Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ons standpunt as “tydelike inwoners” te handhaaf

Hoe om ons standpunt as “tydelike inwoners” te handhaaf

“Ek vermaan julle as vreemdelinge en tydelike inwoners om julle deurentyd van vleeslike begeertes te onthou.”—1 PET. 2:11.

1, 2. Na wie het Petrus met die woorde “dié wat uitgekies is” verwys, en waarom het hy hulle “tydelike inwoners” genoem?

SOWAT 30 jaar nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het die apostel Petrus ’n brief gerig aan “die tydelike inwoners wat oral in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië verstrooi is, aan dié wat uitgekies is” (1 Pet. 1:1). Dit is duidelik dat Petrus met die woorde “dié wat uitgekies is” verwys het na diegene wat, soos hy, deur heilige gees gesalf is en “’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop” gegee is om met Christus in die hemel te regeer. (Lees 1 Petrus 1:3, 4.) Maar waarom het hy hierdie uitverkorenes daarna “vreemdelinge en tydelike inwoners” genoem? (1 Pet. 2:11). En watter betekenis het dit vandag vir ons, aangesien slegs ongeveer 1 uit elke 650 bedrywige Getuies in die wêreld beweer dat hulle ’n gesalfde uitverkorene is?

2 Die term “tydelike inwoners” kon tereg toegepas word op gesalfdes in die eerste eeu. Soos in die geval van die oorblyfsel van hierdie groep wat vandag lewe, was hulle lewe op die aarde tydelik. Die apostel Paulus, wat self ’n lid van die gesalfde “klein kuddetjie” was, het verduidelik: “Wat ons betref, ons burgerskap bestaan in die hemele, van waar ons ook gretig ’n redder verwag, die Here Jesus Christus” (Luk. 12:32; Fil. 3:20). Aangesien hulle ‘burgerskap in die hemele bestaan’, sal gesalfdes by die dood die aarde verlaat vir iets wat baie beter is, onsterflike lewe in die hemel. (Lees Filippense 1:21-23.) Daar kan dus van hulle gesê word dat hulle in letterlike sin “tydelike inwoners” van die aarde onder Satan se beheer is.

3. Watter vraag ontstaan nou in verband met die “ander skape”?

3 Maar wat van die “ander skape”? (Joh. 10:16). Hulle het ’n hoop wat stewig op die Skrif gegrond  is, naamlik om permanente bewoners van die aarde te wees. Trouens, dit sal vir ewig hulle tuiste wees! Nogtans kan hulle nou ook in sekere sin as tydelike inwoners beskou word. In watter sin?

‘DIE HELE SKEPPING KREUN VOORTDUREND’

4. Wat kan wêreldleiers nie verhoed nie?

4 Solank Satan se goddelose stelsel toegelaat word om te bestaan, sal almal, insluitende Christene, aanhou om die gevolge te ly van Satan se opstand teen Jehovah. Ons lees in Romeine 8:22: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.” Wêreldleiers, wetenskaplikes en weldoeners, ongeag hoe opreg hulle is, is magteloos om dit te verhoed.

5. Watter stap het miljoene sedert 1914 gedoen, en waarom?

5 Sedert 1914 het miljoene dus besluit om gewillige onderdane van God se gekroonde Koning, Christus Jesus, te word. Hulle het geen begeerte om deel van Satan se wêreldstelsel te wees nie. En hulle weier om Satan se wêreld te ondersteun. Hulle gebruik hulle lewens en bates eerder om God se Koninkryk te ondersteun en die belange daarvan te bevorder.—Rom. 14:7, 8.

6. In watter sin kan Jehovah se Getuies vreemdelinge genoem word?

6 Ja, Jehovah se Getuies is wetsgehoorsame burgers in meer as 200 lande, maar ongeag waar hulle woon, hulle is soos vreemdelinge. Hulle handhaaf streng neutraliteit ten opsigte van die politieke en maatskaplike kwessies van die dag. Hulle beskou hulleself selfs nou as burgers van ’n nuwe wêreld, wat God tot stand sal bring. Hulle is verheug om te sien dat hulle dae as tydelike inwoners van ’n onvolmaakte wêreldstelsel vinnig tot ’n einde kom.

Ons probeer nie om Satan se wêreld te red nie. Ons bevorder God se nuwe wêreld

7. Hoe sal knegte van God permanente inwoners word, en waarvan?

7 Christus sal binnekort sy gesag uitoefen om Satan se goddelose stelsel te vernietig. Christus se volmaakte regering sal sonde en droefheid van die aarde verwyder. Dit sal alle sigbare en onsigbare  spore van die opstand teen Jehovah se regmatige soewereiniteit uit die weg ruim. Lojale knegte van God sal permanente inwoners van die aardse Paradys kan word. (Lees Openbaring 21:1-5.) Dan sal die skepping ten volle “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak [wees] en die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê.”—Rom. 8:21.

WAT WORD VAN WARE CHRISTENE VERWAG?

8, 9. Verduidelik wat Petrus bedoel het toe hy gesê het dat Christene hulle “van vleeslike begeertes [moet] onthou”?

