Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie het die Bybel verdeel in hoofstukke en verse?

Wie het die Bybel verdeel in hoofstukke en verse?

STEL jou voor dat jy ’n Christen is wat in die eerste eeu lewe. Jou gemeente het so pas ’n brief van die apostel Paulus ontvang. Terwyl dit voorgelees word, let jy op dat Paulus dikwels aanhaal uit “die heilige geskrifte”, dit wil sê die Hebreeuse Geskrifte (2 Timoteus 3:15). ‘Ek sou graag die teksgedeelte wou sien wat hy aanhaal’, sê jy vir jouself. Maar dit sou nie maklik wees nie. Waarom nie?

GEEN HOOFSTUKKE OF VERSE

Hou in gedagte hoe die manuskripte van “die heilige geskrifte” gelyk het wat in Paulus se dag beskikbaar was. Een word hier vertoon​—’n gedeelte van die boek Jesaja in die Dooie See-rolle. Wat sien jy? Net ’n klomp woorde wat aaneen geskryf is! Geen leestekens. En geen genommerde hoofstukke en verse soos dié wat ons vandag gebruik nie.

Bybelskrywers het nie hulle boodskap in hoofstukke of verse verdeel nie. Hulle het die hele boodskap neergeskryf wat God vir hulle gegee het sodat mense die hele boodskap kon lees, nie net klein gedeeltes daarvan nie. Is dit nie wat jy wil hê as jy ’n belangrike brief van ’n geliefde ontvang nie? Jy lees die hele brief, nie net stukkies en brokkies daarvan nie.

Maar die feit dat daar nie hoofstukke of verse was nie, het ’n probleem geskep. Paulus kon sy aanhalings slegs identifiseer met woorde soos “net soos daar geskrywe staan” of “net soos Jesaja tevore gesê het” (Romeine 3:10; 9:29). En tensy jy goed vertroud was met al “die heilige geskrifte”, sou dit moeilik gewees het om hierdie aanhalings te vind.

Wat meer is, hierdie “heilige geskrifte” het nie bestaan uit net een eenvoudige boodskap van God af nie. Teen die einde van die eerste eeu HJ was dit ’n versameling van 66 afsonderlike boeke! Die meeste hedendaagse Bybellesers is bly dat die hoofstukke en verse genommer is, want dit help hulle om spesifieke inligting te vind, soos die talle aanhalings in Paulus se briewe.

Jy vra dalk: ‘Wie het die Bybel in hoofstukke en verse verdeel?’

WIE HET DIE BYBEL IN HOOFSTUKKE VERDEEL?

Die Engelse geestelike Stephen Langton, wat later die Aartsbiskop van Kantelberg geword het, het blykbaar die hoofstukverdelings in die Bybel gedoen. Hy het dit vroeg in die 13de eeu HJ gedoen, toe hy ’n onderrigter was by die Universiteit van Parys in Frankryk.

Voor Langton se dag het geleerdes geëksperimenteer met verskillende maniere om die Bybel in kleiner dele of hoofstukke te verdeel. Dit wil voorkom of hulle dit hoofsaaklik gedoen het vir verwysingsdoeleindes. Jy kan jou indink hoeveel makliker dit vir hulle sou wees om ’n teksgedeelte te vind as hulle net in een hoofstuk moes soek en nie in ’n hele boek nie, soos die boek Jesaja met sy 66 hoofstukke.

Maar dit het ’n probleem geskep. Die geleerdes het talle verskillende en onverenigbare stelsels gehad. In een stelsel is Markus se Evangelie in byna 50 hoofstukke verdeel, en nie in die 16 wat ons nou het nie. In Langton se dag was daar studente uit baie  lande in Parys, en hulle het Bybels uit hulle onderskeie geboortelande saamgebring. Maar dit was moeilik vir onderrigters en studente om aan mekaar te verduidelik na watter deel van ’n manuskrip hulle verwys. Waarom? Omdat die hoofstukverdelings in hulle manuskripte nie ooreengestem het nie.

Langton het dus nuwe hoofstukverdelings gedoen. Sy stelsel “het die verbeelding van lesers en kopiiste aangegryp”, sê The Book—A History of the Bible, en dit het “vinnig oor die hele Europa versprei”. Die hoofstukverdelings wat ons vandag in die meeste Bybels vind, is volgens sy stelsel gedoen.

WIE HET DIE VERSE BYGEVOEG?

Sowat 300 jaar later, in die middel van die 16de eeu, het die beroemde Franse drukker en geleerde Robert Estienne dit selfs makliker gemaak. Sy doelwit was om Bybelstudie gewild te maak. Hy het besef hoe nuttig ’n eenvormige stelsel sou wees waarin hoofstukke sowel as verse genommer is.

Die idee om die Bybelteks in verse te verdeel, het nie by Estienne ontstaan nie. Ander het dit reeds gedoen. Eeue tevore het Joodse kopiiste byvoorbeeld die hele Hebreeuse Bybel, of die deel van die Bybel wat algemeen bekend is as die Ou Testament, in verse maar nie in hoofstukke verdeel nie. Soos met die hoofstukke, was daar aanvanklik geen eenvormige stelsel nie.

Estienne het die Christelike Griekse Geskrifte, of die Nuwe Testament, in ’n nuwe stel genommerde verse verdeel en dit gekombineer met die verse wat reeds in die Hebreeuse Bybel was. In 1553 het hy die eerste volledige Bybel (’n Franse vertaling) gepubliseer wat feitlik dieselfde hoofstukke en verse gehad het wat vandag in die meeste Bybels gevind word. Party mense het dit gekritiseer en gesê dat die verse die Bybelteks in ’n klomp stukkies verdeel en dit laat lyk soos ’n reeks aparte gedagtes wat nie met mekaar verband hou nie. Maar sy stelsel is gou deur ander drukkers in gebruik geneem.

’N SEËN VIR BYBELSTUDENTE

Dit lyk na so ’n eenvoudige idee​—genommerde hoofstukke en verse. Dit gee elke vers in die Bybel ’n unieke “adres”—​soos ’n poskode. Dit is so dat hoofstuk- en versverdelings nie deur God geïnspireer is nie, en dit verdeel die Bybelteks soms op vreemde plekke. Maar dit maak dit vir ons makliker om aanhalings te vind en om ander te vertel van verse wat spesiale betekenis vir ons het​—net soos ons uitdrukkings of frases in ’n dokument of ’n boek onderstreep as ons dit graag wil onthou.

Al is die hoofstuk- en versverdelings gerieflik, moet ’n mens altyd onthou dat dit belangrik is om die boodskap wat God ons gegee het, in sy geheel te verstaan. Kweek die gewoonte aan om nie net verse te lees nie, maar om die konteks in gedagte te hou. Sodoende sal jy al hoe meer vertroud raak met “die heilige geskrifte . . . , wat jou wys kan maak tot redding”.​—2 Timoteus 3:15.