Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 UIT ONS ARGIEF

Hulle het standvastig gebly tydens ’n “uur van beproewing”

Hulle het standvastig gebly tydens ’n “uur van beproewing”

TOE die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het die neutrale standpunt van die Bybelstudente onder die wêreld se aandag gekom (Jes. 2:2-4; Joh. 18:36; Ef. 6:12). Hoe het God se knegte in Brittanje gevaar?

Henry Hudson

Nuwe wetgewing is in 1916 in Brittanje uitgevaardig wat bepaal het dat ongetroude mans tussen 18 en 40 vir militêre diensplig opgeroep moes word. Dit het voorsiening gemaak vir die vrystelling van diegene wat op grond van opreg gehuldigde “godsdiens- of sedelike oortuigings” beswaar aangeteken het. Die regering het tribunale gevorm wat moes bepaal wie vrygestel sou word, en in watter mate.

Binne ’n kort tydjie is sowat 40 Bybelstudente in militêre tronke opgesluit en is 8 na die front in Frankryk gestuur. Hierdie onregverdige behandeling het die broers in Brittanje aangespoor om ’n brief wat protes aangeteken het teen die tronkstraf, tesame met ’n petisie wat deur 5 500 mense onderteken is, te stuur aan die eerste minister, Herbert Asquith.

Toe het die broers die nuus ontvang dat die agt wat Frankryk toe gestuur is, gevonnis is om voor ’n vuurpeleton tereggestel te word omdat hulle geweier het om militêre diens te doen. Maar toe die broers voor die vuurpeleton staan, is hulle vonnis na tien jaar dwangarbeid versag. Hulle is na Engeland teruggestuur om hulle vonnis in siviele tronke uit te dien.

James Frederick Scott

Getroude mans is ook later gedurende die verloop van die oorlog vir militêre diens opgeroep. Henry Hudson, ’n dokter en Bybelstudent, was die aangeklaagde in ’n toetssaak in Manchester, Engeland. Op 3 Augustus 1916 het die hof beslis dat hy versuim om sy verpligtinge na te kom en is hy beboet en aan die weermag oorgelewer. Terselfdertyd is nog ’n toetssaak in Edinburg, Skotland, verhoor. James Frederick Scott, ’n 25-jarige kolporteur, is vrygespreek. Die Kroon het appèl aangeteken, maar het dit laat vaar ten gunste van ’n ander toetssaak in Londen. Hierdie keer is ’n broer met die naam Herbert Kipps skuldig bevind, beboet en aan die weermag oorgelewer.

Teen September 1916 het 264 broers om vrystelling van militêre diens aansoek gedoen. Vyf het vrystelling ontvang, 154 moes “werk van nasionale belang” doen, 23 moes in ’n nievegtende korps dien, 82 is aan die weermag oorgelewer en ’n paar moes voor ’n krygshof verskyn omdat hulle daarvan aangekla is dat hulle bevele verontagsaam het. Die publiek het beswaar gemaak teen die wrede behandeling wat hierdie mans  ontvang het, en daarom het die regering hulle van militêre tronke na siviele werkkampe oorgeplaas.

Pryce Hughes

Edgar Clay en Pryce Hughes, wat later as die takopsiener in Brittanje gedien het, het gewerk aan ’n dam in Wallis. Maar Herbert Senior, een van die agt wat van Frankryk af teruggestuur is, is na Wakefield-tronk in Yorkshire gestuur. Ander het dwangarbeid gedoen onder haglike omstandighede in Dartmoor-tronk, waar hulle die grootste groep gewetensbeswaardes in die land uitgemaak het.

Frank Platt, ’n Bybelstudent wat ingestem het om nievegtende werk te doen, is lank en wreed vervolg toe hy na die front gestuur is. Atkinson Padgett, wat die waarheid geleer het kort nadat hy by die weermag aangesluit het, is ook wreed behandel deur die militêre owerheid omdat hy geweier het om te veg.

Herbert Senior

Hoewel ons broers nie destyds ons neutrale standpunt as Christene ten volle verstaan het nie, het hulle Jehovah probeer behaag. Diegene wat in hierdie verslag by name genoem is, het ’n uitstekende voorbeeld in neutraliteit gestel gedurende ’n baie moeilike “uur van beproewing” (Op. 3:10).—Uit ons argief in Brittanje.