Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou jy jou oë op Jehovah?

Hou jy jou oë op Jehovah?

“Tot u het ek my oë opgeslaan . . . u wat in die hemel woon.” — PS. 123:1.

LIED: 143, 124

1, 2. Wat beteken dit om ons oë op Jehovah te hou?

ONS lewe in “kritieke tye” wat “moeilik is om deur te kom”, en die lewe gaan selfs moeiliker word voordat daar weer ware vrede op die aarde sal wees (2 Tim. 3:1). Daarom is dit goed dat ons ons afvra: ‘Op wie hou ek my oë, of op wie vertrou ek, wanneer ek hulp en leiding nodig het?’ Dalk sê ons dadelik: “Op Jehovah”, en dit is die beste antwoord.

2 Maar wat beteken dit om ons oë op Jehovah te hou? Hoe kan ons seker maak dat ons ons oë op Jehovah hou wanneer ons moeilike probleme in die lewe moet deurmaak? Honderde jare gelede het ’n psalmskrywer gesê dat ons ons oë na Jehovah moet opslaan, of op hom moet vertrou, wanneer ons hulp nodig het. (Lees Psalm 123:1-4.) Hy het die manier waarop ons ons oë op Jehovah hou, vergelyk met die manier waarop ’n kneg sy oë op sy meester hou. Hoekom het hy hierdie vergelyking gemaak? ’n Kneg hou nie net sy oë op sy meester omdat hy kos en beskerming van sy meester verwag nie. ’n Kneg moet ook sy oë op sy meester hou om te sien wat sy meester van hom wil hê, en dan moet hy dit doen. Net so moet ons elke dag God se Woord  ondersoek om seker te maak wat Jehovah van elkeen van ons wil hê, en dan moet ons dit doen. Slegs dan kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons sal help wanneer ons dit nodig het. — Ef. 5:17.

3. Wat kan ons aandag aflei sodat ons nie meer ons oë op Jehovah hou nie?

3 Al weet ons hoe belangrik dit is om ons oë op Jehovah te hou, kan ons aandag partykeer afgelei word. Dit is presies wat met Jesus se goeie vriendin Marta gebeur het. Haar aandag “is afgelei deurdat sy na baie pligte omgesien het” (Luk. 10:40-42). As dit met so ’n getroue persoon kon gebeur terwyl Jesus fisies daar by haar was, moet dit ons nie verbaas as dit miskien ook met ons gebeur nie. Maar wat kan ons aandag aflei en veroorsaak dat ons nie ons oë op Jehovah hou nie? In hierdie artikel gaan ons kyk hoe ons aandag afgelei kan word deur die dinge wat ander mense doen. Ons gaan ook leer hoe ons op Jehovah gefokus kan bly.

’N GETROUE MAN VERLOOR ’N VOORREG

4. Hoekom wonder ons dalk waarom Moses die voorreg verloor het om die Beloofde Land binne te gaan?

4 Moses het beslis op Jehovah vertrou vir leiding. Die Bybel sê dat ‘hy standvastig gebly het asof hy die Onsigbare sien’. (Lees Hebreërs 11:24-27.) Dit sê ook: “Daar het nog nooit weer ’n profeet in Israel opgestaan soos Moses nie — vir wie Jehovah van aangesig tot aangesig geken het” (Deut. 34:10). Maar al het Moses so ’n sterk verhouding met Jehovah gehad, het hy nog steeds die voorreg verloor om die Beloofde Land binne te gaan (Num. 20:12). Wat het Moses laat struikel?

5-7. Watter probleem het ontstaan kort nadat die Israeliete Egipte verlaat het, en hoe het Moses dit hanteer?

5 Minder as twee maande nadat die Israeliete Egipte verlaat het, nog voordat hulle by die berg Sinai aangekom het, het ’n ernstige probleem ontstaan. Die mense het begin kla omdat daar nie genoeg water was nie. Hulle het ook oor Moses begin kla, en die situasie het so erg geword dat Moses tot Jehovah uitgeroep het: “Wat moet ek met hierdie volk doen? Netnou stenig hulle my!” (Eks. 17:4). Jehovah het Moses geantwoord deur vir hom duidelike instruksies te gee. Hy moes die rots in Horeb met sy staf slaan, en dan sou daar water uitkom. Die Bybel sê: “Moses [het] dit gedoen voor die oë van die ouer manne van Israel.” Die Israeliete kon toe soveel water drink as wat hulle wou, en die probleem is opgelos. — Eks. 17:5, 6.

