Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kyk! Ek is met julle al die dae”

“Kyk! Ek is met julle al die dae”

“Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—MATT. 28:20.

1. (a) Gee ’n opsomming van die illustrasie van die koring en die onkruid. (b) Hoe het Jesus die betekenis daarvan verduidelik?

EEN van Jesus se Koninkryksillustrasies beskryf ’n boer wat goeie koringsaad saai en ’n vyand wat onkruid tussen die goeie saad saai. Die onkruid groei die koring toe, maar die boer beveel sy slawe: “Laat al twee saam groei tot die oes toe.” Gedurende die oestyd word die onkruid vernietig en die koring ingesamel. Jesus het self die illustrasie verduidelik. (Lees Matteus 13:24-30, 37-43.) Wat toon hierdie gelykenis? (Sien die tabel “Die koring en die onkruid”.)

2. (a) Wat word toegelig deur die gebeure wat in die boer se landery plaasvind? (b) Watter deel van die gelykenis sal ons bespreek?

2 Die gebeure in daardie boer se landery lig toe hoe en wanneer Jesus die hele koringklas—gesalfde Christene wat saam met hom in sy Koninkryk sal regeer—uit die mensdom sal insamel. Die saaiwerk het op Pinkster 33 HJ begin. Die insameling sal voltooi word wanneer die gesalfdes wat teen die einde van die stelsel van dinge nog op die aarde is, finaal verseël word en dan hemel toe geneem word (Matt. 24:31; Op. 7:1-4). Net soos ’n uitkykpunt op ’n berg ’n persoon ’n wye uitsig oor sy omgewing gee, gee hierdie gelykenis ons ’n breë oorsig van verwikkelinge wat oor ’n tydperk van ongeveer 2 000 jaar sou plaasvind. Watter verwikkelinge met betrekking tot die Koninkryk onderskei ons vanaf ons uitkykpunt? Die gelykenis beskryf ’n tyd waarin saaiwerk, groei en oeswerk sou plaasvind. Hierdie artikel sal hoofsaaklik op die oestyd konsentreer. *

ONDER JESUS SE WAAKSAME SORG

3. (a) Watter situasie het ná die eerste eeu ontwikkel? (b) Watter vraag is in Matteus 13:28 geopper, en deur wie? (Sien ook eindnota.)

3 Aan die begin van die tweede eeu HJ het “die onkruid . . . verskyn” toe naamchristene in die wêreldveld  sigbaar geword het (Matt. 13:26). Teen die vierde eeu was daar baie meer onkruidagtige Christene as gesalfde Christene. Onthou dat die slawe in die gelykenis hulle heer gevra het vir toestemming om die onkruid uit te trek (Matt. 13:28). * Hoe het die heer gereageer?

4. (a) Wat word geopenbaar deur die antwoord van die Heer, Jesus? (b) Wanneer kon koringagtige Christene onderskei word?

4 Jesus het met verwysing na die koring en die onkruid gesê: “Laat al twee saam groei tot die oes toe.” Hierdie opdrag toon dat daar vanaf die eerste eeu tot vandag toe nog altyd gesalfde koringagtige Christene op die aarde was. Hierdie gevolgtrekking word bevestig deur wat Jesus later vir sy dissipels gesê het: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:20). Gesalfde Christene sou dus al die dae tot aan die tyd van die einde deur Jesus beskerm word. Aangesien hulle egter deur onkruidagtige Christene toegegroei is, is ons nie seker wie gedurende daardie lang tydperk aan die koringklas behoort het nie. Maar ’n paar dekades voor die begin van die oestyd kon die koringklas onderskei word. Hoe het dit gebeur?

’N BOODSKAPPER ‘BAAN ’N WEG’

5. Hoe is Maleagi se profesie in die eerste eeu vervul?

 5 Eeue voordat Jesus die illustrasie van die koring en die onkruid gegee het, het Jehovah sy profeet Maleagi geïnspireer om gebeure te voorspel wat in Jesus se illustrasie voorkom. (Lees Maleagi 3:1-4.) Johannes die Doper was die ‘boodskapper wat die weg gebaan het’ (Matt. 11:10, 11). Toe hy in 29 HJ gekom het, het ’n tyd van oordeel vir die nasie Israel nader gekom. Jesus was die tweede boodskapper. Hy het die tempel in Jerusalem twee keer gereinig —die eerste keer aan die begin van sy bediening en ’n tweede keer na aan die einde daarvan (Matt. 21:12, 13; Joh. 2:14-17). Jesus se reinigingswerk het dus oor ’n tydperk plaasgevind.

