Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus het Petrus se skoonma besoek en haar gesond gemaak.—Matteus 8:14, 15; Markus 1:29-31

Is dit ’n vereiste vir Christenbedienaars om selibaat te bly?

Is dit ’n vereiste vir Christenbedienaars om selibaat te bly?

GODSDIENSTE regoor die wêreld soos die Rooms-Katolieke Kerk, die verskillende Ortodokse kerke, Boeddhisme en ander godsdienste vereis dat hulle godsdiensleiers en geestelikes selibaat moet bly. Aan die ander kant meen baie mense dat hierdie gebruik die oorsaak is van die onlangse toename in seksskandale waarby geestelikes van verskeie godsdienste betrokke was.

Dit is dus redelik om te vra: Is dit ’n skriftuurlike vereiste vir Christenbedienaars om selibaat te bly? Om hierdie vraag te beantwoord, kom ons kyk hoe die selibaat ontstaan en ontwikkel het, sowel as wat God se beskouing daarvan is.

DIE SELIBAAT IN GODSDIENSGESKIEDENIS

Die Encyclopædia Britannica definieer die selibaat as “die ongetroude staat en gevolglike seksuele onthouding gewoonlik in verband met die rol van ’n godsdiensamptenaar of ’n toegewyde”. Toe pous Benediktus XVI die Romeinse Kurie in 2006 toegespreek het, het hy die verpligte selibaat verbind met “’n tradisie wat uit ’n tyd kom wat na aan die Apostels se tyd was”.

Maar die selibaat was nie ’n godsdiensgebruik wat deur die eerste-eeuse Christene beoefen is nie. Trouens, die apostel Paulus, wat in die eerste eeu gelewe het, het gelowiges gewaarsku oor manne wat “misleidende geïnspireerde uitinge” sou maak en “wat mense [sou] verbied om te trou”.—1 Timoteus 4:1-3.

Dit was gedurende die tweede eeu dat die gebruik van die selibaat begin posvat het in die Westerse “Christelike” kerke. Volgens die boek Celibacy and Religious Traditions, was dit “in ooreenstemming met die gebruik van seksuele onthouding wat toe in die Romeinse Ryk ontstaan het”.

 In die eeue daarna het kerkrade en sogenaamde Kerkvaders die gebruik dat geestelikes selibaat moet bly, bevorder. Hulle het gedink dat seksuele omgang ’n persoon verontreinig en dat dit in stryd is met kerklike pligte. Die Encyclopædia Britannica toon nietemin dat “baie priesters en selfs party biskoppe tot so onlangs as die 10de eeu vrouens gehad het”.

Die gebruik dat geestelikes selibaat moet bly, is gedurende die Lateraanse Kerkraadsvergaderinge van 1123 en 1139 ingestel, wat in Rome gehou is. En dit is tot vandag toe nog die amptelike standpunt van die Rooms-Katolieke Kerk. Dit het die kerk in staat gestel om ’n verlies aan gesag en inkomste te verhoed wat ontstaan het toe priesters wat getroud was, kerkeiendom aan hulle kinders bemaak het.

GOD SE BESKOUING VAN DIE SELIBAAT

God se Woord, die Bybel, toon duidelik wat God se beskouing van die selibaat is. Daarin lees ons wat Jesus gesê het oor diegene wat, soos hy, ongetroud gebly het “weens die koninkryk van die hemele” (Matteus 19:12). Die apostel Paulus het iets soortgelyks gesê toe hy van Christene gepraat het wat gekies het om sy voorbeeld te volg en ongetroud te bly “ter wille van die goeie nuus”.—1 Korintiërs 7:37, 38; 9:23.

Maar Jesus en Paulus het nie gesê dat bedienaars selibaat moet bly nie. Jesus het gesê dat net party van sy volgelinge die “gawe” van die ongetroude lewe het. Toe Paulus geskryf het oor diegene wat nooit getrou het nie, het hy openlik erken: “Ek [het] geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening.”—Matteus 19:11; 1 Korintiërs 7:25.

Die Bybel toon ook dat baie Christenbedienaars in die eerste eeu getroud was, insluitende die apostel Petrus (Matteus 8:14; Markus 1:29-31; 1 Korintiërs 9:5). Omdat onsedelike gebruike so algemeen in die Romeinse wêreld van daardie tyd was, het Paulus geskryf dat ’n Christenopsiener, as hy getroud is, “die man van een vrou” moet wees en “kinders . . . in onderworpenheid” moet hê.—1 Timoteus 3:2, 4.

Dit was nie huwelike waarin die maats selibaat gebly het nie, want die Bybel sê duidelik dat ’n “man sy vrou [moet] gee wat haar toekom” en dat getroude paartjies mekaar nie seksuele omgang moet “ontsê” nie (1 Korintiërs 7:3-5). Dit is dus duidelik dat God nie vereis dat ’n persoon selibaat moet bly nie en dat dit ook nie vir Christenbedienaars verpligtend is nie.

TER WILLE VAN DIE GOEIE NUUS

As dit dan nie verpligtend is om selibaat te bly nie, waarom het Jesus en Paulus gesê dat dit goed is om nie te trou nie? Omdat die ongetroude lewe ’n persoon meer geleenthede bied om die goeie nuus aan ander bekend te maak. Aangesien ongetroude persone nie soveel bekommernisse soos getroude persone het nie, kan hulle meer in die bediening doen.—1 Korintiërs 7:32-35.

Kyk na die voorbeeld van David, wat besluit het om sy goed betaalde werk in Mexikostad te los en na ’n landelike gebied in Costa Rica te trek sodat hy die Bybel aan ander kan leer. Meen David dat die feit dat hy ongetroud is hom gehelp het om dit te doen? “O ja”, sê hy. “Dit was ’n uitdaging om by ’n nuwe kultuur en ander lewenstoestande aan te pas, maar omdat ek net vir myself moes sorg, was die aanpassing makliker.”

Claudia, ’n ongetroude Christen wat getrek het na plekke waar daar meer verkondigers nodig is, sê: “Ek geniet my diens aan God. My geloof en my verhouding met God word sterker wanneer ek sien hoe hy vir my sorg.”

“Dit maak nie saak of jy getroud of ongetroud is nie, jy sal gelukkig wees as jy jou beste vir Jehovah God gee.”—Claudia

Die ongetroude lewe hoef nie ’n las te wees nie. Claudia voeg by: “Dit maak nie saak of jy getroud of ongetroud is nie, jy sal gelukkig wees as jy jou beste vir Jehovah God gee.”—Psalm 119:1, 2.