Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?”

“Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?”

“Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—MATT. 24:3.

1. Wat wil ons, soos die apostels, graag weet?

DIE einde van Jesus se bediening op aarde het nader gekom, en sy dissipels wou graag weet wat die toekoms vir hulle inhou. Net ’n paar dae voor sy dood het vier van sy apostels hom dus gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3; Mark. 13:3). Jesus se antwoord word in ’n breedvoerige profesie gevind wat in Matteus hoofstukke 24 en 25 opgeteken is. In hierdie profesie het Jesus talle merkwaardige gebeure voorspel. Sy woorde is vir ons van groot belang omdat ons ook graag wil weet wat die toekoms inhou.

2. (a) Waarvan het ons oor die jare heen ’n duideliker begrip probeer verkry? (b) Watter drie vrae sal ons bespreek?

2 Oor die jare heen het Jehovah se knegte Jesus se profesie oor die laaste dae biddend bestudeer. Hulle het ’n duideliker begrip probeer verkry van wanneer Jesus se woorde vervul sou word. Kom ons kyk na drie vrae om te toon hoe ons begrip duideliker geword het. Wanneer begin die “groot verdrukking”? Wanneer oordeel Jesus “die skape” en “die bokke”? Wanneer “kom” Jesus?—Matt. 24:21; 25:31-33.

WANNEER BEGIN DIE GROOT VERDRUKKING?

3. Wanneer het ons gedink het die groot verdrukking begin?

3 Ons het etlike jare lank gedink dat die groot verdrukking in 1914 begin het toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het en dat “daardie dae . . . verkort is” deur Jehovah toe die oorlog in 1918 geëindig het sodat die oorblyfsel die geleentheid sou hê om die goeie nuus aan alle nasies te verkondig (Matt. 24:21, 22). Nadat hierdie predikingswerk voltooi is, sou Satan se ryk vernietig word. Daar is dus gedink dat die groot verdrukking uit drie fases sou bestaan: Daar sou ’n begin wees (1914-1918), die verdrukking sou onderbreek word (vanaf 1918) en dit sou by Armageddon eindig.

4. Watter insig het gelei tot ’n duideliker begrip van Jesus se profesie oor die laaste dae?

 4 Maar ná verdere ondersoek van Jesus se profesie het ons onderskei dat ’n deel van Jesus se profesie oor die laaste dae twee vervullings het (Matt. 24:4-22). Die eerste vervulling was in die eerste eeu HJ in Judea, en daar sal ’n wêreldwye vervulling in ons dag wees. Hierdie insig het tot etlike aanpassings in ons begrip gelei. *

5. (a) Watter moeilike tydperk het in 1914 begin? (b) Watter tydperk in die eerste eeu HJ stem ooreen met hierdie tydperk van benoudheid?

5 Ons het ook onderskei dat die eerste deel van die groot verdrukking nie in 1914 begin het nie. Waarom nie? Omdat Bybelprofesie toon dat die groot verdrukking nie met ’n oorlog tussen nasies sal begin nie, maar met ’n aanval op valse godsdiens. Die gebeure wat in 1914 plaasgevind het, was dus nie die begin van die groot verdrukking nie, maar die “begin van weë van benoudheid” (Matt. 24:8). Hierdie “weë van benoudheid” stem ooreen met wat in Jerusalem en Judea vanaf 33 HJ tot 66 HJ gebeur het.

6. Watter teken sal die begin van die groot verdrukking aandui?

6 Watter teken sal die begin van die groot verdrukking aandui? Jesus het voorspel: “Wanneer julle dan die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, waarvan daar deur middel van die profeet Daniël gespreek is, in ’n heilige plek sien staan (laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik), laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug” (Matt. 24:15, 16). In die eerste vervulling het “die walglike ding . . . in ’n heilige plek [gestaan]” toe die Romeinse leër (“die walglike ding”) in 66 HJ Jerusalem en sy tempel (’n plek wat deur die Jode as heilig beskou is) aangeval het. In die grotere vervulling sal “die walglike ding . . . in ’n heilige plek . . . staan” wanneer die Verenigde Nasies (die hedendaagse “walglike ding”) die Christendom  (wat deur naamchristene as heilig beskou word) en die res van Babilon die Grote aanval. Dieselfde aanval word in Openbaring 17:16-18 beskryf. Hierdie gebeurtenis sal die begin van die groot verdrukking wees.

