Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Klein hartjies met groot hartseer

Klein hartjies met groot hartseer

Is jy hartseer omdat iemand in jou familie gesterf het? Wat kan jou help om daardeur te kom? Kom ons kyk hoe die Bybel drie jongmense hiermee gehelp het.

DAMI SÊ

Dami

Aan die begin het my pa net ’n hoofpyn gehad. Maar toe sy pyn erger raak, het my ma die ambulans gebel. Ek onthou nog hoe hulle hom weggevat het. Ek het nie besef dat dit die laaste keer sou wees wat ek hom sou sien nie. My pa het drie dae later gesterf omdat ’n aar in sy brein gebars het. Ek was maar net ses jaar oud.

Ek het vir jare gedink dis my skuld dat hy dood is. Ek het oor en oor gedink aan daardie dag toe die ambulans hom wegvat en myself gevra: ‘Hoekom het ek net daar gestaan? Hoekom het ek hom nie gehelp nie?’ As ek ander se siek oumas en oupas gesien het, het ek gewonder: ‘Hoekom is hulle nog lewendig maar nie my pa nie?’ My ma het my oor die jare gehelp om te praat oor hoe ek voel. En omdat ons Jehovah se Getuies is, het ons baie broers en susters gehad wat daar was vir ons.

Party mense glo dat jy net vir ’n kort rukkie baie hartseer is en dan sal jy beter voel. Maar dit was nie so met my nie. Dit het my eers gevang toe ek ’n tiener geword het.

As ek ander jongmense wat hulle ma of pa verloor het, kon raad gee, sou ek sê: “Praat met iemand oor hoe jy voel. Dit kan gevaarlik wees as jy al jou emosies inhou.”

Dis vir my baie hartseer dat my pa nie daar is om spesiale oomblikke met ons te deel nie. Maar die Bybel se belofte in Openbaring 21:4 vertroos my. Dit sê: ‘God sal elke traan van ons oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.’

DERRICK SÊ

Derrick

Ek sal nooit vergeet hoe lekker dit was om saam met my pa te gaan visvang en in die berge te gaan kamp nie. Hy was so lief vir die berge.

My pa het vir ’n hele ruk probleme met sy hart gehad. Ek was baie klein, maar ek onthou nog hoe ons een of twee keer vir hom in die hospitaal gaan kuier het. Ek het toe nog nie verstaan hoe ernstig sy siekte was nie. My pa is aan hartsiekte oorlede toe ek nege jaar oud was.

Ná sy dood het ek aanmekaar gehuil. Dit het gevoel asof ek nie kon asemhaal nie, en ek wou met niemand praat nie. Ek was nog nooit so hartseer nie en ek het vir niks meer lus gevoel nie. My kerk se jeuggroep het aan die begin belanggestel, maar dit het nie lank gehou nie. Die mense daar het dinge gesê soos: “Dit was jou pa se tyd” of “God het hom kom haal” of “Hy’s nou in die hemel”.  Sulke woorde het my glad nie beter laat voel nie en het net meer vrae laat opkom. Ek het toe nog nie geweet wat die Bybel regtig hieroor sê nie.

My ma het later die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer, en ná ’n ruk het ek en my broer ook begin. Ons het geleer dat my pa nou rus, asof hy in ’n diep slaap is, en dat hy eendag sal opstaan en weer sal lewe, soos God belowe (Johannes 5:28, 29). Maar die Bybelvers wat my die meeste gehelp het, was Jesaja 41:10 waar God sê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.” Net die gedagte dat Jehovah my hand vashou, het my regtig beter laat voel toe ek hartseer was, en dit help my nog steeds.

JEANNIE SÊ

Jeannie

Toe ek sewe jaar oud was, is my ma aan kanker dood. Daardie hele dag het soos ’n slegte droom gevoel. Ek onthou dat sy by die huis gesterf het en dat my ouma en oupa daar was. Almal was so kalm. Ek onthou dat ons eiers geëet het vir aandete. Dit het vir my gevoel asof my hele lewe stadig uitmekaar val.

Ek het vir jare gedink dat ek sterk moet wees omdat ek ’n klein sussie gehad het. Dit het natuurlik beteken dat ek my gevoelens weggesteek het. Ek is nog steeds geneig om dit te doen as ek seerkry. Ek weet dit is nie goed vir my nie.

Ek onthou nog die liefde en ondersteuning van Jehovah se Getuies. Al het ons nog nie baie vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon nie, het die broers en susters vir ons gesorg asof ons al jare lank familie is. Vir amper ’n jaar het hulle vir ons aandete gebring en was dit nie vir my pa nodig om te kook nie.

Een teks wat vir my uitstaan, is Psalm 25:16, 17. Die skrywer van hierdie woorde smeek God: “Keer u aangesig na my en betoon guns aan my; want ek is eensaam en geteisterd. Die benoudhede van my hart het vermeerder; lei my tog uit my angste.” Dit help my baie om te weet dat mens nooit regtig alleen is wanneer jy hartseer is nie. God is altyd daar vir jou. Die Bybel het my gehelp om aan te gaan met my lewe en op positiewe dinge te fokus, soos die wonderlike belofte van die opstanding. Ek weet dat ek my ma weer gaan sien. Op die paradysaarde gaan ek haar beter leer ken. En sy sal nooit weer siek word nie.—2 Petrus 3:13.

Die Bybel het ’n boodskap van hoop vir almal wat hartseer is oor die dood van iemand vir wie hulle lief was. Om meer oor hierdie hoop te leer, laai die brosjure “Wanneer ’n geliefde sterf” af. Gaan na www.jw.org/af, en kyk onder PUBLIKASIES > BOEKE & BROSJURES.