Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy ‘aanhou waak’?

Sal jy ‘aanhou waak’?

“Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—MATTEUS 25:13.

1, 2. (a) Wat het Jesus oor die laaste dae geopenbaar? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

STEL jou voor dat Jesus op die Olyfberg sit en oor die tempel in Jerusalem uitkyk. Hy is saam met vier van sy apostels, Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Hulle luister aandagtig na Jesus terwyl hy hulle ’n opwindende profesie oor die toekoms gee. Die profesie openbaar wat gedurende die laaste dae van hierdie goddelose wêreld sal gebeur wanneer Jesus in God se Koninkryk heers. Jesus sê vir hulle dat sy “getroue en verstandige slaaf” hom gedurende daardie opwindende tyd op die aarde sal verteenwoordig en vir sy volgelinge geestelike voedsel op die regte tyd sal gee.—Matteus 24:45-47.

2 Daarna vertel Jesus, in hierdie selfde profesie, die gelykenis van die tien maagde. (Lees Matteus 25:1-13.) In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: (1) Wat is die hoofboodskap van die gelykenis? (2) Hoe pas getroue gesalfdes die raad in die gelykenis toe, en met watter resultate? (3) Hoe kan elkeen van ons vandag by Jesus se gelykenis baat vind?

WAT IS DIE BOODSKAP VAN DIE GELYKENIS?

3. Hoe het ons lektuur die gelykenis van die tien maagde voorheen verduidelik, en wat het dit moontlik tot gevolg gehad?

3 In die vorige artikel het ons geleer dat die getroue slaaf in onlangse jare aanpassings gemaak het in die manier waarop sekere Bybelverslae verduidelik word. Die getroue slaaf vestig die aandag nou eerder op praktiese lesse as op moontlike simboliese of profetiese betekenisse. Neem Jesus se gelykenis van die tien maagde as voorbeeld. Ons lektuur het voorheen gesê dat die lampe, die olie en die houers iets of iemand voorstel. Het die eenvoudige, dringende boodskap van die gelykenis dalk verlore gegaan omdat die aandag op fyner besonderhede gevestig is? Die antwoord op hierdie vraag is belangrik.

Die maagde moet gereed wees en hulle lampe moet brand wanneer die bruidegom kom

4. Hoe weet ons wie in die gelykenis (a) die bruidegom is? (b) die maagde is?

4 Kom ons ondersoek die hoofboodskap van Jesus se gelykenis. Eerstens, dink aan die karakters in die gelykenis van die tien maagde. Wie is die bruidegom? Dit is Jesus. Ons weet dit omdat Jesus vroeër na homself as die bruidegom verwys het (Lukas 5:34, 35). Wie is die maagde? Hulle is die “klein kuddetjie” gesalfde Christene. Hoe weet ons dit? In die gelykenis moes die maagde gereed wees, en hulle lampe moes brand wanneer die bruidegom kom. Let nou op wat Jesus vir sy gesalfde volgelinge gesê het: “Laat julle lendene omgord wees en julle lampe brand, en wees julle soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die huwelik terugkeer” (Lukas 12:32, 35, 36). En die apostel Paulus sowel as die apostel Johannes het Christus se gesalfde volgelinge met kuis maagde vergelyk (2 Korintiërs 11:2; Openbaring 14:4). Ons kan dus sien dat die raad en waarskuwing in Matteus 25:1-13 aan Jesus se gesalfde volgelinge gerig is.

5. Hoe het Jesus getoon op watter tydperk sy gelykenis van toepassing sou wees?

5 Tweedens, op watter tydperk is Jesus se raad van toepassing? Wat Jesus in die laaste gedeelte van die gelykenis gesê het, help ons om die antwoord te kry. Hy het gesê: “Die bruidegom [het] daar aangekom” (Matteus 25:10). In Die Wagtoring van 15 Julie 2013 het ons geleer dat Jesus se profesie in Matteus hoofstukke 24 en 25 agt keer na Jesus se “koms” verwys. Wanneer Jesus na sy “koms” verwys, verwys hy na die tydperk gedurende die groot verdrukking wanneer hy kom om hierdie goddelose wêreld te oordeel en te vernietig. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Jesus se gelykenis op die laaste dae van toepassing is, maar hy “kom” eers gedurende die groot verdrukking.

