Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om die dood van jou huweliksmaat te verwerk

Hoe om die dood van jou huweliksmaat te verwerk

DIE Bybel stel dit duidelik: ’n Man moet “sy vrou so liefhê soos homself”. En ’n vrou moet “diep respek vir haar man hê”. Albei moet hulle rolle as “een vlees” uitvoer (Ef. 5:33; Gen. 2:23, 24). Met verloop van tyd word die band tussen ’n egpaar, asook hulle liefde vir mekaar, sterker. Jy kan dit vergelyk met die wortels van twee bome wat langs mekaar groei. Die gevoelens van ’n gelukkig getroude man en vrou word nou met mekaar verweef.

Maar sê nou die man of die vrou sterf? Dan word hierdie onverbreeklike band verbreek. Die weduwee of wewenaar wat agtergelaat word, ervaar dikwels ’n mengsel van gevoelens, soos hartseer, eensaamheid en miskien selfs in sekere mate woede of skuldgevoelens. Gedurende haar huwelik van 58 jaar het Daniella baie mense geken wat hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan het. * Maar nadat haar man gesterf het, het sy gesê: “Ek het nooit voorheen verstaan wat mense in hierdie situasie deurmaak nie. ’n Mens kan dit nie verstaan totdat jy dit self ondervind nie.”

PYN WAT EINDELOOS VOEL

Party navorsers sê dat geen stres erger is as dié wat deur die dood van ’n geliefde huweliksmaat veroorsaak word nie. Baie bedroefdes stem hiermee saam. Millie se man is al jare lank dood. Toe sy haar lewe as ’n weduwee beskryf het, het sy gesê: “Ek voel asof ek kreupel is.” Sy het na haar  emosionele toestand verwys, wat deur die dood van haar huweliksmaat van 25 jaar veroorsaak is.

Susan het gedink dat weduwees wat jare lank oor die dood van hulle man treur, oormatige droefheid openbaar. Toe sterf haar man van 38 jaar. Meer as 20 jaar het verloop, en tog sê sy: “Ek dink elke dag aan hom.” Sy huil dikwels omdat sy hom verskriklik mis.

Die Bybel bevestig dat die hartseer wat ’n persoon ervaar wanneer hy of sy ’n huweliksmaat aan die dood afstaan, wreed en langdurig is. Toe Sara gesterf het, het Abraham, haar man, “ingekom om oor Sara te weeklaag en te huil” (Gen. 23:1, 2). Hoewel Abraham in die opstanding geglo het, het hy intense droefheid ondervind toe sy geliefde gesterf het (Heb. 11:17-19). Nadat Jakob se geliefde vrou Ragel gesterf het, het hy nie gou van haar vergeet nie. Hy het met teerheid met sy seuns oor haar gepraat.—Gen. 44:27; 48:7.

Watter les moet ons uit hierdie skriftuurlike voorbeelde leer? Weduwees en wewenaars voel dikwels jare lank die pyn van die verlies. Ons moet hulle trane en hartseer nie as ’n swakheid beskou nie, maar as ’n verstaanbare reaksie op hulle groot verlies. Hulle sal ons empatie en ondersteuning dalk nog lank nodig hê.

EEN DAG OP ’N SLAG

Die lewe van ’n weduwee of wewenaar keer nie eenvoudig terug na hoe dit was toe hy of sy ongetroud was nie. Ná jare van getroude lewe weet ’n man gewoonlik hoe om sy vrou te vertroos en op te beur wanneer sy neerslagtig of gefrustreerd is. As hy nie meer daar is nie, is haar bron van liefde en vertroosting ook nie meer daar nie. Net so leer ’n vrou met verloop van tyd hoe om haar man geliefd en gelukkig te laat voel. Haar sagte aanraking en strelende woorde asook die aandag wat sy aan sy belangstellings en behoeftes gee, kan met niks vergelyk word nie. As sy sterf, sal hy heel moontlik ’n leemte in sy lewe voel. Daarom gaan party wat van hulle huweliksmaats beroof is, die toekoms met onsekerheid en vrees tegemoet. Watter Bybelbeginsel kan hulle help om veiligheid en vrede te vind?

“Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matt. 6:34). Hierdie woorde van Jesus is veral van toepassing op materiële behoeftes, maar dit het baie al gehelp om die pynlike ervaring om ’n geliefde aan die dood af te staan, te verduur. ’n Paar maande nadat sy vrou gesterf het, het ’n wewenaar met die naam Charles geskryf: “Ek verlang nog verskriklik na Monique, en by tye voel dit asof dit net erger raak. Maar ek besef dat dit normaal is en dat die verloop van tyd die pyn uiteindelik in ’n mate sal verlig.”

God kan jou help om jou verlies een dag op ’n slag te verduur

Ja, Charles moes “die verloop van tyd” verduur. Hoe was dit vir hom moontlik? Hy het gesê: “Met Jehovah se hulp het ek die lewe een dag op ’n slag aangepak.” Charles was nie oorweldig deur droefheid nie. Sy pyn het nie sommer oornag verdwyn nie, maar dit het hom ook nie verteer nie. As jy jou huweliksmaat aan die dood afgestaan het, moet jy probeer om jou verlies een dag op ’n slag te verduur.  Jy weet nie watter voordeel of aanmoediging ’n nuwe dag moontlik inhou nie.

