Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe Jehovah nader aan ons kom

Hoe Jehovah nader aan ons kom

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—JAK. 4:8.

1. Watter behoefte het mense, en wie kan dit bevredig?

MENSE het ’n groot behoefte daaraan om na aan ander mense te wees. Daar word gesê dat mense “na aan mekaar is wanneer hulle baie van mekaar hou en mekaar baie goed ken”. Dit is natuurlik dat ons floreer op die verhoudinge wat ons het met ons gesin en vriende wat vir ons lief is, ons waardeer en ons verstaan. Maar die Persoon met wie ons die hegste verhouding moet aankweek, is ons Grootse Skepper.—Pred. 12:1.

2. Wat belowe Jehovah ons, maar waarom glo baie mense nie hierdie belofte nie?

2 Jehovah spoor ons in sy Woord aan om ‘nader aan hom te kom’, en hy belowe dat ‘hy nader aan ons sal kom’ as ons dit doen (Jak. 4:8). Wat ’n bemoedigende gedagte is dit tog! Maar baie mense dink dat dit onrealisties is om te glo dat God na aan hulle wil wees; hulle voel dat hulle nie waardig is om hom te nader nie of dat hy te afsydig is om genader te word. Is dit werklik moontlik om na aan Jehovah te wees?

3. Watter feit oor Jehovah moet ons besef?

3 Die feit is dat Jehovah “nie ver van elkeen . . . af is” wat hom wil vind nie; dit is moontlik om hom te leer ken. (Lees Handelinge 17:26, 27; Psalm 145:18.) Ons God se voorneme is dat selfs onvolmaakte mense na aan hom moet wees, en hy is gereed en gewillig om hulle as hegte vriende in sy guns te ontvang (Jes. 41:8; 55:6). Die psalmis kon uit persoonlike ondervinding oor Jehovah skryf: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom. Gelukkig is die een wat u uitkies en laat nader kom” (Ps. 65:2, 4). Die Bybelverslag oor koning Asa van Juda voorsien ’n voorbeeld van iemand wat nader aan God gekom het, en dit toon hoe Jehovah gereageer het. *

LEER UIT ’N EERTYDSE VOORBEELD

4. Watter voorbeeld het koning Asa vir die mense van Juda gestel?

4 Koning Asa het ’n wonderlike ywer vir ware aanbidding geopenbaar en het die tempelprostitusie en afgodediens verwyder wat sterk aanwesig was in die land (1 Kon. 15:9-13). Met vryheid van spraak het hy die mense aangespoor om “Jehovah, die God van hulle voorvaders, [te] soek en die wet en die gebod uit [te] voer”. Jehovah het die eerste tien jaar van Asa se bewind met volkome vrede geseën. En waaraan het Asa hierdie kalmte toegeskryf? Hy het vir die mense gesê: “Vir ons is die land nog beskikbaar, omdat ons Jehovah ons God gesoek het. Ons het gesoek, en hy gee ons aan alle kante rus” (2 Kron. 14:1-7). Kyk wat daarna gebeur het.

5. Watter situasie het Asa se vertroue in God op die proef gestel, en wat was die uitkoms?

5 Plaas jou in Asa se situasie. Serag die Etiopiër het teen Juda opgetrek met ’n krygsmag van 1 000 000 man en 300 strydwaens (2 Kron. 14:8-10). Hoe sou jy gereageer het as jy sien dat so ’n ontsaglike leër jou koninkryk inval? Jou krygsmag bestaan uit slegs 580 000! As jy omtrent 2 teen 1 in getal oortref is, sou jy wonder waarom God toelaat dat hierdie inval plaasvind? Sou jy in reaksie op hierdie noodgeval die saak volgens jou eie wysheid probeer hanteer? Asa se reaksie het getoon dat hy ’n hegte verhouding met Jehovah het wat op vertroue gegrond is. Hy het vurig uitgeroep: “Help ons, o Jehovah ons God, want op u steun ons, en in u naam het ons teen hierdie menigte gekom. O Jehovah, u is ons God. Moenie die sterflike mens krag teen u laat behou nie.” Hoe het God op Asa se hartgrondige versoek gereageer? ‘Jehovah het die Etiopiërs verslaan.’ Nie een van die vyande het die geveg wat gevolg het, oorleef nie!—2 Kron. 14:11-13.