6. (a) Wat is die grotere vervulling van Maleagi se profesie? (b) Gedurende watter tydperk het Jesus die geestelike tempel geïnspekteer? (Sien ook eindnota.)

 6 Wat is die grotere vervulling van Maleagi se profesie? Gedurende die dekades voor 1914 het C.T. Russell en sy intieme metgeselle ’n werk soos dié van Johannes die Doper gedoen. Hierdie noodsaaklike werk het die herstel van Bybelwaarhede ingesluit. Die Bybelstudente het ander geleer wat die ware betekenis van Christus se losprysoffer is, die leuen van die helse vuur blootgelê en die komende einde van die Heidense Tye verkondig. Maar daar was talle godsdiensgroepe wat beweer het dat hulle Christus se volgelinge is. ’n Uiters belangrike vraag moes dus beantwoord word: Wie onder daardie groepe was die koring? Om die saak op te klaar, het Jesus in 1914 die geestelike tempel begin inspekteer. Daardie inspeksie- en reinigingswerk het oor ’n tydperk plaasgevind—vanaf 1914 tot die vroeë deel van 1919. *

JARE VAN INSPEKSIE EN REINIGING

7. Wat het Jesus gevind toe hy in 1914 met sy inspeksie begin het?

7 Wat het Jesus gevind toe hy met sy inspeksie begin het? ’n Klein groepie geesdriftige Bybelstudente wat al meer as 30 jaar lank hulle energie en rykdom aan ’n ywerige predikingskampanje bestee het. * Hoe bly moes dit Jesus en die engele tog gemaak het om daardie betreklik min maar stewige koringhalms te vind wat nie deur Satan se onkruid verstik is nie! Nietemin het ’n behoefte ontstaan om die  gesalfdes, ‘die seuns van Levi, te reinig’ (Mal. 3:2, 3; 1 Pet. 4:17). Waarom?

8. Watter verwikkelinge het ná 1914 plaasgevind?

8 Laat in 1914 was party Bybelstudente mismoedig omdat hulle nie hemel toe gegaan het nie. Gedurende 1915 en 1916 het teenstand van buite die organisasie die predikingswerk vertraag. Boonop het teenstand van binne die organisasie ná broer Russell se dood in Oktober 1916 ontstaan. Vier van die sewe direkteure van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap het in opstand gekom teen die besluit dat broer Rutherford die leiding neem. Hulle het verdeeldheid onder die broers probeer saai, maar in Augustus 1917 het hulle Bethel verlaat—inderdaad ’n reiniging! Ander Bybelstudente het voor mensevrees geswig. Nogtans het hulle as ’n groep op Jesus se reinigingswerk gereageer en die nodige veranderinge aangebring. Jesus het dus bevind dat hulle ware Christelike koring is, maar hy het alle naamchristene verwerp, insluitende almal wat in die kerke van die Christendom gevind is (Mal. 3:5; 2 Tim. 2:19). Wat het toe gebeur? Om uit te vind, kom ons kyk verder na ons bespreking van die gelykenis van die koring en die onkruid.

WAT GEBEUR NADAT DIE OESTYD BEGIN?

9, 10. (a) Wat sal ons nou oor die oestyd bespreek? (b) Wat het kort ná die begin van die oestyd gebeur?

9 “Die oes is ’n voleinding van ’n stelsel van dinge”, het Jesus gesê (Matt. 13:39). Hierdie oestyd het in 1914 begin. Ons sal vyf verwikkelinge bespreek wat Jesus vir daardie tyd voorspel het.

10 Eerstens, die onkruid word bymekaargemaak. Jesus sê: “In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels.” Ná 1914 het die engele onkruidagtige Christene begin “bymekaarmaak” deur hulle af te skei van die gesalfde “kinders van die koninkryk”.—Matt. 13:30, 38, 41.

