Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dien Jehovah as slawe”

“Dien Jehovah as slawe”

“Moenie traag wees in julle bedrywighede nie. . . . Dien Jehovah as slawe.”—ROM. 12:11.

1. Hoe verskil die algemene beskouing van slawerny met die soort slawerny wat in Romeine 12:11 gemeld word?

SLAWERNY as Christene verskil grootliks van baie mense se beskouing van slawerny. Slawerny laat beelde van wrede oorheersing, onderdrukking en onregverdige behandeling by hulle opkom. Maar God se geïnspireerde Woord praat van slawerny wat gewillige diens aan ’n liefdevolle Heer behels. Trouens, toe die apostel Paulus eerste-eeuse Christene gemaan het om ‘Jehovah as slawe te dien’, het hy hulle aangespoor om heilige diens uit liefde vir God te verrig (Rom. 12:11). Wat behels hierdie soort slawerny? Hoe kan ons verhoed dat ons slawe van Satan en sy wêreld word? En hoe word ons beloon as ons Jehovah getrou as slawe dien?

‘EK HET MY HEER WERKLIK LIEF’

2. (a) Wat kon ’n Israelitiese slaaf beweeg om sy geleentheid om vrygelaat te word, prys te gee? (b) Waarom is dit betekenisvol dat die oor van ’n gewillige slaaf deurboor is?

2 Uit die Wet wat God aan Israel gegee het, leer ons omtrent die soort slawerny wat Jehovah van ons vereis. ’n Hebreeuse slaaf moes in die sewende jaar van sy knegskap vrygelaat word (Eks. 21:2). Maar Jehovah het voorsiening gemaak vir ’n slaaf wat sy heer werklik liefgehad het en in sy diens wou bly. Die heer moes sy slaaf tot by die deur of die deurpos bring en sy oor met ’n els deurboor (Eks. 21:5, 6). Dit is betekenisvol dat hierdie prosedure met die oor te doen gehad het. In Hebreeus word die basiese idee van gehoorsaamheid oorgedra deur ’n woord wat verband hou met die woord vir “hoor” en “luister”. Die gewillige slaaf wou aanhou om sy heer gehoorsaam te dien. Dit help ons om te verstaan wat ons toewyding aan Jehovah behels—gewillige gehoorsaamheid uit liefde vir God.

3. Wat is die grondslag vir ons toewyding aan God?

3 Toe ons ons aangebied het om as ’n Christen gedoop te word, het ons reeds besluit om Jehovah te dien, om sy slawe te wees. Ons het ons toegewy omdat  dit ons begeerte is om Jehovah te gehoorsaam en sy wil te doen. Niemand het ons gedwing om dit te doen nie. Trouens, selfs jongmense wat gedoop word, doen dit slegs nadat hulle hulle persoonlik aan Jehovah toegewy het, nie bloot om hulle ouers tevrede te stel nie. Die grondslag vir ’n Christen se toewyding is liefde vir sy hemelse Heer, Jehovah. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Joh. 5:3.

VRY EN TOG SLAWE

4. Wat is nodig om “slawe van die regverdigheid” te word?

4 Hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah dat hy dit vir ons moontlik gemaak het om sy slawe te wees! Ons geloof in die losprysoffer van Christus maak dit vir ons moontlik om onder die juk van die sonde uit te kom. Hoewel ons nog onvolmaak is, het ons ons gewillig aan die gesag van Jehovah en Jesus onderwerp. Paulus het dit mooi in een van sy geïnspireerde briewe verduidelik: “Beskou julleself inderdaad as dood met betrekking tot die sonde, maar as lewend met betrekking tot God deur Christus Jesus.” Toe het hy gewaarsku: “Weet julle nie dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie, hetsy van die sonde met die dood in die vooruitsig, of van gehoorsaamheid met regverdigheid in die vooruitsig? Maar ons dank God dat julle slawe van die sonde was, maar uit die hart gehoorsaam geword het aan dié vorm van leer waaraan julle oorgegee is. Ja, aangesien julle van die sonde vrygemaak is, het julle slawe van die regverdigheid geword” (Rom. 6:11, 16-18). Let op dat die apostel na ‘gehoorsaamheid uit die hart’ verwys. Ja, ons toewyding aan Jehovah maak ons “slawe van die regverdigheid”.

5. Watter interne stryd moet ons almal voer, en waarom?

5 Daar is nietemin struikelblokke wat ons moet oorkom as ons ons toewyding wil naleef. Ons voer ’n tweevoudige stryd. Eerstens is daar die stryd waarmee Paulus te kampe gehad het. “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is”, het hy geskryf, “maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Rom. 7:22, 23). Ons het ook te kampe met oorgeërfde sonde. Ons moet dus voortdurend teen ons vleeslike neigings stry. Die apostel Petrus het ons vermaan: “Wees soos vry mense, maar behou julle vryheid, nie as ’n dekmantel vir slegtheid nie, maar as slawe van God.”—1 Pet. 2:16.

