Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 STUDIEARTIKEL 7

Ons is baie lief vir Jehovah, ons Vader

Ons is baie lief vir Jehovah, ons Vader

“Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.” – 1 JOH. 4:19.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom en hoe het Jehovah dit vir ons moontlik gemaak om deel van sy gesin te wees?

JEHOVAH het ons genooi om deel van sy gesin van aanbidders te wees. Dit is beslis ’n wonderlike uitnodiging! Ons gesin bestaan uit persone wat hulleself aan God toegewy het en wat geloof het in die losprysoffer van sy Seun. Ons gesin is baie gelukkig. Ons geniet nou ’n betekenisvolle lewe en ons is bly omdat ons die hoop het om vir ewig te lewe – in die hemel of op ’n paradysaarde.

2 Jehovah het dit vir ons moontlik gemaak om deel van sy gesin te wees omdat hy ons baie liefhet. Maar om dit te doen moes Jehovah ’n baie groot opoffering maak (Joh. 3:16). Ons is “met ’n prys gekoop” (1 Kor. 6:20). Deur middel van die losprys het Jehovah dit vir ons moontlik gemaak om na aan hom te wees en ’n goeie verhouding met hom te hê. Ons het die voorreg om die grootste Persoon in die heelal ons Vader te noem. En soos ons in die vorige artikel gesien het, is Jehovah die heel beste Vader.

3. Watter vrae vra ons dalk? (Sien ook die venster “ Sien Jehovah my raak?”)

3 Soos een Bybelskrywer, vra ons dalk: “Waarmee sal ek Jehovah terugbetaal vir al die goeie dinge wat hy vir my gedoen het?” (Ps. 116:12). Die antwoord is dat ons nooit ons hemelse Vader kan terugbetaal nie. Maar sy liefde vir ons beweeg ons om hom lief te hê. Die apostel Johannes het geskryf: “Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19). Op watter maniere kan ons vir ons hemelse Vader wys dat ons hom liefhet?

 BLY NA AAN JEHOVAH

Ons wys hoe baie ons ons hemelse Vader, Jehovah, liefhet wanneer ons tot hom bid, aan hom gehoorsaam is en ander help om hom lief te hê (Sien paragraaf 4-14)

4. Hoekom moet ons volgens Jakobus 4:8 probeer om nader aan Jehovah te kom?

4 Jehovah wil hê dat ons nader aan hom moet kom en met hom moet praat. (Lees Jakobus 4:8.) Hy moedig ons aan om ‘vol te hou met gebed’ en hy is altyd daar om na ons te luister (Rom. 12:12). Hy is nooit te besig of te moeg om na ons te luister nie. En ons luister na hom deur sy Woord, die Bybel, te lees saam met publikasies wat ons help om dit te verstaan. Ons luister ook na hom deur ons volle aandag te gee by Christelike vergaderinge. Net soos goeie kommunikasie kinders help om nader aan hulle ouers te kom, help gereelde kommunikasie met Jehovah ons om na aan hom te bly.

Sien paragraaf 5

5. Hoe kan ons ons gebede verbeter?

5 Dink aan hoe jou kommunikasie met God is. Jehovah wil hê dat ons ons hart voor hom moet uitstort (Ps. 62:8). Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Is my gebede oppervlakkig, elkeen ’n gedrukte kopie van ’n vorige een of is dit soos ’n liefdevolle briefie wat ek met die hand geskryf het?’ Jy is ongetwyfeld baie lief vir Jehovah en jy wil jou verhouding met hom sterk hou. Om dit te doen, moet jy gereeld met hom praat. Vertel hom hoe jy voel. Vertel hom wat jou gelukkig maak en wat jou hartseer maak. Wees verseker dat jy na hom toe kan gaan vir hulp.