8 Petrus verduidelik wat van Christene verwag word en sê: “Geliefdes, ek vermaan julle as vreemdelinge en tydelike inwoners om julle deurentyd van vleeslike begeertes te onthou, wat juis dié is wat ’n stryd teen die siel voer” (1 Pet. 2:11). Daardie raad is eers aan gesalfde Christene gegee, maar vir Jesus se ander skape is dit net so geldig.

9 Party begeertes, wanneer dit bevredig word op die wyse wat deur die Skepper bepaal is, is nie op sigself verkeerd nie. Trouens, dit dra tot die genot van die lewe by. Daar is byvoorbeeld die normale begeertes om lekker te eet en te drink, aan verkwikkende bedrywighede deel te neem en heilsame geselskap te geniet. Selfs die begeerte na seksuele genot met jou huweliksmaat is gepas en het sy plek (1 Kor. 7:3-5). Maar Petrus het die “vleeslike begeertes” waarvan hy gepraat het, tereg beperk tot dié “wat ’n stryd teen die siel voer”. Party Bybelvertalings is meer spesifiek en praat van “vleeslike wellus” (King James Version) of “sondige begeertes” (New International Version). Dit is duidelik dat enige menslike begeerte wat in stryd is met Jehovah se uitgesproke voorneme en wat ’n negatiewe uitwerking op ’n mens se goeie verhouding met God kan hê, in bedwang gehou moet word. So nie kan ’n Christen se hoop om sy siel lewendig te bewaar, in ernstige gevaar gestel word.

10. Wat is ’n paar van die metodes wat Satan gebruik om Christene deel van sy wêreld te maak?

10 Satan se doel is om ware Christene minder vasbeslote te maak om hulle as “tydelike inwoners” van die teenswoordige stelsel te beskou. Die glans van materialisme, die verleidelikheid van onsedelikheid, die bekoring van aansien, die vleiende aanloklikheid van selfbeheptheid en die aantrekkingskrag van nasionalisme—dit alles is strikke van Satan en moet as sodanig geïdentifiseer word. As ons vasbeslote is om hierdie negatiewe vleeslike begeertes te weerstaan, toon ons duidelik dat ons nie deel van Satan se goddelose wêreld wil wees nie. Ons lewer bewys dat ons net tydelik daarin lewe. Wat ons werklik wil hê en ywerig nastreef is om permanente inwoners van God se nuwe wêreld van regverdigheid te wees.

GOEIE GEDRAG

11, 12. Hoe word uitlanders soms beskou, en wat kan van Jehovah se Getuies gesê word?

11 Petrus verduidelik verder wat van Christen- “tydelike inwoners” verwag word en sê in vers 12: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik.” Uitlanders, tydelike inwoners van ’n land wat nie hulle eie is nie, word soms gekritiseer. Bloot omdat hulle van hulle bure verskil, word hulle dalk selfs as kwaaddoeners beskou. Hulle spraak, optrede, kleredrag en selfs hulle voorkoms is moontlik ietwat anders. Maar wanneer hulle goeie werke doen, dit wil sê, wanneer hulle goeie gedrag openbaar, bewys dit dat negatiewe kommentare oor hulle andersheid ongegrond is.

 12 Net so verskil ware Christene in sekere opsigte van baie van hulle bure, soos in hulle gesprekke of hulle keuse van vermaak. Hulle kleredrag en persoonsversorging maak hulle dikwels opvallend anders as die meeste mense in hulle gemeenskap. Hierdie verskille het soms daartoe gelei dat mense wat verkeerd ingelig is, hulle daarvan beskuldig dat hulle as ’t ware kwaaddoeners is. Maar ander prys hulle moontlik vir hulle lewenswyse.

13, 14. Hoe word die wysheid “deur sy werke geregverdig”? Lig toe.

13 Ja, goeie gedrag kan ongegronde kritiek teëwerk. Selfs Jesus, die enigste man wat al ooit volmaakte getrouheid aan God gehandhaaf het, is valslik beskuldig. Party het hom “’n mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars” genoem. Maar in werklikheid het die wyse lewensweg wat hy gevolg het deur God te dien, bewys dat daar geen waarheid gesteek het in die bewerings dat hy ’n kwaaddoener is nie. “Die wysheid word deur sy werke geregverdig”, het Jesus gesê (Matt. 11:19). Dit is vandag ook die geval. Byvoorbeeld, die broers en susters wat dien by die Bethelkompleks in Selters, Duitsland, word deur sommige van hulle bure as vreemd beskou. Maar die plaaslike burgemeester het hulle verdedig en gesê: “Die Getuies wat daar dien, het hulle eie lewenswyse, maar dit ontwrig geensins die lewens van ander in die gemeenskap nie.”

