Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Masorete het met groot sorg afskrifte van die Skrif gemaak

 VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET

Die Bybel het behoue gebly ondanks pogings om sy boodskap te verander

Die Bybel het behoue gebly ondanks pogings om sy boodskap te verander

DIE BEDREIGING: Eksterne bedreigings soos verwering en teenstand het die Bybel nie vernietig nie. Maar sommige kopiiste en vertalers het die Bybel se boodskap probeer verander. Soms het hulle die Bybel by hulle leringe probeer aanpas eerder as om hulle leringe by die Bybel aan te pas. Kyk na ’n paar voorbeelde:

  • Plek van aanbidding: Tussen die vierde en tweede eeu VHJ het die skrywers van die Samaritaanse Pentateug ná Eksodus 20:17 die woorde ingevoeg: “in Aargaareezem. En daar sal jy ’n altaar bou.” Die Samaritane wou hê dat die Skrif die bou van hulle tempel op “Aargaareezem”, of die berg Gerisim, moet ondersteun.

  • Drie-eenheidsleer: Minder as 300 jaar nadat die Bybel voltooi is, het ’n Trinitariese skrywer die woorde “in die hemel, die Vader, die Woord en die heilige gees: en hierdie drie is een” in 1 Johannes 5:7 ingevoeg. Hierdie woorde het nie in die oorspronklike teks voorgekom nie. “Vanaf die sesde eeu”, sê die Bybelgeleerde Bruce Metzger, het hierdie woorde “al hoe meer in manuskripte in Ou Latyn en van die [Latynse] Vulgaat voorgekom”.

  • Goddelike naam: Baie Bybelvertalers het besluit om die goddelike naam uit die Skrif te verwyder weens ’n Joodse bygeloof. Hulle het hierdie naam vervang met titels soos “God” of “Here”, uitdrukkings wat in die Bybel nie net vir die Skepper gebruik word nie, maar ook vir mense, voorwerpe van valse aanbidding en selfs vir die Duiwel.—Johannes 10:34, 35; 1 Korintiërs 8:5, 6; 2 Korintiërs 4:4. *

HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Eerstens, al was sommige Bybelkopiiste nalatig of selfs bedrieglik, was baie ander uiters vaardig en noukeurig. Die Masorete het tussen die sesde en tiende eeu HJ afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte gemaak,  en dit staan bekend as die Masoretiese teks. Hulle het na bewering die woorde en die letters getel om seker te maak dat hulle nie foute maak nie. Wanneer hulle vermoed het dat daar foute was in die meesterteks wat hulle gebruik het, het hulle dit in die kantlyn aangeteken. Die Masorete het geweier om aan die Bybelteks te verander. “Om doelbewus daaraan te verander”, het professor Moshe Goshen-Gottstein geskryf, “sou vir hulle die heel ergste misdaad gewees het.”

Tweedens, daar is vandag baie manuskripte beskikbaar, en dit help Bybelgeleerdes om foute raak te sien. Godsdiensleiers het byvoorbeeld eeue lank beweer dat hulle Latynse manuskripte die oorspronklike Bybelteks bevat. Tog het hulle in hulle Latynse Bybels die woorde in 1 Johannes 5:7 ingevoeg waarna daar vroeër in hierdie artikel verwys is. Die fout het selfs in die invloedryke Engelse King James-vertaling van die Bybel ingesluip! Maar wat het aan die lig gekom toe ander manuskripte ontdek is? Bruce Metzger het geskryf: “Die woorde [in 1 Johannes 5:7] kom nie voor in die manuskripte van enige antieke vertalings (Siriese, Koptiese, Armeense, Etiopiese, Arabiese, Slawiese) nie, buiten die Latynse.” Gevolglik het hersiene uitgawes van die King James-vertaling en ander Bybels die onegte frase verwyder.

Chester Beatty P46, ’n papirusmanuskrip van die Bybel uit omstreeks 200 HJ

Bewys ouer manuskripte dat die Bybel se boodskap behoue gebly het? Toe die Dooie See-rolle in 1947 ontdek is, kon geleerdes uiteindelik die Hebreeuse Masoretiese teks vergelyk met boekrolle van die Bybel wat meer as duisend jaar vroeër geskryf is. ’n Lid van die redaksiespan van die Dooie See-rolle het tot die slotsom gekom dat selfs net een rol “onweerlegbare bewys [lewer] dat Joodse kopiiste die Bybelteks oor ’n tydperk van meer as eenduisend jaar uiters getrou en noukeurig met die hand oorgedra het”.

In die Chester Beatty-biblioteek in Dublin, Ierland, is daar ’n versameling papirusse met gedeeltes uit byna elke boek van die Christelike Griekse Geskrifte, en dit sluit manuskripte in wat dateer uit die tweede eeu HJ—net sowat 100 jaar nadat die Bybel voltooi is. The Anchor Bible Dictionary sê dat hierdie papirusse wel ’n oorvloed nuwe inligting oor tekstuele besonderhede verskaf, maar dat dit ook toon dat die Bybelteks deur die geskiedenis heen besonder akkuraat oorgedra is.

“Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie”

DIE GEVOLG: Die feit dat daar so baie en sulke ou Bybelmanuskripte is, het nie die Bybelteks verderf nie, maar het dit eintlik verbeter. “Geen ander antieke boek het naastenby so baie en sulke ou bewyse dat die teks daarvan eg is nie”, het sir Frederic Kenyon oor die Christelike Griekse Geskrifte geskryf, “en geen onbevooroordeelde geleerde kan ontken dat die teks wat ons vandag het, baie betroubaar is nie.” En die geleerde William Henry Green het aangaande die Hebreeuse Geskrifte gesê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.”

^ par. 6 Vir meer inligting sien ’n Studiegids vir God se Woord, Deel 1 en Deel 2, beskikbaar op www.jw.org/af.