Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie se erkenning wil jy graag hê?

Wie se erkenning wil jy graag hê?

“God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.” — HEB. 6:10.

LIED: 39, 30

1. Watter natuurlike begeerte het ons almal, en wat sluit dit in?

HOE sou jy voel as iemand wat jy ken en respekteer, jou naam vergeet of, nog erger, jou glad nie onthou nie? Jy sal miskien baie sleg voel. Hoekom? Want elkeen van ons het die natuurlike begeerte om aanvaar te word. Die soort erkenning wat ons wil hê, is meer as om net deur ander raakgesien te word. Ons wil ook hê dat hulle moet weet watter soort persoon ons is en wat ons al bereik het. — Num. 11:16; Job 31:6.

2, 3. Wat kan gebeur met ons begeerte om deur ander waardeer te word? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Maar net soos met baie ander natuurlike begeertes, kan ons begeerte om waardeer te word, ongebalanseerd raak omdat ons onvolmaak is. Dit kan veroorsaak dat ons die verkeerde soort erkenning probeer kry. Satan se wêreld maak dat mense beroemd en belangrik wil wees. Hierdie begeerte kan ’n mens se aandag aftrek van die een wat werklik verdien om erken en aanbid te word, ons hemelse Vader, Jehovah God. — Op. 4:11.

3 Toe Jesus op die aarde was, het party godsdiensleiers die  verkeerde beskouing van erkenning gehad. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere wil rondloop en hou van begroetinge op die markpleine en die voorste [of “beste”] sitplekke in die sinagoges en die vernaamste plekke by aandmaaltye.” Hy het verder gesê: “Hulle sal ’n swaarder oordeel ontvang” (Luk. 20:46, 47). Maar Jesus het ’n arm weduwee geprys wie se klein bydrae heel moontlik nie deur ander raakgesien is nie (Luk. 21:1-4). Dit is duidelik dat Jesus se beskouing van erkenning baie verskil het van ander mense s’n. Hierdie artikel sal ons help om die regte beskouing te hê, die beskouing wat deur Jehovah God goedgekeur word.

DIE BESTE SOORT ERKENNING

4. Wat is die beste soort erkenning, en hoekom?

4 Wat is die beste soort erkenning wat ons kan probeer kry? Dit is nie die soort erkenning wat mense op die gebied van akademie, besigheid, kuns en sport probeer kry nie. Dit is eerder die soort erkenning wat Paulus beskryf het. Hy het gesê: “Maar hoe is dit dat julle, noudat julle God leer ken het, of liewer, noudat julle deur God geken word, weer terugkeer tot die swak en armsalige elementêre dinge en hulle weer van voor af as slawe wil dien?” (Gal. 4:9). Dit is ’n wonderlike voorreg om ‘deur God geken te word’, die Opperheerser van die heelal! Jehovah weet wie ons is, hy is lief vir ons en wil hê dat ons sy vriende moet wees. Die hele rede vir ons bestaan is om Jehovah se vriende te wees. — Pred. 12:13, 14.

5. Wat moet ons doen sodat ons deur God geken kan word?

5 Moses het die voorreg gehad om deur God geken te word. Toe hy Jehovah gesmeek het om hom te help om Sy weë beter te verstaan, het Jehovah gesê: “Ook dit waarvan jy gepraat het, sal ek doen, omdat jy guns in my oë gevind het en ek jou by name ken” (Eks. 33:12-17). Ons kan ook wonderlike seëninge ontvang wanneer Jehovah ons persoonlik leer ken. Maar wat moet ons doen sodat ons deur Jehovah geken kan word? Ons moet hom liefkry en ons lewe aan hom toewy. — Lees 1 Korintiërs 8:3.

6, 7. Wat kan veroorsaak dat ons ons verhouding met Jehovah verloor?

