Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Waarom ons lewe werklik sinvol is

Waarom ons lewe werklik sinvol is

TOE my seun Gary in 1958 gebore is, het ek onmiddellik besef dat iets verkeerd is. Maar dit het die dokters tien maande geneem om sy toestand te diagnoseer, en die diagnose is eers vyf jaar later deur spesialiste in Londen bevestig. Hoe hartseer was ek tog toe my dogter Louise, wat nege jaar ná Gary gebore is, simptome getoon het wat baie erger was as syne.

“Al twee van jou kinders het LMBB-sindroom, * en ongelukkig is dit ongeneeslik”, het die dokters met meegevoel vir my gesê. Op daardie stadium was daar min inligting oor hierdie seldsame genetiese siekte. Oor die algemeen sluit die simptome die volgende in: swak sig wat tot blindheid lei, vetsug, ekstra vingers en/of tone, vertraagde ontwikkeling, swak koördinasie, diabetes mellitus, osteoartritis en nierprobleme. Dit sou dus ’n groot uitdaging wees om na my kinders om te sien. Volgens ’n onlangse studie ly ongeveer 1 uit 125 000 mense in Brittanje aan hierdie sindroom, hoewel daar dalk baie meer is wat ’n minder ernstige vorm daarvan het.

JEHOVAH WORD “’N VEILIGE HOOGTE” VIR ONS

Kort nadat ek getroud is, het ek met een van Jehovah se Getuies gepraat, en ek het dadelik geweet dat dit die waarheid is. Maar my man het glad nie belanggestel nie. As gevolg van sy werk, het ons heeltyd getrek, en daarom kon ek nie met ’n gemeente assosieer nie. Ek het nogtans aangehou om die Bybel te lees en tot Jehovah te bid. Hoe vertroostend was dit tog om te lees dat “Jehovah . . . ’n veilige hoogte vir die verbryselde [sal] word, ’n veilige hoogte in tye van benoudheid”, en hy “sal dié wat [hom] soek, beslis nie verlaat nie”!—Ps. 9:9, 10.

Gary het swak sig gehad, en daarom is hy op sesjarige ouderdom na ’n kosskool aan die suidkus van Engeland gestuur sodat hy gespesialiseerde opvoeding kon ontvang. Hy het my gereeld gebel oor dinge wat hom gekwel het, en ek het hom oor die telefoon gehelp om basiese Bybelbeginsels te verstaan. ’n Paar jaar ná Louise se geboorte het ek self siek geword en is ek met veelvuldige sklerose en fibromialgie gediagnoseer. Toe Gary 16 was, het hy van die kosskool af teruggekom huis toe. Maar sy sig was besig om agteruit te gaan, en in 1975 is hy amptelik blind verklaar. In 1977 het my man ons verlaat.

Kort nadat Gary teruggekom het, het ons met ’n liefdevolle gemeente begin assosieer, en ek is in 1974 gedoop. Ek was so dankbaar toe ’n ouer man Gary gehelp het om die fisiese veranderinge te verwerk wat hy gedurende sy tienerjare ondervind het. Ander Getuies het my met takies by die huis gehelp, en die welsyn het uiteindelik vyf susters amptelik as ons versorgers aangestel. Wat ’n seën was dit tog!

Gary het aangehou om goeie vordering in die waarheid te maak en is in 1982 gedoop. Dit was sy hartsbegeerte om hulppionierdiens te doen. Ek het dus besluit om dit saam met hom te doen, en ek het ’n paar jaar daarmee volgehou. My seun was baie gelukkig toe ’n kringopsiener hom ’n ruk later gevra het: “Gary, hoekom word jy nie ’n gewone pionier nie?” Dit was net die aanmoediging wat Gary nodig gehad het, en hy is in 1990 aangestel.

