Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAT IS DIE HEEL BESTE GESKENK?

Op soek na die beste geskenk

Op soek na die beste geskenk

Dit kan moeilik wees om die ideale geskenk vir iemand te kry. Die persoon wat dit gaan ontvang, sal in elk geval besluit of dit vir hom waardevol is of nie. En waarvan een persoon hou, is dalk glad nie waarvan iemand anders hou nie.

’n Tiener sal dalk dink dat die nuutste elektroniese toestel die perfekte geskenk is. Maar ’n grootmens sal dalk iets wat sentimentele waarde het, soos ’n familie-erfstuk, verkies. In party kulture wil mense, jonk en oud, eerder hê dat jy vir hulle geld as ’n geskenk moet gee. Die een wat dit ontvang, kan dan self besluit wat om daarmee te koop.

Baie mense wat regtig omgee, hou aan om na die beste geskenk vir ’n spesiale persoon te soek, al is dit soms moeilik. Hoewel dit nie altyd moontlik is om so ’n geskenk te kry nie, sal jy dit dalk kan doen as jy die volgende dinge in gedagte hou. Kom ons kyk na vier faktore wat daartoe sal bydra dat die persoon wat dit ontvang, daarmee tevrede sal wees.

Wat die persoon wil hê. ’n Man in Belfast, Noord-Ierland, het gesê dat ’n resiesfiets wat hy gekry het toe hy 10 of 11 jaar oud was, die beste geskenk is wat hy nog ooit gekry het. Hoekom? “Want ek wou dit bitter graag hê”, het hy gesê. Hierdie woorde wys dat wat ’n persoon graag wil hê, baie te doen het met hoe belangrik ’n geskenk vir hom sal wees. So dink aan die persoon vir wie jy ’n geskenk wil gee. Probeer uitvind wat vir hom belangrik is, want dit het dikwels ’n invloed op wat hy wil hê. Byvoorbeeld, dit is dalk vir ’n ouma en oupa belangrik om tyd saam met hulle familie te spandeer. Hulle wil dalk graag hulle kinders en kleinkinders soveel as moontlik sien. Hulle sal eerder saam wil gaan op ’n familie-vakansie as om enige ander geskenk te ontvang.

Om uit te vind wat ’n persoon regtig wil hê, moet jy baie goed luister. Die Bybel sê dat ons “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Wanneer jy met jou vriende en familie gesels, moet jy mooi luister sodat jy kan agterkom waarvan hulle hou en waarvan hulle nie hou nie. Dan sal dit vir jou makliker wees om vir hulle iets te gee wat hulle baie sal waardeer.

Wat die persoon nodig het. ’n Persoon sal dalk selfs ’n eenvoudige of ’n goedkoop geskenk waardeer as dit iets is wat hy regtig nodig het. Maar hoe sal jy weet?

Die maklikste manier om uit te vind wat ’n persoon nodig het of dalk graag wil hê, is om hom eenvoudig net te vra. Maar baie persone geniet dit meer om iemand met net die regte geskenk te verras. En hoewel party mense maklik vir jou sal sê waarvan hulle hou of nie hou nie, sal hulle nie noodwendig vir jou sê wat hulle regtig nodig het nie.

Daarom moet jy oplettend wees en uitvind wat die persoon se omstandighede is. Is hy of sy jonk of oud, getroud of ongetroud, dalk geskei, het hulle huweliksmaat gesterf, is hulle werkloos of het hulle afgetree? Dink mooi na oor wat ’n persoon regtig nodig het.

Om te verstaan wat die persoon werklik nodig het, praat met ander mense wat al in soortgelyke omstandighede was. Hulle sal dalk vir jou kan vertel van iets wat ’n persoon in daardie omstandighede nodig het waaraan jy nooit sou gedink het nie. Met hierdie insig sal jy vir die persoon ’n unieke geskenk kan gee wat hy beslis kan gebruik.

Die regte tyd. Die Bybel sê: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” (Spreuke 15:23). Hierdie teks wys dat dit ’n groot verskil kan maak as ons die regte tyd kies om iets te sê of te doen. Net soos ’n mens daarvan hou om na woorde te luister wat op die regte tyd gesê word, kan ’n geskenk op die regte tyd of by die regte geleentheid ’n persoon baie bly maak.

’n Vriend trou binnekort. ’n Jongmens maak een van die dae klaar met skool. ’n Getroude paartjie verwag ’n baba. Dit is net ’n paar geleenthede wanneer daar gewoonlik geskenke gegee word. Party vind dit prakties om ’n lysie te maak van spesiale geleenthede wat in die komende jaar gaan gebeur. Dit help hulle om te beplan sodat hulle die beste geskenk vir elke geleentheid kan koop. *

Dit is natuurlik nie nodig om net vir iemand ’n geskenk te gee wanneer daar ’n spesiale geleentheid is nie. Jy kan dit enige tyd doen, en dit sal jou ook gelukkig maak. Maar jy moet versigtig wees. Byvoorbeeld, as ’n man sonder ’n goeie rede vir ’n vrou ’n geskenk gee, kan sy dalk dink dat hy in haar belangstel. As hy nie in haar belangstel nie, kan so ’n geskenk tot ’n misverstand of probleme lei. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is om die rede waarom jy die geskenk gee, in gedagte te hou.

Die rede vir die geskenk. Soos die voorbeeld in die vorige paragraaf wys, is dit goed om in gedagte te hou of die persoon wat die geskenk ontvang, dalk die verkeerde idee kan kry. Maar dit sal ook goed wees as die persoon wat die geskenk gee seker maak waarom hy of sy die geskenk gee. Hoewel die meeste mense graag sal wil dink dat hulle ’n goeie rede het om geskenke te gee, is daar baie wat gedurende sekere tye van die jaar net geskenke gee omdat hulle verplig voel om dit te doen. Ander gee weer geskenke omdat hulle op ’n spesiale manier behandel wil word of omdat hulle iets terugverwag.

Hoe kan jy seker maak dat jy geskenke vir die regte rede gee? Die Bybel sê: “Laat al julle aangeleenthede in liefde geskied” (1 Korintiërs 16:14). As jy geskenke gee uit opregte liefde en omdat jy vir mense omgee, sal hulle bly wees om ’n geskenk by jou te kry. En dit sal jou ook baie gelukkig maak omdat jy regtig vrygewig is. Wanneer jy iets uit jou hart gee, maak jy ook ons hemelse Vader bly. Die apostel Paulus het die Christene in eertydse Korinte geprys omdat hulle vrygewig en gewillig was om hulle mede-Christene in Judea te help. Paulus het vir hulle gesê: “God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:7.

Wanneer jy die faktore wat ons bespreek het, in gedagte hou, kan dit jou help om geskenke te gee wat ander mense bly maak. Hierdie faktore en ook ander dinge het ’n rol gespeel in God se reëling om aan die mens die grootste geskenk nog ooit te gee. Vind uit wat hierdie wonderlike geskenk is deur die volgende artikel te lees.

^ par. 13 Baie mense gee ook geskenke op verjaarsdae en spesiale vakansiedae. Maar die gebruike wat met hierdie geleenthede saamgaan, bots dikwels met wat die Bybel leer. Sien die artikel “Ons lesers vra—Moet Christene Kersfees vier?” in hierdie tydskrif.