Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LES 3

Hoe om uithouvermoë te ontwikkel

Hoe om uithouvermoë te ontwikkel

WAT IS UITHOUVERMOË?

Iemand met uithouvermoë laat nie toe dat struikelblokke en teleurstellings hom onderkry nie. Dit neem tyd om uithouvermoë te ontwikkel. Net soos ’n kind nie kan leer om te loop sonder om soms te val nie, kan hy ook nie leer hoe om suksesvol in die lewe te wees sonder om nou en dan te misluk nie.

HOEKOM IS UITHOUVERMOË BELANGRIK?

Party kinders raak mismoedig as hulle iets nie kan regkry nie, moeilike tye ondervind of gekritiseer word. Ander gooi eenvoudig tou op. Maar hulle moet die volgende besef:

  • ’n Mens kan nie in alles suksesvol wees nie. – Jakobus 3:2.

  • Almal sal die een of ander tyd deur moeilike tye gaan. – Prediker 9:11.

  • ’n Mens moet nou en dan reggehelp word sodat jy kan leer. – Spreuke 9:9.

Uithouvermoë sal jou kind help om moed te hê wanneer hy voor probleme in die lewe te staan kom.

LEER JOU KIND OM UITHOUVERMOË TE ONTWIKKEL

Wanneer jou kind iets nie regkry nie.

BYBELBEGINSEL: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.” – Spreuke 24:16.

Help jou kind om die regte beskouing te hê. Wat sal hy byvoorbeeld doen as hy ’n toets op skool druip? Dalk sal hy moed opgee en sê: “Ek kan niks reg doen nie!”

Leer hom om uithouvermoë te ontwikkel deur hom te help om te sien wat hy kan doen om te verbeter. Dan sal hy die probleem aanpak en nie toelaat dat dit hom onderkry nie.

Maar moenie die probleem vir jou kind probeer oplos nie. Help hom eerder om ’n manier te vind om dit self op te los. Jy kan hom vra: “Wat kan jy doen om hierdie deel van jou skoolwerk beter te verstaan?”

Wanneer jou kind moeilike tye ondervind.

BYBELBEGINSEL: ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie.’ – Jakobus 4:14.

 Die lewe is onvoorspelbaar. Iemand wat vandag ryk is, kan môre arm wees. En iemand wat vandag gesond is, kan môre siek wees. Die Bybel sê dat “die vinniges nie die wedloop het nie en die sterkes ook nie die geveg nie, . . . want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal”. – Prediker 9:11.

As ’n ouer doen jy natuurlik wat jy kan om jou kind teen gevaar te beskerm. Maar dit is nie moontlik om jou kind teen elke probleem in die lewe te beskerm nie.

Jou kind is dalk nog nie oud genoeg om sy werk te verloor of finansiële probleme te hê nie. Maar jy kan hom help om deur ander moeilike tye te kom – soos wanneer hy ’n vriendskap verloor of wanneer ’n familielid sterf. *

Wanneer jou kind opbouende kritiek ontvang.

BYBELBEGINSEL: “Luister na raad . . . , sodat jy in jou toekoms wys kan word.” – Spreuke 19:20.

Jou kind moenie dink dat hy geboelie word as hy opbouende kritiek ontvang nie. Dit is raad wat hom sal help om verkeerde gedrag of ’n verkeerde gesindheid reg te stel.

As jy jou kind leer om raad te aanvaar, sal dit julle albei baie hartseer spaar. ’n Pa met die naam John sê: “As jy jou kinders altyd uit die moeilikheid help, sal hulle nooit leer nie. Hulle sal die een probleem ná die ander hê, en jy sal die res van jou lewe vure moet doodslaan wat hulle veroorsaak. Dit maak die lewe moeilik vir die ouers en die kind.”

Hoe kan jy jou kind help om baat te vind by opbouende kritiek? Wanneer jou kind opbouende kritiek ontvang – by die skool of op enige ander plek – moet jy nie gou wees om te sê dat dit onregverdig is nie. Vra hom eerder:

  • “Hoekom dink jy het jy hierdie raad ontvang?”

  • “Hoe kan jy verbeter?”

  • “Wat sal jy doen as jy weer in so ’n situasie is?”

Onthou, opbouende kritiek sal jou kind help, nie net nou nie, maar ook wanneer hy ’n volwassene is.

^ par. 21 Sien die artikel “Help jou kind om droefheid te verwerk” in Die Wagtoring van 1 Julie 2008.