Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Versoeking

Versoeking

Gebroke huwelike, swak gesondheid, ’n skuldige gewete—dit is maar net ’n paar van die gevolge as ’n mens voor versoeking swig. Hoe kan ons hierdie strik vermy?

Wat is versoeking?

Jy word versoek wanneer jy iets wil hê waarvan jy hou—veral iets wat verkeerd is. Byvoorbeeld, in ’n winkel sien jy iets baie moois. Jy dink vir ’n oomblik dat jy dit maklik kan steel sonder om gevang te word. Maar jou gewete sê ‘nee’! Jy raak dan ontslae van die gedagte en beweeg aan. Die versoeking is verby en jy het hierdie keer gewen.

WAT DIE BYBEL SÊ

 

As jy versoek word, beteken dit nie dat jy ’n slegte persoon is nie. Die Bybel sê dat ons almal op die een of ander tyd versoek sal word (1 Korintiërs 10:13). Wat regtig saak maak, is hoe ons op die versoeking reageer. Party dink heeltyd aan die verkeerde begeerte en gee dan later in. Ander verwerp dit onmiddellik omdat dit verkeerd is.

“Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word.”—Jakobus 1:14.

Hoekom is dit goed om vinnig op te tree wanneer ons versoek word?

Die Bybel wys vir ons watter stappe tot verkeerde dade lei. Jakobus 1:15 sê: “Wanneer die [verkeerde] begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.” Dink hieraan: ’n Swanger vrou kan nie vir ewig swanger wees nie, kan sy? Op dieselfde manier kan ons nie aanhou dink aan verkeerde begeertes en glo dat niks sal gebeur nie. Ons sal uiteindelik daarvoor swig. Maar tog kan ons keer dat ons slawe van ons verkeerde begeertes word. Ons kan die stryd wen.

HOE DIE BYBEL KAN HELP

 

Net soos ons brein verkeerde begeertes kan versterk, kan dit ook daardie begeertes verwyder. Hoe? Deur op iets anders te konsentreer, byvoorbeeld ’n aktiwiteit, ’n gesprek met ’n vriend of ’n opbouende gedagte (Filippense 4:8). Dit is ook goed om na te dink oor wat die gevolge sal wees as ons voor versoeking swig. Dink aan hoe dit jou emosioneel en fisies kan seermaak of hoe dit jou verhouding met God kan benadeel (Deuteronomium 32:29). Gebed kan ook baie help. Jesus Christus het gesê: “Hou aan . . . bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”—Matteus 26:41.

“Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

 Hoe kan jy jouself teen versoeking versterk?

DIE WERKLIKHEID

 

Sien versoeking vir wat dit regtig is: ’n strik, of aas, wat ’n dwase of onoplettende persoon in gevaar kan stel (Jakobus 1:14). Dit is veral die geval met versoekings wat tot seksuele sondes lei. Dit kan rampspoedige gevolge hê.—Spreuke 7:22, 23.

HOE DIE BYBEL KAN HELP

 

Jesus Christus het gesê: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matteus 5:29). Jesus het dit natuurlik nie letterlik bedoel nie! Hy het eerder bedoel dat ons as’t ware ons liggaamsdele moet doodmaak ten opsigte van sonde. Dan sal ons God se hart bly maak en die ewige lewe kry (Kolossense 3:5). Dit beteken dalk dat ons doelbewus ons rug moet draai op ’n versoeking. “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie”, het ’n getroue man van God gebid.—Psalm 119:37.

Dit is natuurlik nie maklik om selfbeheersing aan die dag te lê nie, want “die vlees is swak” (Matteus 26:41). Dit beteken dat ons foute sal maak. Maar as ons regtig jammer is en hard probeer om nie ’n gewoonte van ons foute te maak nie, sal ons Skepper, Jehovah God, “barmhartig en genadig” teenoor ons wees (Psalm 103:8). Is dit nie gerusstellend om te weet nie?

“As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?”—Psalm 130:3.