Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy Jehovah se waaksame sorg?

Waardeer jy Jehovah se waaksame sorg?

“Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies.”SPR. 15:3.

1, 2. Hoe verskil Jehovah se waaksame sorg van wanneer waarnemingskameras mense dophou?

IN BAIE lande word waarnemingskameras al hoe meer gebruik om die vloei van verkeer te monitor en foto’s van ongelukstonele te neem. As die kameras ’n tref-en-trap-ongeluk opneem, kan die beelde die owerheid help om die bestuurder wat van die toneel af gevlug het, op te spoor en in hegtenis te neem. Trouens, aangesien elektroniese waarneming so algemeen is, word dit vir mense al hoe moeiliker om die gevolge van hulle dade vry te spring.

2 Maar moet die wydverspreide gebruik van waarnemingskameras ons enigsins aan ons liefdevolle Vader, Jehovah, laat dink? Die Bybel sê wel dat sy oë “op elke plek” is (Spr. 15:3). Maar beteken dit dat hy alles wat ons doen, fyn dophou? Neem God ons bloot waar sodat hy sy wette kan toepas en ons kan straf? (Jer. 16:17; Heb. 4:13). Geensins nie! Jehovah neem ons hoofsaaklik waar omdat hy vir elkeen van ons lief is en in ons welsyn belangstel.1 Pet. 3:12.

3. Watter vyf aspekte van God se liefdevolle sorg sal ons bespreek?

3 Wat sal ons help om te besef dat God oor ons waak omdat hy ons liefhet? Kom ons bespreek hoe hy dit doen. Hy doen dit deur (1) ons te waarsku wanneer ons slegte neigings  toon, (2) ons tereg te wys wanneer ons ’n verkeerde weg inslaan, (3) ons te rig deur middel van beginsels in sy Woord, (4) ons te help wanneer ons voor verskeie beproewinge te staan kom en (5) ons te beloon wanneer hy die goeie in ons sien.

’N WAAKSAME GOD WAARSKU ONS

4. Waarom het Jehovah Kain gewaarsku dat sonde “by die ingang lê en loer”?

4 Kom ons ondersoek eerstens hoe God ons waarsku wanneer ons slegte neigings ontwikkel (1 Kron. 28:9). Om hierdie aspek van God se waaksame sorg te verstaan, kan ons dink aan sy handelinge met Kain, wat “baie kwaad geword” het toe hy nie God se goedkeuring geniet het nie. (Lees Genesis 4:3-7.) Jehovah het Kain aangespoor om hom ‘daartoe te wend om goed te doen’. As hy dit nie sou doen nie, het Jehovah gewaarsku, “is daar sonde wat by die ingang lê en loer”. God het hom gevra: “Sal jý die oorhand daaroor kry?” Hy wou hê dat Kain op die waarskuwing moes ag slaan sodat ‘daar ’n verheffing kon wees’, dit wil sê sodat hy weer God se guns kon verkry. As hy op die waarskuwing sou ag slaan, sou dit hom help om ’n goeie verhouding met God te behou.

5. Op watter maniere waarsku Jehovah ons teen slegte neigings?

5 Wat van ons? Jehovah se oë sien tot diep in ons hart; ons kan nie ons ware neigings en beweegredes vir hom wegsteek nie. Ons liefdevolle Vader wil hê dat ons in die weë van geregtigheid moet wandel; maar hy dwing ons nie om die weg waarop ons is, te verander nie. Hy waarsku ons deur middel van sy Woord, die Bybel, wanneer ons op die verkeerde weg is. Hoe? In ons daaglikse Bybellees vind ons dikwels ’n gedeelte wat ons help om slegte en skadelike neigings te oorkom. Daarbenewens bespreek ons Christelike publikasies moontlik ’n probleem waarmee ons te kampe het en toon dit hoe ons dit te bowe kan kom. En by ons gemeentelike vergaderinge ontvang ons almal raad wat op net die regte tyd kom!

6, 7. (a) Waarom kan daar gesê word dat materiaal wat vir miljoene voorberei is, ’n bewys is van God se liefdevolle besorgdheid oor jou? (b) Hoe kan jy by Jehovah se liefdevolle aandag baat vind?

