Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied — In Mianmar

Hulle het hulle gewillig aangebied — In Mianmar

“DIE oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:2). Hierdie woorde wat Jesus sowat 2 000 jaar gelede gesê het, beskryf die situasie van die verkondigers in Mianmar vandag. Hoekom sê ons so? In Mianmar is ongeveer 4 200 verkondigers besig om die goeie nuus aan 55 miljoen mense te verkondig.

Maar “die Heer van die oes”, Jehovah, het die harte van duisende broers en susters van verskillende lande gemotiveer, en hulle het na hierdie land in Suidoos-Asië gegaan om met die geestelike oeswerk te help. Hoekom het hulle hulle geboorteland verlaat? Wat het hulle gehelp om na Mianmar te gaan? En hoe word hulle geseën? Kom ons vind uit.

“KOM, ONS HET NOG PIONIERS NODIG!”

’n Paar jaar gelede het Kazoehiro, ’n pionier in Japan, ’n epileptiese aanval gehad, sy bewussyn verloor en in die hospitaal beland. Die dokter het vir hom gesê dat hy vir die volgende twee jaar nie mag bestuur nie. Kazoehiro kon dit nie glo nie. Hy het gedink: ‘Ek is so lief vir die pionierdiens. Hoe sal ek kan aanhou om dit te doen?’ Hy het baie gebid en Jehovah gesmeek om dit vir hom moontlik te maak om aan te hou pionier.

Kazoehiro en Mari

Kazoehiro vertel: “’n Maand later het my vriend, wat in Mianmar dien, gehoor wat met my gebeur het. Hy het my gebel en gesê: ‘In Mianmar ry die meeste mense met die bus. As jy hiernatoe kom, sal jy kan aanhou velddiens doen, want jy het nie ’n kar nodig nie!’ Ek het toe vir my dokter gevra of ek gesond genoeg is om na Mianmar te gaan. Ek kon dit skaars glo toe die dokter vir my sê: ‘’n Breinspesialis van Mianmar is op die oomblik hier in Japan. Ek sal jou aan hom voorstel. As jy ooit weer ’n aanval kry, sal hy jou kan help.’ Die dokter se antwoord was vir my soos ’n antwoord van Jehovah af.”

Kazoehiro het onmiddellik ’n e-pos na die takkantoor in Mianmar gestuur en gesê dat hy en sy vrou graag as pioniers in daardie land wil dien. En net vyf dae later het die takkantoor geantwoord: “Kom, ons het nog pioniers nodig!” Kazoehiro en sy vrou, Mari, het hulle karre verkoop, visums gekry en vliegtuigkaartjies gekoop. Hulle dien nou in die gebaretaalgroep in Mandalay en geniet dit baie. Kazoehiro sê: “Hierdie ondervinding het ons groter vertroue gegee in God se belofte in Psalm 37:5, wat sê: ‘Laat jou  weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.’”

JEHOVAH MAAK DIT MOONTLIK

In 2014 het Jehovah se Getuies in Mianmar die voorreg gehad om ’n spesiale streekbyeenkoms te hou. ’n Hele paar broers en susters van die buiteland is uitgenooi om dit by te woon. Monique, ’n suster in haar middel-30’s van die Verenigde State, was een van hulle. Sy sê: “Nadat ek van die byeenkoms af teruggekom het, het ek tot Jehovah gebid en hom gevra wat ek volgende moet doen. Ek het ook met my ouers oor my geestelike doelwitte gepraat. Ons het almal gedink dat ek moet teruggaan Mianmar toe. Maar dit het ’n hele rukkie geneem, en ek het baie gebid voordat ek uiteindelik besluit het wat ek gaan doen.” Monique verduidelik hoekom dit so lank gevat het.

Monique en Li

“Jesus het sy volgelinge aangespoor om die ‘koste te bereken’. Daarom het ek my afgevra: ‘Kan ek dit bekostig om te trek? Sal ek myself in daardie land kan onderhou sonder om lang ure te werk?’” Sy erken: “Ek het gou agtergekom dat ek nie genoeg geld het om na die anderkant van die wêreld te trek nie.” Hoe het sy dit dan reggekry om te trek? — Luk. 14:28.

Monique vertel: “Eendag het my baas my ingeroep. Ek was senuweeagtig, want ek het gedink dat ek my werk gaan verloor. Maar my baas het my eerder vir my goeie werk bedank. Toe het sy vir my gesê dat sy gereël het dat ek ’n bonus kry. Die bonus was die presiese bedrag wat ek nodig gehad het om my skuld af te betaal!”

