Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied — in Madagaskar

Hulle het hulle gewillig aangebied — in Madagaskar

“MY VRIENDE het gaan dien waar daar meer pioniers nodig was. Toe ek na hulle goeie ondervindinge geluister het, wou ek ook graag dieselfde vreugde ervaar”, sê Sylviana, ’n pionier wat in haar 20’s is. “Maar ek het gevoel dat ek dit nie sou kon doen nie.”

Voel jy ook soos Sylviana? Wil jy ook graag in ’n gebied gaan dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is? Twyfel jy dalk of jy dit ooit sal kan doen? As jy so voel, moet jy nie opgee nie! Met Jehovah se hulp het duisende broers en susters dit reggekry om meer in die bediening te doen. Om uit te vind hoe Jehovah hulle gehelp het, sal ons die vierde grootste eiland, Madagaskar, besoek.

Oor die afgelope tien jaar, het meer as 70 verkondigers en pioniers van meer as 11 lande * gekom om in hierdie veld in Afrika te dien, waar baie mense respek het vir die Bybel. Baie plaaslike verkondigers is ook bereid om te trek sodat die Koninkryksboodskap regoor hierdie groot eiland verkondig kan word. Kom ons leer ’n bietjie meer oor ’n paar van hulle.

NIE MEER BANG EN MISMOEDIG NIE

Perrine en Louis

Louis en Perrine, ’n egpaar in hulle 30’s, het van Frankryk na Madagaskar getrek. Hulle het jare lank daaraan gedink om in ’n ander land te gaan dien, maar Perrine was bietjie huiwerig om te trek. Sy verduidelik: “Ek was bang om in ’n vreemde land te gaan dien. Ek wou nie my familie, gemeente, woonstel, al die bekende plekke en ons roetine verlaat nie. Dit was eintlik net my eie bekommernisse wat my teruggehou het.” In 2012 het Perrine die moed bymekaargeskraap, en sy en Louis het getrek. Hoe voel sy oor hulle besluit? “Dit versterk my geloof as ek dink hoe Jehovah ons oor die jare gehelp het.” Louis sê: “Kan jy dit glo? Tien van ons Bybelstudente het ons eerste Gedenkmaal in Madagaskar bygewoon!”

 Wat het hulle gehelp om in hulle toewysing te bly ten spyte van probleme? Hulle het Jehovah in gebed gesmeek om hulle die krag te gee om te volhard (Fil. 4:13). Louis sê: “Ons het gevoel dat Jehovah ons gebede verhoor het en ons die ‘vrede van God’ gegee het. Dit het ons gehelp om te fokus op hoe gelukkig die velddiens ons maak. Ons vriende by die huis het ook e-posse en briewe vir ons gestuur om ons aan te moedig om nie moed op te gee nie.” — Fil. 4:6, 7; 2 Kor. 4:7.

Jehovah het Louis en Perrine se volharding geseën. “In Oktober 2014 het ons die Bybelskool vir Christenegpare * in Frankryk bygewoon”, sê Louis. “Om hierdie skool te kon bywoon was ’n onvergeetlike geskenk van Jehovah.” Hulle was baie bly toe hulle gevra is om weer na Madagaskar toe te gaan.

“ONS SAL BAIE TROTS WEES OP JULLE!”

Nadine en Didier

In 2010 het Didier en Nadine, ’n egpaar van Frankryk in hulle 50’s, na Madagaskar getrek. Didier vertel: “Ons het gepionier toe ons jonger was, en toe het ons drie kinders grootgemaak. Toe ons kinders oud genoeg was om die huis te verlaat, het ons daaraan begin dink om in ’n ander land te gaan dien.” Nadine erken: “Die idee om ver weg van ons kinders af te wees, het my laat twyfel. Maar hulle het vir ons gesê: ‘Ons sal baie trots wees op julle as julle gaan dien waar daar hulp nodig is!’ Dit het ons aangemoedig om in ’n ander land te gaan dien. Al bly ons nou baie ver van ons kinders af, is ons bly dat ons gereeld met hulle kan praat.”

