Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Doen jy dalk te veel?

Doen jy dalk te veel?

Voel dit vir jou asof jy te besig is? Wel, jy is nie die enigste een wat so voel nie. “Almal lyk deesdae so gejaagd”, sê die tydskrif The Economist.

VOLGENS ’n opname wat in 2015 in agt lande gedoen is, het baie voltydse werkers gesê dat dit vir hulle moeilik is om hulle werk en gesinslewe te balanseer. Meer verantwoordelikhede by die werk en by die huis, stygende lewenskoste en langer werksure is van die redes daarvoor. Byvoorbeeld, in die Verenigde State spandeer voltydse werkers gemiddeld 47 uur per week by die werk. En byna 1 uit 5 het gesê dat hulle 60 uur of langer per week werk!

In nog ’n opname, wat in 36 lande gedoen is, het meer as ’n kwart van die deelnemers gesê dat hulle baie keer selfs in hulle vrye tyd gejaagd voel! Kinders wat met te veel ekstra aktiwiteite oorlaai word, kan ook so voel.

As ons heeltyd probeer om meer te doen as waarvoor ons tyd het, kan dit stres veroorsaak en ons heeltemal oorweldig. Maar is dit moontlik om ’n meer gebalanseerde lewe te lei? Watter rol speel ons keuses, doelwitte en dit wat ons glo? Kom ons kyk eers na vier redes waarom party mense te veel probeer doen:

1 DIE BEGEERTE OM GOED VIR JOU GESIN TE SORG

“Ek het sewe dae van die week gewerk”, sê ’n pa met die naam Gary. “Ek het dit gedoen omdat ek altyd die beste vir my kinders wou hê. Ek wou vir hulle die dinge gee wat ek nooit gehad het nie.” Al bedoel ouers goed, moet hulle seker maak dat hulle prioriteite reg is. Party studies wys dat volwassenes en kinders wat nie te veel waarde aan geld en materiële dinge heg nie, gelukkiger is as dié wat te veel waarde daaraan heg. Hulle is ook gesonder en meer tevrede met die lewe.

Kinders word beroof van ware geluk as hulle grootgemaak word met die idee dat besittings die belangrikste is

Party ouers probeer om hulle kinders ’n beter toekoms te gee en oorlaai hulle kinders se rooster met allerhande aktiwiteite. Dit maak dat die ouers ook net so besig is en dat die hele gesin dan daaronder ly.

2 BAIE GLO ‘MEER IS BETER’

Adverteerders probeer ons oortuig dat ons nie sonder die nuutste produkte kan klaarkom nie. The Economist sê: “Omdat daar nou soveel is om van te kies, sukkel mense om [met die bietjie tyd wat hulle het] te besluit wat om te koop, te kyk of te eet.”

In 1930 het ’n bekende ekonoom voorspel dat vooruitgang in die tegnologie werkers meer vrye tyd sou gee. Hoe verkeerd was hy tog! Elizabeth Kolbert, wat vir die New Yorker skryf, sê: “Pleks van vroeg huis toe te gaan, vind mense al hoe meer goed wat hulle wil hê.” En hierdie goed kos tyd en geld.

3 WANNEER ONS PROBEER OM ANDER TEVREDE TE STEL

Party werk lang ure om hulle baas gelukkig te hou. Die mense wat saam met jou werk, kan jou ook skuldig laat voel as jy nie tot laat wil werk nie. En dan is daar ook finansiële onsekerheid. Dit veroorsaak dat mense bereid is om langer ure te werk of enige tyd werk toe te gaan as hulle ingeroep word.

Ouers kan dalk ook voel dat hulle moet byhou by die besige rooster van ander gesinne. As hulle dit nie doen nie, voel dit dalk asof hulle hulle kinders van iets “beroof”.

4 DIE STREWE NA STATUS EN EIEWAARDE

Tim, wat in die Verenigde State woon, sê oor sy werk: “Ek was mal daaroor, en ek het sonder ophou gewerk. Ek het gedink dat ek myself moes bewys.”

Baie voel net soos Tim. Hulle glo dat daar ’n sterk verband is tussen hoe besig jy is en hoe jy oor jouself voel. Met watter gevolg? “Hoe besiger jy is, hoe belangriker lyk jy. Dit gee jou sosiale status”, sê Elizabeth Kolbert, wat vroeër aangehaal is.