6. Wat is die hoofboodskap van die gelykenis?

6 Wat is die hoofboodskap van hierdie gelykenis? Hou die konteks van die Bybelverslag in gedagte. In Matteus hoofstuk 24 het Jesus “die getroue en verstandige slaaf” bespreek. Hierdie slaaf sou ’n klein groepie gesalfde manne wees wat gedurende die laaste dae die leiding onder Christus se volgelinge sou neem. Jesus het hierdie manne gewaarsku en gesê dat hulle getrou moet bly. In die volgende hoofstuk het Jesus die gelykenis van die tien maagde gebruik om aan al sy gesalfde volgelinge in die laaste dae raad te gee. Die boodskap was dat hulle moet ‘aanhou waak’ sodat hulle nie hulle hemelse beloning verloor nie (Matteus 25:13). Kom ons ondersoek nou die gelykenis en kyk hoe die gesalfdes die raad toegepas het.

HOE HET DIE GESALFDES DIE RAAD IN DIE GELYKENIS TOEGEPAS?

7, 8. (a) Waarom was die verstandige maagde gereed? (b) In watter opsig is die gesalfdes voorbereid?

7 In die gelykenis beklemtoon Jesus dat die verstandige maagde, anders as die dwase maagde, gereed was toe die bruidegom gekom het. Waarom? Omdat hulle voorbereid en waaksaam was. Al tien maagde moes waaksaam bly en sorg dat hulle lampe gedurende die nag brand. Anders as die dwase maagde was die vyf verstandige maagde voorbereid omdat hulle ekstra olie vir hulle lampe gebring het. Hoe het getroue gesalfde Christene vir Jesus se koms voorberei?

8 Die gesalfdes is voorbereid om hulle toewysing tot die einde toe uit te voer. Hulle besef dat hulle diens aan God sal vereis dat hulle materiële geriewe in Satan se wêreld moet prysgee, maar hulle is bereid om dit te doen. Hulle is vasbeslote om Jehovah lojaal te dien, nie omdat die einde naby is nie, maar omdat hulle hom en sy Seun liefhet. Hulle handhaaf hulle onkreukbaarheid en laat nie toe dat die wêreld se materialistiese, onsedelike en selfsugtige gesindhede hulle beïnvloed nie. Soos die verstandige maagde wat gereed was met hulle lampe, hou die gesalfdes aan om helder te skyn terwyl hulle geduldig wag op die koms van die Bruidegom, al lyk dit of hy talm.—Filippense 2:15.

Jesus het die gesalfdes gewaarsku en gesê dat hulle getrou moet bly

9. (a) Watter waarskuwing het Jesus oor lomerigheid gegee? (b) Hoe het die gesalfdes gereageer op die uitroep: “Hier is die bruidegom”? (Sien ook voetnoot.)

9 Nog iets wat die verstandige maagde gehelp het om vir die bruidegom se koms gereed te wees, was hulle waaksaamheid. Maar in die gelykenis het al tien maagde “ingesluimer en aan die slaap geraak” terwyl hulle gewag het vir die bruidegom, wat skynbaar getalm het. Kan gesalfde Christene vandag “aan die slaap [raak]”, met ander woorde, kan hulle aandag afgelei word terwyl hulle op Christus se koms wag? Ja. Jesus het geweet dat selfs ’n persoon wat gewillig en gretig is, swak kan word en dat sy aandag afgelei kan word terwyl hy op Jesus se koms wag. Daarom het getroue gesalfde Christene hulle ingespan om aan te hou waak. In die gelykenis het al tien maagde gereageer op die uitroep: “Hier is die bruidegom!” Maar net die verstandige maagde het waaksaam gebly (Matteus 25:5, 6; 26:41). Gedurende die laaste dae het getroue gesalfde Christene eweneens gereageer op die uitroep: “Hier is die bruidegom!” Hulle het die oortuigende bewyse aanvaar dat Jesus se koms naby is, en hulle is gereed vir sy koms. * (Sien voetnoot.) Kom ons ondersoek die laaste gedeelte van Jesus se gelykenis, wat op ’n spesifieke tydperk van toepassing is.

