Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gesinslewe en vriendskappe

Gesinslewe en vriendskappe

Baie mense vind dit moeilik om hulle verhoudings met hulle familie en vriende sterk te hou. Kom ons kyk na van die Bybel se raad wat ons kan help om ons verhoudings met ander te verbeter.

WEES ONSELFSUGTIG

WAT DIE BYBEL SÊ: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” – Filippense 2:4.

WAT DIT BETEKEN: Ons sal goeie verhoudings met ander hê as ons fokus op wat ons kan gee, eerder as op wat ons kan ontvang. As jy net aan jouself dink, kan jy jou verhoudings met ander benadeel. Byvoorbeeld, as ’n huweliksmaat selfsugtig is, sal dit dalk vir hom of haar makliker wees om sy of haar maat te verneuk. Mense wil ook nie vriende wees met iemand wat altyd spog oor wat hy besit of wat hy weet nie. Die boek The Road to Character sê dat mense wat net vir hulleself omgee en nooit aan ander mense dink nie, baie probleme sal hê.

WAT JY KAN DOEN:

  • Help ander. Goeie vriende vertrou mekaar en weet dat hulle op mekaar kan staatmaak. Party studies het bewys dat mense wat ander help, minder geneig is om aan depressie te ly en dat hulle meer selfvertroue het.

  • Betoon meegevoel. Om meegevoel te betoon, beteken dat jy iemand anders se pyn in jou hart voel. As jy iemand se pyn in jou hart voel, sal jy waarskynlik nie sarkasties wees nie; dit wil sê, jy sal nie dinge as ’n grap sê wat bedoel is om iemand se gevoelens seer te maak nie.

    As jy meegevoel betoon, sal jy beter met ander oor die weg kom, want meegevoel kan jou help om nie teen ander te diskrimineer nie en ook om vriende te maak met mense uit verskillende agtergronde en kulture.

  • Maak tyd vir ander. Hoe meer tyd jy met ander spandeer, hoe beter sal jy hulle leer ken. Jy moet betekenisvolle gesprekke met ander hê as jy ware vriende wil maak. Daarom moet jy ’n goeie luisteraar wees. Wys dat jy belangstel in die dinge wat vir jou vriende belangrik is. ’n Onlangse studie het gewys dat “diep gesprekke mense eintlik gelukkiger kan maak”.

KIES GOEIE VRIENDE

WAT DIE BYBEL SÊ: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” – 1 Korintiërs 15:33.

WAT DIT BETEKEN: Die mense met wie jy assosieer, sal ’n goeie of ’n slegte invloed op jou hê. Sosioloë stem saam dat jou vriende jou in verskillende aspekte van jou lewe kan beïnvloed. Hulle sê byvoorbeeld dat die kanse groter is dat jy sal begin rook of sal skei as jy assosieer met mense wat dit doen.

WAT JY KAN DOEN: Kies vriende wat eienskappe en waardes het wat jy bewonder en wat jy ook wil hê. Jy kan byvoorbeeld assosieer met mense wat taktvol, respekvol, vrygewig en gasvry is.

NOG RAAD UIT DIE BYBEL

Kyk Bybelvideo’s wat egpare, tieners en jong kinders kan help om hulle gesinslewe te verbeter

MOENIE DINGE SÊ WAT ANDER KAN SEERMAAK NIE.

“Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke.” – SPREUKE 12:18.

WEES VRYGEWIG.

“Mense wat ’n ander iets gun [of gee], het self altyd oorvloed.” – SPREUKE 11:25, Nuwe Lewende Vertaling.

BEHANDEL ANDER SOOS JY BEHANDEL WIL WORD.

“Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.” – MATTEUS 7:12.