6 Ons moet ook ons kosbare verhouding met ons hemelse Vader sterk hou. Net soos die Christene in Galasië aan wie Paulus geskryf het, moet ons dit ook vermy om slawe te word van “die swak en armsalige elementêre dinge” van hierdie wêreld, insluitende om die wêreld se erkenning te wil hê (Gal. 4:9). Daardie eerste-eeuse Christene het so ver gevorder dat hulle deur God geken is. Maar Paulus het gesê dat dieselfde broers besig was om ‘weer terug te keer’ na leë dinge. Paulus het met ander woorde vir hulle gesê: “Julle het al soveel vordering gemaak. Hoekom sou julle terugkeer na die dwase, waardelose dinge wat julle agtergelaat het?”

7 Kan dit dalk ook met ons gebeur? Ja, dit kan. Toe ons Jehovah leer ken het, het ons, soos Paulus, dalk die erkenning van Satan se wêreld prysgegee. (Lees Filippense 3:7, 8.) Miskien het ons die kans gehad om verder te gaan leer, ’n beter werk te kry of meer geld te maak, maar ons het dit nie aanvaar nie. Ons kon dalk beroemd en ryk geword het omdat ons musiektalent het of goed is in atletiek. Maar ons het ons rug daarop gedraai (Heb. 11:24-27). Hoe dom sou dit tog wees as ons nou dink dat daardie goeie besluite eintlik kanse was  wat ons deur ons vingers laat glip het! Sulke gedagtes kan maak dat ons weer dinge wil doen wat ons reeds besluit het “swak en armsalige” dinge van hierdie wêreld is. *

WEES MEER VASBESLOTE

8. Wat sal ons meer vasbeslote maak om Jehovah se erkenning te probeer kry?

8 Wat sal ons help om meer vasbeslote te wees om Jehovah se erkenning te kry en nie die wêreld s’n nie? Ons moet twee belangrike feite in gedagte hou. Eerstens, Jehovah gee altyd erkenning aan diegene wat hom getrou dien. (Lees Hebreërs 6:10; 11:6.) Elkeen van Jehovah se knegte is vir hom baie kosbaar, en hy beskou dit as “onregverdig” om diegene wat aan hom getrou is, te ignoreer. Jehovah “ken dié wat aan hom behoort” (2 Tim. 2:19). Hy “neem kennis van die weg van die regverdiges”, en hy weet hoe om hulle te red. — Ps. 1:6; 2 Pet. 2:9.

9. Gee voorbeelde van hoe Jehovah gewys het dat hy sy volk goedkeur.

9 Jehovah het soms op indrukwekkende maniere gewys dat hy sy volk goedkeur (2 Kron. 20:20, 29). Dink byvoorbeeld aan hoe Jehovah sy volk by die Rooisee gered het toe Farao en sy groot leërmag hulle agternagesit het (Eks. 14:21-30; Ps. 106:9-11). Hierdie gebeurtenis was so indrukwekkend dat mense in daardie deel van die wêreld 40 jaar later nog steeds daaroor gepraat het (Jos. 2:9-11). Dit kan ons baie aanmoedig wanneer ons nadink oor voorbeelde soos hierdie toe Jehovah sy krag gebruik het en gewys het hoe lief hy vir sy volk is, veral omdat die aanval deur Gog van Magog so naby is! (Eseg. 38:8-12). Wanneer hierdie aanval begin, sal ons baie bly wees dat ons God se erkenning probeer kry het, en nie die wêreld s’n nie.

10. Wat is nog iets wat ons omtrent Jehovah se erkenning in gedagte moet hou?

10 ’n Tweede belangrike feit wat ons in gedagte moet hou, is: Jehovah kan aan ons erkenning gee op maniere wat ons dalk nooit sou verwag nie. Die Bybel sê dat diegene wat goeie dinge doen net om deur mense gesien te word, nie deur Jehovah beloon sal word nie. Hoekom nie? Want hulle het alreeds hulle volle beloning ontvang toe hulle deur ander vereer is. (Lees Matteus 6:1-5.) Maar Jesus het gesê dat sy Vader “in die geheim toekyk” en diegene sien wat nie erkenning kry vir die goeie dinge wat hulle vir ander mense doen nie. Hy sien hulle goeie dade raak en beloon hulle daarvoor. Maar partykeer beloon Jehovah ons op maniere wat ons nie verwag nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