6 Al hierdie waarskuwings is in werklikheid ’n bewys van Jehovah se liefdevolle, waaksame sorg vir ons as individue. Dit is wel so dat die woorde in die Bybel al eeue lank bestaan, die publikasies wat deur God se organisasie voorberei word, vir miljoene geskryf word en die raad wat ons by vergaderinge ontvang, vir die hele gemeente bedoel is. Maar in elkeen van hierdie gevalle het Jehovah jou aandag op sy Woord gerig sodat jy jou neigings kan verander. Daar kan dus gesê word dat dit ’n bewys is van Jehovah se liefdevolle besorgdheid oor jou.

Ons Bybelopgeleide gewete help ons om gevare te vermy (Sien paragrawe 6, 7)

7 Om by God se waarskuwings baat te vind, moet ons eers besef dat hy werklik oor ons besorg is. Dan moet ons positief op sy Woord reageer en hard probeer om ontslae te raak van enige gedagtes wat God mishaag. (Lees Jesaja 55:6, 7.) As ons ag slaan op die waarskuwings wat ons kry, sal dit ons baie hartseer spaar. Maar sê nou ons gee toe aan ons slegte neigings? Watter hulp voorsien ons liefdevolle Vader dan?

ONS LIEFDEVOLLE VADER WYS ONS TEREG

8, 9. Hoe toon die raad wat Jehovah deur middel van sy knegte voorsien, dat hy baie besorg oor ons is? Lig toe.

8 Ons sal dalk veral van Jehovah se sorg bewus word wanneer ons tereggewys word. (Lees Hebreërs 12:5, 6.) Ons geniet dit weliswaar nie om raad of dissipline te ontvang nie (Heb. 12:11). Maar dink wat dit verg van die persoon wat ons die  raad gee. Hy moet bewus wees dat ons verhouding met Jehovah God in gevaar is, hy moet besorg wees oor ons gevoelens en hy moet bereid wees om die tyd te neem en die moeite te doen om ons uit die Bybel te wys hoe ons ons handelswyse kan verander sodat ons God kan behaag. Jehovah, die Bron van sulke raad, is net so besorg oor ons.

9 Kom ons kyk na ’n voorbeeld van hoe menseraadgewers God se besorgdheid kan weerspieël. Een broer het gereeld na pornografie gekyk voordat hy in die waarheid gekom het, maar hy het met die gewoonte gebreek. Sy ou begeerte was egter nog steeds daar, soos die smeulende kole van ’n vuur. Toe hy ’n nuwe selfoon gekry het, het sy slegte begeerte weer opgevlam (Jak. 1:14, 15). Hy het die selfoon gebruik om pornografiese Internetwebwerwe te besoek. Toe hy op ’n dag telefoongetuieniswerk gedoen het, het hy sy foon vir ’n ouer man geleen sodat hy ’n paar adresse kon opsoek. Toe die ouer man die foon gebruik het, het twyfelagtige webwerwe verskyn. Dit was in werklikheid ’n seën vir ons broer, wie se geestelikheid in gevaar was. Hy het tydige raad ontvang, baat gevind by die teregwysing wat hy gekry het en uiteindelik sy slegte gewoonte oorkom. Hoe dankbaar kan ons tog wees teenoor ons liefdevolle hemelse Vader wat selfs ons verborge sondes sien en ons teregwys voordat dit te laat is!

ONS VIND BAAT BY DIE TOEPASSING VAN BYBELBEGINSELS

10, 11. (a) Hoe kan ons ‘ag slaan op’ God se leiding? (b) Hoe het een gesin gesien dat dit wys is om Jehovah se leiding te volg?

10 Die psalmis het vir Jehovah gesing: “Met u raad sal u my lei” (Ps. 73:24). Wanneer ons ook al leiding nodig het, kan ons ‘ag slaan op’ Jehovah deur sy Woord te raadpleeg om sy beskouing van sake te kry. As ons Bybelbeginsels toepas, strek dit ons nie net geestelik tot voordeel nie, maar help dit ons soms ook om in ons materiële behoeftes te voorsien.Spr. 3:6.

