Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied in die Filippyne

Hulle het hulle gewillig aangebied in die Filippyne

GREGORIO en Marilou, ’n egpaar in hulle 30’s, het omtrent tien jaar gelede in Manila as pioniers gedien en terselfdertyd voltyds gewerk. Dit was ’n uitdaging, maar hulle het dit reggekry. Toe is Marilou tot bestuurderes bevorder by die bank waar sy gewerk het. “Omdat ons albei ’n goeie werk gehad het, kon ons ’n gerieflike lewenswyse geniet”, sê sy. Trouens, die paartjie het finansieel so goed gevaar dat hulle besluit het om hulle droomhuis te bou in ’n spogbuurt wat omtrent 19 kilometer oos van Manila is. Hulle het ’n kontrak met ’n ontwikkelaar aangegaan en gereël om die projek oor tien jaar in maandelikse paaiemente af te betaal.

“EK HET GEVOEL ASOF EK VAN JEHOVAH STEEL”

Marilou vertel: “My nuwe werk het soveel van my tyd en energie in beslag geneem dat my ywer vir geestelike bedrywighede verflou het. Ek het gevoel asof ek van Jehovah steel.” Sy verduidelik: “Ek kon Jehovah nie meer die tyd gee wat ek belowe het om aan sy diens te wy nie.” Gregorio en Marilou was ongelukkig oor hierdie situasie en het dus besluit om te praat oor die rigting waarin hulle lewe beweeg. Gregorio sê: “Ons wou ’n verandering aanbring, maar het nie mooi geweet wat om te doen nie. Ons het bespreek hoe ons meer in Jehovah se diens kon doen,  veral omdat ons nie kinders het nie. Ons het tot Jehovah gebid vir leiding.”

Op daardie stadium het hulle baie toesprake gehoor wat gehandel het oor Koninkryksdiens in gebiede waar daar meer verkondigers nodig is. “Ons het gevoel dat hierdie toesprake Jehovah se antwoord op ons gebede is”, sê Gregorio. Die paartjie het gebid vir meer geloof sodat hulle die moed sou hê om die regte besluite te neem. Een groot struikelblok was hulle langtermynbouprojek. Hulle het alreeds drie jaar se paaiemente betaal. Wat sou hulle doen? Marilou sê: “As ons die kontrak sou beëindig, sou ons alles verloor wat ons tot op daardie stadium betaal het—’n redelike groot bedrag. Maar ons het dit beskou as ’n keuse oor wat om eerste in ons lewe te stel—Jehovah se wil of ons eie begeertes.” Hulle het gedink aan die apostel Paulus se woorde dat ’n mens soms ‘’n verlies moet aanvaar’ en het besluit om die bouprojek te kanselleer, uit hulle werke te bedank, die meeste van hulle besittings te verkoop en te trek na ’n afgeleë dorpie op die eiland Palawan, ongeveer 480 kilometer suid van Manila.—Fil. 3:8.

HULLE ‘HET DIE GEHEIM GELEER’

Voordat Gregorio en Marilou getrek het, het hulle hulle probeer voorberei om ’n eenvoudige lewe te lei, maar hulle het nie besef hoe eenvoudig hulle nuwe lewe sou wees totdat hulle by hulle bestemming aangekom het nie. “Dit was ’n skok”, sê Marilou. “Geen elektrisiteit, geen geriewe nie. Eerder as om die stoof aan te skakel, moes ons hout kap en oor ’n vuur kook. Ek het dit gemis om na die inkopiesentrum te gaan, te gaan uiteet en die ander dinge te doen wat die stadslewe bied.” Maar die paartjie het hulle heeltyd herinner aan waarom hulle getrek het, en kort voor lank het hulle aangepas. Marilou sê: “Nou geniet ek die natuurskoon, insluitende die helder sterre in die naghemel. Bowenal verskaf dit my vreugde om mense se gelukkige gesigte te sien wanneer ons vir hulle getuig. Deur hier te dien, het ons ‘die geheim daarvan geleer’ om vergenoeg te wees.”—Fil. 4:12.

“Niks kan vergelyk word met die vreugde wat dit meebring om geestelike groei te sien nie. Ons voel nou meer as ooit tevore dat ons lewe sinvol is.”—Gregorio en Marilou

Gregorio vertel: “Toe ons hier aangekom het, was daar net vier Getuies. Hulle was so bly toe ek begin het om elke week ’n openbare toespraak te hou en die groepie op my kitaar begelei het wanneer ons Koninkryksliedere gesing het.” Binne ’n jaar het die paartjie gesien hoe daardie klein groepie ’n florerende gemeente van 24 verkondigers geword het. Gregorio sê: “Ons hart word geraak deur die liefde wat hierdie gemeente aan ons betoon.” Wanneer hulle vandag terugkyk op ses jaar se diens in daardie afgeleë gebied, sê hulle: “Niks kan vergelyk word met die vreugde wat dit meebring om geestelike groei te sien nie. Ons voel nou, meer as ooit tevore, dat ons lewe sinvol is.”

 “EK HET ‘GESMAAK EN GESIEN DAT JEHOVAH GOED IS’!”

In die Filippyne het byna 3 000 broers en susters na gebiede getrek waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Omtrent 500 van hulle is ongetroude susters. Neem Karen as voorbeeld.

