Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel—Hoekom so baie vertalings?

Die Bybel—Hoekom so baie vertalings?

Hoekom is daar vandag soveel verskillende weergawes of vertalings van die Bybel? Dink jy dat nuwe weergawes van die Bybel jou kan help of keer om die Bybel beter te verstaan? As jy uitvind waar al die verskillende Bybels vandaan kom, kan dit jou help om te besluit watter weergawe om te gebruik.

Maar wie het oorspronklik die Bybel geskryf, en wanneer is dit geskryf?

DIE OORSPRONKLIKE BYBEL

Die Bybel word gewoonlik in twee dele verdeel. Die eerste deel het 39 boeke en bevat “die heilige verklarings van God” (Romeine 3:2). God het getroue manne geïnspireer om hierdie boeke te skryf oor ’n tydperk van sowat 1 100 jaar, vanaf omtrent 1513 VHJ tot die een of ander tyd ná 443 VHJ. Die meeste van hierdie boeke is in Hebreeus geskryf, en daarom noem ons hierdie deel die Hebreeuse Geskrifte. Party mense noem dit die Ou Testament.

Die tweede deel het 27 boeke wat ook “die woord van God” is (1 Tessalonisense 2:13). God het getroue dissipels van Jesus Christus geïnspireer om hierdie boeke te skryf oor ’n tydperk van sowat 60 jaar, vanaf omtrent 41 HJ tot 98 HJ. Die meeste van hierdie boeke is in Grieks geskryf, en daarom noem ons hierdie deel die Christelike Griekse Geskrifte. Party mense noem dit die Nuwe Testament.

Saam maak hierdie 66 geïnspireerde boeke die volledige Bybel uit. Dit is God se boodskap aan die mens. Maar hoekom is daar nog vertalings van die Bybel gemaak? Kom ons kyk na drie belangrike redes.

  • Sodat mense die Bybel in hulle eie taal kan lees.

  • Om die foute wat kopiiste gemaak het, reg te stel en seker te maak dat die Bybel ooreenstem met die oorspronklike Bybelteks.

  • Om verouderde uitdrukkings in moderne taal oor te dra.

Kom ons kyk watter uitwerking hierdie faktore op twee vroeë vertalings gehad het.

 DIE GRIEKSE SEPTUAGINT

Omtrent 300 jaar voordat Jesus op die aarde was, het Joodse geleerdes begin om die Hebreeuse Geskrifte in Grieks te vertaal. Hierdie vertaling is die Griekse Septuagint genoem. Hoekom was hierdie vertaling nodig? Om die Jode wat teen daardie tyd Grieks in plaas van Hebreeus gepraat het, te help om die “heilige geskrifte” te verstaan en daarby te bly.—2 Timoteus 3:15.

Die Septuagint het ook miljoene nie-Joodse mense wat Grieks gepraat het, gehelp om te verstaan wat die Bybel leer. Hoe? Professor W.F. Howard het gesê: “Van die middel van die eerste eeu af het dit die Bybel van die Christelike Kerk geword. Sendelinge het van die een sinagoge na die ander gegaan en ‘uit die geskrifte bewys dat Jesus die Messias is’” (Handelinge 17:3, 4; 20:20). Volgens die Bybelgeleerde F.F. Bruce was dit een rede waarom baie Jode gou “belangstelling in die Septuagint verloor het”.

Namate Jesus se dissipels die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte ontvang het, het hulle dit by die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte gevoeg. Dit het die volledige Bybel geword wat ons vandag het.

DIE LATYNSE VULGAAT

Omtrent 300 jaar nadat die Bybel voltooi is, het die godsdiensgeleerde Hieronimus die Bybel in Latyn vertaal. Hierdie vertaling is later die Latynse Vulgaat genoem. Op daardie stadium was daar reeds ’n paar Latynse vertalings. Hoekom was ’n nuwe vertaling dan nodig? The International Standard Bible Encyclopedia sê dat Hieronimus “verkeerde stellings, duidelike foute en ongemagtigde byvoegings en weglatings” wou regstel.

Hieronimus het baie van daardie foute reggemaak. Maar later het kerkleiers die ergste ding ooit gedoen! Hulle het verklaar dat die Latynse Vulgaat die enigste goedgekeurde vertaling van die Bybel is en het honderde jare lank by hierdie standpunt gebly! In plaas daarvan om gewone mense te help om die Bybel te verstaan, was die Vulgaat ’n boek wat niemand kon verstaan nie omdat die meeste mense nie meer Latyn geken het nie.

 AL HOE MEER NUWE VERTALINGS

Intussen het mense aangehou om ander vertalings van die Bybel te maak soos die bekende Siriese Pesjitta wat min of meer teen die vyfde eeu HJ voltooi is. Maar daar is eers weer in die 14de eeu probeer om die Bybel aan gewone mense in hulle eie taal beskikbaar te maak.

In Engeland het John Wycliffe teen die einde van die 14de eeu begin om weg te breek van ’n taal wat mense nie meer verstaan het nie. Hy het die Bybel in Engels vertaal, ’n taal wat selfs die gewone mense in sy land kon verstaan. Kort daarna het Johannes Gutenberg se metodes om drukwerk te doen, dit vir Bybelgeleerdes moontlik gemaak om nuwe vertalings van die Bybel in ’n hele paar algemene tale te vertaal, te druk en oor die hele Europa te versprei.

Toe daar meer en meer Engelse vertalings verskyn, het critici bevraagteken of dit nodig is om verskillende vertalings in dieselfde taal te hê. Die 18de-eeuse Engelse geestelike John Lewis het geskryf: “Tale word oud en onverstaanbaar. Daarom is dit nodig om ou Vertalings te hersien sodat dit die Taal gebruik wat mense praat en wat almal verstaan.”

Vandag is dit vir Bybelgeleerdes makliker as ooit tevore om ouer vertalings te hersien. Hulle het ’n baie beter begrip van eertydse Bybeltale, en hulle het ook waardevolle ou Bybelmanuskripte wat in onlangse tye gevind is. Met behulp van hierdie manuskripte kan hulle nou met meer sekerheid sê wat in die oorspronklike Bybelteks gestaan het.

Daarom is dit baie goed om nuwe Bybelvertalings te hê. Ons moet natuurlik versigtig wees wanneer dit by sekere vertalings kom. * Maar as die persone wat die Bybel hersien het, dit uit opregte liefde vir God gedoen het, kan hulle nuwe vertaling tot ons voordeel wees.

 

^ par. 24 Sien die artikel “Hoe jy ’n goeie Bybelvertaling kan kies” in Die Wagtoring van 1 Mei 2008.