Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE PAD VAN GELUK

Wees tevrede en vrygewig

Wees tevrede en vrygewig

HET JY AL GEHOOR HOE MENSE GELUK EN SUKSES MEET AAN HOEVEEL GELD EN BESITTINGS HULLE HET? Omdat miljoene mense glo dat geld hulle gelukkig kan maak, werk hulle hulle morsdood om meer geld te maak. Maar kan geld en besittings jou regtig gelukkig maak? Kom ons vind uit.

Volgens die Journal of Happiness Studies sal iemand wat klaar alles het wat nodig is, nie juis gelukkiger wees as hy meer geld kry nie. Maar geld is nie die probleem nie. ’n Artikel in die tydskrif Monitor on Psychology sê dat dit “’n mens ongelukkig kan maak as jy daarop fokus om geld te maak”. Hierdie woorde gaan hand aan hand met wat die Bybel leer. Die Bybel het amper 2 000 jaar terug gesê: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, . . . het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:9, 10). Wat is van hierdie pyne?

STRES EN SLAPELOSE NAGTE OMDAT GELD EN BESITTINGS BESKERM MOET WORD. “Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie.” — Prediker 5:12.

TELEURSTELLING OMDAT JY NIE SO GELUKKIG IS SOOS WAT JY VERWAG HET NIE. Deel van die probleem is dat ’n mens nooit sal voel dat jy genoeg geld het nie. “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie” (Prediker 5:10). Hierdie liefde vir geld kan jou ook wegneem van belangrike dinge wat jou wel gelukkig kan maak, soos om tyd met familie en vriende te spandeer of om besig te wees met diens aan God.

HARTSEER EN FRUSTRASIE OMDAT GELD OF BELEGGINGS WAARDE VERLOOR. “Moenie swoeg om rykdom te verwerf nie. Laat staan jou eie begrip. Het jy jou oë daaroor laat gaan, terwyl dit niks is nie? Want vir seker maak dit vir hom vlerke soos dié van ’n arend en vlieg dit weg.” — Spreuke 23:4, 5.

WAT MOET JY DOEN OM GELUKKIG TE WEES?

WEES TEVREDE. “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:7, 8). Mense wat tevrede is, kerm en kla gewoonlik nie. Hulle word ook nie maklik jaloers nie. En omdat hulle nie meer koop as wat hulle kan bekostig nie, help dit hulle om nie onnodig bekommerd te wees en te stres nie.

WEES VRYGEWIG. “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Vrygewige mense is gelukkig omdat hulle daarvan hou om ander gelukkig te maak, al kan hulle net ’n bietjie van hulle tyd en energie gee. Hulle kry gewoonlik iets wat geld nie kan koop nie: liefde, respek en ware vriende wat ook vrygewig is! — Lukas 6:38.

ONTHOU DAT MENSE BELANGRIKER IS AS GELD. “’n Bak groente waar daar liefde is, is beter as ’n vetgemaakte bul en haat daarby” (Spreuke 15:17). Wat beteken dit? Liefdevolle vriendskappe is beter as baie geld. En soos ons later sal sien, het ons liefde nodig om gelukkig te wees.

Sabina, ’n vrou in Suid-Amerika, het besef hoe waardevol die Bybel is. Nadat haar man haar gelos het, het Sabina gesukkel om vir haar en haar twee dogters te sorg. Sy het twee werke gehad en moes elke oggend 4 uur opstaan. Alhoewel Sabina verskriklik besig was, het sy besluit om die Bybel te studeer. Het dit haar gehelp?

Sy het nie skielik meer geld gemaak nie. Maar haar uitkyk op die lewe het baie verander! Byvoorbeeld, sy is nou gelukkig omdat sy ’n vriend van God geword het (Matteus 5:3). Sy het ook ware vriende gevind, vriende wat God saam met haar dien. En omdat sy graag vir ander vertel van wat sy geleer het, het sy self gesien hoe gelukkig dit jou kan maak om te gee.

As ons wyse besluite maak, sal die resultate altyd goed wees. Daarom sê die Bybel: “Wysheid word deur sy werke [of, resultate] geregverdig” (Matteus 11:19). As ons dan tevrede en vrygewig is en mense eerste stel, wys ons dat ons op die regte pad is — die pad van geluk!