6. Wat omtrent Asa moet ons navolg?

6 Wat het Asa in staat gestel om ten volle op God se leiding en beskerming te vertrou? Die Bybel sê dat “Asa . . . gedoen [het] wat reg was in die oë van Jehovah” en dat sy ‘hart volkome was met Jehovah’ (1 Kon. 15:11, 14). Ons moet God ook met ’n volkome hart dien. Dit is noodsaaklik dat ons dit doen as ons nou en in die toekoms ’n hegte verhouding met hom wil geniet. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah die inisiatief geneem het om ons na hom toe te trek en om ons te help om ’n hegte band met hom te smee en te behou! Kyk na twee maniere waarop God dit gedoen het.

JEHOVAH HET ONS NADER GETREK DEUR MIDDEL VAN DIE LOSPRYS

7. (a) Wat het Jehovah gedoen om ons na hom toe te trek? (b) Wat is die vernaamste manier waarop God ons na hom toe trek?

7 Jehovah het sy liefde vir die mensdom getoon deur ons pragtige aardse tuiste te skep. Hy toon nog steeds sy liefde vir ons deur ons lewe te onderhou deur middel van sy wonderlike fisiese voorsienings (Hand. 17:28; Op. 4:11). Nog belangriker, Jehovah voorsien in ons geestelike behoeftes (Luk. 12:42). Hy verseker ons ook dat hy persoonlik luister wanneer ons tot hom bid (1 Joh. 5:14). Maar die vernaamste manier waarop God ons na hom toe trek, is deur die liefde wat hy deur middel van die losprys toon. (Lees 1 Johannes 4:9, 10, 19.) Jehovah het sy “enigverwekte Seun” na die aarde gestuur sodat ons van sonde en die dood verlos kan word.—Joh. 3:16.

8, 9. Watter rol speel Jesus in Jehovah se voorneme?

8 Jehovah het dit selfs vir mense wat voor die tyd van Christus gelewe het, moontlik gemaak om by die losprys baat te vind. Vanaf die tyd toe Jehovah oor ’n toekomstige Redder vir die mensdom geprofeteer het, is die losprys vanuit God se standpunt so goed as betaal, want hy weet dat sy voorneme bewaarheid sal word (Gen. 3:15). Eeue later het die apostel Paulus waardering teenoor God uitgespreek vir “die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”. Paulus het bygevoeg: “Want hy het die sondes vergewe wat in die verlede plaasgevind het terwyl God verdraagsaamheid beoefen het” (Rom. 3:21-26). Ja, Jesus speel ’n noodsaaklike rol wat dit vir ons moontlik maak om na aan God te wees!

9 Dit is net deur middel van Jesus dat nederige mense Jehovah kan leer ken en hegtheid en intimiteit met hom kan geniet. Hoe beklemtoon die Skrif hierdie waarheid? Paulus het geskryf: “God [beveel] sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Rom. 5:6-8). Jesus se losprysoffer is voorsien, nie omdat ons waardig is nie, maar omdat ons geliefd is. “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie”, het Jesus gesê. By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 6:44; 14:6). Jehovah gebruik die heilige gees om individue deur Jesus na hom toe te trek en hulle te help om in Sy liefde te bly met die ewige lewe in die vooruitsig. (Lees Judas 20, 21.) Dink ook aan ’n ander manier waarop Jehovah ons na hom toe trek.

