Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sewe herders, agt hertoë—Wat hulle vandag vir ons beteken

Sewe herders, agt hertoë—Wat hulle vandag vir ons beteken

“Ons [sal] sewe herders teen hom moet verwek, ja, agt hertoë uit die mensdom.”—MIGA 5:5.

1. Waarom was die komplot van die Siro-Israelitiese bondgenootskap tot mislukking gedoem?

DIE koning van Israel en die koning van Sirië het die een of ander tyd tussen 762 VHJ en 759 VHJ teen die koninkryk van Juda oorlog verklaar. Wat was hulle oogmerk? Om Jerusalem in te val, koning Agas van die troon te verwyder en hom te vervang met iemand anders, moontlik iemand wat nie van koning Dawid se geslagslyn was nie (Jes. 7:5, 6). Die koning van Israel moes van beter geweet het. Jehovah het bepaal dat een van Dawid se nakomelinge permanent op Sy troon sou sit, en God se woord bly nooit onvervuld nie.—Jos. 23:14; 2 Sam. 7:16.

2-4. Verduidelik hoe Jesaja 7:14, 16 vervul is (a) in die agtste eeu VHJ (b) in die eerste eeu HJ.

2 Aanvanklik het dit gelyk asof die Siro-Israelitiese bondgenootskap die oorhand gehad het. Gedurende net een stryd het Agas 120 000 dapper krygsmanne verloor! Maäseja, “die seun van die koning”, is doodgemaak (2 Kron. 28:6, 7). Maar Jehovah het dit alles gesien. Hy het sy belofte aan Dawid onthou, en daarom het hy die profeet Jesaja met ’n baie bemoedigende boodskap gestuur.

3 Jesaja het gesê: “Kyk! Die jong vrou sal swanger word, en sy gee geboorte aan ’n seun, en sy sal hom beslis Immanuel noem. . . . Voordat die seun sal weet om die slegte te verwerp en die goeie te kies, sal die land van die twee konings [Sirië en Israel] vir wie jy ’n ontsettende vrees het, heeltemal verlate wees” (Jes. 7:14, 16). Die eerste deel van hierdie profesie word dikwels op die geboorte van die Messias toegepas, en heel tereg (Matt. 1:23). Maar aangesien die “twee konings”, die koning van Sirië en die koning van Israel, nie meer in die eerste eeu HJ vir Juda ’n bedreiging was nie,  moes die profesie oor Immanuel sy eerste vervulling in Jesaja se dag gehad het.

4 Kort nadat Jesaja hierdie merkwaardige aankondiging gemaak het, het sy vrou swanger geraak en vir hom ’n seun gebaar wat hulle Maher-Salal-Has-Bas genoem het. Een moontlikheid is dat hierdie kind die “Immanuel” was waarna Jesaja verwys het. * In Bybeltye is ’n baba soms by geboorte ’n naam gegee, dalk om ’n spesiale gebeurtenis te herdenk, maar het sy ouers en familielede hom op ’n ander naam genoem (2 Sam. 12:24, 25). Daar is geen bewyse dat Jesus ooit op die naam Immanuel aangespreek is nie.—Lees Jesaja 7:14; 8:3, 4.

5. Watter dwase besluit het koning Agas geneem?

5 Terwyl Israel en Sirië hulle aandag op Juda toegespits het, het ’n ander land, ’n militaristiese land, ook sy oog op die streek gehad. Dit was die opkomende wêreldmoondheid Assirië. Volgens Jesaja 8:3, 4 sou Assirië “die rykdom van Damaskus” en “die buit van Samaria” wegdra voordat dit die suidelike koninkryk van Juda sou aanval. Agas moes sy vertroue in God se woord deur Jesaja gestel het, maar weens sy gebrek aan geloof het hy eerder ’n rampspoedige ooreenkoms met die Assiriërs gesluit, wat op die ou end daartoe gelei het dat Juda deur hulle onderdruk is (2 Kon. 16:7-10). Wat ’n teleurstelling was Agas tog as ’n herder van Juda! Ons kan ons afvra: ‘Stel ek my vertroue in God of in mense wanneer ek belangrike besluite moet neem?’—Spr. 3:5, 6.