JEHOVAH GEE ERKENNING AAN ’N NEDERIGE JONG VROU

11. Hoe het Jehovah aan die jong vrou Maria erkenning gegee?

11 Toe dit tyd geword het vir God se Seun om as ’n mens gebore te word, het Jehovah ’n nederige maagd met die naam Maria gekies om die ma van hierdie spesiale kind te wees. Maria het in die klein dorpie Nasaret gebly, ver weg van Jerusalem en sy pragtige tempel. (Lees Lukas 1:26-33.) Hoekom is Maria vir hierdie voorreg gekies? Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat sy ‘guns by God gevind het’. Maria het gewys dat sy ’n baie geestelike persoon is toe sy later met haar familielid Elisabet gepraat het (Luk. 1:46-55). Jehovah het gesien dat Maria aan hom getrou is, en hy het haar op ’n onverwagse manier geseën.  

12, 13. Hoe is daar aan Jesus erkenning gegee toe hy gebore is en ook toe hy 40 dae later na die tempel geneem is?

 12 Toe Maria uiteindelik aan Jesus geboorte gegee het, het Jehovah nie die belangrike amptenare of heersers in Jerusalem en Betlehem laat weet wat gebeur het nie. Engele het eerder aan nederige herders verskyn wat skape in die veld buite Betlehem opgepas het (Luk. 2:8-14). Hierdie herders het toe die pasgebore baba besoek (Luk. 2:15-17). Maria en Josef was seker baie verbaas om te sien dat Jesus op hierdie manier vereer word. Let op dat die manier waarop Jehovah dinge doen baie verskil van die manier waarop die Duiwel dinge doen. Toe Satan sterrewiggelaars, of astroloë, gestuur het om Jesus en sy ouers te besoek, het die nuus oor Jesus se geboorte die hele Jerusalem ontstel (Matt. 2:3). Hierdie openbare bekendmaking van Jesus se geboorte het tot die dood van baie onskuldige kinders gelei. — Matt. 2:16.

13 Veertig dae ná Jesus se geboorte moes Maria aan Jehovah ’n offerande bring by die tempel in Jerusalem, wat omtrent nege kilometer van Betlehem af was (Luk. 2:22-24). Terwyl Maria saam met Josef en Jesus op pad was na Jerusalem, het sy dalk gewonder of die priester by die tempel miskien spesiale erkenning sou gee aan wat Jesus in die toekoms sou doen. Jesus het wel erkenning gekry, maar nie op die manier wat Maria dalk gedink het nie. Jehovah het eerder die ‘regverdige en godvresende’ man Simeon, asook ’n 84-jarige weduwee, die profetes Anna, gebruik om aan ander bekend te maak dat hierdie kind die beloofde Messias, of Christus, sou word. — Luk. 2:25-38.

14. Hoe het Jehovah Maria geseën?

14 Maar het Jehovah aan Maria erkenning gegee omdat sy getrou vir sy Seun gesorg het en hom grootgemaak het? Ja, hy het. God het die dinge wat sy gesê en gedoen het, in die Bybel laat opteken. Dit lyk asof dit nie vir Maria moontlik was om saam met Jesus te wees gedurende sy bediening van drie en ’n half jaar nie. Dalk moes sy in Nasaret bly omdat sy ’n weduwee was. Al het dit beteken dat sy nie daar kon wees tydens sekere spesiale gebeure nie, was dit wel vir haar moontlik om saam met Jesus te wees toe hy gesterf het (Joh. 19:26). En ’n paar dae voor Pinkster was Maria saam met die dissipels in Jerusalem (Hand. 1:13, 14). Sy is heel moontlik saam met die ander dissipels met heilige gees gesalf. As dit die geval is, sou dit beteken dat sy die voorreg ontvang het om vir ewig saam met Jesus in die hemel te wees. Wat ’n pragtige beloning vir haar getroue diens!

