Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie dat enigiets jou verhinder om heerlikheid aan te gryp nie

Moenie dat enigiets jou verhinder om heerlikheid aan te gryp nie

“Hy wat nederig van gees is, sal heerlikheid aangryp.”—SPR. 29:23.

1, 2. (a) Wat is die betekenis van die woorde vir “heerlikheid” in die oorspronklike tale? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “heerlikheid” hoor? Die luisterryke prag van die skepping? (Ps. 19:1). Die lof en heerlikheid wat aan mense met uitsonderlike rykdom, wysheid of prestasies gegee word? In die Skrif dra die woorde vir “heerlikheid” in die oorspronklike tale die gedagte van swaarte oor. In die ou tyd—toe geld van edelmetale gemaak is—het die gewig van ’n muntstuk die waarde daarvan bepaal. Woorde wat gebruik is om die gedagte van gewigtigheid oor te dra, het in figuurlike sin die betekenis aangeneem van iets wat gekoester, luisterryk of indrukwekkend is.

2 Iemand se mag, posisie of reputasie beïndruk ons dalk, maar waarna soek God in mense? Die Skrif praat van ’n heerlikheid wat God aan mense toeken. Byvoorbeeld, Spreuke 22:4 sê: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.” En die dissipel Jakobus het geskryf: “Verneder julle in die oë van Jehovah, en hy sal julle verhef” (Jak. 4:10). Wat is die heerlikheid wat Jehovah aan mense verleen? Wat kan ons verhinder om dit aan te gryp? En hoe kan ons ander help om hierdie heerlikheid aan te gryp?

3-5. Tot watter heerlikheid kan Jehovah ons lei?

3 Die psalmis het die vertroue uitgespreek dat Jehovah sy regterhand sou vat en hom tot ware heerlikheid sou lei. (Lees Psalm 73:23, 24.) Hoe doen Jehovah dit? Jehovah lei sy nederige knegte tot heerlikheid deur hulle op baie maniere te eer. Hy seën hulle met ’n begrip van sy wil (1 Kor. 2:7). Hy gee diegene wat na sy woord luister en hom gehoorsaam, die eer om ’n hegte persoonlike verhouding met hom te hê.—Jak. 4:8.

 4 Jehovah vertrou ook aan sy knegte die glorieryke skat van die Christelike bediening toe (2 Kor. 4:1, 7). En hierdie bediening lei tot heerlikheid. Aan dié wat hulle voorreg van diens gebruik om hom te loof en ander tot voordeel te strek, belowe Jehovah: “Dié wat my eer, sal ek eer” (1 Sam. 2:30). Hierdie persone word geëer met ’n goeie naam by Jehovah, en ander knegte van God sê waarskynlik goeie dinge van hulle.—Spr. 11:16; 22:1.

5 Wat van die toekoms van diegene wat ‘op Jehovah hoop en sy weg hou’? Aan hulle word belowe: “Hy [Jehovah] sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien” (Ps. 37:34). Hulle sien daarna uit om die onvergelyklike eer te hê om die ewige lewe te ontvang.—Ps. 37:29.

“EK NEEM GEEN HEERLIKHEID VAN MENSE AAN NIE”

6, 7. Waarom het baie nie geloof in Jesus gestel nie?

6 Wat kan verhinder dat ons die heerlikheid ontvang wat Jehovah bereid is om aan ons toe te ken? Een faktor is dat ons te veel waarde kan heg aan die opinies van diegene wat nie ’n goeie posisie voor God het nie. Kyk na wat die apostel Johannes oor sekere gesaghebbendes in Jesus se dag geskryf het: “Selfs baie van die heersers [het] geloof in [Jesus] gestel, maar weens die Fariseërs het hulle hom nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie; want hulle het die heerlikheid van mense liewer gehad as selfs die heerlikheid van God” (Joh. 12:42, 43). Hoeveel beter sou dit tog vir daardie heersers gewees het as hulle nie soveel waarde geheg het aan wat die Fariseërs gedink het nie.