11. Wat onderskei ware Christene vandag nog van naamchristene?

11 Met die vordering van die werk om die onkruid bymekaar te maak, het die onderskeid tussen die twee groepe al hoe duideliker geword (Op. 18:1, 4). Teen 1919 het dit duidelik geword dat Babilon die Grote geval het. Wat in die besonder het ware Christene van naamchristene onderskei? Die predikingswerk. Diegene wat die leiding onder die Bybelstudente geneem het, het die belangrikheid daarvan begin beklemtoon om ’n persoonlike aandeel aan die Koninkrykspredikingswerk te hê. Byvoorbeeld, To Whom the Work Is Entrusted, ’n pamflet wat in 1919 uitgegee is, het alle gesalfde Christene aangespoor om van huis tot huis te preek. Dit het gesê: “Dit lyk na ’n oorweldigende werk, maar dit is die Here se werk, en in sy krag sal ons dit verrig. Julle het die voorreg om daaraan deel te neem.” Wat was die reaksie? The Watch Tower het in 1922 gesê dat die Bybelstudente van daardie tyd af hulle predikingsbedrywighede verskerp het. Kort voor lank het die predikingswerk van huis tot huis ’n kenmerk van daardie getroue Christene geword—en dit is vandag nog die geval.

12. Vanaf watter jaar word die koringklas bymekaargebring?

12 Tweedens, die koring word bymekaargebring. Jesus beveel sy engele: “Gaan bring . . . die koring in my voorraadskuur bymekaar” (Matt. 13:30). Sedert 1919 word die gesalfdes in die herstelde Christengemeente bymekaargebring. Gesalfde Christene wat aan die einde van hierdie stelsel van dinge nog op die aarde is, sal finaal bymekaargebring word wanneer hulle hulle hemelse beloning ontvang.—Dan. 7:18, 22, 27.

13. Wat toon Openbaring 18:7 oor die huidige gesindheid van die hoer, of Babilon die Grote, insluitende die Christendom?

 13 Derdens, ’n gehuil en ’n gekners. Wat gebeur nadat die engele die onkruid in bondels gebind het? Met verwysing na die toestand van die onkruidklas sê Jesus: “Dáár sal hulle gehuil en die gekners van hulle tande wees” (Matt. 13:42). Is dit wat nou gebeur? Nee. Vandag sê die Christendom, wat deel van die hoer is, nog steeds oor haarself: “Ek sit as koningin, en ek is geen weduwee nie, en ek sal nooit verdriet sien nie” (Op. 18:7). Ja, die Christendom voel heeltemal in beheer en is selfs vermetel genoeg om ‘as koningin te sit’ bo-op die klas politieke leiers. Dié wat deur die onkruid voorgestel word, huil nie op die oomblik nie—hulle spog. Maar dit gaan binnekort verander.

Die Christendom se noue omgang met politieke leiers sal binnekort tot ’n einde kom (Sien paragraaf 13)

14. (a) Wanneer en waarom sal naamchristene ‘op hulle tande kners’? (b) Hoe strook ons aangepaste begrip van Matteus 13:42 met die gedagte in Psalm 112:10? (Sien eindnota.)

14 Gedurende die groot verdrukking, nadat alle georganiseerde valse godsdiens vernietig is, sal voormalige aanhangers inderhaas skuiling soek, maar hulle sal geen veilige wegkruipplek vind nie (Luk. 23:30; Op. 6:15-17). Dan, wanneer hulle besef dat hulle nie aan die vernietiging kan ontkom nie, sal hulle wanhopig huil en woedend ‘op hulle tande kners’. Soos Jesus in sy profesie oor die groot verdrukking voorspel, sal hulle in daardie donker tyd “hulleself in weeklag slaan”. *Matt. 24:30; Op. 1:7.

15. Wat sal met die onkruid gebeur, en wanneer sal daardie gebeurtenis plaasvind?

15 Vierdens, in die vuuroond gewerp. Wat sal met die bondels onkruid gebeur? Die engele “sal hulle in die vuuroond werp” (Matt. 13:42). Dit beteken algehele vernietiging. Daardie voormalige aanhangers van valse godsdiensorganisasies sal dus gedurende die laaste deel van die groot verdrukking, Armageddon, vernietig word.—Mal. 4:1.

16, 17. (a) Wat is die laaste gebeurtenis wat Jesus in sy illustrasie meld? (b) Waarom maak ons die gevolgtrekking dat hierdie gebeurtenis nog voorlê?

16 Vyfdens, die regverdiges skyn helder. Jesus sluit sy profesie af deur te sê: “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader” (Matt. 13:43). Wanneer en waar sal dit gebeur? Die vervulling van hierdie woorde lê nog voor. Jesus het nie ’n bedrywigheid voorspel wat tans op die aarde plaasvind nie, maar ’n toekomstige gebeurtenis wat in die hemel sal plaasvind. * Beskou twee redes vir hierdie gevolgtrekking.