BELONING VIR DIE VERSTANDIGES EN STRAF VIR DIE DWASES

10. Watter vraag ontstaan in verband met die gesprek tussen die verstandige maagde en die dwase maagde?

10 In die laaste gedeelte van die gelykenis het die dwase maagde die verstandige maagde gevra om vir hulle olie vir hulle lampe te gee. Die verstandige maagde het egter geweier om hulle te help. (Lees Matteus 25:8, 9.) Maar waarom sou getroue gesalfde Christene hulp weier aan iemand wat dit nodig het? Hou in gedagte op watter tydperk die gelykenis van toepassing is. Jesus, die Bruidegom, sal na aan die einde van die groot verdrukking kom om te oordeel. Die gesprek verwys dus waarskynlik na wat net voor die einde van die groot verdrukking gebeur. Waarom sê ons so? Omdat die gesalfdes teen daardie tyd reeds finaal verseël sal wees.

11. (a) Wat sal net voor die begin van die groot verdrukking gebeur? (b) Waarom het die verstandige maagde vir die dwase maagde gesê om olie te gaan koop?

11 Voordat die groot verdrukking begin, sal al die getroue gesalfdes op die aarde hulle finale verseëling ontvang het (Openbaring 7:1-4). Dan is hulle hemelse roeping verseker. Maar dink aan die jare voor die groot verdrukking. Wat sal met gesalfdes gebeur wat nie aanhou waak het nie en ontrou geword het? Hulle sal nie finaal verseël word nie. Teen daardie tyd sal ander getroue Christene gesalf wees. Sodra die groot verdrukking begin, sal die dwases moontlik geskok wees wanneer hulle sien dat Babilon die Grote vernietig word. Hulle sal moontlik dan eers besef dat hulle nie gereed is vir Jesus se koms nie. Wat sal gebeur as hulle op daardie tydstip hulp vra? Die antwoord is in die gelykenis. Die verstandige maagde het geweier om hulle olie vir die dwase maagde te gee en het vir hulle gesê om eerder olie te gaan koop. Aangesien dit “in die middel van die nag” was, was daar niemand om olie aan hulle te verkoop nie. Dit was te laat!

12. (a) Wat sal gedurende die groot verdrukking met gesalfdes gebeur wat voor die finale verseëling ontrou geword het? (b) Wat wag op diegene wat soos die dwase maagde is?

12 Gedurende die groot verdrukking sal getroue gesalfdes niemand kan help wat ontrou geword het nie. Dit sal te laat wees. Wat sal dus met die ontroues gebeur? Let op wat met die dwase maagde gebeur het wat olie gaan koop het: “Die bruidegom [het] daar aangekom, en die maagde wat gereed was, het saam met hom na die huweliksfees ingegaan; en die deur is gesluit.” Wanneer Jesus na aan die einde van die groot verdrukking in sy heerlikheid kom, sal hy die getroue gesalfdes bymekaarmaak en hemel toe neem (Matteus 24:31; 25:10; Johannes 14:1-3; 1 Tessalonisense 4:17). Maar Jesus sal die ontroues verwerp. Hulle sal dalk soos die dwase maagde sê: “Meneer, meneer, maak vir ons oop!” Maar hoe sal Jesus reageer? Ongelukkig sal hy hulle dieselfde antwoord gee as wat hy vir talle bokagtiges sal gee: “Ek vertel julle die waarheid: Ek ken julle nie.”—Matteus 7:21-23; 25:11, 12.