6, 7. Hoe laat Satan hierdie wêreld aantreklik lyk?

6 Ons is in ’n tweede stryd gewikkel, ons stryd teen hierdie wêreld onder demooninvloed. Satan, die heerser van die wêreld, rig sy aanvalle teen ons omdat hy wil hê dat ons ons lojaliteit aan Jehovah en Jesus moet prysgee. Hy probeer om ons sy slawe te maak deur ons in die versoeking te bring om voor sy verderflike invloed te swig. (Lees Efesiërs 6:11, 12.) Een manier waarop Satan dit doen, is deur sy wêreld aantreklik, aanloklik, te laat lyk. “As iemand die wêreld liefhet”, het die apostel Johannes gewaarsku, “is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”—1 Joh. 2:15, 16.

7 Die wêreld is deurdring van die begeerte na rykdom. Satan bevorder die beskouing dat geld geluk meebring. Superwinkels is oral te vinde. Advertensies  bevorder ’n lewenswyse wat om besittings en ontspanning draai. Reisagentskappe bied vakansies aan op eksotiese plekke, dikwels in die geselskap van mense met ’n wêreldse uitkyk. Ja, ons word omring met die idee dat ons onsself moet “verbeter”—maar altyd volgens die wêreld se standaarde.

8, 9. Watter wesenlike gevaar bestaan, en waarom?

8 Petrus het verwys na diegene in die eerste-eeuse Christengemeente wat ’n wêreldse beskouing aangeneem het en gewaarsku: “Hulle beskou ’n weelderige lewe in die dag as ’n genot. Hulle is vlekke en smette, wat hulle met onbeteuelde genot aan hulle bedrieglike leringe oorgee terwyl hulle saam met julle fees hou. Want hulle spreek opgeblase woorde wat geen nut het nie, en deur die begeertes van die vlees en deur losbandige gewoontes verlok hulle dié wat pas aan mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Terwyl hulle vryheid aan hulle beloof, voer hulle self ’n bestaan as slawe van verderflikheid. Want elkeen wat deur ’n ander oorwin word, word deur dié ’n slaaf gemaak.”—2 Pet. 2:13, 18, 19.

9 Die bevrediging van “die begeerte van die oë” bring nie vryheid mee nie. ’n Mens word eerder ’n slaaf van hierdie wêreld se onsigbare heer, Satan die Duiwel (1 Joh. 5:19). ’n Wesenlike gevaar bestaan dat ons slawe van materialisme kan word—’n soort slawerny waarvan ’n mens nie maklik bevry word nie.

’N BEVREDIGENDE LOOPBAAN

10, 11. Op wie spits Satan veral vandag sy aanvalle toe, en hoe kan die wêreld se opvoeding vir hulle ’n struikelblok wees?

10 Net soos Satan in Eden gedoen het, spits hy sy aanvalle ook vandag op die onervarenes toe. Hy konsentreer veral op jongmense. Satan is nie gelukkig wanneer ’n jongmens, of eintlik enigiemand, Jehovah vrywillig as slaaf wil dien nie. God se vyand wil hê dat almal wat hulle lewe aan Jehovah toewy, hulle toegewydheid en lojaliteit aan hom moet prysgee.

11 Kom ons keer terug na die voorbeeld van die slaaf wat toegelaat het dat sy oor deurboor word. Hierdie slaaf het sekerlik vir ’n oomblik pyn ondervind; maar dit was gou verby, en dan het dit ’n merk gelaat wat ’n blywende teken van sy knegskap was. Vir ’n jongmens kan dit eweneens moeilik, selfs pynlik, wees om ’n weg te kies wat anders is as dié van sy portuurs. Satan bevorder die idee dat ’n loopbaan in sy wêreld bevrediging sal meebring,  maar Christene moet let op die belangrikheid daarvan om hulle geestelike behoefte te bevredig. “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus geleer (Matt. 5:3). Toegewyde Christene lewe om God se wil te doen, nie Satan s’n nie. Hulle behae is in die wet van Jehovah, en hulle peins dag en nag daaroor. (Lees Psalm 1:1-3.) Maar baie van vandag se studiekursusse neem soveel tyd in beslag dat ’n kneg van Jehovah min tyd oorhet om te peins en sy geestelike behoefte te bevredig.

12. Voor watter keuse kom talle jongmense vandag te staan?

12 ’n Wêreldse heer kon die lewe vir ’n Christenslaaf moeilik maak. In sy eerste brief aan die Korintiërs het Paulus gevra: “Is jy geroep toe jy ’n slaaf was?” Toe het hy hulle aangeraai: “Moenie dat dit jou kwel nie; maar as jy ook vry kan word, gryp liewer die geleentheid aan” (1 Kor. 7:21). Vryheid van slawerny was verkieslik. In baie lande is dit vandag verpligtend om tot op ’n sekere ouderdom skool te gaan. Daarna het leerders ’n keuse. As ’n mens jou opvoeding voortsit om ’n beroep in hierdie wêreld na te jaag, kan dit jou vryheid beperk om die voltydse diens na te streef.—Lees 1 Korintiërs 7:23.