7. (a) Hoe is ‘vlees gered’ in die eerste eeu? (b) Wat kan ons verwag sal in die toekoms gebeur?

7 Jesus het ook voorspel dat “daardie dae verkort [sal] word”. In die eerste vervulling het dit in 66 HJ gebeur toe die Romeinse leër sy aanval “verkort” het. Gesalfde Christene in Jerusalem en Judea het toe gevlug, en gevolglik is hulle ‘vlees, of lewe, gered’. (Lees Matteus 24:22; Mal. 3:17.) Wat kan ons dus verwag sal tydens die komende groot verdrukking gebeur? Jehovah sal die Verenigde Nasies se aanval op valse godsdiens “verkort” en nie toelaat dat ware aanbidding saam met die valse vernietig word nie. Dit sal verseker dat God se volk gered word.

8. (a) Watter gebeure sal ná die eerste deel van die groot verdrukking plaasvind? (b) Op watter stadium sal die laaste lid van die 144 000 blykbaar sy hemelse beloning ontvang? (Sien eindnota.)

 8 Wat sal ná die eerste deel van die groot verdrukking plaasvind? Jesus se woorde toon dat daar ’n tydperk sal wees wat tot die begin van Armageddon sal duur. Watter gebeure sal gedurende hierdie tydperk plaasvind? Die antwoord is opgeteken in Esegiël 38:14-16 en Matteus 24:29-31. (Lees.) * Hierna sal Armageddon kom, die klimaks van die groot verdrukking, wat ooreenstem met Jerusalem se vernietiging in 70 HJ (Mal. 4:1). Met die oorlog van Armageddon as sy klimaks sal daardie komende groot verdrukking uniek wees—’n gebeurtenis “soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie” (Matt. 24:21). Wanneer dit verby is, sal Christus se Duisendjarige Heerskappy begin.

9. Watter uitwerking het Jesus se profesie oor die groot verdrukking op Jehovah se volk?

 9 Hierdie profesie oor die groot verdrukking versterk ons. Waarom? Want dit verseker ons dat Jehovah se volk, as ’n groep, uit die groot verdrukking sal kom, ongeag watter ontberinge hulle dalk sal verduur (Op. 7:9, 14). Bowenal is ons bly omdat Jehovah by Armageddon sy soewereiniteit sal regverdig en sy groot naam sal heilig.—Ps. 83:18; Eseg. 38:23.

WANNEER OORDEEL JESUS DIE SKAPE EN DIE BOKKE?

10. Wanneer het ons gedink vind die oordeel van die skape en die bokke plaas?

10 Kom ons bespreek nou wanneer ’n ander deel van Jesus se profesie vervul sal word—die gelykenis waarin die skape en die bokke geoordeel word (Matt. 25:31-46). Ons het voorheen gedink dat mense vanaf 1914 regdeur die laaste dae as skape of bokke geoordeel sou word. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat diegene wat die Koninkryksboodskap verwerp en voor die begin van die groot verdrukking sterf, as bokke sterf—met geen hoop op ’n opstanding nie.

11. Waarom kon die oordeel van mense as skape of bokke nie in 1914 begin het nie?

11 In die middel-1990’s het Die Wagtoring Matteus 25:31 weer ondersoek, wat sê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit.” Daar is gesê dat Jesus in 1914 Koning van God se Koninkryk geword het, maar dat hy nie as Regter van “al die nasies” “op sy glorieryke troon gaan sit” het nie. (Matt. 25:32; vergelyk Daniël 7:13.) Maar die gelykenis van die skape en die bokke beeld Jesus hoofsaaklik as Regter uit. (Lees Matteus 25:31-34, 41, 46.) Aangesien Jesus nog nie in 1914 as Regter van al die nasies opgetree het nie, kon sy oordeel van mense as skape of bokke nie in daardie jaar begin het nie. * Wanneer het Jesus se oordeel dan begin?

12. (a) Wanneer sal Jesus vir die eerste keer as Regter van al die nasies optree? (b) Watter gebeure word in Matteus 24:30, 31 en Matteus 25:31-33, 46 beskryf?

