Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Esegiël hoofstuk 37 beskryf twee stokke wat een stok word. Wat beteken dit?

Jehovah het Esegiël ’n boodskap van hoop gegee. Hy het belowe dat die nasie Israel na die Beloofde Land sou terugkeer en weer as een nasie verenig sou word. Hierdie boodskap het ook voorspel dat diegene wat God gedurende die laaste dae aanbid, as een volk verenig sou word.

Jehovah het vir sy profeet Esegiël gesê om op twee stokke te skryf. Hy moes op die een stok skryf: “Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy metgeselle”, en op die ander een: “Vir Josef, die stok van Efraim, en die hele huis van Israel, sy metgeselle.” Die twee stokke sou ‘net een stok’ in Esegiël se hand word.—Eseg. 37:15-17.

 Waarna verwys “Efraim”? Die eerste koning van die noordelike tienstammeryk, Jerobeam, was uit die stam Efraim, wat die oorheersende stam geword het (Deut. 33:13, 17; 1 Kon. 11:26). Hierdie stam het van Josef se seun Efraim afgestam (Num. 1:32, 33). Josef het ’n spesiale seën van sy vader, Jakob, ontvang. Dit was dus gepas dat die stok wat die tienstammeryk voorgestel het, “die stok van Efraim” genoem is. In die jaar 740 VHJ, lank voordat Esegiël die profesie oor die twee stokke opgeteken het, is die noordelike koninkryk van Israel deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer (2 Kon. 17:6). Jare later het die Babiloniërs die Assiriërs verower. Toe Esegiël die profesie oor die twee stokke opgeteken het, was die meeste van daardie Israeliete dus regoor die Babiloniese Ryk verstrooi.

In 607 VHJ is die suidelike tweestammeryk en enige oorblywendes van die noordelike koninkryk in ballingskap na Babilon weggevoer. Die konings in die lyn van Juda het oor die twee stamme van die suidelike koninkryk regeer. Die priesters het ook in Juda gewoon, want hulle het by die tempel in Jerusalem gedien (2 Kron. 11:13, 14; 34:30). Dit was dus gepas dat die tweestammeryk voorgestel is deur die stok “vir Juda”.

Wanneer het hierdie twee simboliese stokke een geword? Dit het gebeur toe die Israeliete in 537 VHJ na Jerusalem teruggekeer het om die tempel te herbou. Lede van die tweestammeryk sowel as van die tienstammeryk het saam uit ballingskap teruggekeer. Die kinders van Israel was nie meer verdeel nie (Eseg. 37:21, 22). Die Israeliete was weer verenig in die aanbidding van Jehovah. Hierdie versoening is ook deur die profete Jesaja en Jeremia voorspel.—Jes. 11:12, 13; Jer. 31:1, 6, 31.

Watter belangrike waarheid oor rein aanbidding word deur hierdie profesie beklemtoon? Die volgende: Jehovah sal sy aanbidders “een [laat] word” (Eseg. 37:18, 19). Is hierdie belofte van eenheid in ons tyd bewaarheid? Ja. Die profesie het in 1919 in vervulling begin gaan, toe God se volk geleidelik herorganiseer en herenig is. Satan se pogings om hulle te verdeel, is permanent in die wiele gery.

Op hierdie stadium het die meerderheid van diegene wat herenig is, die hoop gehad om saam met Jesus konings en priesters in die hemel te wees (Op. 20:6). In simboliese sin was hulle soos die stok vir Juda. Maar met verloop van tyd het al hoe meer van diegene met ’n aardse hoop hulle by hierdie geestelike Jode begin aansluit (Sag. 8:23). Hulle was soos die stok vir Josef, en hulle het nie die hoop gehad om saam met Christus te regeer nie.

Albei groepe dien vandag verenig saam as Jehovah se volk onder een Koning, Jesus Christus, na wie daar profeties verwys word as “my kneg Dawid” (Eseg. 37:24, 25). Jesus het gebid dat al sy volgelinge ‘een moet wees, net soos sy Vader in eenheid met hom en hy in eenheid met sy Vader is’ (Joh. 17:20, 21). * Jesus het ook voorspel dat sy klein kuddetjie gesalfde volgelinge en sy “ander skape” “een kudde” sou word. Hulle sou almal “een herder” volg (Joh. 10:16). Hoe goed beskryf Jesus se woorde tog die geestelike eenheid wat Jehovah se volk vandag geniet, hetsy hulle ’n hemelse of ’n aardse hoop het!

^ par. 10 Toe Jesus oor die teken van sy teenwoordigheid gepraat het, het hy verskeie illustrasies vertel. Interessant genoeg, hy het eers verwys na “die getroue en verstandige slaaf”, die klein groepie gesalfde broers wat die leiding sou neem (Matt. 24:45-47). Toe het hy illustrasies gebruik wat hoofsaaklik van toepassing is op almal wat die hemelse hoop het (Matt. 25:1-30). Laastens het hy gepraat van diegene met ’n aardse hoop wat Christus se broers sou ondersteun (Matt. 25:31-46). Net so verwys die hedendaagse vervulling van Esegiël se profesie eerstens na wat met diegene sou gebeur wat ’n hemelse hoop het. Hoewel die tienstammeryk nie gewoonlik diegene met die aardse hoop voorstel nie, herinner die eenheid wat in hierdie profesie beskryf word, ons aan die eenheid wat bestaan tussen diegene met ’n aardse hoop en diegene met ’n hemelse hoop.