’N NUWE HERDER VOLG ’N ANDER BENADERING

6. Vergelyk die bewind van Agas met dié van Hiskia.

6 Agas het in 746 VHJ gesterf, en sy seun Hiskia het die koninkryk van Juda geërf wat verarm en geestelik bankrot was. Wat sou vir die jong koning die belangrikste wees wanneer hy die troon bestyg? Om Juda se kwynende ekonomie te help herstel? Nee. Hiskia was ’n geestelike man wat waardig was om vir die nasie ’n herder te wees. Die eerste ding wat hy gedoen het, was om rein aanbidding te herstel en die weerspannige nasie se beskadigde verhouding met Jehovah te versterk. Toe Hiskia verstaan het wat God se wil vir hom was, het hy daadwerklik opgetree. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons!—2 Kron. 29:1-19.

7. Waarom was dit belangrik dat die Leviete van die nuwe koning se ondersteuning verseker word?

7 Die Leviete sou ’n noodsaaklike rol speel in die belangrike taak om rein aanbidding te herstel. Daarom het Hiskia met hulle vergader om hulle van sy ondersteuning te verseker. Stel jou die getroue Leviete voor wat by daardie vergadering teenwoordig was, asook hulle trane van vreugde toe hulle hoor hoe hulle koning sê: “Jehovah het júlle uitgekies om voor hom te staan om hom te dien” (2 Kron. 29:11). Ja, die Leviete het ’n duidelike opdrag ontvang om rein aanbidding te bevorder!

8. Watter verdere stappe het Hiskia gedoen om die geestelikheid van die nasie te versterk, en wat was die gevolg?

8 Hiskia het die hele Juda en Israel na ’n groot Pasgaviering genooi, wat gevolg is deur die sewedaagse Fees van die Ongesuurde Koeke. Die volk het die fees so geniet dat hulle dit met sewe dae verleng het. Die Bybel sê: “Daar was groot blydskap in Jerusalem, want sedert die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, was daar nie so iets in Jerusalem nie” (2 Kron. 30:25, 26). Wat ’n aansporing was hierdie geestelike fees tog vir die hele volk! Uit 2 Kronieke 31:1 leer ons: “Net toe hulle met dit alles klaar was, . . . het [hulle] die heilige pilare stukkend  gebreek en die heilige pale afgekap en die hoogtes en die altare . . . afgebreek.” Sodoende het Juda op ’n magtige wyse na Jehovah begin terugkeer. Hierdie geestelike reiniging was van die allergrootste belang in die lig van die moeilike tye wat voorgelê het.

DIE KONING VERTROU OP JEHOVAH

9. (a) Hoe is Israel se planne in die wiele gery? (b) Watter sukses het Sanherib aanvanklik in Juda gehad?

9 Net soos Jesaja voorspel het, het die Assiriërs die noordelike koninkryk van Israel verower en die inwoners daarvan weggevoer, wat Israel se planne om ’n indringer op Dawid se troon te plaas, in die wiele gery het. Maar wat van Assirië se planne? Die Assiriërs het nou hulle oog op Juda gehad. “In die veertiende jaar van koning Hiskia het Sanherib, die koning van Assirië, teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle verower.” Na berig het Sanherib altesaam 46 Judese stede verower. Stel jou voor hoe jy sou gevoel het as jy destyds in Jerusalem gewoon het. Juda se stede het een ná die ander voor die naderende Assiriese leërmagte geval!—2 Kon. 18:13.

10. Waarom het Miga 5:5, 6 Hiskia moontlik bemoedig?

10 Hiskia was natuurlik bewus van die naderende gevaar, maar eerder as om ’n heidense nasie uit desperaatheid om hulp te vra, soos sy afvallige vader, Agas, gedoen het, het Hiskia sy vertroue in Jehovah gestel (2 Kron. 28:20, 21). Dalk was hy bewus van die woorde van die profeet Miga, een van sy tydgenote wat aangaande Assirië voorspel het: “Wat die Assiriër betref, . . . ons [sal] sewe herders teen hom moet verwek, ja, agt hertoë uit die mensdom. En hulle sal met die swaard as herder teenoor die land Assirië optree” (Miga 5:5, 6). Hierdie geïnspireerde woorde het Hiskia sekerlik bemoedig, aangesien dit toon dat ’n baie ongewone leër teen die Assiriërs verwek sou word en dat die vyandige aanvallers uiteindelik verslaan sou word.