 12 Jesus se profesie oor die laaste dae toon dat hy vir die eerste keer as Regter van al die nasies sal optree nadat valse godsdiens vernietig is. Soos  paragraaf 8 gemeld het, is party van die gebeure wat gedurende daardie tydperk sal plaasvind, in Matteus 24:30, 31 opgeteken. Wanneer jy hierdie verse ondersoek, sal jy oplet dat Jesus hier gebeure voorspel wat soortgelyk is aan dié wat hy in die gelykenis van die skape en die bokke meld. Byvoorbeeld, die Seun van die mens kom in sy heerlikheid en met engele; alle stamme en nasies word versamel; diegene wat as skape geoordeel word, “lig [hulle] kop op” omdat “die ewige lewe” op hulle wag. * Diegene wat as bokke geoordeel word, ‘slaan hulleself in weeklag’ in die besef dat “die ewige vernietiging” op hulle wag.—Matt. 25:31-33, 46.

13. (a) Wanneer sal Jesus mense as skape of bokke oordeel? (b) Hoe beïnvloed hierdie begrip ons beskouing van ons bediening?

13 Tot watter gevolgtrekking kan ons dus kom? Jesus sal mense van al die nasies as skape of bokke oordeel wanneer hy gedurende die groot verdrukking kom. Daarna, by Armageddon, die klimaks van die groot verdrukking, sal die bokagtiges vir ewig ‘vernietig’ word. Hoe beïnvloed hierdie begrip ons beskouing van ons bediening? Dit help ons om te besef hoe belangrik ons predikingswerk is. Totdat die groot verdrukking begin, het mense nog tyd om hulle denke te verander en om op die smal pad “wat na die lewe lei”, te begin wandel (Matt. 7:13, 14). Mense kan nou weliswaar ’n skaapgeaarde of bokagtige gesindheid openbaar. Maar ons moet onthou dat die finale oordeel  van wie skape en wie bokke is, gedurende die groot verdrukking sal plaasvind. Daarom het ons goeie rede om aan te hou om soveel mense moontlik die geleentheid te bied om na die Koninkryksboodskap te luister en daarop te reageer.

Totdat die groot verdrukking begin, het mense nog tyd om hulle denke te verander (Sien paragraaf 13)

WANNEER KOM JESUS?

14, 15. Watter vier tekste verwys na wanneer Christus in die toekoms as Regter kom?

 14 Toon ’n verdere ondersoek van Jesus se profesie dat ’n aanpassing nodig is in ons begrip van wanneer ander belangrike gebeure sal plaasvind? Die profesie gee self die antwoord. Kom ons kyk hoe.

15 In die deel van Jesus se profesie wat in Matteus 24:29–25:46 opgeteken is, vestig hy die aandag hoofsaaklik op wat gedurende hierdie laaste dae en die komende groot verdrukking sal plaasvind. Hier verwys Jesus agt keer na sy ‘koms’, of aankoms. * Hy sê aangaande die groot verdrukking: “Hulle sal die Seun van die mens . . . op die wolke van die hemel sien kom.” “Julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.” “Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.” En in sy gelykenis van die skape en die bokke sê Jesus: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom” (Matt. 24:30, 42, 44; 25:31). Elkeen van hierdie vier verse verwys na wanneer Christus in die toekoms as Regter kom. Waar in Jesus se profesie vind ons die ander vier verwysings?

16. In watter ander tekste word Jesus se koms gemeld?

16 Jesus sê oor die getroue en verstandige slaaf: “Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen.” In die gelykenis van die maagde sê Jesus: “Terwyl hulle gaan koop het, het die bruidegom daar aangekom.” In die gelykenis van die talente vertel Jesus: “Ná ’n lang tyd het die heer van daardie slawe gekom.” In dieselfde gelykenis sê die heer: “By my aankoms sou ek wat myne is, . . . ontvang het” (Matt. 24:46; 25:10, 19, 27). Na watter tydperk verwys Jesus se koms, of aankoms, wat in hierdie vier tekste gemeld word?

