Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Gee my net een jaar van vrede en geluk

Gee my net een jaar van vrede en geluk
  • GEBORE: 1971

  • GEBOORTELAND: FRANKRYK

  • GESKIEDENIS: WAS BETROKKE BY GEWELDDADIGE MISDAAD, ONSEDELIKHEID EN DWELMS

MY VERLEDE:

Ons gesin het in Tellancourt gewoon, ’n dorpie in die noordooste van Frankryk. My pa was Frans, en my ma Italiaans. Toe ek agt jaar oud was, het ons getrek na ’n arm, werkersklasbuurt in Rome, Italië. Daar het ons huislewe agteruitgegaan. My ouers het baie erg gestry as gevolg van hulle finansiële probleme.

Toe ek 15 jaar oud was, het my ma my aangemoedig om uit te gaan en vriende te maak. Ek het langer en langer van die huis af weggebly. Ná ’n rukkie het ek met die verkeerde mense deurmekaargeraak. Eendag het ’n man wat vriendelik gelyk het, na my toe gekom. Hy het my dwelms aangebied, en ek het dit geneem omdat ek volwasse wou lyk. Ek het gou deel geword van ’n wêreld waarin dwelms en onsedelikheid algemeen is. Ek is meer as een keer verkrag. Die lewe het vir my onbelangrik geword; ek het nie omgegee of ek lewe of sterwe nie. Ek was verskriklik eensaam. Toe ek 16 was, het ek selfmoord probeer pleeg deur ’n bottel whiskey uit te drink en in ’n meer in te spring. Ek was drie dae lank in ’n koma.

Toe het ek die lewe begin waardeer, maar ek het ook gewelddadig en slinks geword. Ek het vir mense seks aangebied, en wanneer ons by hulle huis aangekom het, het ek vir hulle dwelms ingegee en dan enigiets waardevols gesteel wat ek kon vind. Groot misdaadsindikate het my gebruik om regoor Italië dwelms te smokkel. Ek was dikwels in die moeilikheid by die polisie. Dit het gevoel asof my lewe geen sin het nie en buite beheer is. Maar ek het geglo dat daar ’n rede vir my bestaan moet wees. Ek het tot God gebid en hom gevra om my net een jaar van vrede en geluk te gee.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Toe ek 24 jaar oud was, het ek besluit om na Engeland te trek. Omdat ek met dwelmhandelaars deurmekaar was, was my lewe in gevaar. Voordat ek vertrek het, het ek by my ma gaan kuier. Ek was verbaas om ’n man met die naam Annunziato Lugarà daar te sien, wat die Bybel met haar bespreek het. * Omdat ek geweet het van sy verlede as ’n misdadiger, het ek bang geword en hom gevra waarom hy daar is. Hy het my vertel van die groot veranderinge wat hy in sy lewe gemaak het  om een van Jehovah se Getuies te word, en hy het my laat belowe dat ek met die Getuies sou praat wanneer ek in Engeland aankom. Ek het ingestem. Maar toe ek daar aankom, het ek gou weer in my ou lewenswyse verval.

Eendag het ek ’n Getuie ontmoet wat Die Wagtoring en Ontwaak! op ’n besige straat in Londen aangebied het. Ek het my belofte aan Annunziato onthou, en daarom het ek die Getuie vir ’n Bybelstudie gevra.

Wat ek uit die Bybel geleer het, het my werklik verbaas. Ek is diep geraak deur die woorde in 1 Johannes 1:9, waar dit van God sê: “As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons . . . te reinig.” Hierdie vers het ’n kragtige uitwerking op my gehad omdat my lewenswyse my baie vuil laat voel het. Ek het onmiddellik die vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies begin bywoon. Die Getuies het my hartlik verwelkom. Toe ek sien hoe heg die vriendskappe onder hulle is—iets waarna ek nog altyd gesmag het—wou ek deel wees van hulle gemeente, wat soos ’n familie is.

Hoewel dit nie vir my baie moeilik was om op te hou om dwelms te gebruik of my onsedelike lewenswyse agter te laat nie, was dit vir my baie moeilik om my persoonlikheid te verander. Ek het besef dat ek mense met respek en bedagsaamheid moet behandel. Om die waarheid te sê, ek stry nog steeds teen sekere slegte eienskappe. Maar met Jehovah se hulp het ek vordering gemaak. Ses maande nadat ek die Bybel begin studeer het, is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Dit was in 1997.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Nadat ek gedoop is, het ek getrou met Barbara, ’n jong vrou wat ook kort tevore een van Jehovah se Getuies geword het. Toe een van my ou vriende gesien het hoeveel ek verander het, het hy die Bybel begin studeer. Ná verloop van tyd het hy en sy suster Getuies geword. Toe het my ouma se suster, wat al oor die 80 was, begin studeer, en sy is voor haar dood gedoop.

Ek dien nou as ’n ouer man in ’n plaaslike gemeente, en ek en my vrou is voltydse bedienaars. Ons help Italiaanssprekende mense in Londen om van die Bybel te leer. Soms raak ek terneergedruk oor my vorige lewenswyse, maar Barbara ondersteun my baie. Uiteindelik het ek die stabiele gesinslewe waarna ek altyd gesmag het asook die liefdevolle Vader wat ek altyd wou hê. Ek het God vir een jaar van vrede en geluk gevra, maar hy het my soveel meer gegee!

Uiteindelik het ek die stabiele gesinslewe waarna ek altyd gesmag het asook die liefdevolle Vader wat ek altyd wou hê

^ par. 10 Sien die artikel “Die Bybel verander lewens—Ek het nêrens gegaan sonder my vuurwapen nie”, soos vertel deur Annunziato Lugarà in Die Wagtoring van 1 Julie 2014, bladsy 8-9.