Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel – ’n Betroubare boek van waarheid

Die Bybel – ’n Betroubare boek van waarheid

Dwarsdeur die geskiedenis het mense uit verskillende agtergronde die Bybel as ’n betroubare boek van waarheid beskou. Vandag lewe miljoene mense volgens wat die Bybel sê. Maar ander glo nie dat die Bybel hulle kan help nie of hulle glo dat die inligting daarin maar net fiksie is. Wat dink jy? Kan jy die waarheid in die Bybel vind?

HOEKOM JY DIE BYBEL KAN VERTROU

Hoe weet ’n mens of jy die Bybel kan vertrou? Dink aan die volgende voorbeeld: As ’n vriend oor die jare altyd vir jou die waarheid vertel het, sal jy hom waarskynlik vertrou. Is die Bybel soos ’n betroubare vriend wat altyd die waarheid praat? Kyk na ’n paar voorbeelde.

Eerlike skrywers

Bybelskrywers was baie eerlik en het dikwels oor hulle eie foute en swakhede geskryf. Die profeet Jona het byvoorbeeld oor sy eie ongehoorsaamheid geskryf (Jona 1:1-3). En aan die einde van die Bybelboek wat hy geskryf het, het hy geskryf oor hoe God hom streng gedissiplineer het, en tog sê hy niks oor wat hy self gedoen het om sy gesindheid reg te stel nie (Jona 4:1, 4, 10, 11). Die eerlikheid van al die Bybelskrywers wys hoe belangrik die waarheid vir hulle was.

Waarhede wat jou kan help

Gee die Bybel altyd goeie raad wat ons in ons daaglikse lewe kan help? Beslis! Byvoorbeeld, kyk wat die Bybel sê oor hoe ons ons verhoudings met ander sterk kan hou: “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matteus 7:12). “’n Sagte antwoord laat woede bedaar, maar harde woorde laat woede opvlam” (Spreuke 15:1). Dit is duidelik dat Bybelwaarhede ons vandag net soveel kan help as toe dit geskryf is.

 Ware verslae uit die verlede

Baie argeologiese ontdekkings wat oor die jare gemaak is, bevestig dat verskillende volke en plekke wat in die Bybel genoem word, bestaan het en dat die verslae daarin akkuraat is. Kyk byvoorbeeld na die bewyse vir een klein detail wat in die Bybel genoem word. Die Bybel sê dat Tiriërs (Fenisiërs van Tirus) wat in Nehemia se tyd in Jerusalem gewoon het, “vis en allerhande handelsware ingebring” het. – Nehemia 13:16.

Is daar enige bewyse wat hierdie Bybelvers ondersteun? Ja daar is. Argeoloë het Fenisiese goedere in Israel ontdek, wat wys dat die twee nasies dalk met mekaar besigheid gedoen het. En die oorblyfsels van vis van die Middellandse See is al in Jerusalem opgegrawe. Argeoloë glo dat handelaars die vis van die kus af gebring het, wat ver daarvandaan was. Nadat een geleerde die bewyse geanaliseer het, het hy gesê: “Dit lyk nogal asof die stelling in Neh[emia] 13:16 dat die Tiriërs vis in Jerusalem verkoop het, betroubaar is.”

Die waarheid oor wetenskaplike sake

Die Bybel is hoofsaaklik ’n godsdienstige en geskiedkundige boek. Maar wanneer dit oor wetenskaplike sake praat, is dit wetenskaplik akkuraat. Kyk na ’n voorbeeld.

Omtrent 3 500 jaar gelede het die Bybel gesê dat die aarde “aan niks” hang nie (Job 26:7). Dit was baie anders as die mite dat die aarde op water dryf of dat dit deur ’n reuseskilpad gedra word. Ongeveer 1 100 jaar nadat die boek Job geskryf was, het mense nog steeds nie geglo dat die aarde aan niks hang nie. Hulle het geglo dat dit op iets moes rus. Eers sowat driehonderd jaar gelede, in 1687, het Isaac Newton sy navorsing oor swaartekrag gepubliseer en verduidelik dat die aarde in sy wentelbaan gehou word deur ’n onsigbare krag. Hierdie wetenskaplike mylpaal het bevestig wat die Bybel meer as 3 000 jaar vroeër gesê het!

 Betroubare profesieë

Hoe akkuraat is die profesieë in die Bybel? Kyk na een voorbeeld: Jesaja se profesie oor die vernietiging van Babilon.

Die profesie: In die agtste eeu voor die huidige jaartelling het die Bybelskrywer Jesaja gesê dat Babilon – wat eers later die hoofstad van ’n magtige ryk sou word – verslaan sou word en dat niemand uiteindelik daar sou bly nie (Jesaja 13:17-20). Jesaja het selfs gesê wie dit sou laat gebeur – ’n man met die naam Kores. Hy het ook beskryf hoe Kores dit sou doen en gesê dat riviere sou “opdroog”. En hy het voorspel dat die poorte van die stad oopgelos sou word. – Jesaja 44:27–45:1.

Die vervulling: Ongeveer 200 jaar nadat Jesaja se profesie neergeskryf is, het ’n Persiese koning Babilon aangeval. Wat was sy naam? Kores. Omdat Babilon omring was deur sterk mure, het Kores besluit om sy manne ’n kanaal te laat grawe sodat die Eufraatrivier, wat deur die stad geloop het, na ’n vlei toe kon vloei. Dit het die watervlak genoeg laat sak om dit vir Kores se leërmag moontlik te maak om deur die water van die rivierbedding, wat langs die stadsmure is, te stap. Verbasend genoeg het die Babiloniërs die poorte oorkant die rivier oopgelos! Kores se leërmag het Babilon deur die oop poorte binnegegaan en dit oorwin.

Maar daar was nog iets wat vervul moes word: Het Babilon onbewoon geword? Mense het nog honderde jare lank daar gebly. Maar vandag is Babilon se ruïnes – naby Bagdad, Irak – ’n bewys dat die profesie heeltemal vervul is. Ja, die Bybel is betroubaar selfs wanneer dit praat van dinge wat in die toekoms sal gebeur.