Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie toelaat dat ander se foute jou laat struikel nie

Moenie toelaat dat ander se foute jou laat struikel nie

“Hou aan om mekaar . . . vryelik te vergewe.”—KOLOSSENSE 3:13.

LIEDERE: 121, 75

1, 2. Hoe het die Bybel voorspel dat Jehovah se volk sal vermeerder?

VANDAG is daar ’n wêreldwye organisasie wat bestaan uit mense wat lief is vir Jehovah en hom wil dien. Hulle is Jehovah se Getuies. Alhoewel hulle tekortkominge het en foute maak, rig Jehovah hulle deur sy heilige gees. Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop Jehovah sy volk geseën het.

2 In 1914 het baie min mense Jehovah aanbid. Maar Jehovah het die predikingswerk geseën. Gevolglik het miljoene mense Bybelwaarhede geleer en sy Getuies geword. Jehovah het hierdie wonderlike vermeerdering beskryf toe hy gesê het: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jesaja 60:22). Vandag kan ons duidelik sien dat hierdie profesie vervul is. Jehovah se volk is soos ’n groot nasie. Trouens, daar is baie nasies regoor die wêreld wat ’n bevolking het wat kleiner is as die totale aantal Getuies van Jehovah.

3. Hoe het God se knegte liefde getoon?

3 Gedurende hierdie laaste dae het Jehovah sy volk gehelp om hulle liefde vir mekaar te versterk. “God is liefde”, en hulle volg hom na (1 Johannes 4:8). Jesus het sy volgelinge beveel om ‘mekaar lief te hê’. Hy het ook vir hulle gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). In onlangse tye het Jehovah se knegte hierdie liefde vir mekaar getoon selfs toe nasies oorlog gevoer het. Byvoorbeeld, in die Tweede Wêreldoorlog het omtrent 55 miljoen mense hulle lewe verloor. Maar Jehovah se volk het niemand in daardie oorlog doodgemaak nie. (Lees Miga 4:1, 3.) Hulle het dus “rein . . . van die bloed van alle mense” gebly.—Handelinge 20:26.

4. Waarom is die feit dat Jehovah se volk in getal toeneem so merkwaardig?

4 God se volk neem nog steeds toe in getal, selfs al het hulle ’n magtige vyand, Satan. Hy is “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:4). Satan beheer die politieke organisasies van hierdie wêreld sowel as die nuusmedia, en hy gebruik dit om die verkondiging van die goeie nuus te probeer stopsit. Maar hy sal dit nooit regkry nie. Satan weet egter dat hy net ’n kort tydjie oorhet, en daarom hou hy aan om ons te probeer keer om Jehovah te aanbid.—Openbaring 12:12.

SAL JY LOJAAL BLY WANNEER ANDER FOUTE MAAK?

5. Waarom sal ander ons gevoelens soms seermaak? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 God se knegte leer dat dit baie belangrik is om lief te wees vir God en ander mense. Jesus het gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Matteus 22:35-39). Maar die Bybel toon dat alle mense van geboorte af onvolmaak is as gevolg van Adam se sonde. (Lees Romeine 5:12, 19.) Party in die gemeente sal dus soms iets sê of doen wat ons gevoelens seermaak. Hoe sal ons optree wanneer dit gebeur? Sal ons liefde vir Jehovah sterk bly? Sal ons lojaal aan hom en sy volk bly? Die Bybel vertel ons van party van God se knegte wat dinge gedoen of gesê het wat ander seergemaak het. Kom ons kyk wat ons kan leer uit wat met hulle gebeur het.

Hoe sou jy gereageer het as jy in die tyd van Eli en sy seuns in Israel gelewe het? (Sien paragraaf 6)

6. Hoe het Eli versuim om sy seuns te dissiplineer?

6 Byvoorbeeld, Eli was die hoëpriester van Israel, maar sy twee seuns was nie gehoorsaam aan Jehovah se wette nie. Die Bybel sê: “Die seuns van Eli was deugniete; hulle het Jehovah nie erken nie” (1 Samuel 2:12). Eli het geweet dat sy seuns baie slegte dinge doen. Maar hy het hulle nie behoorlik gedissiplineer nie. Mettertyd het Jehovah Eli en sy twee seuns gestraf. En later het hy Eli se nakomelinge nie meer toegelaat om as hoëpriesters te dien nie (1 Samuel 3:10-14). Hoe sou jy gereageer het as jy in Eli se tyd gelewe het en geweet het dat hy sy seuns toelaat om verskriklike dinge te doen? Sou dit jou laat struikel het? Sou hierdie situasie jou geloof in Jehovah laat verswak het, en sou jy as gevolg daarvan opgehou het om hom te dien?