LEER OM GEBALANSEERD TE WEES

Die Bybel moedig ons aan om ywerig te wees en hard te werk (Spreuke 13:4). Maar dit sê ook dat ons ’n balans moet hê. “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind”, sê Prediker 4:6.

’n Gebalanseerde lewe is goed vir ons verstand en ons liggaam. Maar is dit regtig moontlik om minder te doen as jy soveel dinge moet inpas? Ja. Hier is vier voorstelle:

1 STEL DUIDELIKE WAARDES EN DOELWITTE

Dit is normaal om genoeg geld te wil hê om van te lewe. Maar hoeveel geld is genoeg? En hoe meet jy sukses? Bloot aan hoeveel geld jy verdien of hoeveel besittings jy het? Hou ook in gedagte dat te veel rus of ontspanning ’n groot deel van ons kosbare tyd kan opneem en dan meer stres kan veroorsaak.

Tim, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek en my vrou het ernstig oor ons lewe gaan sit en dink. Daarom het ons besluit om af te skaal. Ons het ’n lysie gemaak van ons huidige situasie en ons nuwe doelwitte. Ons het gepraat oor die gevolge van besluite wat ons in die verlede gemaak het en wat ons moet doen om ons doelwitte te bereik.”

2 HOU BESITTINGS OP HULLE PLEK

Die Bybel sê dat ons “die begeerte van die oë” moet beheer (1 Johannes 2:15-17). Advertensies kan soos olie op ’n vuur wees. Dit kan hierdie begeertes versterk en maak dat mense lang ure werk of dat hulle met ontspanning oorboord gaan of baie geld daaraan spandeer. Jy kan natuurlik nie alle advertensies vermy nie, maar jy kan blootstelling daaraan beperk. Jy kan ook leer om te onderskei tussen wat jy wil hê en wat jy regtig nodig het.

Onthou, die mense met wie jy assosieer, kan ook ’n invloed op jou hê. As hulle materiële dinge najaag of as hulle sukses aan materiële besittings meet, sal dit dalk goed wees as jy vriende soek wat beter prioriteite het. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê die Bybel.—Spreuke 13:20.

3 HOU WERK OP SY PLEK

Praat met jou werkgewer oor jou werk en jou prioriteite. En moenie skuldig voel omdat jy ’n lewe buite jou werk het nie. Die boek Work to Live sê: “Diegene wat ’n lyn trek tussen hulle werk en hulle lewe by die huis, of mense wat verlof neem, besef een ding: Die wêreld sal nie vergaan as jy nie by die werk is nie.”

Gary, wat vroeër aangehaal is, het genoeg geld verdien om ’n gemaklike lewe te lei, en het toe besluit om minder ure te werk. Hy het gesê: “Ek het met my gesin gesels en voorgestel dat ons afskaal. Ons het toe geleidelik begin om dit te doen. Ek het ook met my werkgewer gaan praat en gevra of ek minder dae per week kon werk, en hy het ingestem.”

4 MAAK TYD SAAM MET JOU GESIN ’N PRIORITEIT

Egpare moet tyd saam spandeer, en kinders het tyd saam met hulle ouers nodig. Moenie probeer om alles te doen wat julle sien ander gesinne doen nie. Gary stel voor: “Maak tyd om net ’n bietjie te rus en los die goed wat nie so belangrik is nie.”

Wanneer julle almal bymekaar is, moet julle nie toelaat dat die televisie, selfone of ander toestelle julle van mekaar afsonder nie. Eet ten minste een keer per dag saam, en gebruik hierdie tyd om as ’n gesin met mekaar te gesels. Wanneer ouers hierdie eenvoudige raad toepas, is hulle kinders gelukkiger en doen hulle beter op skool.

Gebruik maaltye om as ’n gesin met mekaar te gesels

Laastens, vra jou af: ‘Wat wil ek uit die lewe hê? Wat wil ek vir my gesin hê?’ As jy ’n gelukkige en ’n betekenisvolle lewe wil hê, moet jy prioriteite stel wat op die wysheid van die Bybel gebaseer is.