JEHOVAH TREK ONS NADER DEUR MIDDEL VAN SY GESKREWE WOORD

10. Wat leer die Bybel ons wat ons help om nader aan God te kom?

10 Tot dusver in hierdie artikel het ons tekste uit 14 verskillende Bybelboeke aangehaal of daarna verwys. Hoe sou ons sonder die Bybel geweet het dat ons nader aan ons Skepper kan kom? Hoe sou ons sonder die Bybel kon leer van die losprys en dat ons deur Jesus na Jehovah getrek word? Jehovah het die Bybel deur middel van sy gees geïnspireer, wat sy innemende persoonlikheid sowel as sy wonderlike voornemens aan ons bekend maak. Byvoorbeeld, in Eksodus 34:6, 7 het Jehovah homself aan Moses beskryf as “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe”. Wie sal nie tot so ’n persoon aangetrokke voel nie? Jehovah weet dat hoe meer ons van hom deur die bladsye van die Bybel leer, hoe werkliker hy vir ons sal word en hoe nader ons aan hom sal voel.

11. Waarom moet ons ons inspan om omtrent God se eienskappe en weë te leer? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 Die inleiding van die boek Kom nader aan Jehovah verduidelik hoe ons ’n hegte verhouding met God kan hê deur te sê: “Enige vriendskapsband wat ons smee, is gegrond op kennis van die persoon en bewondering en waardering vir sy unieke eienskappe. Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons ’n studie maak van God se eienskappe en weë, soos dit in die Bybel geopenbaar word.” Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah sy Woord op ’n manier laat skryf het wat deur mense verstaan kan word!

12. Waarom het Jehovah mense gebruik om die Bybel te skryf?

12 Jehovah kon die engele gebruik het om die Bybel te skryf. Hulle stel immers opreg belang in ons en ons bedrywighede (1 Pet. 1:12). Die engele kon ongetwyfeld God se boodskap aan die mensdom neergeskryf het. Maar sou hulle dinge uit ’n menslike oogpunt gesien het? Sou hulle hulle kon identifiseer met ons behoeftes, ons swakhede en ons strewes? Nee, Jehovah het geweet wat hulle beperkings in hierdie opsig is. Omdat Jehovah mense gebruik het om die Bybel te skryf, het hy dit persoonliker vir ons gemaak. Ons kan die denke en emosies van die Bybelskrywers en ander wat in die Skrif genoem word, verstaan. Ons kan empatie hê met hulle teleurstellings, twyfelgedagtes, vrese en onvolmaakthede, en ons kan ons ook verheug in die vreugdes wat hulle ervaar het en die suksesse wat hulle behaal het. Soos die profeet Elia, het al die Bybelskrywers “gevoelens soos ons s’n” gehad.—Jak. 5:17.

Hoe laat Jehovah se handelinge met Jona en Petrus jou nader aan Hom kom? (Sien paragrawe 13, 15)

13. Hoe spreek Jona se gebed tot jou hart?

13 Dink byvoorbeeld hieraan: Kon ’n engel die gevoelens van Jona ten volle oorgedra het toe die profeet van sy godgegewe toewysing weggehardloop het? Dit was tog soveel beter dat Jehovah toegelaat het dat Jona sy eie verslag skryf, insluitende sy opregte gebed tot God uit die dieptes van die see! Jona het gesê: “Toe my siel in my versmag het, was dit aan Jehovah wat ek gedink het.”—Jona 1:3, 10; 2:1-9.

14. Waarom kan jy jou vereenselwig met wat Jesaja oor homself geskryf het?

14 Dink ook aan wat Jehovah Jesaja oor homself laat skryf het. Nadat die profeet ’n visioen van God se heerlikheid gesien het, is hy beweeg om oor sy eie sondigheid te sê: “Wee my! Want ek is so goed as tot swye gebring, want ’n man onrein van lippe is ek, en ek woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, Jehovah van die leërs, gesien!” (Jes. 6:5). Watter engel sou hierdie woorde kon uiter? Jesaja kon egter, en ons kan ons vereenselwig met hoe hy gevoel het.