7. Watter ernstige sonde het Dawid gepleeg, en wat het God daaromtrent gedoen?

7 Dawid het wonderlike eienskappe gehad, en daarom was Jehovah baie lief vir hom (1 Samuel 13:13, 14; Handelinge 13:22). Maar selfs Dawid het iets verskrikliks gedoen. Toe Uria in Israel se leër teen die vyand geveg het, het Dawid egbreuk gepleeg met Uria se vrou, Batseba, en sy het swanger geraak. Dawid wou nie hê dat iemand moet weet wat hy gedoen het nie. Daarom het hy Uria beveel om hom te kom spreek. Hy het Uria toe probeer oortuig om huis toe te gaan. Dawid het gehoop dat Uria met Batseba geslagsomgang sou hê sodat ander sou dink dat Uria die pa van die baba is. Maar Uria wou nie huis toe gaan nie. Dawid het toe seker gemaak dat Uria in die geveg doodgemaak sou word. Dawid en sy familie het baie gely as gevolg van sy ernstige sondes (2 Samuel 12:9-12). Maar Jehovah was barmhartig en het hom vergewe. Hy het geweet dat Dawid wou doen wat reg is (1 Konings 9:4). Hoe sou jy gevoel het oor wat Dawid gedoen het as jy in daardie tyd gelewe het? Sou jy opgehou het om Jehovah te dien?

8. (a) Hoe het die apostel Petrus nie by sy woord gebly nie? (b) Waarom het Jehovah aangehou om Petrus te gebruik nadat hy Jesus verloën het?

8 Nog ’n Bybelvoorbeeld is die apostel Petrus. Jesus het hom gekies om ’n apostel te wees. Maar soms het Petrus dinge gesê of gedoen wat nie reg was nie. Petrus het byvoorbeeld gesê dat hy Jesus nooit sal verlaat nie, al verlaat al die ander hom (Markus 14:27-31, 50). Maar nadat Jesus in hegtenis geneem is, het al die apostels, insluitende Petrus, hom verlaat. Petrus het Jesus ook drie keer verloën (Markus 14:53, 54, 66-72). Maar Petrus was baie bedroef oor wat hy gedoen het. Daarom het Jehovah hom vergewe en aangehou om hom te gebruik. Sou jy aangehou het om op Jehovah te vertrou as jy ’n dissipel in daardie tyd was en geweet het wat Petrus gedoen het?

Ons kan seker wees dat Jehovah altyd sal doen wat reg en regverdig is

9. Waarom vertrou jy dat God altyd reg en regverdig optree?

9 Uit hierdie voorbeelde sien ons dat sommige van Jehovah se knegte verkeerde dinge gedoen het en ander diep seergemaak het. Wat sal jy doen as dit vandag gebeur? Sal jy ophou om vergaderinge by te woon of Jehovah en sy volk selfs heeltemal verlaat? Of sal jy besef dat Jehovah barmhartig is en dat hy miskien wag dat die persoon berou toon? Maar soms sal iemand wat ernstige sondes gepleeg het, nie jammer wees oor wat hy gedoen het nie. Sal jy vertrou dat Jehovah daarvan weet en dat hy op die regte tyd iets daaromtrent sal doen? Hy sal die persoon dalk selfs uit die gemeente verwyder as dit nodig is. Glo jy dat Jehovah altyd sal doen wat reg en regverdig is?

BLY LOJAAL

10. Hoe het Jesus gereageer op Judas Iskariot en Petrus se foute?

10 Ons lees in die Bybel van baie mense wat lojaal aan Jehovah en sy volk gebly het, al het ander om hulle ernstige foute begaan. Jesus het die beste voorbeeld hierin gestel. Nadat hy ’n hele nag in gebed tot sy Vader deurgebring het, het hy die 12 apostels gekies. Maar een van hulle, Judas Iskariot, het hom later verraai. En die apostel Petrus het Jesus verloën (Lukas 6:12-16; 22:2-6, 31, 32). Toe party van Jesus se dissipels hom teleurgestel het, het hy nie Jehovah of die res van die dissipels daarvoor blameer nie. Jesus het eerder na aan sy Vader gebly en aangehou om hom lojaal te dien. Jehovah het hom dus beloon deur hom uit die dood op te wek en hom later as Koning van die hemelse Koninkryk te kroon.—Matteus 28:7, 18-20.

11. Wat het die Bybel voorspel oor Jehovah se knegte in ons dag?

11 Jesus se voorbeeld leer ons om lojaal aan Jehovah en sy volk te bly. En ons het goeie redes om sy voorbeeld te volg. Ons kan sien dat Jehovah sy knegte rig in hierdie tyd van die einde. Hy help hulle om die waarheid wêreldwyd te verkondig, en hulle is die enigstes wat hierdie werk doen. Hulle is ook gelukkig en waarlik verenig weens al die dinge wat Jehovah hulle leer. Jehovah het die geestelike toestand van sy volk so beskryf: “Kyk! My knegte sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart.”—Jesaja 65:14.