6 God se Woord sê verder dat Moses “die plek Massa en Meriba genoem [het], weens die rusie van die kinders van Israel en omdat hulle Jehovah op die proef gestel het deur te sê: ‘Is Jehovah in ons midde of nie?’” (Eks. 17:7). Hierdie name was gepas, want dit beteken “beproewing” en “rusie”.

7 Hoe het Jehovah gevoel oor wat by Meriba gebeur het? Hy het die Israeliete se optrede as ’n opstand teen hom en sy gesag gesien, en nie net as ’n opstand teen Moses nie. (Lees Psalm 95:8, 9.) Wat die Israeliete gedoen het, was beslis verkeerd. Maar Moses het die regte ding gedoen. Hy het op Jehovah vertrou vir leiding en toe presies gedoen wat Hy gesê het.

8. Watter probleem het ontstaan toe die Israeliete se 40 jaar lange reis deur die wildernis amper verby was?

8 Maar wat het omtrent 40 jaar later gebeur toe die Israeliete weer dieselfde soort probleem gehad het? Die Israeliete se reis deur die wildernis was amper verby, en hulle was nou by ’n ander plek wat later ook Meriba genoem is. Hierdie plek was naby Kades, nie ver van die grens van die Beloofde  Land nie. * Die Israeliete het weer gekla omdat daar nie genoeg water was nie (Num. 20:1-5). Maar hierdie keer het dinge anders uitgedraai vir Moses.

9. Watter instruksies het Moses ontvang, maar wat het hy gedoen? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Hoe het Moses gereageer toe die mense in opstand gekom het? Hy het weer op Jehovah vertrou vir leiding. Maar hierdie keer het Jehovah nie vir hom gesê om die rots te slaan nie. Hy het vir Moses gesê om sy staf te neem, die mense by die groot rots bymekaar te kry en dan met die rots te praat (Num. 20:6-8). Maar Moses het nie met die rots gepraat nie. Hy het eerder so kwaad geword dat hy op die mense geskree het: “Hoor nou, julle opstandiges! Sal ons vir julle water uit hierdie groot rots laat kom?” Toe het hy die rots geslaan, nie net een keer nie, maar twee keer. — Num. 20:10, 11.

10. Hoe het Jehovah gereageer op wat Moses gedoen het?

10 Jehovah het baie kwaad geword vir Moses (Deut. 1:37; 3:26). Hoekom het Jehovah so gereageer? Daar was dalk ’n hele paar redes. Miskien het Jehovah kwaad geword omdat Moses nie die nuwe instruksies gevolg het nie.

11. Hoe kon die feit dat Moses die rots geslaan het, die Israeliete laat dink het dat dit nie Jehovah was wat die wonderwerk gedoen het nie?

11 Daar is nog ’n moontlikheid. Die rotsformasies in die omgewing van die eerste Meriba is soliede graniet. Niemand sal verwag dat daar water uit graniet sal kom nie, al slaan iemand dit ook hoe hard. Maar die kranse in die omgewing van die tweede Meriba is meestal van kalksteen, ’n sagter soort rots. Omdat water maklik deur kalksteen kan syfer, is daar dikwels groot hoeveelhede ondergrondse water in gebiede waar hierdie soort rotsformasies algemeen is. Hierdie water kan bereik word deur ’n gat in die rots te maak. Kan dit wees dat toe Moses twee keer op hierdie soort rots geslaan het, dit mense kon laat dink het dat dit nie Jehovah was wat die water voorsien het nie? Het Moses dit miskien laat lyk asof die wonderwerk nie so wonderlik was nie omdat hy die rots geslaan het eerder as om daarmee te praat? * Ons kan nie met sekerheid sê nie.