JEHOVAH GEE ERKENNING AAN SY SEUN

15. Hoe het Jehovah gewys dat hy sy Seun goedkeur toe Jesus op die aarde was?

15 Toe Jesus op die aarde was, het hy nie die erkenning van die godsdiensleiers of die politieke leiers probeer kry nie. Jehovah se goedkeuring was vir hom die belangrikste. Daarom het dit hom seker baie aangemoedig toe Jehovah aan hom erkenning gegee het deur by drie verskillende geleenthede self vanuit die hemel te praat. Kort nadat Jesus in die Jordaanrivier gedoop is, het Jehovah gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:17). Blykbaar was Johannes die Doper die enigste ander persoon wat hierdie woorde gehoor het. En omtrent ’n jaar voor Jesus se dood het drie van sy apostels gehoor hoe Jehovah die volgende woorde oor Jesus sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matt. 17:5). Laastens het Jehovah, net ’n paar dae voor  Jesus se dood, weer vanuit die hemel met sy Seun gepraat. — Joh. 12:28.

Wat leer jy uit die manier waarop Jehovah aan sy Seun erkenning gegee het? (Sien paragraaf 15-17)

16, 17. Hoe het Jehovah Jesus vereer op ’n manier wat hy nie verwag het nie?

16 Jesus het geweet dat hy ’n skandelike dood sou sterf en dat hy valslik daarvan beskuldig sou word dat hy ’n godslasteraar is. Maar hy het nogtans gebid dat Jehovah se wil gedoen moet word, en nie sy eie nie (Matt. 26:39, 42). Hy het “’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het” omdat hy net sy Vader se erkenning wou hê, en nie die wêreld s’n nie (Heb. 12:2). Hoe het Jehovah hierdie erkenning aan hom gegee?

17 Toe Jesus op die aarde was, het hy gebid en gevra om weer die heerlikheid te hê wat hy voorheen gehad het toe hy saam met sy Vader in die hemel was (Joh. 17:5). Dit sê nêrens in die Bybel dat Jesus meer as dit wou hê nie. Hy het nie die een of ander spesiale beloning verwag nie. Maar wat het Jehovah gedoen? Hy het Jesus vereer op ’n manier wat hy nie verwag het nie deur hom op te wek tot “’n hoër posisie” en hom iets te gee wat niemand anders tot op daardie stadium ontvang het nie — lewe as ’n onsterflike geespersoon! (Fil. 2:9; 1 Tim. 6:16). * Wat ’n uitstekende manier om aan Jesus erkenning te gee vir sy getrouheid!

18. Wat sal ons help om Jehovah se goedkeuring te probeer kry en nie die wêreld s’n nie?

18 Wat sal ons help om Jehovah se goedkeuring te probeer kry en nie die wêreld s’n nie? Hou in gedagte dat Jehovah altyd aan sy getroue knegte erkenning gee, en dikwels beloon hy hulle op maniere wat hulle nie verwag nie. Wie weet op watter maniere Jehovah ons in die toekoms sal seën? Maar intussen, terwyl ons probleme en moeilike omstandighede in hierdie goddelose wêreld ondervind, moet ons nooit vergeet dat hierdie wêreld, en die soort erkenning wat dit ons kan gee, sal verbygaan nie (1 Joh. 2:17). Ons liefdevolle Vader, Jehovah, ‘is nie onregverdig sodat hy ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het nie’ (Heb. 6:10). Ja, hy sal wys dat hy ons goedkeur — miskien op maniere wat ons ons nou nie eers kan voorstel nie!

^ par. 7 Ander Bybelvertalings gebruik die woord “armoedige” of “waardeloos” in plaas van “armsalige”.

^ par. 17 Jesus het dalk nie verwag om op hierdie manier geseën te word nie, aangesien onsterflikheid nie in die Hebreeuse Geskrifte genoem word nie.