Watter heer sal jy as slaaf dien?

HOËR ONDERWYS OF DIE HOOGSTE OPVOEDING?

13. By watter soort opvoeding sal Jehovah se knegte die meeste baat vind?

13 Paulus het die Christene in Kolosse gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:8). “Die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense” kan vandag gesien word in die wêreldse denkwyse wat deur talle intellektuele mense bevorder word. Hoër onderwys, wat die klem plaas op akademiese studie, lewer dikwels gegradueerdes op wat min of geen praktiese vaardighede het nie en dus onvoorbereid is op die werklikhede van die lewe. In teenstelling hiermee kies Jehovah se knegte opvoeding wat hulle help om die nodige vaardighede te ontwikkel om ’n eenvoudige lewe van diens aan God te lei. Hulle neem die raad ter harte wat Paulus aan Timoteus gegee het: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge  tevrede wees” (1 Tim. 6:6, 8). Eerder as om universiteitsgrade en titels agter hulle naam te probeer kry, spits ware Christene hulle daarop toe om “aanbevelingsbriewe” te verkry deur soveel as moontlik in die bediening te doen.—Lees 2 Korintiërs 3:1-3.

14. Hoe het Paulus, volgens Filippense 3:8, sy voorreg beskou om God en Christus as slaaf te dien?

14 Kyk na die geval van die apostel Paulus. Hy is aan die voete van Gamaliël, ’n leermeester van die Joodse Wet, onderrig. Die opvoeding wat Paulus ontvang het, kan met ’n hedendaagse universiteitsopleiding vergelyk word. Maar hoe het Paulus dit beskou wanneer hy dit vergelyk het met die voorreg om God en Christus as slaaf te dien? Hy het geskryf: “Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Fil. 3:8). Hierdie beskouing help jong Christene en hulle godvresende ouers om ’n wyse keuse te maak wat opvoeding betref. (Sien prente.)

VIND BAAT BY DIE HOOGSTE OPVOEDING

15, 16. Watter opvoeding voorsien Jehovah se organisasie, en waarop is dit toegespits?

15 Watter soort atmosfeer heers by baie van hierdie wêreld se instellings van hoër onderwys? Is dit nie soms broeineste van politieke en maatskaplike onrus nie? (Ef. 2:2). In teenstelling hiermee voorsien Jehovah se organisasie die hoogste vorm van opvoeding in die vreedsame atmosfeer van die Christengemeente. Elkeen van ons het die geleentheid om baat te vind by die weeklikse Teokratiese Bedieningskool. Dan is daar ook gespesialiseerde kursusse vir ongetroude pionierbroers (Bybelskool vir Ongetroude Broers) en pionieregpare (Bybelskool vir Christenegpare). Sulke teokratiese opvoeding help ons om Jehovah, ons hemelse Heer, te gehoorsaam.

16 Ons kan na ryk geestelike skatte delf in die Watch Tower Publications Index of die Watchtower Library op CD-ROM. Hierdie opvoeding is toegespits op die aanbidding van Jehovah. Dit leer ons hoe ons ander kan help om met God versoen te raak (2 Kor. 5:20). En dit sal hulle weer help om ander te leer.—2 Tim. 2:2.

DIE SLAAF SE BELONING

17. Watter seëninge bring dit mee wanneer ons die hoogste opvoeding kies?

17 In Jesus se gelykenis van die talente het die twee getroue slawe lof verdien en in hulle heer se vreugde gedeel, en daarom is hulle met meer werk toevertrou. (Lees Matteus 25:21, 23.) Om vandag die hoogste opvoeding te kies, bring vreugde en belonings mee. Kyk na die voorbeeld van Michael. Hy het so goed op skool gevaar dat sy onderwysers hom na ’n vergadering genooi het om sy vooruitsigte op ’n universiteitsloopbaan te bespreek. Tot hulle verbasing het Michael eerder besluit om ’n kort kursus by ’n vakskool te doen wat hom gou in staat gestel het om hom as ’n gewone pionier te onderhou. Is hy spyt oor sy besluit? “Die teokratiese opvoeding wat ek ontvang het as ’n pionier—en nou as ’n ouer man in die gemeente—is van onskatbare waarde”, vertel hy. “Die seëninge en voorregte wat ek geniet, is baie waardevoller as die geld wat ek moontlik sou verdien het. Ek is baie bly dat ek gekies het om nie hoër onderwys na te streef nie.”

18. Wat beweeg jou om die hoogste opvoeding te kies?

18 Die hoogste opvoeding leer ons God se wil en help ons om Jehovah as slawe te dien. Dit bied ons die vooruitsig om “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak” te word en om uiteindelik “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te hê (Rom. 8:21). Bowenal leer ons hoe om ten beste te toon dat ons ons hemelse Heer, Jehovah, werklik liefhet.—Eks. 21:5.