HOE MOSES IN OPSTAND GEKOM HET

12. Wat is dalk nog ’n rede waarom Jehovah vir Moses en Aäron kwaad geword het?

12 Daar is dalk nog ’n rede waarom Jehovah vir Moses en Aäron kwaad geword het. Let op wat Moses vir die mense gesê het: “Sal ons vir julle water uit hierdie groot rots laat kom?” Moses het heel waarskynlik van homself en Aäron gepraat toe hy die woord “ons” gebruik het. Wat hy gesê het, het gewys dat hy Jehovah nie die eer vir hierdie wonderwerk gegee het nie. Dit lyk asof hierdie moontlikheid deur die woorde in Psalm 106:32, 33 ondersteun word. Dit sê: “Verder het hulle by die waters van Meriba toorn verwek, sodat dit met Moses sleg gegaan het weens hulle. Want hulle het sy gees verbitterd laat word, en hy het onbesonne met sy lippe begin praat” (Num. 27:14). * Wat ook al die geval was, Moses se optrede het  veroorsaak dat Jehovah nie die eer ontvang het wat hy verdien het nie. Daarom het Jehovah vir Moses en Aäron gesê: “Julle [het] in opstand gekom . . . teen my bevel” (Num. 20:24). Dit was ’n baie ernstige sonde!

13. Hoekom was die manier waarop Jehovah Moses gestraf het, reg en regverdig?

13 Moses en Aäron het die verantwoordelikheid gehad om Jehovah se volk te lei, en daarom het Hy meer van hulle verwag (Luk. 12:48). Jare vroeër het Jehovah ’n hele generasie Israeliete gestraf omdat hulle in opstand gekom het. Hy het hulle nie toegelaat om die land Kanaän binne te gaan nie (Num. 14:26-30, 34). Daarom was dit reg en regverdig dat Jehovah Moses op dieselfde manier gestraf het toe hy in opstand gekom het. Net soos die ander wat in opstand gekom het, is hy ook nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie.

DIE OORSAAK VAN DIE PROBLEEM

14, 15. Wat het Moses in opstand laat kom?

14 Wat het Moses in opstand laat kom? Kom ons kyk weer na wat Psalm 106:32, 33 sê: “Verder het hulle by die waters van Meriba toorn verwek, sodat dit met Moses sleg gegaan het weens hulle. Want hulle het sy gees verbitterd laat word, en hy het onbesonne met sy lippe begin praat.” Hoewel die Israeliete eintlik teen Jehovah in opstand gekom het, is Moses die een wat verbitterd, of baie kwaad, geword het. Hy het sy selfbeheersing verloor, en daarom het hy gepraat sonder om aan die gevolge te dink.

15 Moses het toegelaat dat die dinge wat ander mense doen, sy aandag aflei, en daarom was sy oë nie meer op Jehovah nie. Die eerste keer toe die mense oor water gekla het, het Moses die regte ding gedoen (Eks. 7:6). Maar nadat hy jare lank met die opstandige Israeliete te doen gehad het, het hy dalk moeg en gefrustreerd geword. Kan dit wees dat Moses op sy eie gevoelens gefokus het in plaas daarvan om te dink hoe hy Jehovah kan eer?

16. Hoekom moet ons nadink oor wat Moses gedoen het?

16 As ’n getroue profeet soos Moses se aandag afgelei kon word en hy kon struikel, kan dieselfde ding ook maklik met ons gebeur. Net soos Moses, staan ons op die punt om ’n simboliese land binne te gaan — die nuwe wêreld wat Jehovah ons belowe het (2 Pet. 3:13). Nie een van ons wil hierdie spesiale voorreg verloor nie. Maar om ons doelwit te bereik, moet ons ons oë op Jehovah hou en altyd probeer om sy wil te doen (1 Joh. 2:17). Watter lesse kan ons uit Moses se fout leer?