11 Die ondervinding van ’n huurboer wat woon in die bergagtige streek Masbate in die Fillipyne, lig toe hoe Jehovah aan party leiding voorsien het. Hy en sy vrou het as gewone pioniers gedien terwyl hulle vir ’n groot gesin gesorg het. Op ’n dag het hulle ’n uitsettingsbevel van die grondeienaar ontvang, en hulle was baie geskok. Wat was die rede hiervoor? Hulle is valslik van oneerlike gedrag beskuldig. Hoewel die broer bekommerd was  oor waar hy en sy gesin blyplek sou vind, het hy gesê: “Jehovah sal voorsien. Hy voorsien altyd in ons behoeftes, ongeag wat gebeur.” Die broer se vertroue was nie misplaas nie. Tot hulle verligting het die gesin ’n paar dae later uitgevind dat hulle nie die eiendom hoef te verlaat nie. Wat het gebeur? Die grondeienaar het opgelet dat die Getuiegesin, wat Bybelbeginsels toegepas het, ondanks die beskuldiging ’n respekvolle en vreedsame gees behou het. Dit het die grondeienaar so beïndruk dat hy hulle nie net toegelaat het om te bly nie, maar hulle ook meer grond gegee het wat hulle kon bewerk. (Lees 1 Petrus 2:12.) Ja, Jehovah lei ons deur middel van sy Woord om ons te help om die lewe se probleme die hoof te bied.

’N VRIEND WAT ONS BEPROEWINGE HELP VERDUUR

12, 13. In watter situasies sal party moontlik wonder of God werklik hulle lyding raaksien?

12 Soms duur ’n moeilike situasie egter ’n tyd lank voort. Ons het dalk te kampe met ’n chroniese siekte, langdurige teenstand van familielede of verbete vervolging. En dan is daar die pynlike persoonlikheidsbotsings wat ons nou en dan met iemand in die gemeente ondervind.

13 Byvoorbeeld, jy voel dalk seergemaak deur ’n opmerking wat volgens jou onvriendelik was. ‘Dit behoort nie in God se organisasie te gebeur nie!’ kla jy. Maar die broer wat die opmerking gemaak het, ontvang voorregte in die gemeente, en hy het blykbaar ’n goeie reputasie. ‘Hoe is dit moontlik?’ wonder jy. ‘Sien Jehovah nie? Sal hy nie optree nie?’Ps. 13:1, 2; Hab. 1:2, 3.

14. Wat is moontlik een van die redes waarom God nie ingryp om ons probleme op te los nie?

14 Jehovah het moontlik geldige redes waarom hy nie ingryp nie. Byvoorbeeld, jy dink dalk dat die ander persoon die meeste van die blaam dra, maar God beskou dinge dalk anders. Vanuit sy oogpunt dra jy miskien meer van die blaam as wat jy besef. Die opmerking wat jou so seergemaak het, was moontlik verdiende raad waaroor jy in werklikheid moet nadink. In sy lewensverhaal het broer Karl Klein, wat op die Bestuursliggaam gedien het, vertel van ’n voorval toe broer J.F. Rutherford hom reguit tereggewys het. Later het broer Rutherford broer Klein vrolik gegroet en gesê: “Hallo, Karl!” Maar aangesien broer Klein nog gegrief was oor die teregwysing wat hy ontvang het, het hy net ’n halfhartige antwoord gemompel. Broer Rutherford het besef dat broer Klein negatiewe gevoelens koester, en hy het hom dus gewaarsku om nie in die Duiwel se strik te trap nie. Broer Klein het later geskryf: “Wanneer ons kwade gevoelens teen ’n broer omdra, veral omdat hy iets gesê het wat hy die reg en plig het om te sê, stel ons ons aan die Duiwel se strikke bloot.” *

15. Wat sal jou help om nie ongeduldig te raak wanneer jy op Jehovah wag om jou deur ’n moeilike situasie te help nie?

15 Nogtans raak ons dalk ongeduldig wanneer dit lyk asof ’n moeilike situasie blykbaar nie tot ’n einde kom nie. Hoe kan ons dit verduur? Gestel jy bestuur ’n motor op ’n hoofweg en daar is ’n verkeersopeenhoping. Jy weet nie hoe lank jy sal moet wag nie. As jy geïrriteerd raak en ’n ander roete probeer vind, sal jy dalk verdwaal en nog langer neem om jou bestemming te bereik as wat jy sou as jy geduldig gewag het. Net so sal jy wel ná verloop van tyd jou bestemming bereik as jy bly by die weë wat in God se Woord uiteengesit is.