17 Kom ons beantwoord eers die vraag: Wanneer? Jesus het gesê: “In dié tyd sal die  regverdiges . . . skyn.” Die frase “in dié tyd” verwys klaarblyklik na die gebeurtenis wat Jesus so pas gemeld het, naamlik wanneer ‘die onkruid in die vuuroond gewerp word’. Dit vind plaas gedurende die laaste deel van die groot verdrukking. Ons kan dus tot die slotsom kom dat die gesalfdes ook op daardie toekomstige tyd ‘helder sal skyn’. Tweedens, die vraag: Waar? Jesus het gesê dat die regverdiges ‘in die koninkryk sal skyn’. Wat beteken dit? Alle getroue gesalfdes wat ná die eerste deel van die groot verdrukking nog op die aarde is, sal teen daardie tyd reeds finaal verseël wees. Daarna, soos Jesus se profesie oor die groot verdrukking aandui, sal hulle hemel toe geneem word (Matt. 24:31). Daar sal hulle skyn “in die koninkryk van hulle Vader”, en kort ná die oorlog van Armageddon sal hulle as Jesus se vreugdevolle bruid deel hê aan “die huwelik van die Lam”.—Op. 19:6-9.

HOE ONS DAARBY BAAT VIND

18, 19. Op watter maniere vind ons persoonlik baat by ’n begrip van Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid?

18 Hoe vind ons persoonlik baat by die breë oorsig wat hierdie gelykenis bied? Beskou drie maniere. Eerstens gee dit ons dieper insig. Die gelykenis openbaar ’n belangrike rede waarom Jehovah goddeloosheid toelaat. Hy het “voorwerpe van gramskap . . . geduld” sodat hy die “voorwerpe van barmhartigheid”—die koringklas—kon voorberei (Rom. 9:22-24). * Tweedens versterk dit ons vertroue. Namate die einde nader kom, sal ons vyande al hoe harder teen ons stry, “maar hulle sal nie die oorhand . . . kry nie”. (Lees Jeremia 1:19.) Net soos Jehovah die koringklas deur die eeue heen beskerm het, sal ons hemelse Vader deur middel van Jesus en die engele “al die dae” wat voorlê, met ons wees.—Matt. 28:20.

19 Derdens stel die gelykenis ons in staat om die koringklas te identifiseer. Waarom is dit noodsaaklik? Dit is uiters belangrik om te weet wie die koringagtige Christene is as ons die antwoord wil vind op ’n vraag wat Jesus geopper het in sy breedvoerige profesie oor die laaste dae. Hy het gevra: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” (Matt. 24:45). Die volgende twee artikels sal ’n bevredigende antwoord op hierdie vraag voorsien.

 

^ par. 2 Paragraaf 2: Om jou geheue te verfris oor die betekenis van die ander dele van die gelykenis, spoor ons jou aan om die artikel “Die regverdiges sal so helder soos die son skyn” in Die Wagtoring van 15 Maart 2010 te lees.

^ par. 3 Paragraaf 3: Aangesien Jesus se apostels gesterf het en die oorblywende gesalfdes op die aarde nie deur slawe uitgebeeld is nie, maar deur koring, beeld hierdie slawe die engele uit. Later in die illustrasie word dié wat die onkruid bymekaarmaak, as engele geïdentifiseer.—Matt. 13:39.

^ par. 6 Paragraaf 6: Dit is ’n aanpassing in ons begrip. Ons het voorheen gedink dat Jesus se inspeksie in 1918 plaasgevind het.

^ par. 7 Paragraaf 7: Vanaf 1910 tot 1914 het die Bybelstudente byna 4 000 000 boeke en meer as 200 000 000 traktate en pamflette versprei.

^ par. 14 Paragraaf 14: Dit is ’n aanpassing in ons begrip van Matteus 13:42. Ons publikasies het voorheen gesê dat naamchristene al dekades lank ‘huil en op hulle tande kners’ omdat hulle dit betreur dat “die kinders van die koninkryk” hulle aan die kaak stel as “kinders van die bose” (Matt. 13:38). Dit is egter noemenswaardig dat die gekners van tande met vernietiging verbind word.—Ps. 112:10.

^ par. 16 Paragraaf 16: Daniël 12:3 sê: “Dié wat insig het [gesalfde Christene], sal skyn soos die glans van die uitspansel.” Terwyl hulle nog op die aarde is, doen hulle dit deur aan die predikingswerk deel te neem. Maar Matteus 13:43 dui op die tyd wanneer hulle in die hemelse Koninkryk helder sal skyn. Ons het voorheen gedink dat albei tekste na dieselfde bedrywigheid—die predikingswerk—verwys.