Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eric en Amy

Hulle het hulle gewillig aangebied​​—⁠In Ghana

Hulle het hulle gewillig aangebied​​—⁠In Ghana

KEN jy ’n broer of ’n suster wat getrek het na ’n vreemde land waar meer Koninkryksverkondigers nodig is? Het jy jou al ooit afgevra: ‘Wat beweeg hulle om in ’n vreemde land te gaan dien? Hoe berei hulle hulle voor vir hierdie vorm van diens? Sal ek dit kan doen?’ ’n Goeie manier waarop ons antwoorde op hierdie vrae kan kry, is natuurlik om met hierdie broers en susters te gesels. Kom ons doen dit.

WAT BEWEEG HULLE?

Waarom het jy dit oorweeg om te gaan dien in ’n vreemde land waar hulp nodig is? Amy, wat nou in haar middel-30’s is, kom van die Verenigde State. Sy vertel: “Ek het jare lank daaraan gedink om in ’n vreemde land te gaan dien, maar dit het gelyk of ek dit nooit sal kan doen nie.” Wat het haar beskouing verander? “In 2004 het ’n egpaar wat in Belize dien, my genooi om hulle te besoek en om ’n maand lank saam met hulle te pionier. Ek het dit gedoen—en ek het dit vreeslik geniet! ’n Jaar later het ek na Ghana getrek om daar as ’n pionier te dien.”

Aaron en Stephanie

’n Paar jaar gelede het Stephanie, wat nou in haar laat 20’s is en ook van die Verenigde State kom, haar omstandighede ondersoek en gedink: ‘Ek is gesond en het geen gesinsverantwoordelikhede nie. Ek kan eintlik baie meer vir Jehovah doen as wat ek op die oomblik doen.’ Hierdie eerlike selfondersoek het haar beweeg om na Ghana te trek om haar bediening uit te brei. Filip en Ida, ’n middeljarige pionieregpaar van Denemarke, wou nog altyd na ’n gebied trek waar hulp nodig is. Hulle het na maniere gesoek waarop hulle hierdie droom kon bewaarheid. “Toe ons die geleentheid kry om dit te doen”, sê Filip, “was dit asof Jehovah vir ons gesê het: ‘Doen dit!’” Hulle het in 2008 na Ghana getrek en drie jaar lank daar gedien.

Brook en Hans

 Hans en Brook, ’n pionieregpaar in hulle 30’s, dien in die Verenigde State. In 2005 het hulle ná die orkaan Katrina met noodlenigingswerk gehelp. Later het hulle aansoek gedoen om met internasionale bouprojekte te help, maar hulle is nie genooi nie. “Toe”, vertel Hans, “het ons by ’n byeenkoms na ’n toespraak geluister waarin genoem is dat koning Dawid aanvaar het dat hy die tempel nie mag bou nie en dat hy toe sy doelwit verander het. Hierdie punt het ons help besef dat dit nie verkeerd is om jou teokratiese doelwitte te verander nie” (1 Kron. 17:1-4, 11, 12; 22:5-11). Brook sê verder: “Jehovah wou hê dat ons ’n ander koers moes inslaan.”

Nadat Hans en Brook die opwindende ondervindinge gehoor het van hulle vriende wat in ander lande gedien het, wou hulle ook probeer om in ’n ander land te pionier. In 2012 het hulle na Ghana gegaan en vier maande lank in ’n gebaretaalgemeente gehelp. Hoewel hulle na die Verenigde State moes terugkeer, het hulle ondervinding in Ghana hulle ’n groter begeerte gegee om Koninkryksbelange altyd eerste in hulle lewe te stel. Hulle het sedertdien met die bou van die takkantoor in Mikronesië gehelp.

STAPPE OM HULLE DOELWIT TE BEREIK

Hoe het julle voorberei om te dien waar hulp nodig is? “Ek het navorsing gedoen in Wagtoring-artikels wat handel oor hoe ander gaan dien het waar daar hulp nodig is”, sê Stephanie. * “Ek het ook met die gemeentelike ouer manne en die kringopsiener en sy vrou gepraat oor my begeerte om in ’n ander land te gaan dien. Bowenal het ek dikwels in gebed met Jehovah oor my doelwit gepraat.” Terselfdertyd het Stephanie haar lewe eenvoudig gehou, wat dit vir haar moontlik gemaak het om geld te spaar sodat sy genoeg sou hê om haar in ’n ander land te onderhou.

 Hans vertel: “Ons het Jehovah in gebed vir leiding gevra, want ons wou gaan waar hy ons ook al wou hê. Ons het ook in ons gebede die spesifieke datum genoem waarop ons wou begin.” Die egpaar het briewe aan vier takkantore gestuur. Nadat hulle ’n baie positiewe antwoord van die tak in Ghana ontvang het, het hulle daarheen gereis, met die doel om twee maande daar te bly. “Ons het dit so geniet om saam met die gemeente te werk”, sê Hans, “dat ons langer gebly het.”

Adria en George

George en Adria, ’n egpaar van Kanada in hulle laat 30’s, het in gedagte gehou dat Jehovah goeie besluite seën, nie bloot goeie bedoelings nie. Daarom het hulle definitiewe stappe gedoen om hulle doelwit te bereik. Hulle het ’n suster gekontak wat dien waar hulp nodig is in Ghana en haar ’n klomp vrae gevra. Hulle het ook aan die tak in Kanada en die tak in Ghana geskryf. “En”, sê Adria, “ons het maniere probeer vind om ons lewe nog verder te vereenvoudig.” Weens hierdie besluite kon hulle in 2004 na Ghana trek.