15, 16. (a) Waarom kan ons verstaan hoe ons medemens voel? Gee voorbeelde. (b) Wat sal ons help om nader aan Jehovah te kom?

15 Sou engele kon sê dat hulle nie ‘waardig is nie’, soos Jakob gesê het, of dat hulle ‘sondig’ is, soos Petrus gesê het? (Gen. 32:10; Luk. 5:8). Sou hulle, soos Jesus se dissipels, “bevrees” gewees het, of sou regverdige engele ‘die vrymoedigheid bymekaargeskraap het’ om ondanks teenstand die goeie nuus te versprei, soos Paulus en ander gedoen het? (Joh. 6:19; 1 Tess. 2:2). Nee, die engele is in elke opsig volmaak en is bomenslik. Maar wanneer onvolmaakte mense sulke gevoelens toon, verstaan ons onmiddellik hoe hulle voel, want ons is ook maar net mense. Wanneer ons God se Woord lees, kan ons waarlik “bly [wees] saam met mense wat bly is; huil saam met mense wat huil”.—Rom. 12:15.

16 As ons dink oor wat die Bybel sê oor Jehovah se handelinge met sy getroue knegte van die verlede, sal ons tallose wonderlike dinge oor ons God leer, wat geduldig en liefdevol nader gekom het aan hierdie onvolmaakte mense. Ons sal Jehovah dus baie goed leer ken en baie lief word vir hom. Gevolglik sal ons nader aan hom kan kom.—Lees Psalm 25:14.

SMEE ’N ONBREEKBARE BAND MET GOD

17. (a) Watter goeie raad het Asarja aan Asa gegee? (b) Hoe het Asa Asarja se raad geïgnoreer, en met watter gevolg?

17 Nadat koning Asa die Etiopiese leërmag verslaan het, het God se profeet Asarja woorde van wysheid aan die koning en sy volk meegedeel. Asarja het gesê: “Jehovah is met julle solank julle met hom is; en as julle hom soek, sal hy hom deur julle laat vind, maar as julle hom verlaat, sal hy julle verlaat” (2 Kron. 15:1, 2). Later in sy lewe het Asa egter versuim om op hierdie goeie raad ag te slaan. Toe Asa deur die mededingende noordelike koninkryk van Israel bedreig is, het hy die Siriërs om hulp gevra. Hy het ’n verbond met heidene aangegaan eerder as om Jehovah weer om hulp te vra. Daarom is daar vir Asa gesê: “Hierin het u dwaas opgetree, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.” Die oorblywende jare van Asa se heerskappy is deur voortdurende oorlogvoering bederf (2 Kron. 16:1-9). Wat is die les vir ons?

18, 19. (a) Wat moet ons doen as ons nie meer so na aan God is nie? (b) Hoe kan ons nader aan Jehovah kom?

18 Ons moet ons nooit van Jehovah onttrek nie. As ons besef dat ons nie meer so na aan Jehovah is nie, moet ons in ooreenstemming met Hosea 12:6 optree, wat sê: “Tot jou God moet jy terugkeer, deurdat jy liefderyke goedhartigheid en geregtigheid bewaar; en hoop voortdurend op jou God.” Laat ons dan al hoe nader aan Jehovah kom deur met waardering oor die losprys te peins en sy Woord, die Bybel, ywerig te bestudeer.—Lees Deuteronomium 13:4.

19 “Dit is vir my goed om nader aan God te kom”, het die psalmis geskryf (Ps. 73:28). Mag ons almal aanhou om nuwe dinge oor Jehovah te leer en selfs meer waardering opbou vir die baie redes om hom lief te hê. En mag Jehovah al hoe nader aan ons kom, nou en tot in alle ewigheid!

^ par. 3 Sien die artikel oor Asa met die titel “Daar is ’n beloning vir julle werk”, in Die Wagtoring van 15 Augustus 2012.