Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | IS DIE WÊRELD BUITE BEHEER?

Op soek na antwoorde

Op soek na antwoorde

AS JY angstig of bang is omdat jy so baie slegte nuus hoor, is jy nie alleen nie. Barack Obama het in 2014, toe hy die president van die Verenigde State was, gesê dat baie mense voel “dat die wêreld vinnig draai en niemand dit kan beheer nie” weens al die slegte dinge wat in die nuus verskyn.

Maar kort nadat hy dit gesê het, het hy met entoesiasme gepraat oor huidige strategieë om baie van die wêreld se probleme op te los. Hy het sekere regeringsinisiatiewe “goeie nuus” genoem, en het gesê dat hy “vol hoop” en “uiters positief” is. Met ander woorde, hy het gesê dat ons deur middel van opregte mensepogings die wêreld onder beheer kan bring en ’n wêreldramp kan vermy.

Baie voel net so positief soos hy. Party stel byvoorbeeld hulle vertroue in die wetenskap, en hulle voorspel dat tegnologie wat belowe om die wêreld se probleme op te los, vinnig vooruitgang sal maak. Een kenner op die gebied van digitale tegnologie en ontwikkeling het vol vertroue voorspel dat “ons tegnologie teen 2030 ’n duisend keer beter sal wees en teen 2045 ’n miljoen keer beter”. Hy sê ook: “Ons doen nogal goed. Ons probleme was nog nooit so groot nie, maar nou het ons die vermoë om hulle vinniger op te los as wat hulle opduik.”

Hoe sleg is wêreldtoestande eintlik? Staan ons regtig aan die randjie van ’n groot wêreldramp? Al verkondig sommige wetenskaplikes en politieke leiers ’n boodskap van hoop, voel baie nog steeds onseker oor die toekoms. Hoekom?

WAPENS VIR MASSAVERNIETIGING. Ondanks al die pogings van die Verenigde Nasies en ander organisasies, is kernoorlog nog steeds ’n bedreiging. En opstandige leiers steur hulle nie aan wette oor wapens nie. Lande met ’n geskiedenis van kernwapens is druk besig om hulle ou bomme op te gradeer en om nuwe bomme te maak wat dodeliker is. Lande wat voorheen geen wapens vir massavernietiging besit het nie, het nou die vermoë om ’n baie groot aantal mense uit te wis.

Die feit dat nasies nou meer as ooit tevore gereed is vir kernoorlog, maak die wêreld ’n baie gevaarlike plek, selfs wanneer daar tye van “vrede” is. “Dodelike wapenstelsels wat sonder menslike toesig of leiding besluite kan neem, sou veral kommerwekkend wees”, waarsku die Bulletin of the Atomic Scientists.

 ONS GESONDHEID WORD BEDREIG. Daar is net soveel wat die wetenskap kan doen om ons met ons gesondheid te help. Dinge wat tot siekte bydra, soos hoë bloeddruk, vetsug, lugbesoedeling en dwelmmisbruik, is besig om toe te neem. Meer mense sterf nou aan nie-oordraagbare siektes, soos kanker, hartkwale en diabetes as ooit tevore. Al hoe meer mense ly aan ander siektes, insluitende verstandelike siektes. En ons het in onlangse jare gesien hoe gevaarlike siektes soos die Ebola- en die Zika-virus onverwags uitbreek. Die slotsom: Mense kry dit nie reg om siekte te beheer nie, en dit lyk asof daar geen einde in sig is nie!

DIE MENS SE AANVAL OP DIE NATUUR. Fabrieke hou aan om die aarde se atmosfeer te besoedel. Miljoene mense sterf elke jaar omdat hulle besoedelde lug inasem.

Individue, gemeenskappe en maatskappye wat dienste vir die regering lewer, is nog steeds besig om oseane te besoedel met mediese en landbou-afval, riool, plastiek en ander besoedelende stowwe. “Hierdie gifstowwe vergiftig seediere en plante sowel as die mense wat besoedelde seelewe eet”, sê die Encyclopedia of Marine Science.

Ons varswater raak ook vinnig op. Die Britse wetenskapskrywer Robin McKie gee hierdie gepaste waarskuwing: “Die wêreld word deur ’n waterkrisis in die gesig gestaar wat elke deel van die aarde sal raak.” Politieke leiers erken dat waterskaarste hoofsaaklik ’n mensgemaakte probleem is en dat dit ’n groot bedreiging inhou.

DIE NATUUR SE AANVAL OP DIE MENS. Storms, orkane, tornado’s, tifone en aardbewings veroorsaak vernietigende vloede en grondverskuiwings, asook ander vorme van verwoesting. Daar was nog nooit soveel mense wat weens hierdie natuurkragte gesterf het of wat daardeur skade gely het nie. ’n Studie wat deur die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie gepubliseer is, toon dat daar ’n groot moontlikheid is vir “hewiger storms, dodelike hittegolwe en erger tye van droogtes en vloede”. Sal die natuur die mens uitwis?

Heel moontlik kan jy aan ander dinge dink wat ernstige gevare vir ons oorlewing inhou. Nogtans sal jy nie bevredigende antwoorde oor die toekoms vind deur al die slegte dinge wat vandag gebeur te ondersoek nie. Daar is ook mense wat sê dat die opinies van politieke leiers en wetenskaplikes ook nie bevredigend is nie. Maar soos in die vorige artikel genoem is, het baie mense oortuigende antwoorde gevind op vrae oor wêreldtoestande en die toekoms. Waar kan ons hierdie antwoorde vind?