7 Vroeër in sy bediening het Jesus duidelik getoon waarom baie hom nie sou ontvang en geloof in hom sou stel nie. (Lees Johannes 5:39-44.) Die nasie Israel het eeue lank gewag op die koms van die Messias. Toe Jesus begin onderrig het, het party mense moontlik op grond van Daniël se profesie besef dat die vasgestelde tyd vir Christus se verskyning aangebreek het. Toe Johannes die Doper maande tevore begin preek het, het baie gesê: “Is hy miskien die Christus?” (Luk. 3:15). Nou was die langverwagte Messias in hulle midde, besig om te onderrig. Maar diegene wat met die Wet vertroud was, het hom nie aanvaar nie. Jesus het gewys op die rede hiervoor toe hy hulle gevra het: “Hoe kan julle glo, wanneer julle heerlikheid van mekaar aanneem en julle nie die heerlikheid soek wat van die enigste God kom nie?”

8, 9. Gebruik die illustrasie van lig en toon hoe menslike heerlikheid goddelike heerlikheid kan verberg.

8 Om te illustreer hoe menslike heerlikheid goddelike heerlikheid kan verberg, kan ons heerlikheid met lig vergelyk. Ons glansryke heelal is uiters glorieryk. Onthou jy wanneer laas jy op ’n helder aand na die hemel opgekyk het en deur duisende sterre omring was? “Die heerlikheid van die sterre” is ontsagwekkend (1 Kor. 15:40, 41). Maar hoe lyk dieselfde hemelruim wanneer jy vanuit die straat van ’n goed verligte stad daarna kyk? Die stadsligte maak dit vir ons byna onmoontlik om die lig te sien wat deur verafgeleë sterre uitgestraal word! Is dit omdat die ligte van die strate, stadions en geboue helderder of mooier is as sterrelig? Nee! Dit is omdat die stadsligte nader aan ons is en inmeng met wat ons van Jehovah se skepping kan waarneem. Om die wonders van die naghemel waar te neem, moet ons die kunsmatige lig op een of ander manier uitskakel of vermy.

9 As die verkeerde soort heerlikheid te na aan ons hart is, kan dit eweneens verhinder dat ons die blywende heerlikheid wat Jehovah bereid is om aan ons toe te ken, waardeer en nastreef. Baie versuim om die Koninkryksboodskap aan te neem  omdat hulle bang is vir wat kennisse of gesinslede moontlik van hulle sal dink. Maar kan die begeerte om heerlikheid van mense te ontvang selfs toegewyde knegte van God raak? Gestel ’n jong man word toegewys om in ’n gebied te preek waar die gemeenskap hom taamlik goed ken, maar waar hy nog nie as een van Jehovah se Getuies bekend is nie. Sal hy uit vrees terugdeins? Of sê nou iemand word bespot omdat hy teokratiese doelwitte nastreef? Sal hy toelaat dat mense sonder helder geestelike insig sy keuses in die lewe beïnvloed? Of dalk het ’n Christen ’n ernstige sonde gepleeg. Sal hy sy oortreding verberg omdat hy bang is dat hy sy aansien in die gemeente sal verloor of omdat hy geliefdes nie wil teleurstel nie? As dit, in die laasgenoemde geval, hoofsaaklik sy begeerte is om sy verhouding met Jehovah te herstel, sal hy ‘die ouer manne van die gemeente roep’ en hulle hulp vra.—Lees Jakobus 5:14-16.

10. (a) Hoe kan oordrewe besorgdheid oor hoe ander ons beskou, ons oordeel vertroebel? (b) Waarvan kan ons verseker wees as ons nederig optree?

10 Gestel ons is besig om tot Christelike volwassenheid te groei, maar ’n medegelowige gee ons raad. Sy eerlike opmerkings kan ons help as ons nie op die verdediging oorgaan weens trots, die begeerte om ons aansien te red of die versoeking om ons handelswyse te regverdig nie. Of gestel jy werk saam met ’n medegelowige aan ’n projek. Sal jou samewerking beïnvloed word deur besorgdheid oor wie die eer vir jou goeie idees en harde werk gaan kry? As jy jou in enige van hierdie situasies bevind, wees dan verseker dat ‘hy wat nederig van gees is, heerlikheid sal aangryp’.—Spr. 29:23.