Dit was vir Didier en Nadine baie moeilik om die Malgassiese taal te leer. “Ons is nie meer 20 jaar oud nie”, sê Nadine met ’n glimlag. Hoe het hulle dit reggekry? Hulle het eers die Franse gemeente bygewoon. Later, toe hulle gevoel het dat hulle gereed is om die plaaslike taal aan te leer, het hulle na die gemeente gegaan waar hulle Malgassies praat. Nadine sê: “Baie mense wat ons in die velddiens ontmoet, hou daarvan om die Bybel te studeer. Hulle bedank ons gereeld omdat ons hulle kom besoek. In die begin het dit vir my soos ’n droom gevoel. Ek hou baie daarvan om in hierdie gebied te pionier. Wanneer ek soggens opstaan, sê ek vir myself: ‘Dis wonderlik. Ek gaan vandag preek!’”

Didier glimlag wanneer hy terugdink aan die tyd toe hy Malgassies geleer het. “Ek het ’n vergadering gehou, maar ek het nie die broers en susters se antwoorde verstaan nie. Al wat ek kon sê, was: ‘Dankie.’ Nadat ek ’n suster vir haar antwoord bedank het, het dié wat agter haar gesit het vir my gewys dat haar antwoord verkeerd was. Ek het ’n ander broer gevra, wat toe die regte antwoord gegee het — of ek hoop dit was reg.”

 SY WAS BLY OM DIE UITNODIGING TE AANVAAR

By die streekbyeenkoms in 2005, het Thierry en sy vrou, Nadia, die drama “Streef doelwitte na wat God eer” gekyk. Daardie Bybeldrama oor Timoteus het hulle diep geraak en hulle begeerte versterk om te gaan dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Thierry sê: “Aan die einde van die drama, toe almal hande geklap het, het ek vir my vrou gefluister: ‘Waarheen gaan ons?’ My vrou het gesê dat sy ook daaroor gedink het.” Kort daarna het hulle planne gemaak om hulle doelwit te bereik. Nadia vertel: “Ons het stadig maar seker ontslae geraak van ons besittings totdat alles in net vier tasse kon pas!”

Heel links: Nadia en Marie-Madeleine; Heel regs: Thierry

Hulle het in 2006 in Madagaskar aangekom en het van die begin af die velddiens geniet. Nadia sê: “Die mense wat ons ontmoet, maak ons baie bly.”

Maar ses jaar later was daar ’n probleem. Nadia se ma, Marie-Madeleine, wat in Frankryk gebly het, het geval en haar arm gebreek en haar kop beseer. Nadat hulle met haar dokter gepraat het, het hulle Marie-Madeleine gevra om by hulle in Madagaskar te kom bly. Al was sy 80 jaar oud, was sy bly om hierdie uitnodiging te aanvaar. Hoe voel sy daaroor om in ’n ander land te bly? Sy sê: “Soms is dit moeilik om aan te pas, maar al kan ek nie meer so baie doen nie, voel ek dat ek nog steeds die gemeente kan help. En wat my baie bly maak, is dat hierdie reëling dit vir my kinders moontlik maak om aan te hou dien waar daar hulp nodig is.”

‘EK HET GESIEN HOE JEHOVAH MY HELP’

Riana hou ’n toespraak in die Tandroy-taal

Riana is ’n broer in sy vroeë 20’s. Hy het in Alaotra Mangoro grootgeword, ’n vrugbare gebied in die ooste van Madagaskar. Hy het goed op skool gedoen en wou verder gaan leer. Maar nadat hy die Bybel gestudeer het, het hy van plan verander. Hy vertel: “Ek wou graag my skoolloopbaan vroeër klaarmaak en ek het Jehovah belowe: ‘As ek my eindeksamen slaag, sal ek begin pionier.’” Riana het sy belofte gehou. Hy het by ’n pionierbroer ingetrek, ’n deeltydse werk gekry en begin pionier. Hy sê: “Dit is die beste besluit wat ek ooit gemaak het.”

Maar Riana se familie het nie verstaan hoekom hy nie ’n loopbaan in die wêreld wou hê nie. Hy vertel: “My pa, my oom en my ouma se suster het my aangemoedig om verder te gaan leer. Maar ek wou nie ophou pionier nie.” Nie lank daarna nie wou Riana gaan dien waar daar hulp nodig is. Hoekom het hy hierdie begeerte gehad? Hy vertel: “Diewe het by ons blyplek ingebreek en baie van ons goed gesteel. Dit het my laat dink aan Jesus se woorde om ‘skatte in die hemel op te gaar’. Ek het besluit om harder te werk om geestelik ryk te word” (Matt. 6:19, 20). Hy het na die suidelikste deel van die land getrek. Dit is ’n baie droë deel van die land, en is omtrent 1 300 kilometer van waar hy gebly het. Dit is waar die Antandroy-mense bly. Hoekom het hy daarheen gegaan?