MOENIE JOU AANDAG LAAT AFLEI DEUR WAT ANDER DOEN NIE

17. Wat sal ons help om nie ons selfbeheersing te verloor wanneer ons gefrustreerd raak nie?

17 Moenie jou selfbeheersing verloor wanneer jy gefrustreerd is nie. Selfs wanneer ons oor en oor met dieselfde probleme sukkel, moet ons “nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie” (Gal. 6:9; 2 Tess. 3:13). Hou ons ons lippe en humeur in toom wanneer iets of iemand ons aanhoudend frustreer? (Spr. 10:19; 17:27; Matt. 5:22). Wanneer ander mense ons kwaad maak, moet ons leer om ‘plek te gee vir die gramskap [of woede]’. Maar vir wie se woede moet ons plek gee? Jehovah s’n. (Lees Romeine 12:17-21.) As ons ons oë altyd op Jehovah hou, sal ons wys dat ons hom respekteer deur plek te gee vir sy woede. Ons sal geduldig wag totdat hy besluit om iets omtrent die saak te doen. As ons dit nie doen nie en self probeer wraak neem, sal dit wys dat ons Jehovah nie respekteer nie.

18. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons riglyne ontvang?

 18 Volg die nuutste riglyne getrou. Doen ons dinge presies volgens die nuutste riglyne wat Jehovah ons gegee het? As ons dit doen, sal ons nie aanhou om dinge te doen op die manier waaraan ons gewoond is nie. Ons sal eerder dadelik enige nuwe riglyne volg wat Jehovah ons deur sy organisasie gee (Heb. 13:17). Ons sal ook versigtig wees om nie “verder [te] gaan as die dinge wat geskrywe staan nie” (1 Kor. 4:6). Wanneer ons dit doen, hou ons ons oë op Jehovah.

Watter les leer ons uit Moses se reaksie op die foute wat ander mense gemaak het? (Sien paragraaf 19)

19. Hoe kan ons vermy dat ons verhouding met Jehovah negatief beïnvloed word deur die foute wat ander mense maak?

19 Moenie toelaat dat jou verhouding met Jehovah negatief beïnvloed word deur die foute wat ander mense maak nie. As ons ons figuurlike oë op Jehovah hou, sal ons nie toelaat dat die dinge wat ander mense doen, ons baie kwaad laat word nie. Ons sal ook nie toelaat dat dit ’n negatiewe invloed op ons verhouding met Jehovah het nie. Dit is veral belangrik as ons, soos Moses, sekere verantwoordelikhede in God se organisasie het. Al moet elkeen van ons ‘aanhou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’, moet ons onthou dat Jehovah ons nie volgens een streng, onbuigsame standaard oordeel nie (Fil. 2:12). Ons moet natuurlik ook onthou dat hoe meer verantwoordelikheid ons het, hoe meer word daar van ons verwag (Luk. 12:48). Maar as ons Jehovah werklik liefhet, sal niks ons laat struikel of ons van sy liefde skei nie. — Ps. 119:165; Rom. 8:37-39.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Laat ons, in hierdie moeilike tye waarin ons lewe, aanhou om ons oë te hou op die Een wat “in die hemel woon”, sodat ons kan verstaan wat sy wil is. Wat met Moses gebeur het, leer ons ’n belangrike les. Ons moet nooit toelaat dat ons verhouding met Jehovah negatief beïnvloed word deur die dinge wat ander mense doen nie. In plaas daarvan om te oorreageer as gevolg van ander se onvolmaakthede, moet ons eerder vasbeslote wees om “ons oë op Jehovah ons God [te hou] totdat hy aan ons guns betoon”. — Ps. 123:1, 2.

^ par. 8 Hierdie plek is nie dieselfde Meriba as die een wat naby Refidim was nie. Die eerste Meriba was in die omgewing van Massa, naby Refidim, en die tweede Meriba was in die omgewing van Kades. Maar albei plekke is Meriba genoem omdat ’n stryery daar plaasgevind het. — Sien die kaart in Deel 7 van ’n Studiegids vir God se Woord.

^ par. 11 Professor John A. Beck sê oor hierdie verslag: “Volgens een Joodse tradisie het die mense wat in opstand gekom het, Moses gekritiseer deur te sê: ‘Moses ken hierdie soort rots goed! As hy wil bewys dat hy regtig wonderwerke kan doen, moet hy vir ons water uit hierdie ander rots laat kom.’” Maar dit is natuurlik net ’n tradisie.

^ par. 12 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1987.