 Gary het twee heupvervangings gehad, die eerste in 1999 en die tweede in 2008, maar Louise se gesondheidsprobleme was baie erger. Sy is heeltemal blind gebore, en toe ek ’n ekstra toon op een van haar voetjies sien, het ek besef dat sy ook LMBB-sindroom het. Ondersoeke het aan die lig gebring dat baie van haar interne organe ook ernstige defekte het. Oor die jare het sy groot operasies gehad, insluitende vyf nieroperasies. Soos Gary, is sy ’n diabeet.

Louise is goed bewus van die probleme wat kan ontstaan wanneer ’n operasie nodig is, en daarom praat sy voor die tyd met die chirurge, die narkotiseurs en die hospitaalbestuur om haar besluite aangaande bloedlose mediese prosedures te verduidelik. Gevolglik het sy ’n goeie verhouding met almal wat haar so mooi met haar fisiese probleme help.

ONS LEWE IS SINVOL

Ons huis is ’n miernes van bedrywigheid, en alles draai om die aanbidding van Jehovah. Voordat daar moderne elektroniese toestelle was, het ek etlike ure daaraan bestee om vir Gary en Louise te lees. Nou maak CD’s, DVD’s en opnames op www.jw.org dit vir ons almal moontlik om ons weeklikse Bybelstudie op verskillende tye te doen, en ons kan ’n betekenisvolle aandeel aan Christelike vergaderinge hê.

Hoe dankbaar is ons tog vir die kosbare waarhede in Jehovah se geïnspireerde Woord!

Gary memoriseer dikwels sy antwoorde, en as hy ’n toespraak op die Teokratiese Bedieningskool het, kan hy dit ekstemporêr voordra. Hy is in 1995 as ’n bedieningskneg aangestel en is altyd besig by die Koninkryksaal; hy verwelkom gemeentelede en help met die klankstelsel.

Mede-Getuies gaan saam met Gary in die bediening uit en stoot dikwels die rystoel wat hy as gevolg van sy artritis moet gebruik. Een Getuie het hom gehelp om ’n Bybelstudie met ’n belangstellende te hou. Gary het ook ’n Christen aangemoedig wat 25 jaar lank onbedrywig was. Albei hierdie persone woon nou die Christelike vergaderinge by.

Op negejarige ouderdom het Louise by haar ouma geleer hoe om te brei, en ek en een van die versorgers het haar geleer hoe om te borduur. Omdat sy dit so geniet om naaldwerk te doen, brei sy kleurvolle kombersies vir babas asook vir die bejaardes in die gemeente. Sy maak ook kaartjies deur klein plakprentjies te gebruik. Vir dié wat dit ontvang, is hierdie kaartjies kosbaar. In haar vroeë tienerjare het Louise geleer hoe om te tik. Nou stuur sy gereeld e-posse aan haar vriende met behulp van ’n teks-na-spraak-rekenaarprogram. Louise is op 17-jarige ouderdom gedoop. Ons geniet dit om tydens spesiale predikingsveldtogte saam hulppionierdiens te doen. Soos Gary, memoriseer Louise tekste sodat sy haar geloof kan uitspreek in God se beloftes van ’n nuwe wêreld waarin “die oë van die blindes geopen [sal] word” en “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jes. 33:24; 35:5.

Hoe dankbaar is ons tog vir die kosbare waarhede in Jehovah se geïnspireerde Woord! Ons harte loop oor van waardering vir die liefdevolle ondersteuning van ons gemeente, want daarsonder sou baie van wat ons doen, nie moontlik gewees het nie. En dit is hoofsaaklik Jehovah se hulp wat dit vir ons moontlik gemaak het om ’n sinvolle lewe te lei.

^ par. 5 Laurence-Moon-Bardet-Biedl-sindroom is vernoem na vier dokters wat hierdie resessiewe genetiese versteuring geïdentifiseer het, wat oorgeërf word wanneer albei ouers die resessiewe geen dra. Vandag word dit oor die algemeen Bardet-Biedl-sindroom genoem. Daar is geen genesing daarvoor nie.