Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Volharding tydens beproewinge lei tot seëninge

Volharding tydens beproewinge lei tot seëninge

“JY IS ’n slegte pa”, het ’n KGB-offisier gesê. * “Jy het jou swanger vrou en dogtertjie net so gelos. Wie gaan nou vir hulle sorg? Gee jou geloof prys en gaan huis toe!” Toe sê ek: “Nee, ek het nie my gesin net so gelos nie. Julle het my in hegtenis geneem! En vir wat?” Toe het die offisier gesê: “Om ’n Getuie te wees, is die grootste misdaad.”

Hierdie gesprek het in 1959 in ’n tronk in die stad Irkoetsk, Rusland, plaasgevind. Kom ek vertel julle waarom ek en my vrou, Maria, bereid was om ‘ter wille van regverdigheid te ly’ en hoe ons geseën is omdat ons getrou gebly het.—1 Pet. 3:13, 14.

Ek is in 1933 in die dorpie Zolotniki, Oekraïne, gebore. In 1937 het my tannie en haar man, wat Getuies was, vir ons van Frankryk af kom kuier. Hulle het vir ons die boeke Government en Verlossing gegee wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Toe my pa hierdie boeke gelees het, het dit sy geloof in God aangewakker. In 1939 het hy baie siek geword, maar voor sy dood het hy vir my ma gesê: “Dit is die waarheid. Leer dit vir die kinders.”

SIBERIË—’N NUWE GEBIED

In April 1951 het die regering die Getuies uit Wes-USSR na Siberië verban. Ek, my ma en my jonger broer, Grigori, is uit Wes-Oekraïne verban. Nadat ons 6 000 kilometer per trein gery het, het ons in die stad Toeloen, Siberië, aangekom. Twee weke later het my ouer broer, Bogdan, in ’n kamp in die stad Angarsk, wat naby ons was, aangekom. Hy is tot 25 jaar dwangarbeid gevonnis.

Ek, my ma en Grigori het in die klein dorpies rondom Toeloen gepreek, maar ons moes mense op ’n ander manier benader. Ons het hulle byvoorbeeld gevra: “Is daar iemand wat ’n koei wil verkoop?” Wanneer ons iemand gekry het wat wel ’n koei wil verkoop, het ons vir hulle vertel hoe wonderlik ’n koei gemaak is. Kort voor lank, het ons oor die Skepper begin praat. ’n Koerantberig het destyds gesê dat die Getuies na koeie soek, maar ons het geweet dat ons eintlik na skape soek! En ons het skape gekry! Dit was so lekker om die Bybel met hierdie nederige en gasvrye mense in daardie ontoegekende gebied te studeer. Vandag is daar ’n gemeente in Toeloen met meer as 100 verkondigers.

 MARIA SE GELOOF WAS GETOETS

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het my vrou, Maria, die waarheid in Oekraïne geleer. Toe sy 18 jaar oud was, het ’n KGB-offisier haar begin teister en hy wou hê dat sy onsedelikheid met hom moes pleeg, maar sy het volstrek geweier. Eendag toe sy by die huis kom, het hy op haar bed gelê. Maria het gevlug. Die offisier was woedend en het gedreig om haar toe te sluit omdat sy ’n Getuie is. In 1952 is Maria tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Sy het soos Josef gevoel wat in die tronk gegooi is omdat hy getrou was (Gen. 39:12, 20). Die bestuurder wat Maria van die hof na die tronk toe geneem het, het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Baie mense gaan tronk toe, maar behou hulle waardigheid.” Hierdie woorde het haar versterk.

Van 1952 tot 1956 het Maria in ’n strafkamp gewerk naby die stad Gorki (nou Nizjni Nofgorod) in Rusland. Sy moes bome afkap, selfs wanneer dit snerpend koud was. Haar gesondheid het verswak en sy is in 1956 vrygelaat en is terug na Toeloen.

VER VAN MY VROU EN KINDERS

Toe ’n broer in Toeloen vir my vertel het dat daar ’n suster op pad is, het ek my fiets gevat en by die bushalte vir haar gewag om haar met haar bagasie te help. Ek het van die begin af van Maria gehou. Ek moes hard werk om haar liefde te wen, maar ek het dit reggekry en ons is in 1957 getroud. Ons dogter Irina is ’n jaar later gebore. Maar kort daarna, in 1959, is ek in hegtenis geneem omdat ek Bybellektuur gedruk het. Ek was ses maande lank in afsondering in die tronk. Om nie moed te verloor nie het ek baie gebid, Koninkryksliedere gesing en gedink aan hoe ek sal preek wanneer ek weer vry is.

