Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—In New York

Hulle het hulle gewillig aangebied—In New York

’N PAAR jaar gelede het Cesar en sy vrou, Rocio, ’n gemaklike lewe gelei in Kalifornië, waar Cesar voltyds in die veld van verhitting, ventilasie en lugversorging gewerk het en Rocio deeltyds by ’n dokter se spreekkamer gewerk het. Hulle huis was afbetaal, en hulle het nie kinders gehad nie. Maar iets het gebeur wat hulle lewe verander het. Wat was dit?

In Oktober 2009 het die takkantoor in die Verenigde State ’n brief aan al die gemeentes in die land gestuur waarin vaardige vrywilligers genooi is om aansoek te doen vir tydelike Betheldiens om te help met die uitbreiding van die takfasiliteite in Wallkill, New York. Selfs diegene wat bo die gewone ouderdomsgrens vir Betheldiens was, is genooi om aansoek te doen. “Ons het geweet dat ons weens ons ouderdom dalk nie weer die geleentheid sou kry om by Bethel te dien nie”, vertel Cesar en Rocio. “Ons wou hierdie geleentheid vir niks in die wêreld misloop nie!” Die egpaar het onmiddellik aansoek gedoen.

Party van die vrywilligers wat by Warwick werk

Ná meer as ’n jaar was Cesar en Rocio nog nie Bethel toe genooi nie. Hulle het nietemin hulle doelwit voor oë gehou en hulle lewe vereenvoudig. “Ons het ons motorhuis in ’n eenvertrekwoonstel omskep sodat ons ons huis kon verhuur. Toe het ons uit ons 200-vierkante-meter-droomhuis getrek, wat ons net ’n paar jaar tevore gebou het, en in ons 25-vierkante-meter-woonstelletjie ingetrek. Hierdie veranderinge”, sê Cesar, “sou dit vir ons makliker maak om Bethel toe te gaan, as ons genooi sou word.” Wat het toe gebeur? “’n Maand nadat ons in ons woonstelletjie ingetrek het,” sê Rocio, “is ons genooi om as tydelike vrywilligers by Wallkill te dien. Dit was duidelik dat ons vir Jehovah iets gegee het om te seën toe ons ons lewe vereenvoudig het.”

Jason, Cesar, en William

HULLE SELFOPOFFERENDE GEES WORD GESEËN

Soos Cesar en Rocio het honderde broers en susters opofferings gemaak om met die bouwerk in  die staat New York te help. Party help met die uitbreiding by Wallkill, en ander het die voorreg om met die bou van die wêreldhoofkwartier in Warwick te help. * Baie egpare het ’n mooi huis, ’n goeie werk en selfs troeteldiere prysgegee sodat hulle meer in Jehovah se diens kan doen. Het Jehovah hulle selfopofferende gees geseën? Hy het beslis!

Way

Byvoorbeeld, Way, ’n elektrisiën, en Debra, wat albei in hulle laat 50’s is, het hulle huis en die meeste van hulle besittings in Kansas verkoop en na Wallkill getrek om as pendelaar-Betheliete te dien. * Hoewel hulle aanpassings moes maak, meen hulle dat die opofferings ongetwyfeld die moeite werd was. Debra sê aangaande haar toewysing by Bethel: “Dit voel soms asof ek in een van die tonele in ons publikasies is wat die bouwerk in die Paradys uitbeeld!”

Melvin en Sharon het hulle huis en besittings in Suid-Carolina verkoop sodat hulle by Warwick kan help. Dit was nie maklik om hierdie opofferings te maak nie, maar die egpaar beskou dit as ’n voorreg om by so ’n geskiedkundige projek betrokke te wees. Hulle sê: “Die vreugde wat jy ervaar omdat jy weet dat jy iets doen waarby die wêreldwye organisasie sal baat vind, is ongelooflik.”

Kenneth

Kenneth, ’n afgetrede bouer, en Maureen, wat in hulle middel-50’s is, het uit Kalifornië getrek om met die projek by Warwick te help. Maar voordat hulle dit kon doen, moes hulle reël dat ’n suster in die gemeente na hulle huis omsien en moes hulle hulle familie vra om vir Ken se bejaarde pa te help sorg. Is hulle spyt oor die opofferings wat hulle gemaak het om by Bethel te dien? Nee! “Ons vind werklik baie daarby baat”, sê Ken. “Beteken dit dat daar nie uitdagings is nie? Natuurlik nie, maar ons lei ’n baie bevredigende lewe, en ons beveel hierdie vorm van diens heelhartig aan.”

DIE STRUIKELBLOKKE WAT HULLE OORKOM HET

Die meeste van die broers en susters wat hulle beskikbaar gestel het, moes sekere struikelblokke oorkom. Byvoorbeeld, William en Sandra, wat in hulle vroeë 60’s is, het ’n gemaklike lewe in Pennsilvanië gelei. Hulle het ’n suksesvolle maatskappy besit wat masjienonderdele vervaardig het en het 17 werknemers gehad. Hulle was nog in dieselfde gemeente waarin hulle grootgeword het, en die meeste van hulle familielede het in daardie omgewing gewoon. Toe hulle dus die geleentheid  kry om as pendelaars by Wallkill te dien, het hulle geweet dat hulle totsiens sou moes sê vir byna alles en almal wat hulle ken. “Die grootste uitdaging was ongetwyfeld om ons gemaksone te verlaat”, sê William. Maar ná baie gebede het die egpaar besluit om wel te trek—’n besluit waaroor hulle nie spyt is nie. “Die vreugde wat ons ervaar omdat ons by die projek betrokke is en saam met die Bethelgesin werk, kan met niks anders vergelyk word nie”, sê William. “Ek en Sandra was nog nooit so gelukkig nie!”