Monique dien al vanaf Desember 2014 in Mianmar. Hoe voel sy daaroor om te dien waar daar hulp nodig is? Sy sê: “Ek is so bly om hier te wees. Ek hou drie Bybelstudies. Een van my studies is 67 jaar oud. Sy groet my altyd met ’n glimlag en ’n stywe drukkie. Toe sy geleer het dat God se naam Jehovah is, het sy begin huil. Sy het gesê: ‘Dit is die eerste keer in my lewe dat ek hoor dat God se naam Jehovah is. Ek is twee keer so oud soos jy, maar jy het my die belangrikste ding in my lewe geleer.’ Natuurlik het ek ook begin huil. Sulke ondervindinge maak dit regtig die moeite werd om te dien waar daar hulp nodig is.” Monique het onlangs die voorreg gehad om die Skool vir Koninkrykspredikers by te woon.

Die verslag oor Mianmar in die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2013 is nog ’n rede waarom baie na hierdie land toe getrek het. Li, ’n suster in haar vroeë 30’s, het alreeds in Suidoos-Asië gebly. Sy het voltyds gewerk, maar die verslag in die Jaarboek het haar daaraan laat dink om in Mianmar te gaan dien. Sy sê: “Toe ek in 2014 die spesiale streekbyeenkoms in Jangon bygewoon het, het ek ’n getroude paartjie ontmoet wat dien waar daar hulp nodig is. Hulle dien in die Chinese veld in Mianmar. Omdat ek Chinees praat, het ek besluit om Mianmar toe te trek en die Chinese groep daar te ondersteun. Ek en Monique het toe saam in Mandalay gaan bly. Jehovah het ons geseën en ons gehelp om deeltydse werk as onderwysers by dieselfde skool te kry. Ons het ook ’n woonstel daar naby gekry. Al is dit baie warm en al is dinge nie altyd so maklik nie, geniet ek my diens hier. Mense in Mianmar lewe baie eenvoudig, maar hulle is vriendelik en altyd gewillig om na die goeie nuus te luister. Dit is baie opwindend om te sien hoe Jehovah die werk al hoe vinniger laat groei. Ek is doodseker dat dit Jehovah se wil is dat ek hier in Mandalay moet wees.”

JEHOVAH BEANTWOORD GEBEDE

’n Hele paar verkondigers wat dien waar daar hulp nodig is, het die krag van gebed ervaar. Kyk byvoorbeeld na Joempei en sy vrou, Nao, wat albei in hulle  middel-30’s is. Hulle het reeds in ’n gebaretaalgemeente in Japan gedien. Hoekom het hulle Mianmar toe getrek? Joempei vertel: “Dit was nog altyd ons doelwit om in ’n ander land te gaan dien waar daar hulp nodig is. ’n Broer in ons gebaretaalgemeente in Japan het na Mianmar getrek. Al het ons net ’n bietjie spaargeld gehad, het ons in Mei 2010 ook Mianmar toe getrek. Die broers en susters in Mianmar het ons baie welkom laat voel!” Hoe voel hy oor die gebaretaalgebied in Mianmar? “Baie mense stel belang. Wanneer ons die gebaretaalvideo’s vir dowe mense wys, is hulle baie verbaas. Ons is so bly dat ons besluit het om Jehovah hier te kom dien!”

Nao en Joempei

Hoe het Joempei en Nao hulleself onderhou? “Ná drie jaar was ons spaargeld amper op en het ons nie genoeg geld gehad om die huur vir die volgende jaar te betaal nie. Ek en my vrou het baie gebid. Toe het ons uit die bloute ’n brief van die takkantoor gekry. Hulle het ons genooi om as tydelike spesiale pioniers te dien! Ons het op Jehovah vertrou en gesien dat hy ons nooit vergeet het nie. Hy het nog altyd vir ons gesorg en ons alles gegee wat ons nodig gehad het.” Joempei en Nao het ook onlangs die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon.

BAIE WORD DEUR JEHOVAH GEMOTIVEER

Simone en sy vrou, Anna, het ook besluit om Mianmar toe te trek. Hy is in sy middel-40’s en oorspronklik van Italië, en sy is in haar laat 30’s en oorspronklik van Nieu-Seeland. Wat het hulle gemotiveer om te trek? Anna sê: “Dit was die verslag oor Mianmar in die Jaarboek van 2013!” Simone sê: “Dit is ’n groot voorreg om in Mianmar te wees. Die lewe hier is baie eenvoudig, en ek kan meer tyd in Jehovah se werk spandeer. Dit is fantasties om te sien hoe Jehovah vir jou sorg wanneer jy in ’n gebied dien waar daar hulp nodig is” (Ps. 121:5). Anna sê: “Ek was nog nooit so gelukkig nie. Ons het ’n eenvoudige lewe. Ek spandeer meer tyd saam met my man, en ons het nader aan mekaar gekom. Ons het ook nuwe vriende gemaak vir wie ons baie lief is. Mense is nie bevooroordeeld teenoor die Getuies nie, en dit is wonderlik om in ’n gebied te werk waar daar so baie belangstelling is!” Hoekom sê sy so?

