Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied

Hulle het hulle gewillig aangebied

BAIE ongetroude susters dien ywerig in lande waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Party van hulle dien al dekades lank in die buiteland. Wat het hulle jare gelede gehelp om die besluit te neem om na ’n vreemde land te trek? Wat het hulle geleer terwyl hulle in die buiteland gedien het? Watter uitwerking het dit op hulle lewe gehad? Ons het met ’n paar van hierdie ervare susters gepraat. As jy ’n ongetroude suster is en graag wil deelneem aan ’n bediening wat baie bevredigend is, sal jy beslis by hulle kommentare baat vind. Om die waarheid te sê, al God se knegte kan by hulle voorbeeld baat vind.

AS JY TWYFEL

Anita

Wonder jy of jy dit sal kan regkry om as ’n ongetroude pionier in die buiteland te dien? Anita, wat nou in haar middel-70’s is, het getwyfel of sy dit sou kon doen. Sy het in Engeland grootgeword en het daar begin pionier toe sy 18 jaar oud was. “Ek het daarvan gehou om mense van Jehovah te leer”, sê sy, “maar ek het nooit gedink dat ek in die buiteland sou kon dien nie. Ek het nooit ’n ander taal probeer leer nie en was oortuig dat ek dit nie sou regkry nie. Ek was dus geskok toe ek ’n uitnodiging na die Gileadskool ontvang het. Ek was verbaas dat iemand so onbelangrik soos ek so ’n uitnodiging ontvang het. Maar ek het gedink: ‘As Jehovah dink dat ek dit kan doen, sal ek probeer.’ Dit was meer as 50 jaar gelede. Sedertdien dien ek as ’n sendeling in Japan.” Anita voeg by: “Soms sê ek met ’n vonkel in my oë vir jonger susters: ‘Pak jou rugsak en geniet die grootste avontuur wat daar is!’ Ek is bly om te sê dat baie dit gedoen het.”

SKRAAP DIE MOED BYMEKAAR

Baie susters wat al in die buiteland gedien het, was aanvanklik huiwerig om na ’n vreemde land te trek. Hoe het hulle die nodige moed bymekaargeskraap?

Maureen

“As kind was dit my begeerte om eendag iets sinvols met my lewe te doen, om ander te help”, vertel Maureen, wat nou in haar middel-60’s is. Toe sy 20 geword het, het sy getrek na Quebec, Kanada, waar meer pioniers nodig was. “Later is ek na die Gileadskool genooi, maar ek was bang om sonder my vriende in ’n vreemde land te gaan dien.” Sy voeg by: “Ek was ook bekommerd om my ma agter te laat wat na my siek pa moes omsien. Ek was baie nagte in trane terwyl ek my hart voor Jehovah uitgestort het. Toe ek met my ouers oor my bekommernisse gepraat het, het hulle my aangespoor om die uitnodiging te aanvaar. Ek het ook gesien hoe die  plaaslike gemeente my ouers liefdevol ondersteun. Toe ek sien hoe Jehovah liefdevol vir hulle sorg, het dit my die vertroue gegee dat hy ook vir my sal sorg. Toe was ek gereed om te gaan!” Maureen is in 1979 as ’n sendeling na Wes-Afrika gestuur en sy het meer as 30 jaar daar gedien. Maureen dien vandag as ’n spesiale pionier terwyl sy na haar ma in Kanada omsien. Sy sê van die jare wat sy in die buiteland gedien het: “Jehovah het altyd voorsien wat ek nodig gehad het en wanneer ek dit nodig gehad het.”

