Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Elias Hutter en sy merkwaardige Hebreeuse Bybels

Elias Hutter en sy merkwaardige Hebreeuse Bybels

KAN jy Bybelse Hebreeus lees? Heel moontlik nie. Dalk het jy nog nooit eers ’n Hebreeuse Bybel gesien nie. Maar jy sal jou eie Bybel miskien meer waardeer as jy oor die 16de-eeuse geleerde Elias Hutter leer, asook die twee Hebreeuse Bybels wat hy gepubliseer het.

Elias Hutter is in 1553 gebore in Görlitz, ’n klein dorpie wat vandag op die grens tussen Duitsland en Pole is, naby die Tsjeggiese Republiek. Hutter het Oosterse tale bestudeer aan die Lutherse Universiteit in Jena. Toe hy skaars 24 jaar oud was, is hy in Leipzig aangestel as ’n professor in Hebreeus. Omdat hy die manier wou verbeter waarop mense geleer word, het hy ’n skool in Neurenberg begin waar studente binne net vier jaar Hebreeus, Grieks, Latyn en Duits kon leer. Op daardie stadium was so iets nie moontlik by enige ander skool of universiteit nie.

‘HIERDIE UITGAWE IS PRAGTIG’

Die titelblad van Hutter se Hebreeuse Bybel van 1587

In 1587 het Hutter ’n Hebreeuse uitgawe van wat gewoonlik die Ou Testament genoem word, gedruk. Dit het bekend gestaan as die Derekh ha-Kodesh. Die naam kom uit Jesaja 35:8 en beteken “die Weg van Heiligheid”. As gevolg van die pragtige styl van die letters wat gebruik is, is daar gesê dat “alles omtrent hierdie uitgawe pragtig is”. Maar hierdie Bybel was veral waardevol omdat dit ’n uitstekende hulpmiddel was wat studente kon gebruik om Hebreeus te leer.

Om te verstaan hoekom Hutter se Hebreeuse Bybel so prakties was, moet jy eers kyk na twee uitdagings waarmee ’n student gesukkel het as hy die Bybel in Hebreeus wou lees. Die eerste uitdaging is dat dit geskryf is met ’n ander alfabet en onbekende letters. Die tweede uitdaging is dat ’n woord in Hebreeus ’n voor- of agtervoegsel kan hê wat dit moeilik maak om die grondwoord uit te ken. Kyk byvoorbeeld na die Hebreeuse woord נפשׁ (getranslitereer as ne’phesh) wat “siel” beteken. In Esegiël 18:4 word dit voorafgegaan deur die voorvoegsel ה (ha) wat “die” beteken. So word ’n saamgestelde woord הנפשׁ (han·ne’phesh) of “die siel” gevorm. Vir iemand wat nog besig is om Hebreeus te leer, lyk die woord הנפשׁ (han·ne’phesh) heeltemal anders as die woord נפשׁ (ne’phesh).

Hutter het ’n baie slim druktegniek gebruik om sy studente te help. Hy het twee soorte Hebreeuse letters gebruik, vetgedrukte letters en letters wat net buitelyne het. Vir die grondwoorde het  hy vetgedrukte letters gebruik en vir voor- en agtervoegsels het hy letters gebruik wat net buitelyne het (nie ingekleur nie). Hierdie eenvoudige metode het dit vir studente makliker gemaak om die Hebreeuse grondwoorde uit te ken, en daarom kon hulle die taal vinniger leer. In die voetnote van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References word dieselfde praktiese metode gebruik. * Die getranslitereerde grondwoord is in vetdruk en die voor- en agtervoegsels is in gewone druk. In die foto hieronder kan jy sien hoe Hutter Esegiël 18:4 in sy Hebreeuse Bybel gedruk het en ook hoe dieselfde vers in die Reference Bible se voetnoot lyk.

’N HEBREEUSE UITGAWE VAN DIE “NUWE TESTAMENT”

Hutter het ook ’n uitgawe van wat gewoonlik die Nuwe Testament genoem word, gedruk. Hierdie uitgawe het teks in 12 tale bevat. Dit is in 1599 in Neurenberg gepubliseer, en dit word dikwels die Neurenbergse Poliglot genoem. Hutter wou ’n Hebreeuse vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte hierby insluit. Maar hy het gesê dat al soek hy hoe hard en al “was hy bereid om ’n fortuin te betaal” vir so ’n Hebreeuse vertaling, dit eenvoudig nie bestaan het nie. * Daarom het hy besluit om self die Nuwe Testament uit Grieks in Hebreeus te vertaal. Hutter het al sy ander werk opsygesit en die hele vertaalprojek binne ’n jaar klaargemaak!

Hoe goed was Hutter se Hebreeuse vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte? Die bekende Hebreeuse geleerde van die 19de eeu Franz Delitzsch het geskryf: “Sy Hebreeuse vertaling toon ’n begrip van die taal wat skaars is onder Christene, en dit is nog steeds die moeite werd om dit te gebruik, want hy het dit reggekry om keer op keer presies die regte uitdrukking te gebruik.”

’N BELANGRIKE INVLOED

Hutter se vertaalwerk het hom nie ryk gemaak nie omdat sy uitgawes blykbaar nie goed verkoop het nie. Maar sy werk het tog ’n belangrike invloed gehad. Sy Hebreeuse Nuwe Testament is byvoorbeeld in 1661 deur William Robertson en later in 1798 deur Richard Caddick hersien en weer gedruk. Toe Hutter uit die oorspronklike Grieks vertaal het, het hy gepas die titels Kyʹri·os (Here) en The·osʹ (God) met “Jehovah” (יהוה, JHVH) vertaal wanneer die teks ’n aanhaling uit die Hebreeuse Geskrifte was of wanneer hy gedink het dat dit na Jehovah verwys. Dit is interessant, want baie vertalings van die Nuwe Testament gebruik nie God se persoonlike naam nie. Hutter se vertaling gebruik dit wel, en daarom is dit ’n verdere bewys dat God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte herstel moet word.

Wanneer jy weer God se naam, Jehovah, in die Christelike Griekse Geskrifte sien of na ’n voetnoot in die Reference Bible kyk, dink dan aan Elias Hutter en sy merkwaardige Hebreeuse Bybels.

^ par. 7 Sien die tweede voetnoot van Esegiël 18:4 en Aanhangsel 3B in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References.

^ par. 9 Blykbaar was daar ander geleerdes wat vantevore die Nuwe Testament in Hebreeus vertaal het. In ongeveer 1360 het Simon Atoumanos, ’n Bisantynse monnik, dit vertaal. In omtrent 1565 het Oswald Schreckenfuchs, ’n Duitse geleerde, dit ook vertaal. Hierdie vertalings is nooit gepubliseer nie en het verlore gegaan.