Simone en Anna

Anna vertel: “Ek het eendag vir ’n universiteitstudent by die mark getuig en gereël om haar weer te sien. Toe ons mekaar weer sien, het sy een van haar maats saamgebring. Die volgende keer het sy nog ’n paar gebring, en later selfs meer. Ek studeer nou met vyf van hulle.” Simone sê: “Die mense in die gebied is vriendelik en wil graag meer weet. Baie van hulle stel belang. Ons het eenvoudig nie genoeg tyd om al die belangstelling op te volg nie.”

Satsjio en Mizoeho

Maar watter praktiese dinge kan iemand doen wat daaraan dink om na Mianmar te trek? Mizoeho, van Japan, vertel: “Ek en my man, Satsjio, wou nog altyd in ’n land gaan dien waar daar hulp nodig is. Maar ons het nie geweet waarheen om te gaan nie. Nadat ons die pragtige ondervindinge in die verslag  oor Mianmar in die Jaarboek van 2013 gelees het, het ons begin wonder of ons ook in Mianmar kan gaan dien.” Satsjio vertel verder: “Ons het besluit om ’n week lank na Jangon, die hoofstad van Mianmar, te gaan om meer omtrent die plek uit te vind. Die dinge wat ons daardie week geleer het, het ons oortuig om daarheen te trek.”

KAN JY OOK GAAN HELP?

Jane, Danica, Rodney en Jordan

Rodney en sy vrou, Jane, van Australië, is albei in hulle 50’s. Hulle en hulle kinders, Jordan en Danica, dien al vanaf 2010 in Mianmar. Rodney sê: “Ons was verbaas om te sien hoe geestelik honger die mense is. Ek sal definitief ander gesinne aanmoedig om in ’n plek soos Mianmar te probeer dien.” Hoekom? Hy sê: “Ek kan nie eens beskryf hoe goed dit vir ons gesin se geestelikheid was nie! Baie jongmense se lewe draai net om hulle foon, hulle kar, hulle werk en sulke dinge. Maar ons kinders is besig om nuwe woorde te leer wat hulle in die velddiens kan gebruik. Hulle probeer leer hoe om te redeneer met mense wat nie baie van die Bybel weet nie en hoe om antwoorde by die vergaderinge in die plaaslike taal te gee. Hulle is ook baie besig met ander opwindende geestelike aktiwiteite.”

Oliver en Anna

Oliver, ’n broer in sy laat 30’s van die Verenigde State, verduidelik hoekom hy ander aanmoedig om te gaan dien waar daar hulp nodig is. Hy sê: “Dit hou baie voordele in om Jehovah te dien op ’n plek waar dinge verskil van dit waaraan jy gewoond is. Om na ’n vreemde plek te trek het my gehelp om meer op Jehovah te vertrou, maak nie saak wat my omstandighede is nie. En om saam met ander te dien wat ek nie voorheen geken het nie, maar wat aan dieselfde dinge as ek glo, het my regtig gehelp om te sien dat daar niks belangriker as God se Koninkryk is nie.” Oliver en sy vrou, Anna, dien nog steeds ywerig in die Chinese veld.

Trazel

Trazel, ’n suster in haar vroeë 50’s van Australië, dien al vanaf 2004 in Mianmar. Sy sê: “Ek sal beslis enigiemand wie se omstandighede dit toelaat, aanmoedig om te gaan dien waar daar hulp nodig is. Ek het geleer dat as jy vir Jehovah wys dat jy die begeerte het om te dien, hy jou sal seën. Ek sou nooit kon droom dat ek so ’n wonderlike lewe sou hê nie. Ek is regtig tevrede en geniet baie seëninge, meer as waarvoor ek ooit kon vra.”

Ons hoop dat hierdie opregte woorde van broers en susters wat in Mianmar dien waar daar hulp nodig is, jou sal aanspoor om in gebiede te gaan dien waar mense baie graag die waarheid wil leer. Hierdie broers en susters nooi jou hartlik uit: “Kom asseblief oor na Mianmar, en kom help ons!”