DIE UITDAGINGS

Voor watter uitdagings het julle te staan gekom nadat julle getrek het, en hoe het julle dit die hoof gebied? Amy het in die begin huis toe verlang. “Alles was so anders as waaraan ek gewoond was.” Wat het haar gehelp? “Oproepe van familielede wat gesê het hoeveel hulle my diens waardeer, het my gehelp om te onthou waarom ek besluit het om te trek. Ek en my familielede het later deur middel van video-oproepe gesels. Omdat ons mekaar kon sien, het dit vir my gevoel asof hulle nie so ver van my af is nie.”  Amy vertel dat sy en ’n ervare plaaslike suster goeie vriende geword het en dat die suster haar gehelp het om verskeie gebruike te verstaan. “Ek het na haar toe gegaan wanneer ek nie kon verstaan waarom mense op ’n sekere manier optree nie. Sy het vir my gesê wat ek moet doen en wat ek nie moet doen nie, en dit het my baie gehelp om vreugdevol in my bediening te bly.”

George en Adria vertel dat dit vir hulle gevoel het asof hulle teruggereis het in tyd toe hulle na Ghana getrek het. “In plaas van ’n wasmasjien het ons emmers gebruik. En dit het gevoel asof dit tien keer langer neem om ’n maaltyd voor te berei as voorheen”, sê Adria. “Maar ná ’n ruk het die ietwat moeilike situasies eintlik net nuwe ondervindinge geword.” Brook sê: “Ten spyte van die struikelblokke waarmee ons as pioniers te kampe het, lei ons ’n bevredigende lewe. Al ons opbouende ondervindinge vorm ’n versameling pragtige herinneringe wat vir ons baie kosbaar is.”

’N BEVREDIGENDE BEDIENING

Waarom sal julle hierdie vorm van Koninkryksdiens by ander aanbeveel? “Om in ’n gebied te werk waar jy mense ontmoet wat so gretig is om die waarheid te leer dat hulle die Bybel elke dag wil studeer, verskaf my groot vreugde”, sê Stephanie. “Om te gaan dien waar hulp nodig is, is een van die beste besluite wat ek nog geneem het!” In 2014 het Stephanie met Aaron getrou, en vandag dien hulle by die takkantoor in Ghana.

“Dit is ’n wonderlike ondervinding”, sê Christine, ’n pionier van Duitsland wat nou in haar vroeë 30’s is. Christine het in Bolivia gedien voordat sy na Ghana getrek het. Sy voeg by: “Omdat ek ver van my familie af is, vertrou ek meer op Jehovah. Ek voel nou nader aan hom as ooit tevore. Ek ondervind ook die besondere eenheid wat onder Jehovah se volk is. Hierdie vorm van diens het my lewe verryk.” Christine het onlangs met Gideon getrou, en hulle dien nog steeds in Ghana.

Christine en Gideon

Filip en Ida vertel ons wat hulle gedoen het om hulle Bybelstudente te help om vordering te maak. “Ons het vroeër 15 of meer Bybelstudies gehad, maar ons het dit tot 10 beperk sodat ons ons studente beter kon onderrig.” Het die studente hierby baat gevind? Filip vertel: “Ek het met ’n jong man met die naam Michael gestudeer. Dit was vir hom moontlik om elke dag te studeer, en hy het so goed voorberei dat ons die Leer Bybel-boek binne ’n maand voltooi het. Daarna het Michael ’n ongedoopte verkondiger geword. Op sy eerste dag in velddiens het hy my gevra: ‘Sal jy my met my Bybelstudies help?’ Ek het verbaas na hom gekyk. Michael het verduidelik dat hy drie studies begin het en hulp nodig het om dit te hou.” Dink net, daar is so ’n groot behoefte aan onderrigters dat selfs Bybelstudente onderrigters moet wees!

Ida en Filip

Amy vertel dat sy gou besef het dat meer verkondigers nodig is: “Kort nadat ek in Ghana aangekom het, het ons in ’n klein dorpie gepreek en na dowes gesoek. Ons het nie net een dowe persoon gevind nie, maar agt dowes, en dit in net een dorpie!” Intussen het Amy met Eric getrou, en hulle dien nou saam as spesiale pioniers. Hulle dien in ’n gebaretaalgemeente om party van die meer as 300 dowe verkondigers en belangstellendes in die land te help. Weens hulle diens in Ghana het George en Adria persoonlik ondervind hoe die lewe van ’n sendeling is. Daarom was hulle baie bly toe hulle ’n uitnodiging na die 126ste klas van die Gileadskool ontvang het! Hulle dien nou as sendelinge in Mosambiek.

BEWEEG DEUR LIEFDE

Dit is hartverblydend om te sien dat soveel verkondigers uit ander lande hard werk saam met plaaslike broers en susters om die oes in te bring (Joh. 4:35). Elke week van die jaar word daar gemiddeld 120 persone in Ghana gedoop. Soos in die geval van die 17 verkondigers wat na Ghana getrek het omdat daar hulp nodig is, het liefde vir Jehovah duisende Koninkrykspredikers regoor die wêreld beweeg om hulle ‘gewillig aan te bied’. Hulle dien in gebiede waar meer verkondigers nodig is. Hierdie gewillige werkers maak Jehovah se hart beslis bly!—Ps. 110:3; Spr. 27:11.

^ par. 9 Sien byvoorbeeld die artikels “Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?” en “Kan jy oorkom na Masedonië?”​—Die Wagtoring, 15 April en 15 Desember 2009.