11. Wanneer sal die profesie aangaande sewe herders en agt hertoë sy vernaamste vervulling hê?

11 Die profesie aangaande sewe herders en agt hertoë (“vorste”, Ou Afrikaanse  Bybelvertaling) sou sy vernaamste, of belangrikste, vervulling hê lank ná die geboorte van Jesus, die “heerser in Israel . . . wie se oorsprong uit die vroeë tye is”. (Lees Miga 5:1, 2.) Dit sal plaasvind wanneer ’n hedendaagse “Assiriër” Jehovah se knegte aanval. Watter magte sal Jehovah, deur middel van sy Seun wat nou heers, gebruik om die vreesinboesemende vyand tegemoet te gaan? Ons sal sien. Maar kom ons kyk eers wat ons kan leer uit Hiskia se optrede toe die Assiriër teen hom opgetrek het.

HISKIA DOEN PRAKTIESE STAPPE

12. Watter stappe het Hiskia en diegene wat saam met hom was, gedoen om God se volk te beskerm?

12 Jehovah is altyd bereid om vir ons te doen wat ons nie vir onsself kan doen nie, maar hy verwag wel dat ons doen wat ons kan. Hiskia het “sy vorste en sy sterk manne” geraadpleeg, en hulle het saam besluit “om die waters van die fonteine wat buite die stad was, toe te stop . . . Verder het [Hiskia] moed geskep en die hele muur wat afgebreek was, opgebou en torings daarop opgerig en aan die buitekant nog ’n muur gebou . . . en ’n oorvloed werpspiese sowel as skilde gemaak” (2 Kron. 32:3-5). Jehovah het destyds ’n aantal dapper manne—Hiskia, sy vorste en die getroue profete—gebruik om Sy volk te beskerm en as herders oor hulle toesig te hou.

13. Wat was die belangrikste stap wat Hiskia gedoen het om die volk vir die naderende aanval voor te berei? Verduidelik.

13 Wat Hiskia daarna gedoen het, was van selfs groter waarde as om die waters toe te stop of die stadsmure te versterk. Omdat Hiskia ’n besorgde herder was, het hy die volk byeengeroep en hulle geestelik aangemoedig met die woorde: “Moenie bang of verskrik wees weens die koning van Assirië . . . nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ’n arm van vlees, maar by ons is Jehovah ons God om ons te help en ons oorloë te voer.” Wat ’n geloofversterkende herinnering—Jehovah sou vir sy volk veg! Toe die Jode dit hoor, het hulle “begin steun op die woorde van Hiskia, die koning van Juda”. Let daarop dat dit “die woorde van Hiskia” was wat die volk moed laat skep het. Hy en sy vorste en sy sterk manne, sowel as die profete Miga en Jesaja, was doeltreffende herders, net soos Jehovah deur sy profeet voorspel het.—2 Kron. 32:7, 8; lees Miga 5:5, 6.

Hiskia se woorde het die volk moed laat skep (Sien paragrawe 12, 13)

14. Watter rol het Rabsake gespeel, en hoe het die volk gereageer?

14 Die koning van Assirië het kamp opgeslaan by Lagis, suidwes van Jerusalem. Van daar af het hy drie gesante gestuur om die stad te beveel om hulle oor te gee. Sy woordvoerder, wie se amptelike titel Rabsake was, het verskeie taktieke gebruik. Hy het die volk in Hebreeus aangespreek en hulle aangespoor om die koning te verraai en hulle aan die Assiriërs te onderwerp en het valslik belowe om hulle in ’n land te hervestig waar hulle ’n gerieflike lewe sou kon lei. (Lees 2 Konings 18:31, 32.) Toe het Rabsake beweer dat Jehovah die Jode nie uit die Assiriërs se kloue sou kon bevry nie, net soos die gode van die nasies nie hulle aanbidders kon beskerm nie. Die volk het wyslik besluit om die lasterlike propaganda te ignoreer; iets wat Jehovah se hedendaagse knegte ook dikwels doen.—Lees 2 Konings 18:35, 36.

15. Wat moes die inwoners van Jerusalem doen, en hoe het Jehovah die stad gered?

15 Hiskia was natuurlik ontsteld, maar eerder as om hom tot ’n buitelandse mag te wend, het hy Jesaja die profeet laat roep. Jesaja het vir Hiskia gesê: “Hy [Sanherib] sal nie in hierdie stad inkom nie, en ook sal hy nie ’n pyl daarin skiet . . .  nie” (2 Kon. 19:32). Al wat die inwoners van Jerusalem moes doen, was om vas te staan. Jehovah sou vir Juda veg. En dit is ook wat hy gedoen het! “In dié nag het die engel van Jehovah uitgetrek en honderd-vyf-en-tagtigduisend in die kamp van die Assiriërs doodgemaak” (2 Kon. 19:35). Juda is nie gered weens Hiskia se pogings om die waters van die stad se fonteine toe te stop of die stad se mure op te bou nie, maar weens God se krag.