’n Maand voordat hulle ingebreek het, het Riana die Bybel met twee Antandroy-mans begin studeer. Hy het ’n paar woorde in hulle taal geleer, en toe het hy begin dink aan al die Antandroy-mense wat nog nie die Koninkryksboodskap gehoor het nie. Hy sê: “Ek het Jehovah gevra om my te help om te trek na waar hulle Tandroy praat.”

Riana het getrek, maar hy kon nie ’n werk kry nie. Een man het hom gevra: “Hoekom is jy hier? Mense trek hier weg om werk te gaan soek waar jy vandaan kom!” Ná twee weke het Riana die gebied verlaat om na ’n streekbyeenkoms toe te gaan. Sy geld was amper op en hy het gewonder wat hy gaan doen. Op die laaste dag van die byeenkoms het ’n broer iets in Riana se baadjiesak gesit. Dit was genoeg geld vir hom om terug te gaan en om ’n klein besigheid te begin deur jogurt te verkoop. Riana sê: “Ek het gesien hoe Jehovah my op die regte tyd help. Ek kon aanhou om mense te help wat nog nie ’n kans gehad het om van Jehovah te leer nie!” Daar was ook baie werk om in die gemeente te doen. Riana sê: “Ek moes elke tweede week ’n openbare toespraak hou. Jehovah het my  deur die organisasie opgelei.” Vandag verkondig Riana nog steeds die Koninkryksboodskap aan mense wat Tandroy praat en wat van Jehovah wil leer.

GESEËN DEUR JEHOVAH

Jehovah belowe dat hy enigiemand sal seën wat hom wil dien (Jes. 65:16). As ons hard werk om uitdagings te oorkom en om meer in die bediening te doen, seën Jehovah ons. Dink aan Sylviana, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Sy het gevoel dat sy nie kon gaan dien waar daar hulp nodig is nie. Hoekom het sy so gedink? Sy verduidelik: “My linkerbeen is nege sentimeter korter as my regterbeen. So ek sukkel om te loop en ek word gou moeg.”

Sylviana (links) en Sylvie Ann (regs) saam met Doratine op haar doopdag

Maar in 2014 het Sylviana saam met Sylvie Ann, ’n jong pioniersuster in haar gemeente, na ’n klein dorpie getrek wat 85 kilometer van hulle huis is. Ten spyte van haar uitdagings, het Sylviana se droom waar geword, en sy is geseën! Sy vertel: “Nadat ek slegs ’n jaar in my nuwe toewysing was, is Doratine, ’n jong ma met wie ek die Bybel gestudeer het, by ons kringbyeenkoms gedoop.”

“EK SAL JOU WERKLIK HELP”

Die voorbeeld van hierdie broers en susters wat gaan dien het waar daar hulp nodig is, wys dat wanneer ons hard werk om ’n uitdaging te oorkom, ons persoonlik sien hoe Jehovah sy belofte aan sy knegte hou: “Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help” (Jes. 41:10). Die gevolg is dat ons vriendskap met Jehovah sterker word. En as ons ons gewillig aanbied — in die gebied waar ons bly of in ’n ander land — berei dit ons voor vir die teokratiese werk wat vir ons in die nuwe wêreld wag. Didier, wat vroeër genoem is, sê: “Om te dien waar daar hulp nodig is, is goeie opleiding vir die toekoms!” Mag baie meer gewillige werkers met hierdie opleiding begin!

^ par. 4 Hierdie broers en susters het van Duitsland, Frankryk, Guadeloupe, Kanada, Luxemburg, Nieu-Kaledonië, Swede, Switserland, die Tsjeggiese Republiek, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State gekom.

^ par. 8 Dit is vervang deur die Skool vir Koninkrykspredikers. Voltydse bedienaars wat in ’n ander land dien en aan die vereistes voldoen, kan aansoek doen om hierdie skool in hulle geboorteland by te woon of in ’n ander land waar die skool in hulle moedertaal gehou word.