Bybelwaarheid het gehelp om hierdie Russiese gesin te verenig

14 ’n Soortgelyke gevolgtrekking is onlangs bereik in verband met Jehovah se Getuies in Moskou, Rusland. Hulle is valslik van ’n aantal oortredings beskuldig. Toe, in Junie 2010, het die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, Frankryk, beslis: “Die Hof bevind dat [Moskou se] inmenging met die aansoekers se reg op vryheid van aanbidding en assosiasie nie geregverdig was nie. Die plaaslike howe het nie ‘relevante en genoegsame’ redes verstrek om te bewys dat die aansoekende gemeenskap” daarvan skuldig is dat hulle byvoorbeeld gesinne opbreek, selfmoord bevorder of mediese sorg weier nie. “Die straf wat deur die plaaslike howe opgelê is, was uitermate swaar in die lig van die reeds onbuigsame plaaslike wet en was buite verhouding tot watter wetlike oogmerk hulle ook al wou bereik.”

GEPASTE ONDERDANIGHEID

15. Watter Bybelbeginsel volg ware Christene wêreldwyd?

15 Jehovah se Getuies in Moskou—trouens, wêreldwyd—voldoen aan ’n verdere Christelike vereiste waarna Petrus verwys het. Hy het geskryf: “Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike skepping: hetsy aan ’n koning as een wat hoër is of aan goewerneurs” (1 Pet. 2:13, 14). Hoewel ware Christene geen deel van die goddelose wêreld is nie, onderwerp hulle hulle gewilliglik aan regeringsowerhede  “in hulle relatiewe posisies”, net soos Paulus hulle beveel het.—Lees Romeine 13:1, 5-7.

16, 17. (a) Wat bewys dat ons nie die regerings teëstaan nie? (b) Wat het party politieke leiers erken?

16 Wanneer Jehovah se Getuies hulle hulle in die teenswoordige stelsel as “tydelike inwoners” gedra, doen hulle dit nie om stille burgerlike verset aan te teken nie; hulle staan ook nie mense teë wat hulle eie politiese of maatskaplike besluite neem nie en meng nie daarby in nie. In teenstelling met party ander godsdiensgroepe bemoei Jehovah se Getuies hulle nie met die politiek nie. Hulle probeer nooit voorskryf watter beleid burgerlike owerhede moet volg nie. Die idee dat hulle die openbare orde sou probeer versteur of die regering sou probeer ondermyn, is heeltemal ongegrond!

17 Deur staatsamptenare te gehoorsaam in ooreenstemming met Petrus se raad om ‘die koning te eer’, betoon Christene die respek en eer wat hierdie amptenare weens hulle posisies toekom (1 Pet. 2:17). Soms het amptenare al erken dat hulle geen geldige rede het om Jehovah se Getuies te vrees nie. Die Duitse politikus Steffen Reiche, voormalige kabinetsminister van die staat Brandenburg en later ’n lid van die Duitse parlement, het byvoorbeeld gesê: “Die gedrag van Jehovah se Getuies in die kampe en tronke weerspieël deugde wat vandag net so noodsaaklik is vir die bestaan van ’n demokratiese regstaat soos dit in die verlede was: naamlik die ferm standpunt wat hulle teen die SS ingeneem het en die medelye wat hulle aan hulle medegevangenes betoon het. In die lig van die toenemende wreedheid teenoor uitlanders en teenoor persone wat ander politieke of ideologiese oortuigings huldig, is hierdie deugde vir elke burger van ons land onontbeerlik.”

HULLE BETOON LIEFDE

18. (a) Waarom is dit vir ons natuurlik om vir die hele gemeenskap van broers lief te wees? (b) Wat het party mense wat nie Getuies is nie, al opgelet?

18 Die apostel Petrus het geskryf: “Wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God” (1 Pet. 2:17). Jehovah se Getuies het ’n heilsame vrees om God te mishaag, en dit dien vir hulle as verdere aansporing om sy wil te doen. Hulle is bly om Jehovah te dien as deel van ’n wêreldwye gemeenskap van broers en susters wat dieselfde begeerte het. Daarom is dit net natuurlik dat hulle “lief [is] vir die hele gemeenskap van broers”. Mense wat nie Getuies is nie, vind hierdie broederliefde, wat in vandag se selfsugtige wêreld so skaars is, soms verbasend. Byvoorbeeld, ’n toergids wat vir ’n Amerikaanse reisagentskap werk, was verstom toe sy die liefde gesien het wat die Getuies aan die buitelandse afgevaardigdes by ’n internasionale byeenkoms in Duitsland in 2009 betoon het, asook die hulp wat hulle aan hulle verleen het. Sy het gesê dat sy nog nooit so iets gesien het in al die jare wat sy as ’n toergids werk nie. Later het een van die Getuies gesê: “Haar verbasing en entoesiasme kon duidelik gesien word in alles wat sy omtrent ons gesê het.” Het jy al, by ’n byeenkoms wat jy bygewoon het, gesien dat mense wat die Getuies waargeneem het, so reageer?

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen, en waarom?

19 Op al die bogenoemde maniere—en nog baie meer—toon Jehovah se Getuies dat hulle werklik “tydelike inwoners” van Satan se teenswoordige stelsel is. Hulle doen dit vreugdevol en is vasbeslote om so te bly. Hulle het ’n vaste en gegronde hoop dat hulle binnekort permanente inwoners van God se nuwe wêreld van regverdigheid sal word. Sien jy nie daarna uit nie?