11. Wat moet ons innerlike reaksie op lof wees, en waarom?

11 Opsieners en diegene wat na so ’n amp streef, moet eweneens oppas dat hulle nie lof by mense soek nie (1 Tim. 3:1; 1 Tess. 2:6). Hoe moet ’n broer reageer wanneer hy opreg geprys word vir ’n taak wat hy goed afgehandel het? Hy sal waarskynlik nie vir hom ’n monument oprig, soos koning Saul gedoen het nie (1 Sam. 15:12). Maar erken hy geredelik dat hy dit slegs danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid kon doen en dat enige hoop op toekomstige sukses nog steeds van God se seën en hulp afhang? (1 Pet. 4:11). Ons innerlike reaksie op lof openbaar watter soort heerlikheid ons soek.—Spr. 27:21.

“JULLE WIL DIE BEGEERTES VAN JULLE VADER DOEN”

12. Wat het verhinder dat sekere Jode na Jesus luister?

12 Nog ’n faktor wat ons kan verhinder om die heerlikheid aan te gryp wat van God kom, is ons begeertes. Verkeerde begeertes kan verhinder dat ons hoegenaamd die waarheid hoor. (Lees Johannes 8:43-47.) Jesus het vir sekere Jode gesê dat hulle nie na sy boodskap luister nie omdat ‘hulle die begeertes van hulle vader die Duiwel wil doen’.

13, 14. (a) Wat sê navorsers oor die manier waarop ons brein menslike spraak verwerk? (b) Wat bepaal na wie ons luister?

13 Wat ons begeer, beïnvloed hoe ons luister (2 Pet. 3:5). Jehovah het ons met die merkwaardige vermoë geskep om ongewenste geraas te ignoreer. Konsentreer vir ’n oomblik op hoeveel verskillende geluide jy nou kan hoor. Jy was waarskynlik ’n oomblik gelede nie bewus van baie van hierdie geluide nie. Die limbiese stelsel van jou brein het jou gehelp om op een ding te konsentreer terwyl dit jou nog steeds in staat stel om ’n verskeidenheid geluide te hoor. Maar navorsers het gevind dat die taak om tegelykertyd tussen baie geluide te onderskei, al hoe moeiliker word wanneer daar na menslike spraak geluister moet word. Dit beteken dat jy, wanneer jy tegelykertyd twee stemme hoor,  moet kies op watter een jy sal konsentreer. Jou keuse sal afhang van na watter een jy wil luister. Die Jode wat die begeertes van hulle vader, die Duiwel, wou doen, het nie na Jesus geluister nie.

14 Ons ontvang boodskappe van ‘die huis van wysheid’ en van ‘die huis van dwaasheid’ (Spr. 9:1-5, 13-17). Wysheid sowel as dwaasheid hou aan om ons as ’t ware toe te roep, en dit bring ons voor ’n keuse te staan. Wie se uitnodiging sal ons aanvaar? Die antwoord hang af van wie se wil ons wil doen. Jesus se skape luister na sy stem en volg hom (Joh. 10:16, 27). Hulle is “aan die kant van die waarheid” (Joh. 18:37). “Hulle [ken] nie die stem van vreemdelinge . . . nie” (Joh. 10:5). Hierdie nederiges gryp heerlikheid aan.—Spr. 3:13, 16; 8:1, 18.