Karen, wat nou in haar middel-20’s is, het grootgeword in Baggao, Cagayan. Toe sy nog ’n tiener was, het sy dikwels daaraan gedink om haar bediening uit te brei. Sy vertel: “Omdat ek geweet het dat die oorblywende tyd kort is en dat alle soorte mense die Koninkryksboodskap moet hoor, wou ek gaan dien waar meer verkondigers nodig is.” ’n Paar van haar familielede het haar aangespoor om hoër onderwys na te streef eerder as om op die een of ander afgeleë plek te gaan preek, maar Karen het tot Jehovah gebid vir leiding. Sy het ook met broers gepraat wat in ’n afgesonderde gebied dien. Toe sy 18 was, het sy na ’n afgeleë gebied getrek wat sowat 64 kilometer van haar tuisdorp geleë is.

Die klein gemeente wat Karen gaan ondersteun het, sien om na ’n bergagtige gebied langs die Pasifiese kus. Karen vertel: “Dit het ons drie dae geneem om van Baggao af na die nuwe gemeente te stap. Ons het teen berge op- en afgestap en meer as 30 keer riviere oorgesteek.” Sy voeg by: “Dit neem my ses uur om na party Bybelstudente te stap, dan oornag ek daar, en die volgende dag stap ek weer ses uur terug huis toe.” Is dit al die moeite werd? “Soms pyn my bene, maar”, voeg Karen met ’n groot glimlag by, “ek het al tot 18 Bybelstudies gehou. Ek het ‘gesmaak en gesien dat Jehovah goed is’!”—Ps. 34:8.

“EK HET GELEER OM OP JEHOVAH TE VERTROU”

Wat het Sukhi, ’n ongetroude suster in haar vroeë 40’s wat in die Verenigde State woon, beweeg om na die Filippyne te trek? In 2011 het sy ’n kringbyeenkoms bygewoon waar ’n onderhoud met ’n egpaar gevoer is. Hulle het vertel hoe hulle die meeste van hulle besittings verkoop het sodat hulle na Mexiko kon trek om daar met die predikingswerk te gaan help. “Daardie onderhoud”, sê Sukhi, “het my laat dink aan doelwitte waaraan ek nooit voorheen gedink het nie.” Toe Sukhi, wat van Indiese herkoms is, gehoor het dat daar baie hulp nodig is om Pandjabisprekende mense te bereik wat in die Filippyne woon, het sy besluit om te gaan help. Was daar struikelblokke?

“Om te besluit wat om te hou en wat om te verkoop, was moeiliker as wat ek verwag het”, sê Sukhi. “En nadat ek 13 jaar gerieflik in my eie woonstel gebly het, het ek by familie ingetrek en uit bokse gelewe. Dit was nie maklik nie, maar dit was ’n goeie manier om my voor te berei om ’n eenvoudige lewe te lei.” Voor watter uitdagings het sy te staan gekom toe sy  na die Filippyne getrek het? “Vir my was die grootste uitdagings heimwee en my fobie vir goggas. Ek het geleer om meer as ooit tevore op Jehovah te vertrou!” Was dit die moeite werd? Sukhi glimlag en sê: “Jehovah sê vir ons: ‘Stel my op die proef, of ek nie op julle ’n seën sal uitstort nie’. Ek besef hoe waar hierdie woorde is wanneer ’n huisbewoner my vra: ‘Wanneer kom jy weer? Ek het nog baie vrae.’ Dit verskaf my groot vreugde en bevrediging om mense te help wat geestelik honger is!” (Mal. 3:10). Sukhi voeg by: “Die moeilikste deel was om te besluit om te trek. Toe ek dít eers gedoen het, was dit ongelooflik om te sien hoe Jehovah alles vlot laat verloop het.”

“EK HET MY VREES OORKOM”

Sime, ’n getroude broer wat nou in sy laat 30’s is, het van die Filippyne na ’n Midde-Oosterse land getrek, waar hy ’n goed betaalde werk gekry het. Terwyl hy daar was, het die aanmoediging wat hy gekry het by ’n kringopsiener en uit ’n toespraak wat deur ’n lid van die Bestuursliggaam gehou is, Sime beweeg om Jehovah eerste in sy lewe te stel. “Maar die gedagte daaraan om my werk te los, het my nagmerries gegee”, sê Sime. Nogtans het hy sy werk opgegee en na die Filippyne teruggekeer. Vandag dien Sime en sy vrou, Haidee, in Davao del Sur, in die suidelike deel van die land, waar meer Koninkryksverkondigers nodig is om die uitgestrekte gebied te dek. “As ek terugdink”, sê Sime, “is ek so dankbaar dat ek my vrees oorkom het om my werk te verloor en dat ek Jehovah eerste gestel het. Daar is niks wat meer bevredigend is as om Jehovah jou bes te gee nie!”

“DIS VIR ONS BAIE BEVREDIGEND!”

Toe Ramilo en Juliet, ’n pionieregpaar in hulle vroeë 30’s, uitgevind het dat ’n gemeente wat net sowat 30 kilometer van hulle huis af is, hulp nodig het, het hulle aangebied om dit te ondersteun. Ramilo en Juliet ry dus elke week, in goeie of slegte weer, op hulle motorfiets soontoe om die vergaderinge by te woon en aan die predikingswerk deel te neem. Hoewel dit nie maklik is om oor hobbelrige paaie en hangbrûe te reis nie, is hulle bly dat hulle hulle bediening uitgebrei het. Ramilo sê: “Ek en my vrou hou altesaam 11 Bybelstudies! Om te dien waar daar hulp nodig is, verg wel opofferings, maar dis vir ons baie bevredigend!”—1 Kor. 15:58.

Wil jy graag meer uitvind oor hoe jy kan dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is, hetsy in jou land of in ’n ander land? Indien wel, kan jy met jou kringopsiener praat en die artikel “Kan jy ‘oorkom na Masedonië’?” in Ons Koninkryksbediening vir Augustus 2011 lees.