Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat die Oordeelsdaghorlosie voorspel, sal nie waar word nie, want God belowe ’n wonderlike toekoms vir die mens en die aarde

VOORBLADONDERWERP | IS DIE WÊRELD BUITE BEHEER?

Wat sê die Bybel?

Wat sê die Bybel?

DIE slegte toestand waarin die wêreld vandag is, is baie eeue gelede in die Bybel voorspel. Wat meer is, die Bybel het spesifiek voorspel dat daar ’n wonderlike toekoms vir die mensdom voorlê. Wat die Bybel sê moenie sommer net ligtelik opgeneem word nie. Soveel dinge wat daarin voorspel is, het tot in die fynste detail waar geword.

Kyk byvoorbeeld na die volgende profesieë in die Bybel:

  • “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.”—Matteus 24:7.

  • “Maar weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.”—2 Timoteus 3:1-4.

Hierdie profesieë beskryf ’n wêreld wat party sou sê besig is om hand uit te ruk. In ’n sekere sin is ons wêreld buite beheer—buite die beheer van mense. Volgens die Bybel het mense eenvoudig nie die wysheid en vermoë om ’n permanente oplossing te vind nie. Dit word in die volgende verse beklemtoon:

  • “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood.”—Spreuke 14:12.

  • ‘Die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel.’—Prediker 8:9.

  • “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

As mense aanhou doen net wat hulle wil, sal die mensdom heel moontlik voor ’n wêreldramp te staan kom. Maar dit gaan nie gebeur nie! Hoekom nie? Want die Bybel sê:

  • God “het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie”.—Psalm 104:5.

  • “’n Geslag gaan, en ’n geslag kom; maar die aarde bly tot onbepaalde tyd staan.”—Prediker 1:4.

  • “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

  • “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.

Hierdie Bybelverse gee ons duidelike antwoorde. Die mens sal nie uitsterf weens besoedeling, ’n tekort aan kos en water of ’n siekte wat oor die hele wêreld versprei nie. Die wêreld sal nie deur kernwapens vernietig word nie. Hoekom nie? God is in beheer van die planeet se toekoms. God het mense wel toegelaat om hulle eie besluite te neem, maar hulle sal die gevolge van hulle besluite dra (Galasiërs 6:7). Die wêreld is nie soos ’n wegholtrein wat heeltemal buite beheer is en op ’n ramp afstuur nie. God het perke gestel op hoeveel skade die mens oor homself kan bring.—Psalm 83:18; Hebreërs 4:13.

Maar God sal selfs meer doen. Hy sal sorg dat daar ’n “oorvloed van vrede” is (Psalm 37:11). Die positiewe uitkyk wat in hierdie artikel uitgebeeld word, is net ’n voorsmakie van die wonderlike toekoms waaroor miljoene van Jehovah se Getuies deur ’n studie van die Bybel geleer het.

Jehovah se Getuies is ’n wêreldwye gemeenskap van mans en vrouens wat uit verskillende ouderdomsgroepe en etniese agtergronde kom. Hulle aanbid die enigste ware God. Die Bybel leer dat sy naam Jehovah is. Hulle is nie bang vir wat die toekoms inhou nie, want die Bybel sê: “Só het Jehovah gesê, die Skepper van die hemele, Hy, die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word: ‘Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie.’”—Jesaja 45:18.

Hierdie artikel het kortliks bespreek wat die Bybel sê oor die aarde en die mensdom se toekoms. Vir meer inligting, sien les 5 van die brosjure Goeie nuus wat van God kom! Dit word deur Jehovah se Getuies uitgegee en is beskikbaar op www.jw.org/af

Jy kan ook kyk na die video Hoekom het God die aarde geskep?, beskikbaar op jw.org/af. (Kyk onder PUBLIKASIES > VIDEO’S)