Dit sal dwaas en onverstandig wees om Jehovah en sy volk te verlaat net omdat iemand ’n fout gemaak het

12. Hoe moet ons ander se foute beskou?

12 Ons is waarlik gelukkig omdat Jehovah ons lei en ons help om talle goeie dinge te doen. In teenstelling hiermee is mense in Satan se wêreld nie gelukkig nie en het hulle geen ware hoop vir die toekoms nie. Hoe dwaas en onverstandig sal dit tog wees om Jehovah en sy volk te verlaat net omdat iemand in die gemeente iets gesê of gedoen het wat nie reg is nie! Ons moet eerder lojaal aan Jehovah bly en sy leiding volg. Ons moet ook leer hoe om ander se foute te beskou en hoe om daarop te reageer.

HOE MOET JY REAGEER?

13, 14. (a) Waarom moet ons geduldig wees met mekaar? (b) Watter belofte wil ons onthou?

13 Wat moet jy doen as een van jou broers iets sê of doen wat jou gevoelens seermaak? Die Bybel gee hierdie raad: “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie, want om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte” (Prediker 7:9). Ons is almal onvolmaak en maak foute. Daarom kan ons nie van ons broers verwag om altyd die regte ding te sê of te doen nie. En dit sal nie goed wees vir ons om oor hulle foute te tob nie. As ons dit doen, sal ons ons vreugde in Jehovah se diens verloor. Of nog erger, ons geloof in Jehovah kan verswak en ons kan selfs sy organisasie verlaat. Dan sal ons Jehovah nie kan dien nie, en ons sal nie meer die hoop hê om in die nuwe wêreld te lewe nie.

14 Wat kan jou dus help om gelukkig te bly in Jehovah se diens wanneer ander iets doen wat jou pla? Onthou altyd sy vertroostende belofte: “Kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13). Jehovah sal jou hierdie seëninge gee as jy lojaal aan hom bly.

15. Wat moet ons volgens Jesus doen wanneer ander foute maak?

15 Ons is natuurlik nog nie in die nuwe wêreld nie. As iemand ons gevoelens seermaak, moet ons dus nadink oor wat Jehovah wil hê ons moet doen. Jesus het byvoorbeeld gesê: “As julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe; maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.” En toe Petrus vir Jesus gevra het of ons “tot sewe keer” moet vergewe, het Jesus geantwoord: “Ek sê vir jou: Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’.” Jesus het ons geleer dat ons altyd gewillig moet wees om ander te vergewe.—Matteus 6:14, 15; 18:21, 22.

16. Watter goeie voorbeeld het Josef gestel?

16 Josef se voorbeeld leer ons hoe ons moet reageer wanneer ander ons teleurstel. Josef en sy jonger broer was die enigste seuns van Jakob en Ragel. Jakob het tien ander seuns gehad, maar hy het Josef die liefste gehad. Daarom was hulle baie jaloers op Josef. Trouens, hulle het hom so gehaat dat hulle hom as ’n slaaf verkoop het, en hy is na Egipte geneem. Jare later het die koning van Egipte hom die tweede magtigste persoon in die land gemaak omdat hy baie beïndruk was met Josef se goeie werk. Later het Josef se broers na Egipte gekom om kos te koop omdat daar ’n hongersnood was. Toe hulle Josef sien, het hulle hom nie herken nie, maar hy het geweet wie hulle is. Al het hulle hom vroeër sleg behandel, het hy hulle nie gestraf nie. Hy het hulle eerder getoets om uit te vind of hulle werklik verander het. Toe Josef besef dat hulle wel verander het, het hy vir hulle gesê dat hy hulle broer is. Later het hy hulle met hierdie woorde vertroos: “Moet dan nou nie bang wees nie. Ek sal aanhou om julle en julle kindertjies van voedsel te voorsien.”—Genesis 50:21.

17. Wat moet ons doen wanneer ander foute maak?

17 Aangesien almal tekortkominge het, moet jy onthou dat jy ander ook aanstoot kan gee. As jy besef dat jy iemand ontstel het, moet jy dus die Bybel se raad volg. Vra die persoon om jou te vergewe en probeer om vrede met hom te maak. (Lees Matteus 5:23, 24.) Ons waardeer dit wanneer ander ons vergewe. Daarom moet ons dieselfde vir hulle doen. Kolossense 3:13 sê vir ons: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.” As ons ons broers werklik liefhet, sal ons nie ontsteld bly oor iets wat hulle in die verlede gedoen het nie (1 Korintiërs 13:5). En as ons ander vergewe, sal Jehovah ons ook vergewe. Wanneer ander foute maak, moet ons dus barmhartig teenoor hulle wees net soos ons Vader, Jehovah, barmhartig teenoor ons is.—Lees Psalm 103:12-14.