Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | LAAT JOU GEWOONTES VIR JOU WERK

2 Beheer jou omgewing

2 Beheer jou omgewing
  • Jy het besluit om gesonder te eet, maar daardie bak roomys roep heeltyd jou naam.

  • Jy het besluit om op te hou rook, maar jou vriend—wat weet dat jy probeer ophou—bied weer vir jou ’n sigaret aan.

  • Jy wou vandag gaan oefen, maar net die gedagte dat jy in jou kas na jou hardloopskoene moet soek, klink na te veel werk!

Kan jy sien wat hierdie scenario’s in gemeen het? Ondervinding het keer op keer getoon dat ons omgewing—die situasies waarin ons onsself plaas en die mense met wie ons tyd deurbring—’n uitwerking het op hoe suksesvol ons daarin is om goeie gewoontes aan te leer en slegte gewoontes af te leer.

BYBELBEGINSEL: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.”Spreuke 22:3.

Die Bybel spoor ons aan om vooruit te dink. As ons dit doen, kan ons situasies vermy wat dit moeilik kan maak om ons doelwitte te bereik en kan ons dus onsself in beter situasies plaas (2 Timoteus 2:22). Kortom, dit is verstandig om in beheer van ons omgewing te wees.

Maak dit moeiliker om die verkeerde ding te doen en makliker om die regte ding te doen

WAT JY KAN DOEN

  • Maak dit moeiliker om die verkeerde ding te doen. As jy byvoorbeeld wil ophou om gemorskos te eet, moet jy probeer om nie kos in jou kombuis te hou wat jy weet nie goed is vir jou nie. Dan, wanneer jy in die versoeking kom, sal dit makliker wees om dit te weerstaan as om daarvoor te swig.

  • Maak dit makliker om die regte ding te doen. As jy byvoorbeeld beplan om vroeg in die oggend te oefen, moet jy jou oefenklere al die vorige aand regsit. Hoe makliker dit is om aan die gang te kom, hoe waarskynliker is dit dat jy sal doen wat jy beplan het.

  • Kies jou vriende versigtig. Ons is geneig om soos die mense te word met wie ons tyd deurbring (1 Korintiërs 15:33). Beperk dus jou kontak met mense wat gewoontes bevorder wat jy probeer afleer, en kies vriende wat jou aanspoor om goeie gewoontes aan te leer.