Wendy

Wendy, wat nou in haar middel-60’s is, het as ’n tiener in Australië begin pionier. Sy vertel: “Ek was baie skaam, en dit was vir my moeilik om met vreemdelinge te praat. Maar die pionierdiens het my geleer om met alle soorte mense gesprekke te voer, en ek het meer selfvertroue gekry. Later het ek besef dat ek my nie meer oor selfvertroue hoef te bekommer nie. Die pionierdiens het my geleer om op Jehovah te vertrou, en ek het al hoe meer begin hou van die idee om oorsee te dien. ’n Ongetroude suster wat meer as 30 jaar lank in Japan as ’n sendeling gedien het, het my genooi om drie maande lank saam met haar in Japan te dien. Daardie ondervinding het my begeerte vergroot om in ’n ander land te gaan dien.” Wendy het in die middel-1980’s na Vanuatu getrek, ’n eiland omtrent 1 770 kilometer oos van Australië.

Wendy is nog steeds in Vanuatu. Sy dien nou by ’n vertaalkantoor. “Dit verskaf my die grootste vreugde om te sien hoe groepe en gemeentes in afgeleë gebiede gevorm word”, sê sy. “Die klein aandeel wat ek aan Jehovah se werk op hierdie eilande het, is ’n onbeskryflike voorreg.”

Koemiko (middel)

Koemiko, wat nou in haar middel-60’s is, het as ’n gewone pionier in Japan gedien toe haar pioniermaat voorgestel het dat hulle na Nepal trek. “Sy het my oor en oor gevra, maar ek het bly nee sê”, sê Koemiko. “Ek was bekommerd dat ek sou sukkel om ’n nuwe taal aan te leer en om by ’n nuwe omgewing aan te pas. Ek sou ook geld nodig hê om na ’n ander land te trek. Terwyl ek met hierdie gedagtes geworstel het, het ek ’n motorfietsongeluk gehad en in die hospitaal beland. Daar het ek gedink: ‘Wie weet wat nog met my kan gebeur? Ek kan ’n ernstige siekte kry en sal dan nooit oorsee kan pionier nie. Miskien moet ek ten minste ’n jaar lank in ’n ander land gaan dien.’ Ek het vurig tot Jehovah gebid om my te help om dit te doen.” Nadat Koemiko uit die hospitaal ontslaan is, het sy Nepal besoek en later het sy en haar pioniermaat daarheen getrek.

 Ná byna tien jaar se diens in Nepal, sê Koemiko: “Die dinge waaroor ek my bekommer het, was toe nie so erg nie. Ek is baie bly dat ek gaan dien het waar hulp nodig is. Wanneer ons met ’n gesin oor die Bybelboodskap praat, kom vyf of ses van die bure dikwels om te kom luister. Selfs klein kindertjies vra my respekvol vir ’n traktaat oor die Bybel. Dit verskaf my groot vreugde om te preek in hierdie gebied waar daar baie belangstelling is.”

DIE UITDAGINGS

Die moedige ongetroude susters met wie ons onderhoude gevoer het, het natuurlik voor uitdagings te staan gekom. Wat het hulle daaromtrent gedoen?

Diane

“In die begin was dit moeilik om so ver van my familie af te wees”, sê Diane, van Kanada. Sy is nou in haar vroeë 60’s en het 20 jaar lank as ’n sendeling in die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire) gedien. “Ek het Jehovah gevra om my te help om lief te wees vir die mense in my toewysing. Een van my instrukteurs by Gilead, broer Jack Redford, het gesê dat ons in die begin moontlik ontsteld, selfs geskok, sal wees wanneer ons die toestande in ons toewysing sien, veral die volslae armoede. Maar hy het gesê: ‘Moenie na die armoede kyk nie. Kyk na die mense, na hulle gesigte en hulle oë. Let op hulle reaksie wanneer hulle Bybelwaarhede hoor.’ Ek het dit gedoen en dit was ’n groot seën! Wanneer ek die mense van die vertroostende Koninkryksboodskap vertel het, het ek gesien hoe hulle gesigte ophelder!” Wat het Diane nog gehelp om aan te pas in ’n ander land? “Ek het lief geword vir my Bybelstudente en het die groot vreugde ervaar om te sien hoe hulle getroue knegte van Jehovah word. Die land waar ek gedien het, het my tuiste geword. Ek het geestelike moeders en vaders, broers en susters gekry, net soos Jesus belowe het.”—Mark. 10:29, 30.