“DIT BETEKEN HEERLIKHEID VIR JULLE”

15. Hoe kon Paulus se verdrukkinge ‘heerlikheid beteken’ vir ander?

15 As ons daarin volhard om Jehovah se wil te doen, help dit ander om heerlikheid aan te gryp. Paulus het aan die gemeente in Efese geskryf: “Ek [vra] julle om nie moed op te gee weens hierdie verdrukkinge van my ten behoewe van julle nie, want dit beteken heerlikheid vir julle” (Ef. 3:13). In watter sin het Paulus se verdrukkinge ‘heerlikheid beteken’ vir die Efesiërs? Paulus se bereidwilligheid om hulle ten spyte van beproewinge te bly dien, het vir die Efesiërs getoon dat die voorregte wat hulle as Christene geniet het, belangrik en van die hoogste denkbare waarde was. As Paulus weens verdrukking moed opgegee het, sou dit dan nie die boodskap oorgedra het dat hulle verhouding met Jehovah, hulle bediening en hulle hoop van geen waarde is nie? Paulus se volharding het die Christelike geloof verhef en getoon dat dissipelskap enige opoffering werd is.

16. Watter verdrukking het Paulus in Listra deurgemaak?

16 Dink aan die uitwerking wat Paulus se ywer en volharding gehad het. Handelinge 14:19, 20 sê: “Daar het . . . Jode van Antiogië en Ikonium aangekom en die skare oorreed, en hulle het Paulus gestenig en hom tot buite die stad [Listra] gesleep, onder die indruk dat hy dood is. Toe die dissipels egter rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en in die stad ingegaan. En die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek.” Stel jou voor: Die een dag is hy vir dood agtergelaat en die volgende dag het hy ’n reis van 100 kilometer afgelê, en dit boonop sonder moderne vervoer!

17, 18. (a) In watter sin het Timoteus moontlik Paulus se lyding in Listra nougeset gevolg? (b) Watter uitwerking het Paulus se volharding op Timoteus gehad?

17 Was Timoteus een van “die dissipels” wat Paulus te hulp gekom het? Die verslag in die boek Handelinge sê nie uitdruklik  so nie, maar dit is moontlik. Kyk na wat Paulus in sy tweede brief aan Timoteus geskryf het: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, . . . die soort dinge wat my oorgekom het in Antiogië [hy is uit die stad verdryf], in Ikonium [die poging om hom te stenig], in Listra [die steniging], die soort vervolginge wat ek verdra het; en tog het die Here my uit hulle almal verlos.”—2 Tim. 3:10, 11; Hand. 13:50; 14:5, 19.

18 Timoteus het hierdie gebeure “nougeset gevolg” en was deeglik bewus van Paulus se volharding. Dit het ’n diep indruk op Timoteus se verstand gemaak. Toe Paulus Listra besoek het, was Timoteus ’n voorbeeldige Christen, wat “gunstig vermeld [is] deur die broers in Listra en Ikonium” (Hand. 16:1, 2). Met verloop van tyd het Timoteus gekwalifiseer om gewigtige verantwoordelikhede te aanvaar.—Fil. 2:19, 20; 1 Tim. 1:3.

19. Watter uitwerking kan ons volharding op ander hê?

19 As ons daarin volhard om God se wil te doen, kan dit ’n soortgelyke uitwerking op ander hê—veral op jongmense, waarvan talle baie waardevolle knegte van God sal word. Jong dissipels neem ons waar en leer spraakhoedanighede en vaardighede by ons wanneer hulle saam met ons in die veldbediening werk, en hulle vind ook daarby baat wanneer hulle sien hoe ons vernederings in die lewe verwerk. Paulus het ‘voortgegaan om alles te verduur’ sodat almal wat tot die einde toe volhard, ‘ook redding kan verkry, tesame met ewige heerlikheid’.—2 Tim. 2:10.

Jongmense waardeer die volharding van bejaarde Christene

20. Waarom moet ons die heerlikheid wat van God kom, bly soek?

20 Moet ons dan nie voortgaan om “die heerlikheid [te] soek wat van die enigste God kom nie”? (Joh. 5:44; 7:18). Beslis! (Lees Romeine 2:6, 7.) Jehovah gee ‘ewige lewe aan dié wat heerlikheid soek’. Wat meer is, ons “volharding in goeie werk” spoor ander aan om standvastig te bly, tot hulle ewige voordeel. Moet dus nie dat enigiets jou verhinder om die heerlikheid wat God gee, aan te gryp nie.