Party van die egpare wat by Wallkill werk

Ricky, ’n bouprojekbestuurder in Hawaii, is genooi om as ’n pendelaar-Betheliet met die projek by Warwick te help. Sy vrou, Kendra, wou hê dat hy die uitnodiging moet aanvaar. Maar hulle het ’n geldige bekommernis gehad: Jacob, hulle 11-jarige seun. Hulle het gewonder of dit wys sou wees om na die staat New York te trek en of hulle seun by ’n nuwe omgewing sou kon aanpas.

“Dit was vir ons belangrik om ’n gemeente te vind met jongmense wat geestelik sterk is”, sê Ricky. “Ons wou hê dat Jacob soveel opbouende assosiasie as moontlik moet hê.” Die gemeente waarby hulle aangesluit het, het baie min kinders, maar ’n hele paar Betheliete. “Ná ons eerste vergadering daar het ek vir Jacob gevra wat hy van die nuwe gemeente dink, veral omdat daar nie kinders van sy ouderdom is nie”, sê Ricky. “Hy het vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie, Pa. Die jong Bethelbroers sal my vriende wees.’”

Jacob en sy ouers geniet assosiasie met Betheliete in hulle gemeente

Die jong Betheliete het toe wel met Jacob vriende gemaak. Watter uitwerking het dit op hom gehad? “Een aand het ek by my seun se kamer verbygeloop en gesien dat die lig nog aan is”, vertel Ricky. “Ek het gedink dat hy ’n elektroniese speletjie speel, maar hy was besig om die Bybel te lees! Toe ek vir hom vra wat hy doen, het Jacob gesê: ‘Ek is nou ’n jong Betheliet, en ek gaan die Bybel in ’n jaar deurlees.’” Ricky en Kendra is natuurlik baie bly, nie net oor die voorreg wat Ricky het om met die bouwerk by Warwick te help nie, maar ook omdat hulle besluit om te trek, tot hulle seun se geestelike groei bydra.—Spr. 22:6.

HULLE IS NIE BEKOMMERD OOR DIE TOEKOMS NIE

Luis en Dale

Die bouprojekte by Wallkill en Warwick sal uiteindelik voltooi word, en daarom besef diegene wat genooi is om te help dat hulle Betheldiens tydelik is. Is hierdie broers en susters uitermate besorg oor waarheen hulle sal gaan of wat hulle sal doen? Glad nie! Die woorde van twee middeljarige egpare van Florida som die gevoelens van baie  op. John, ’n boubestuurder, en sy vrou, Carmen, wat tydelike vrywilligers by Warwick is, sê: “Ons het gesien hoe Jehovah tot nou toe in ons spesifieke behoeftes voorsien. Ons meen dat Jehovah ons beslis nie nou hierheen gebring het net om ons later te verlaat nie” (Ps. 119:116). Luis, wat brandblusstelsels ontwerp, en sy vrou, Quenia, dien by Wallkill. Hulle sê: “Ons het reeds gesien hoe Jehovah se vrygewige hand in ons materiële behoeftes voorsien. Al weet ons nie hoe, wanneer of waar nie, ons is oortuig dat hy sal aanhou om vir ons te sorg.”—Ps. 34:10; 37:25.

 ‘’N SEËN TOTDAT DAAR GEEN GEBREK MEER IS NIE’

John en Melvin

Die meeste van die vrywilligers wat met die bouwerk in New York gaan help het, kon aan redes gedink het om nie te gaan help nie. Maar hulle het Jehovah op die proef gestel—soos hy ons almal nooi om te doen: “Stel my asseblief . . . op die proef, . . . of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.”—Mal. 3:10.   

Sal jy Jehovah ook op die proef stel en sy ryk seën ervaar? Ondersoek biddend wat jy kan doen om ’n aandeel te hê aan die opwindende werk wat nou gedoen word, hetsy in New York of by ander teokratiese bouprojekte, en ondervind self hoe Jehovah jou sal beloon.—Mark. 10:29, 30.

Gary

Dale, ’n siviele ingenieur, en Cathy, van Alabama, beveel hierdie vorm van diens ten sterkste aan. Hulle dien as vrywilligers by Wallkill en sê: “As jy die moed het om jou gemaksone te verlaat, sal jy die geleentheid hê om Jehovah se gees in werking te sien.” En wat moet jy doen sodat jy jou beskikbaar kan stel? Dale sê: “Vereenvoudig, vereenvoudig en vereenvoudig nog meer. Jy sal nooit spyt wees nie!” Gary, van Noord-Carolina, het 30 jaar se ondervinding in boubestuur. Hy en sy vrou, Maureen, sê dat hulle by Warwick die seën geniet om “talle wonderlike broers en susters wat Jehovah al baie lank by Bethel dien, te ontmoet en saam met hulle te werk”. Gary voeg by: “Betheldiens vereis dat jy ’n eenvoudige lewe lei, en dit is die beste manier om deur hierdie stelsel te kom.” Jason, wat vir ’n elektriese kontrakteur gewerk het, en Jennifer, van Illinois, sê dat die ondervinding om by Wallkill aan ’n Bethelprojek te werk, “die naaste is wat jy nou aan die lewe in die nuwe wêreld kan kom”. Jennifer voeg by: “Dit is verstommend om te dink dat Jehovah alles wat jy doen, waardeer en dat dit ’n belegging is in die toekoms wat hy vir ons voorberei. Jehovah sien toe dat jy oneindige seëninge ontvang.”

^ par. 7 Deeltydse pendelaar-Betheliete, wat een of meer dae per week by Bethel dien, dek self hulle uitgawes wanneer dit kom by behuising en lewensonderhoud.