16. Wat is nog ’n rede waarom Jehovah moontlik nie sal ingryp wanneer ons beproewinge verduur nie?

16 Een van die redes waarom Jehovah  moontlik nie sal ingryp terwyl ons beproewinge verduur nie, is omdat hy wil hê dat ons noodsaaklike opleiding moet ontvang. (Lees 1 Petrus 5:6-10.) Nee, God veroorsaak nie beproewinge nie (Jak. 1:13). “[Ons] teenstander, die Duiwel”, is die oorsaak van die meeste teëspoed wat ons ondervind. Maar God kan ’n moeilike situasie gebruik om ons te help om geestelik te groei. Hy sien ons lyding, en aangesien ‘hy vir ons sorg’, sal hy seker maak dat dit net “’n klein rukkie” voortduur. Waardeer jy Jehovah se waaksame sorg wanneer jy beproewinge verduur, vol vertroue dat hy ’n uitweg sal gee?2 Kor. 4:7-9.

GENIET GOD SE GOEDKEURING

17. Waarom ondersoek Jehovah mense se harte?

17 Daar is nog ’n baie gerusstellende rede waarom God ons hart ondersoek. Hy het deur middel van Hanani die siener vir koning Asa gesê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kron. 16:9). Hoewel God nie ’n volkome hart in Asa gesien het nie, sal hy ‘sy krag toon’ ten behoewe van jou as jy aanhou om te doen wat reg is.

18. Wat moet jy omtrent Jehovah in gedagte hou wanneer jy voel dat jy nie waardeer word nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

18 God wil hê dat ons moet “soek wat goed is”, “lief [wees] vir wat goed is” en “doen wat goed is” sodat hy aan ons ‘guns kan betoon’ (Amos 5:14, 15; 1 Pet. 3:11, 12). Jehovah let op die regverdiges en seën hulle (Ps. 34:15). Dink byvoorbeeld aan die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua. Toe die Israeliete in Egipte in slawerny was, het Farao hulle beveel om al die Hebreeuse seuntjies by geboorte dood te maak, maar hierdie twee vroue het God meer gevrees as wat hulle Farao gevrees het. Hulle godvrugtige gewete het hulle klaarblyklik beweeg om die baba’s se lewens te spaar. Later het Jehovah aan Sifra en Pua gesinne gegee (Eks. 1:15-17, 20, 21). Hulle goeie dade het nie ongesiens by Jehovah verbygegaan nie. Soms voel ons dalk dat niemand die goeie dinge wat ons doen, raaksien nie. Maar Jehovah sien dit raak. Hy let op elke goeie daad wat ons doen, en hy sal ons beloon.Matt. 6:4, 6; 1 Tim. 5:25; Heb. 6:10.

19. Hoe het ’n suster gesien dat goeie dade nie ongesiens by Jehovah verbygaan nie?

19 ’n Suster in Oostenryk het gesien dat haar harde werk nie ongesiens by God verbygaan nie. Aangesien sy van Hongaarse herkoms is, het iemand vir haar die adres van ’n Hongaarssprekende persoon gegee om in die bediening te besoek. Sy het onmiddellik soontoe gegaan, maar daar was niemand tuis nie. Sy het weer en weer teruggegaan. Soms het sy agtergekom dat iemand by die huis is, maar niemand het die deur oopgemaak nie. Sy het lektuur, persoonlike briewe, haar kontakbesonderhede, ensovoorts daar gelaat. Ná ’n jaar en ’n half van herhaalde besoeke het iemand uiteindelik die deur oopgemaak! ’n Vriendelike dame het die suster gegroet en gesê: “Kom asseblief binne. Ek het alles gelees wat jy gebring het en ek het vir jou gewag.” Die huisbewoner het chemoterapiebehandeling ondergaan en het nie daarvoor kans gesien om besoekers te ontvang nie. ’n Bybelstudie is begin. Ja, God het die suster vir haar ywerige pogings beloon!

20. Hoe voel jy oor Jehovah se waaksame sorg?

20 Jehovah sien alles wat jy doen en hy sal jou uiteindelik beloon. Wanneer jy dink aan God se waaksame sorg, moet jy nie voel asof jy deur die een of ander onpersoonlike waarnemingskamera dopgehou word nie. Mag jy eerder al hoe nader kom aan die liefdevolle God wat werklik oor jou besorg is!

^ par. 14 Broer Klein se lewensverhaal is gepubliseer in Die Wagtoring van 1 Oktober 1984.