17. Wat het ons in die verlede gesê oor die aankoms wat in Matteus 24:46 gemeld word?

17 In die verlede het ons in ons publikasies gesê dat hierdie laaste vier verwysings verband hou met Jesus se aankoms,  of koms, in 1918. Neem as voorbeeld Jesus se woorde oor “die getroue en verstandige slaaf”. (Lees Matteus 24:45-47.) Ons het voorheen gedink dat die “aankoms” wat in vers 46 gemeld word, verband hou met die tyd toe Jesus gekom het om die geestelike toestand van die gesalfdes in 1918 te ondersoek en dat die slaaf in 1919 oor al die Heer se besittings aangestel is (Mal. 3:1). Maar ’n verdere ondersoek van Jesus se profesie dui aan dat ’n aanpassing nodig is in ons begrip van wanneer sekere aspekte van hierdie profesie vervul word. Waarom?

18. Watter slotsom aangaande Jesus se koms bereik ons wanneer ons sy profesie in sy geheel ondersoek?

18 In die verse wat Matteus 24:46 voorafgaan, verwys die woord “kom” deurgaans na die tyd wanneer Jesus tydens die groot verdrukking kom om oordeel uit te spreek en te voltrek (Matt. 24:30, 42, 44). Ons het ook in  paragraaf 12 gesien dat Jesus se ‘koms’ wat in Matteus 25:31 gemeld word, na dieselfde toekomstige tydperk van oordeel verwys. Dit is dus redelik om tot die slotsom te kom dat Jesus se aankoms om die getroue slaaf oor al sy besittings aan te stel, soos gemeld in Matteus 24:46, 47, ook verband hou met sy toekomstige koms gedurende die groot verdrukking. * Trouens, ’n ondersoek van Jesus se profesie in sy geheel maak dit duidelik dat elkeen van hierdie agt verwysings na sy koms betrekking het op die toekomstige tydperk van oordeel gedurende die groot verdrukking.

19. Watter aanpassings in ons begrip het ons bespreek, en watter vrae sal in die volgende artikels beantwoord word?

19 Ter hersiening: Wat het ons geleer? Aan die begin van hierdie artikel het ons drie vrae geopper. Ons het eers bespreek dat die groot verdrukking nie in 1914 begin het nie, maar dat dit sal begin wanneer die Verenigde Nasies Babilon die Grote aanval. Daarna het ons gesien waarom Jesus se oordeel van die skape en die bokke nie in 1914 begin het nie, maar tydens die groot verdrukking sal plaasvind. Laastens het ons gesien waarom Jesus se aankoms om die getroue slaaf oor al sy besittings aan te stel, nie in 1919 plaasgevind het nie, maar gedurende die groot verdrukking sal plaasvind. Die antwoord op al drie vrae hou dus verband met dieselfde toekomstige tydperk—die groot verdrukking. Hoe beïnvloed hierdie aangepaste beskouing ons begrip van die illustrasie van die getroue slaaf? En hoe beïnvloed dit ons begrip van ander gelykenisse, of illustrasies, van Jesus wat gedurende hierdie tyd van die einde vervul word? Hierdie belangrike vrae sal in die volgende artikels bespreek word.

 

^ par. 4 Paragraaf 4: Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1994, bladsye 8-21 en 1 Mei 1999, bladsye 8-20.

^ par. 8 Paragraaf 8: Een van die gebeure wat in hierdie verse gemeld word, is dat die ‘uitverkorenes bymekaargemaak’ word (Matt. 24:31). Dit wil dus voorkom asof al die gesalfdes wat ná die eerste deel van die groot verdrukking nog op die aarde is, die een of ander tyd voordat die oorlog van Armageddon uitbreek, hemel toe geneem sal word. Dit is ’n aanpassing van wat gesê is in “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1990, bladsy 30.

^ par. 11 Paragraaf 11: Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1995, bladsye 18-28.

^ par. 12 Paragraaf 12: Sien die parallelle verslag in Lukas 21:28.

^ par. 15 Paragraaf 15: Die woorde ‘koms’ en “aankoms” is vertalings van verskillende vorme van die Griekse werkwoord er′kho·mai.

^ par. 18 Paragraaf 18: Soos gemeld is, is die Griekse woord wat in Matteus 24:46 as “aankoms” vertaal word, ’n vorm van dieselfde Griekse werkwoord wat in Matteus 24:30, 42, 44 as “kom” vertaal word.