LESSE VIR VANDAG

16. Wie word vandag verteenwoordig deur (a) Jerusalem se burgers (b) “die Assiriër” (c) die sewe herders en agt hertoë?

16 Die grotere vervulling van die profesie oor sewe herders en agt hertoë vind in ons dag plaas. Die burgers van eertydse Jerusalem is deur die Assiriërs aangeval. In die nabye toekoms sal Jehovah se skynbaar kwesbare volk aangeval word deur die hedendaagse “Assiriër”, wat daarop uit sal wees om hulle uit te wis. Benewens hierdie aanval meld die Bybel ook die aanval van ‘Gog van Magog’, die aanval van “die koning van die noorde” en die aanval van “die konings van die aarde” (Eseg. 38:2, 10-13; Dan. 11:40, 44, 45; Op. 17:14; 19:19). Sal hierdie aanvalle afsonderlike gebeurtenisse wees? Nie noodwendig nie. Dit is moontlik dat die Bybel verskillende name gebruik om na dieselfde aanval te verwys. Watter ‘geheime wapen’ sal Jehovah volgens Miga se profesie teen hierdie onverbiddelike vyand—“die Assiriër”—verwek? ’n Baie onwaarskynlike wapen—“sewe herders . . . ja, agt hertoë”! (Miga 5:5). Die herders en hertoë (of “vorste”, OAB) in hierdie baie ongewone leër is die gemeentelike ouer manne (1 Pet. 5:2). Vandag het Jehovah beslis ’n oorvloed geestelike manne voorsien om as herders oor sy kosbare skape toesig te hou en sy volk te versterk vir die toekomstige aanval van die hedendaagse “Assiriër”. * Miga se profesie sê dat hulle “met die swaard as herder teenoor die land Assirië [sal] optree” (Miga 5:6). Ja, een van ‘die wapens van hulle stryd’ is “die swaard van die gees”, God se Woord.—2 Kor. 10:4; Ef. 6:17.

17. Watter vier afleidings kan die ouer manne maak uit die verslag wat ons bespreek het?

17 Ouer manne wat hierdie artikel lees, kan ’n paar nuttige afleidings maak uit die verslag wat ons so pas bespreek het: (1) Die praktiesste stap wat ons kan doen om vir die naderende aanval van “die Assiriër” voor te berei, is om ons geloof in God te versterk en ons broers te help om dit ook te doen. (2) Wanneer “die Assiriër” sy aanval loods, moet die ouer manne heeltemal oortuig wees dat Jehovah ons sal verlos. (3) Op daardie stadium sal die lewensreddende riglyne wat ons van Jehovah se organisasie ontvang, dalk nie uit ’n menslike oogpunt prakties lyk nie. Ons almal moet bereid wees om enige instruksies te gehoorsaam wat ons dalk sal ontvang, hetsy dit vanuit ’n strategiese of menslike oogpunt prakties lyk of nie. (4) Enigiemand wat hulle vertroue stel in sekulêre opvoeding, materiële dinge of menslike instellings, moet nou hulle denke aanpas. Die ouer manne moet gereed staan om enigiemand te help wat nou in hulle geloof wankel.

18. Hoe sal dit ons in die toekoms help om oor hierdie verslag na te dink?

18 Die tyd sal kom wanneer God se hedendaagse knegte net so kwesbaar sal lyk soos die Jode wat in Hiskia se dag in Jerusalem vasgekeer was. Mag ons almal op daardie tyd krag put uit Hiskia se woorde. Laat ons in gedagte hou: By ons vyande “is ’n arm van vlees, maar by ons is Jehovah ons God om ons te help en ons oorloë te voer”!—2 Kron. 32:8.

^ par. 4 Die Hebreeuse woord wat in Jesaja 7:14 met “jong vrou” vertaal word, kan na ’n getroude vrou of ’n maagd verwys. Hierdie woord kan dus op Jesaja se vrou asook op die Joodse maagd Maria toegepas word.

^ par. 16 Die getal sewe word dikwels in die Skrif gebruik om volkomenheid aan te dui. Die getal agt (een meer as sewe) dui dikwels oorvloed aan.