Anne, wat nou in haar middel-40’s is, dien in Asië in ’n land waar daar beperkings op ons werk is. Sy vertel: “Deur die jare heen het ek in verskillende lande gedien, en ek het saam met susters gebly wie se agtergronde en persoonlikhede hemelsbreed van myne verskil het. Soms het dit tot misverstande en seergemaakte gevoelens gelei. Wanneer dit gebeur het, het ek probeer om nader aan my huismaats te kom en hulle kultuur beter te verstaan. Ek het ook harder probeer om liefdevoller en redeliker teenoor hulle te wees. Ek is bly dat my pogings vrugte afgewerp het en tot innige en blywende vriendskappe  gelei het wat my help om in my toewysing te volhard.”

Ute

Ute, van Duitsland, wat nou in haar vroeë 50’s is, is in 1993 as ’n sendeling na Madagaskar gestuur. Sy vertel: “In die begin het ek gesukkel om die plaaslike taal aan te leer en om by die vogtige klimaat aan te pas. Malaria, amebes en parasitiese wurms was ook ’n uitdaging. Maar ek het baie hulp ontvang. Die plaaslike susters, hulle kinders en my Bybelstudente het my geduldig gehelp om die taal aan te leer. My sendelingmaat het liefdevol na my omgesien wanneer ek siek was. Maar bowenal het Jehovah my gehelp. Ek het dikwels in gebed my sorge op hom gewerp. Dan het ek geduldig gewag—soms dae lank, soms maande lank—vir ’n antwoord op my gebede. Jehovah het elke probleem opgelos.” Ute dien al 23 jaar lank in Madagaskar.

RYK SEËNINGE

Ongetroude susters wat dien in lande waar hulp nodig is, sê dikwels dat dit hulle lewe verryk het. Watter seëninge het hulle ontvang?

Heidi

Heidi, van Duitsland, wat nou in haar vroeë 70’s is, dien al sedert 1968 as ’n sendeling in die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire). Sy vertel: “Dit verskaf my groot vreugde om te sien hoe my geestelike kinders ‘voortgaan om in die waarheid te wandel’. Sommige van my vorige Bybelstudente is nou pioniers en gemeentelike ouer manne. Baie van hulle noem my Ma of Ouma. Een van hierdie ouer manne en sy vrou en kinders beskou my as familie. Jehovah het dus vir my ’n seun, ’n skoondogter en drie kleinkinders gegee.”—3 Joh. 4.

Karen (middel)

Karen, van Kanada, wat nou in haar vroeë 70’s is, het meer as 20 jaar in Wes-Afrika gedien. Sy sê: “Die lewe as ’n sendeling het my geleer om meer selfopofferend, liefdevol en geduldig te wees. En om saam met broers en susters van verskillende nasionaliteite te werk, het my beskouing verruim. Ek het geleer dat daar meer as een manier is om iets te doen. Dit is vir my ’n groot seën om dierbare vriende regoor die wêreld te hê! Hoewel ons lewens en ons toewysings verander het, is ons nog steeds vriende.”

Margaret, van Engeland, wat nou in haar laat 70’s is, het as ’n sendeling in Laos gedien. Sy vertel: “Om in ’n ander land te dien, het my gehelp om te sien hoe Jehovah mense van alle rasse en agtergronde na sy organisasie trek. Hierdie ondervinding het my geloof baie versterk. Dit gee my volkome vertroue dat Jehovah sy organisasie rig en dat sy voornemens volbring sal word.”

Ongetroude susters wat in ander lande dien, het beslis ’n goeie rekord in Jehovah se diens opgebou. Hulle verdien om geprys te word (Rig 11:40). Wat meer is, hulle getalle neem toe (Ps 68:11). Kan jy aanpassings maak en in die voetstappe volg van die ywerige susters wat in hierdie artikel genoem word? As jy kan, sal jy ongetwyfeld “smaak en sien dat Jehovah goed is”.—Ps 34:8.