6. Wat moet ons doen om na aan ons hemelse Vader te bly?

6 Om na aan ons hemelse Vader te bly, moet ons altyd dankbaar teenoor hom wees. Ons stem saam met die psalmis wat geskryf het: “Hoeveel dinge het u tog gedoen, o Jehovah my God, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons. Niemand kan met u vergelyk word nie. As ek sou probeer om dit te vertel en om daarvan te praat, sou dit te veel wees om op te noem!” (Ps. 40:5). Ons voel nie net dankbaar nie; ons wys ook vir Jehovah dat ons dankbaar is deur wat ons doen en sê. Dit wys dat ons anders is as baie mense vandag. Ons lewe in ’n wêreld waar die meeste mense nie waardeer wat God vir hulle doen nie. Om die waarheid te sê, een van die dinge wat wys dat ons in “die laaste dae” lewe, is die feit dat mense ondankbaar is (2 Tim. 3:1, 2). Ons wil nooit so wees nie!

7. Wat wil Jehovah hê moet ons doen, en hoekom?

7 Ouers wil nie hê dat hulle kinders met mekaar moet stry nie, maar dat hulle vriende moet wees. Net so wil Jehovah hê dat al sy kinders vriende moet wees. Om die waarheid te sê, die liefde wat ons vir mekaar het, bewys dat ons ware Christene is (Joh. 13:35). Ons stem saam met die psalmis wat geskryf het: “Hoe goed en hoe aangenaam is dit as broers in eenheid bymekaar woon!” (Ps. 133:1). Wanneer ons ons broers en susters liefhet, wys ons vir Jehovah dat ons hom liefhet (1 Joh. 4:20). Dit is regtig wonderlik om deel te wees van ’n gesin van broers en susters wat ‘vir mekaar goed is en intense medelye betoon’! – Ef. 4:32.

WYS DAT JY JEHOVAH LIEFHET DEUR GEHOORSAAM TE WEES

Sien paragraaf 8

8. Wat is volgens 1 Johannes 5:3 die belangrikste rede hoekom ons aan Jehovah gehoorsaam is?

8 Jehovah verwag dat kinders gehoorsaam aan hulle ouers moet wees en hy verwag dat ons gehoorsaam aan hom moet wees (Ef. 6:1). Hy verdien ons gehoorsaamheid omdat hy ons Skepper is,  die Een wat vir ons gee wat ons nodig het. Hy is ook wyser as enige ander ouer. Maar die belangrikste rede hoekom ons aan Jehovah gehoorsaam is, is omdat ons hom liefhet. (Lees 1 Johannes 5:3.) Alhoewel daar baie redes is hoekom ons Jehovah moet gehoorsaam, dwing hy ons nie om dit te doen nie. Jehovah het ons vrye wil gegee, so dit maak hom bly wanneer ons kies om hom te gehoorsaam omdat ons hom liefhet.

9-10. Hoekom is dit belangrik om God se reëls te ken en dit te gehoorsaam?

9 Ouers wil hê dat hulle kinders veilig moet wees. Daarom maak hulle reëls om hulle kinders te beskerm. Wanneer kinders gehoorsaam is aan hierdie reëls, wys hulle dat hulle hulle ouers vertrou en respekteer. So dit is selfs belangriker dat ons ons hemelse Vader se reëls ken en dit gehoorsaam. Wanneer ons dit doen, wys ons vir Jehovah dat ons hom liefhet en respekteer en ons vind ook daarby baat (Jes. 48:17, 18). Maar persone wat nie aan Jehovah en sy reëls gehoorsaam is nie, maak op die ou end hulleself net seer. – Gal. 6:7, 8.

10 Wanneer ons op ’n manier lewe wat Jehovah se hart bly maak, beskerm ons onsself teen dinge wat ons fisies en emosioneel kan seermaak of wat ons verhouding met hom kan beskadig. Jehovah weet wat die beste vir ons is. Aurora, wat in die Verenigde State bly, sê: “Ek weet dat dit altyd tot die beste lewe moontlik lei wanneer ons aan Jehovah gehoorsaam  is.” Dit is baie waar. Hoe het dit jou gehelp om Jehovah se liefdevolle raad te gehoorsaam?

11. Hoe help gebed ons?

11 Gebed help ons om gehoorsaam te wees, selfs wanneer dit moeilik is. Soms is dit moeilik om Jehovah te gehoorsaam omdat ons sondige mense is, maar ons moet altyd hard probeer om nie ongehoorsaam aan hom te wees nie. Die psalmis het God gesmeek: “Gee my ’n begeerte om u te gehoorsaam” (Ps. 51:12). Denise, wat ’n gewone pionier is, sê: “Wanneer dit moeilik is om een van Jehovah se gebooie te gehoorsaam, bid ek vir krag om te doen wat reg is.” Ons kan seker wees dat Jehovah altyd sulke gebede beantwoord. – Luk. 11:9-13.