Die dood was nie deel van Jehovah se oorspronklike voorneme nie. Inteendeel, dit is deel van “die werke van die Duiwel” (1 Joh. 3:8; Rom. 6:23). Satan gebruik die dood en die vrees wat dit dalk verwek om baie mense in slawerny te hou en sonder hoop te laat (Heb. 2:14, 15). Satan is bly wanneer iemand alle hoop verloor dat hy ware geluk en tevredenheid kan vind, selfs in God se nuwe wêreld. Die angstigheid wat ’n bedroefde huweliksmaat voel oor die dood van sy of haar maat, is dus die gevolg van Adam se sonde en Satan se sette (Rom. 5:12). Jehovah sal die skade wat Satan berokken het, heeltemal ongedaan maak, en sy wrede wapen, die dood, sal dus tot niet gemaak word. Diegene wat bevry is van die vrees wat Satan bevorder, sluit baie in wat, net soos jy, ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het.

Wanneer die dooies op die aarde opgewek word, sal daar natuurlik baie veranderinge in menseverhoudings wees. Dink aan ouers, grootouers en ander voorouers wat opgewek sal word en saam met hulle kinders en kleinkinders tot volmaaktheid sal groei. Die gevolge van ouderdom sal uit die weg geruim word. Sal die jonger geslagte dalk moet leer om hulle voorouers op ’n heel ander manier te beskou as wat hulle hulle vandag beskou? En glo ons nie dat sulke veranderinge tot die verbetering van die mensegesin sal bydra nie?

Daar is tallose vrae wat by ons oor die verresenes kan opkom, soos vrae oor persone wat twee of  meer huweliksmaats aan die dood afgestaan het. Die Sadduseërs het ’n vraag gevra oor ’n vrou wie se eerste man gesterf het, en toe haar tweede man en daarna nog ’n paar mans (Luk. 20:27-33). Watter verhouding sal sulke persone in die opstanding hê? Ons weet eenvoudig nie, en dit help nie om te bespiegel of ons te ontstel oor dinge waarvan ons nie weet nie. Ons moet eerder op God vertrou. Een ding is seker—wat Jehovah ook al in die toekoms gaan doen, sal goed wees, iets om na uit te sien, nie iets wat gevrees moet word nie.

DIE OPSTANDINGSHOOP—’N BRON VAN VERTROOSTING

Een van die duidelikste leringe in God se Woord is dat afgestorwe dierbares opgewek sal word. Bybelverslae van opstandings waarborg dat “almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Joh. 5:28, 29). Mense sal hulle verbly wanneer hulle diegene ontmoet wat uit die greep van die dood bevry is. En ons kan ons nie eers voorstel hoe gelukkig die verresenes sal wees nie.

Wanneer die dooies opgewek word, sal die aarde met vreugde gevul word soos nog nooit tevore nie. Miljarde mense wat dood was, sal weer hulle plek onder die lewendes inneem (Mark. 5:39-42; Op. 20:13). Almal wat geliefdes aan die dood afgestaan het, sal ongetwyfeld vertroosting vind wanneer hulle oor hierdie toekomstige wonderwerk peins.

Sal enigiemand ’n geldige rede hê om hartseer te wees wanneer hierdie wonderlike opstanding plaasvind? Die Bybel se antwoord is nee. Volgens Jesaja 25:8 sal Jehovah “die dood vir ewig verswelg”. Dit sluit in dat hy die pynlike gevolge van die dood heeltemal sal verwyder, want die profesie sê verder: “Die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.” As jy nou hartseer voel omdat jou lewensmaat gesterf het, sal die opstanding jou beslis rede tot geluk gee.

Niemand verstaan ten volle wat God alles in die nuwe wêreld tot stand gaan bring nie. Jehovah sê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jes. 55:9). Jesus se belofte oor die komende  opstanding gee ons die geleentheid om op Jehovah te vertrou, net soos Abraham gedoen het. Wat nou vir elke Christen die belangrikste is, is om te doen wat God van ons vra en sodoende ‘waardig geag te word om daardie stelsel van dinge te verkry’ tesame met diegene wat opgewek sal word.—Luk. 20:35.

’N REDE VIR HOOP

Eerder as om bevrees te wees, moet ons hoop aankweek. Vanuit ’n menslike oogpunt lyk die toekoms duister. Maar Jehovah gee ons die hoop van iets beters. Ons weet nie presies hoe Jehovah ons behoeftes en begeertes gaan bevredig nie, maar ons moenie twyfel dat hy dit sal doen nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Hoop wat gesien word, is nie hoop nie, want as iemand iets sien, hoop hy dan daarop? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, bly ons met volharding daarop wag” (Rom. 8:24, 25). ’n Vaste hoop wat op God se beloftes gegrond is, sal jou help om te volhard. As jy volhard, wag daar ’n wonderlike toekoms op jou wanneer Jehovah “jou die versoeke van jou hart [sal] gee”. Hy sal “die begeerte van alles wat lewe”, bevredig.—Ps. 37:4; 145:16; Luk. 21:19.

Vertrou op Jehovah se belofte van ’n vreugdevolle toekoms

Toe die tyd nadergekom het dat Jesus sou sterf, het sy apostels verontrus geraak. Jesus het hulle met hierdie woorde vertroos: “Moenie dat julle hart verontrus word nie. Beoefen geloof in God, beoefen geloof ook in my.” Hy het vir hulle gesê: “Ek sal julle nie wees agterlaat nie. Ek kom na julle toe” (Joh. 14:1-4, 18, 27). Sy woorde het sy gesalfde volgelinge deur die eeue heen ’n grondslag vir hoop en volharding gegee. Diegene wat daarna smag om hulle geliefdes in die opstanding te sien, het ook geen rede om wanhopig te wees nie. Jehovah en sy Seun sal hulle nie wees agterlaat nie. Jy kan hiervan seker wees!

^ par. 3 Van die name is verander.