Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die buitengewone narvis

’n Oranje narvis

Die buitengewone narvis

ONS sien min visse so vinnig raak soos die narvis. Dalk hou ons van sy helder kleure, wat ons aan ’n sirkusnar kan laat dink. Of miskien interesseer sy verbasende keuse van ’n tuiste ons—tussen die stekelrige tentakels van ’n see-anemoon. Dit is dus nie verbasend dat ’n narvis ook ’n anemoonvis genoem word nie.

Soos baie Hollywood-akteurs is narvisse nie onwillig om afgeneem te word nie. Duikers en snorkelduikers kan gewoonlik verwag dat narvisse vir foto’s “poseer”, aangesien hulle meestal naby hulle blyplek gevind word en nie eintlik skaam is nie.

Maar wat narvisse eintlik buitengewoon maak, is hulle skynbaar gevaarlike lewenstyl. Om tussen giftige tentakels te woon, lyk dalk asof jy tussen ’n klomp slange nesskop. En tog is narvisse en die anemoon van hulle keuse onafskeidbaar. Hoe is hierdie vreemde vennootskap moontlik en wat maak dit suksesvol?

 ‘EK KAN NIE SONDER JOU LEWE NIE’

’n Narvis met twee strepe

Soos die meeste goeie vennootskappe, vul narvisse en anemone mekaar aan. Hierdie verhouding is nie bloot gerieflik vir die narvis nie—dit is lewensbelangrik. Seebioloë het bevestig dat narvisse nie sonder ’n gasheeranemoon in die natuur kan oorleef nie. Hulle kan nie goed swem nie, en sonder die anemoon se beskerming sou hulle maklike prooi vir honger roofvisse wees. Maar omdat die anemoon ’n veilige tuiste is en beskerming bied wanneer daar gevaar is, kan die narvis tot tien jaar oud word.

Die anemoon is nie net ’n tuiste nie, maar ook ’n veilige broeiplek. Die narvis lê sy eiers onder in die gasheeranemoon, waar albei ouers ’n wakende oog oor hulle hou. Die narvisgesin sal later by daardie selfde anemoon bly.

Hoe bevoordeel hierdie verhouding die anemoon? Die narvis dien as see-lyfwagte en verjaag vlindervisse wat daarvan hou om die anemoon se tentakels te vreet. Daar is ten minste een soort anemoon wat nie sonder ’n inwonende narvis kan leef nie. Toe navorsers die narvisse weggevat het, het die anemone binne 24 uur heeltemal verdwyn. Vlindervisse het hulle blykbaar opgevreet.

Dit lyk asof narvisse selfs hulle gasheer van energie voorsien. Die ammoniak wat deur die narvis afgeskei word, help die gasheeranemoon om te groei. En terwyl die narvis tussen die tentakels swem, help hulle om suurstofryke water te sirkuleer.

SWEM WAAR ANDER DIT NIE WAAG NIE

’n Pienk narvis

Die narvis se vel help in ’n groot mate om hom te beskerm. Daar is slym op sy vel wat keer dat hy gebrand word. Danksy hierdie chemiese laag lyk dit asof die anemoon dink dat die narvis ’n ander anemoon is. ’n Seebioloog het gesê dat die narvis “’n vis in anemoonklere” word.

Party studies gee te kenne dat die narvis deur ’n aanpassingsproses moet gaan wanneer hy ’n nuwe gasheer kies. Daar is al gesien dat die vis, wanneer dit ’n nuwe anemoon kies, ’n paar uur lank elke nou en dan aan die anemoon raak. Blykbaar help dit die narvis om sy beskermende laag by die nuwe anemoon se spesifieke gif aan te pas. Dit is moontlik dat die narvis ’n bietjie gebrand word tydens hierdie proses. Maar daarna kom hulle twee goed oor die weg.

Die samewerking van diere wat so verskillend is, leer ons ’n fassinerende les in spanwerk. Mense uit verskillende kulture en agtergronde kan merkwaardige dinge bereik wanneer hulle saamwerk. Ons het dalk, net soos die narvis, ’n bietjie tyd nodig om te leer hoe om met ander saam te werk. Maar dit is beslis die moeite werd.