Elke gesalfde Christen moet kies om voorbereid en waaksaam te wees

13. (a) Waarom moet ons nie tot die slotsom kom dat baie van Christus se gesalfde volgelinge ontrou sal word nie? (b) Waarom kan ons sê dat Jesus se gelykenis toon dat hy vertroue in gesalfde Christene het? (Sien prent aan begin van artikel.)

13 Het Jesus bedoel dat baie van die gesalfdes ontrou sal word en vervang sal moet word? Nee. In Matteus hoofstuk 24 lees ons dat Jesus die getroue en verstandige slaaf gewaarsku het om nie ’n bose slaaf te word nie. Dit beteken nie dat hy verwag het dat dit sal gebeur nie. Net so is die gelykenis van die tien maagde ’n waarskuwing. Vyf maagde was dwaas en vyf was verstandig, en dit toon dat elke gesalfde Christen moet kies om voorbereid en waaksaam te wees. Anders kan hy of sy dwaas en ontrou word. Paulus het ’n soortgelyke waarskuwing aan sy gesalfde broers en susters gegee. (Lees Hebreërs 6:4-9; vergelyk Deuteronomium 30:19.) Dit was ’n streng waarskuwing, maar hy het ook die vertroue gehad dat sy broers en susters hulle beloning sal ontvang. Die waarskuwing in die gelykenis van die tien maagde toon dat Jesus soortgelyke vertroue in die gesalfdes het. Hy weet dat elkeen van sy gesalfde knegte getrou kan bly en die wonderlike beloning kan ontvang!

HOE KAN CHRISTUS SE “ANDER SKAPE” BAAT VIND BY DIE GELYKENIS?

14. Waarom kan die “ander skape” ook baat vind by die gelykenis van die tien maagde?

14 Jesus se gelykenis was aan gesalfde Christene gerig. Maar kan die “ander skape” ook baat vind by Jesus se gelykenis? (Johannes 10:16). Ja! Die boodskap van die gelykenis is eenvoudig: “Hou aan waak.” En Jesus het eenkeer gesê: “Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak” (Markus 13:37). Jesus vereis dat al sy dissipels voorbereid en waaksaam moet wees. En alle Christene kan die goeie voorbeeld navolg van die gesalfdes, wat die bediening eerste in hulle lewe stel. Hou in gedagte dat die dwase maagde die verstandige maagde gevra het om vir hulle olie te gee. Hulle versoek is nie toegestaan nie. Dit herinner ons daaraan dat elkeen van ons die verantwoordelikheid het om getrou aan God te bly, om voorbereid te wees en om aan te hou waak. Niemand kan dit vir ons doen nie. Elkeen van ons is aanspreeklik teenoor die regverdige Regter, Jesus Christus, wat binnekort kom. Ons moet dus gereed wees!

Niemand kan namens ons waaksaam of getrou bly nie

15. Waarom is alle ware Christene opgewonde oor die huwelik van Christus en sy bruid?

15 Alle Christene is opgewonde oor die huwelik wat in Jesus se gelykenis genoem word. In die toekoms, ná die oorlog van Armageddon, sal gesalfde Christene Christus se bruid word (Openbaring 19:7-9). Almal op die aarde sal dan baat vind by hierdie huwelik in die hemel. Waarom? Omdat dit ’n volmaakte regering vir alle mense verseker. Hetsy ons hoop om vir ewig in die hemel of op die aarde te lewe, laat ons vasbeslote bly om voorbereid te wees en aan te hou waak. As ons dit doen, kan ons die wonderlike toekoms geniet wat Jehovah vir ons voorberei het!

^ par. 9 In die gelykenis verloop daar ’n tydperk tussen die uitroep: “Hier is die bruidegom!” (vers 6) en die koms van die bruidegom (vers 10). Die gesalfdes het dwarsdeur die laaste dae waaksaam gebly. Hulle het die teken van Jesus se teenwoordigheid herken en weet dus dat hy as Koning in God se Koninkryk heers. Maar hulle moet aanhou waak totdat hy kom.