in 1992 voorbereidings getref het vir ’n byeenkoms in Asmara (in Eritrea) toe ons werk nie in daardie deel van die land verbied was nie. Ongelukkig kon ons net ’n lelike skuur kry wat van binne selfs erger as van buite gelyk het. Op die dag van die byeenkoms was ek verbaas om te sien hoe die broers die binnekant in ’n pragtige plek omskep het waar ons Jehovah kon aanbid. Baie gesinne het mooi lappe gebring en  het enigiets bedek wat lelik gelyk het. Dit was ’n lekker en opwindende byeenkoms, en 1 279 het dit bygewoon.

Die reisende werk was vir ons ’n groot aanpassing omdat die plekke waar ons gebly het, elke week baie anders was. Eenkeer het ons in ’n luukse huis reg langs die see gebly; ’n ander keer moes ons in ’n metaalhuisie in ’n werkerskamp bly, waar die toilette meer as 100 meter ver weg was. Maar ongeag waar ons gedien het, ons kosbaarste herinneringe is die besige dae in die bediening saam met ywerige pioniers en verkondigers. Toe ons ons volgende toewysing ontvang het, moes ons ons dierbare vriende agterlaat na wie ons baie sou verlang.

SEËNINGE IN ETIOPIË

Gedurende die laat 1980’s en vroeë 1990’s het ons werk wetlike erkenning verkry in baie lande wat onder die takkantoor in Kenia geval het. As gevolg hiervan is aparte takkantore en landskantore gestig. In 1993 is ons gestuur na die kantoor in Addis Abeba, Etiopië, waar die werk toe wetlik erken is ná baie jare van ondergrondse bedrywighede.

In die reisende werk in die platteland in Etiopië, 1996

Jehovah het die werk in Etiopië geseën. Baie broers en susters het begin pionier. Meer as 20 persent van al die verkondigers het elke jaar vanaf 2012 as gewone pioniers gedien. En teokratiese skole het opleiding voorsien, en meer as 120 Koninkryksale is gebou. In 2004 het die Bethelgesin in ’n nuwe gebou ingetrek, en ons is ook geseën met ’n Byeenkomssaal op dieselfde eiendom.

Oor die jare het ek en Gail kosbare vriendskappe met ons broers en susters in Etiopië gevorm. Ons is regtig lief vir hulle omdat hulle so goedhartig en liefdevol is. Ons sukkel nou met ons gesondheid, en daarom is ons na die takkantoor in Sentraal-Europa gestuur. Hier sorg die broers liefdevol vir ons, maar ons verlang baie na ons dierbare vriende in Etiopië.

JEHOVAH HET DIT LAAT GROEI

Ons het ondervind hoe Jehovah sy werk laat groei het (1 Kor. 3:6, 9). Byvoorbeeld, toe ek die eerste keer vir mynwerkers van Rwanda in die Koperstreek van Kongo gepreek het, was daar geen verkondigers wat in Rwanda gerapporteer het nie. Nou is daar oor die 30 000 broers en susters in daardie land. In 1967 het Kongo (Kinshasa) omtrent 6 000 verkondigers gehad. Nou is daar omtrent 230 000 verkondigers, en meer as ’n miljoen mense het die Gedenkmaal in 2018 bygewoon. In al die lande na wie die takkantoor in Kenia voorheen omgesien het, is daar nou altesaam meer as 100 000 verkondigers.

Meer as 50 jaar gelede het Jehovah verskillende broers gebruik om my te help om hom voltyds te begin dien. Alhoewel ek nog steeds ’n bietjie skaam is, het ek geleer om ten volle op Jehovah te vertrou. Die dinge wat ek in Afrika ondervind het, het my geleer om geduldig te wees en tevrede te wees met wat ek het. Ek en Gail bewonder die broers en susters wat so gasvry is, groot uitdagings verduur en op Jehovah vertrou. Ek is so dankbaar vir sy onverdiende goedhartigheid. Jehovah het my beslis meer geseën as wat ek ooit verwag het. – Ps. 37:4.

^ par. 11 Dit is later Ons Koninkryksbediening genoem en is nou vervang deur Ons Christelike Lewe en Bediening – Vergaderingwerkboek.

^ par. 23 “Kitawala” kom van die Swahili term wat “om te domineer, te bestuur of te regeer” beteken. Hierdie beweging het ’n politieke doel gehad – onafhanklikheid van België. Kitawala-groepe het publikasies van Jehovah se Getuies verkry, bestudeer en rondgestuur en het Bybelleringe verdraai om hulle politieke beskouings, bygelowige gebruike en onsedelike lewenswyse te ondersteun.