HELP ANDER OM JEHOVAH LIEF TE HÊ

12. Wat moet ons volgens Efesiërs 5:1 doen?

12 Lees Efesiërs 5:1. As Jehovah se “geliefde kinders” doen ons ons bes om hom na te volg. Ons volg hom na wanneer ons liefdevol en goed teenoor ander is en wanneer ons ander vergewe. Wanneer persone wat God nie ken nie ons goeie gedrag sien, sal dit hulle dalk motiveer om meer oor hom te leer (1 Pet. 2:12). Christenouers het goeie rede om Jehovah na te volg in die manier waarop hulle hulle kinders behandel. Wanneer ouers Jehovah navolg, sal hulle kinders dalk ook vriende met hom wil wees.

Sien paragraaf 13

13. Waarop moet ons fokus?

13 ’n Jong kind is trots op sy pa en dit  maak hom gelukkig om oor hom te praat. Net so is ons trots op ons hemelse Vader, Jehovah, en ons wil hê dat ander hom moet leer ken. In ons hart voel ons almal soos koning Dawid, wat geskryf het: “Ek sal spog oor Jehovah” (Ps. 34:2). Maar wat as ons skaam is? Hoe kan ons dapper wees? Ons word dapper wanneer ons dink aan hoe gelukkig ons Jehovah kan maak en hoe dit ander sal help wanneer hulle oor hom leer. Jehovah sal ons die moed gee wat ons nodig het. Hy het ons eerste-eeuse broers gehelp om dapper te wees en hy sal ons ook help. – 1 Tess. 2:2.

14. Wat is party redes hoekom dit belangrik is om deel te neem aan die dissipelmaakwerk?

14 Jehovah is nie partydig nie, en dit maak hom bly wanneer hy sien dat ons ander liefhet, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie (Hand. 10:34, 35). Een van die beste maniere hoe ons vir ander kan wys dat ons hulle liefhet, is deur die goeie nuus met hulle te deel (Matt. 28:19, 20). Hoe help hierdie werk ander? Persone wat na ons luister, kan hulle lewe nou verbeter en die hoop hê om in die toekoms vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. – 1 Tim. 4:16.

WEES LIEF VIR JEHOVAH EN WEES GELUKKIG

15-16. Watter redes het ons om gelukkig te wees?

15 Jehovah is ’n liefdevolle ouer, so hy wil hê dat sy gesin gelukkig moet wees (Jes. 65:14). Daar is baie redes hoekom ons nou gelukkig kan wees, selfs al gaan ons deur moeilike tye. Byvoorbeeld, ons weet dat ons hemelse Vader ons baie liefhet. Ons het ’n akkurate kennis van God se Woord, die Bybel (Jer. 15:16). En ons is deel van ’n spesiale gesin wat lief is vir Jehovah, wat lief is vir sy wette en wat lief is vir mekaar. – Ps. 106:4, 5.

16 Ons kan altyd gelukkig wees omdat ons die vaste hoop het dat die lewe in die toekoms selfs beter sal wees. Ons weet dat Jehovah binnekort alle goddelose mense sal vernietig en dat hy die Koninkryk sal gebruik om die hele aarde ’n paradys te maak. Ons het ook die wonderlike hoop dat persone wat gesterf het, opgewek sal word en weer saam met ons sal wees (Joh. 5:28, 29). Dit sal beslis wonderlik wees! En die belangrikste is dat almal in die hemel en op die aarde binnekort ons liefdevolle Vader die eer, lof en aanbidding sal gee wat hy verdien.

LIED 12 Groot God, Jehovah

^ par. 5 Ons weet dat ons Vader, Jehovah, ons baie liefhet en hy het ons deel gemaak van sy gesin van aanbidders. En daarom is ons lief vir hom. Hoe kan ons ons Vader wys dat ons hom liefhet? Hierdie artikel sal spesifieke dinge bespreek wat ons kan doen.