In ’n strafkamp, 1962

Gedurende ’n ondervraging in die tronk, het die offisier vir my geskree: “Ons gaan julle almal soos muise doodtrap!” Ek het hom geantwoord: “Jesus het gesê dat die goeie nuus van die Koninkryk aan al die nasies verkondig SAL word, en niemand kan dit keer nie.” Toe het die offisier sy taktiek verander en my probeer oorreed om my geloof prys te gee, soos ek aan die begin genoem het. Hulle dreigemente en versoekings het nie gewerk nie en ek is tot sewe jaar dwangarbeid in ’n kamp naby die stad Saransk gevonnis. Op pad na die kamp het ek gehoor dat my tweede dogter, Olga, gebore is. Al was ek ver van my vrou en kinders af, het dit my vertroos om te weet dat ek en Maria lojaal aan Jehovah was.

Maria en ons dogters, Olga en Irina, 1965

Maria het een keer per jaar vir my in Saransk kom kuier. Die treinreis van Toeloen na Saransk en terug het 12 dae geduur. Sy het elke jaar vir my ’n nuwe paar stewels gebring. Sy het die nuutste Wagtorings in die hakke van die stewels weggesteek. Een keer het Maria ons twee dogtertjies saamgebring om te kom kuier. Dit was wonderlik om hulle te sien en saam met hulle te wees!

NUWE PLEKKE MET NUWE UITDAGINGS

Ek is in 1966 vrygelaat en ons vier het na die stad Armawir, naby die Swartsee, getrek. Ons seuns Jaroslaf en Pawel is daar gebore.

 Nie lank daarna nie het die KGB-offisiere ons huis vir Bybellektuur begin deursoek. Hulle het orals gesoek, selfs in die koeie se voer. Eenkeer was dit baie warm en was die offisiere nat van die sweet en hulle klere was vol stof. Maria het hulle jammer gekry, want hulle het net hulle werk gedoen. Sy het vir hulle sap gegee en vir hulle ’n klereborsel, ’n bak water en handdoeke gevat. Toe die hoof van die KGB-offisiere later daar aangekom het, het die offisiere vir hom vertel hoe goed hulle behandel is. Toe hulle geloop het, het die hoof vir ons geglimlag en gewaai. Ons was bly om te sien hoe ‘die kwaad met die goeie oorwin’ kan word.—Rom. 12:21.

Ten spyte van hierdie soektogte, het ons aangehou om in Armawir te preek. Ons het ook ’n groepie verkondigers in die dorpie Koerganinsk gehelp. Dit maak ons so bly om te weet dat daar vandag ses gemeentes in Armawir en vier in Koerganinsk is.

Daar was tye toe ons Jehovah nie so ywerig gedien het soos ons moes nie. Maar ons is baie dankbaar dat Jehovah getroue broers gebruik het om ons te help en geestelik te versterk (Ps. 130:3). Ons geloof is ook op die proef gestel deur KGB-agente wat die gemeente binnegedring het. Hulle was baie ywerig en aktief in die bediening. Party het selfs voorregte in die organisasie gehad. Maar ons het later uitgevind wie hulle regtig was.

In 1978, toe Maria 45 was, was sy weer swanger. Die dokters het haar aangeraai om ’n aborsie te ondergaan omdat sy aan ’n chroniese hartkwaal gely het. Maria het geweier. Party dokters het oral in die hospitaal agter haar aangeloop met ’n inspuiting en haar probeer oortuig om ’n aborsie te hê. Maria het van die hospitaal af gevlug om haar kind te beskerm.

Die KGB het gesê dat ons die stad moet verlaat. Ons het na ’n dorpie naby die stad Tallinn in Estland getrek, wat toe nog deel van die USSR was. Maria het in Tallinn aan ’n gesonde seuntjie geboorte gegee. Ons het hom Witali genoem.

Ons het later van Estland na Nezlobnaja, ’n dorpie in die suide van Rusland, getrek. Ons het versigtig in die dorpies naby ons gepreek. Mense van regoor die hele land het die dorpies besoek. Hulle het vir gesondheidsredes gekom, maar party het die hoop op die ewige lewe hier gekry!

ONS LEER ONS KINDERS OM JEHOVAH LIEF TE HÊ

Ons het ons kinders geleer om Jehovah lief te hê en om die begeerte te hê om hom te dien. Ons het dikwels broers uitgenooi wat ’n goeie invloed op ons kinders gehad het. My broer Grigori, wat van 1970 tot 1995 as ’n kringopsiener gedien het, was een van hulle. Ons almal het dit geniet as hy kom kuier het, want hy was vrolik en vol grappies. Wanneer mense kom kuier het, het ons dikwels Bybelspeletjies gespeel en ons kinders was baie lief vir Bybelgeskiedenis.

My seuns en hulle vrouens.

Agterste ry, van links na regs: Jaroslaw, Pawel jr., Witali

Voorste ry: Aljona, Raja, Swetlana

 In 1987 het ons seun Jaroslaf na die stad Riga in Letland getrek waar dit makliker was om velddiens te doen. Maar toe hy geweier het om militêre diensplig te doen, het hy ’n vonnis van een en ’n half jaar in nege tronke uitgedien. My ondervindinge in die tronk het hom gehelp om te volhard. Later het hy as ’n pionier begin dien. In 1990 wou ons seun Pawel, wat toe 19 jaar oud was, op Sachalin, ’n eiland noord van Japan, gaan pionier. Eers wou ons nie hê dat hy moes gaan nie. Daar was net 20 verkondigers op die hele eiland en dit was 9 000 kilometer van ons af. Maar ons het uiteindelik ingestem, en dit was ’n goeie besluit. Die mense op die eiland het na die Koninkryksboodskap geluister. In net ’n paar jaar was daar agt gemeentes. Pawel het tot 1995 op Sachalin gepionier. Op hierdie stadium was net ons jongste seun, Witali, nog by die huis. Hy was van kleins af lief om die Bybel te lees. Toe hy 14 jaar oud was, het hy begin pionier, en ek het twee jaar lank saam met hom gepionier. Ek het dit baie geniet. Toe Witali 19 was, het hy die huis verlaat om as ’n spesiale pionier te gaan dien.

In 1952 het ’n KGB-offisier vir Maria gesê: “Gee jou geloof prys of jy sal vir tien jaar in die tronk sit. Wanneer jy daar uitkom, sal jy oud en alleen wees.” Maar dit het nie gebeur nie. Jehovah, ons kinders en almal vir wie ons die waarheid geleer het, het ons altyd liefgehad. Ek en Maria het vir die kinders gaan kuier waar hulle Jehovah gedien het. Ons het gesien hoe dankbaar almal is vir wat hulle by ons kinders oor Jehovah geleer het.

DANKBAAR VIR JEHOVAH SE GOEDHEID

In 1991 het Jehovah se Getuies wetlike erkenning ontvang. Dit het ons aangespoor om meer in die bediening te doen. Ons gemeente het selfs ’n bus gekoop om oor naweke in die dorpies naby ons te gaan preek.

Saam met my vrou, 2011

My kinders maak my hart baie bly. Jaroslav en sy vrou, Aljona, en Pawel en sy vrou, Raja, dien by Bethel. Witali en sy vrou, Swetlana, doen kringwerk. Ons oudste dogter, Irina, bly in Duitsland saam met haar gesin. Haar man, Wladimir, en hulle drie seuns dien almal as ouer manne. Ons dogter Olga bly in Estland en bel my gereeld. In 2014 is my dierbare vrou, Maria, oorlede. Ek sien baie daarna uit om haar weer in die opstanding te sien! Ek bly nou in die stad Belgorod en die broers help my baie.

Ek het oor die jare besef dat dit nie maklik is om aan Jehovah getrou te bly nie, maar die innerlik vrede waarmee Jehovah ons beloon, maak dit alles die moeite werd. Die seëninge wat ek en Maria ontvang het omdat ons lojaal gebly het, is baie meer as wat ons ooit verwag het. Voor die ondergang van die USSR in 1991, was daar net meer as 40 000 verkondigers. Maar vandag is daar meer as 400 000 verkondigers in die lande wat vroeër deel van die Sowjetunie was! Ek is nou 83 jaar oud en ek dien nog steeds as ’n ouer man. Jehovah het my altyd die krag gegee om te volhard. Ja, Jehovah het my ryklik geseën.—Ps. 13:5, 6

^ par. 4 KGB is die Russiese afkorting vir die Russiese Geheime Polisie.