Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 IS DIT ONTWERP?

Die bergduiwel se vogabsorberende vel

Die bergduiwel se vogabsorberende vel

DIE Australiese bergduiwel (Moloch horridus) neem water op uit mis, vog en nat sand. Dan loop die water in kanaaltjies na sy bek sodat hy dit kan drink. Hoe? Die antwoord lê moontlik in die akkedis se wonderlike vel.

Groewe op die veloppervlak is verbind met ’n netwerk van kanale onder die vel waarin water na die kante van die bergduiwel se bek loop

Dink hieraan: Die bergduiwel se vel is met skilde bedek. Party wetenskaplikes dink dat vog of dou wat op die skilde versamel, op die growwe oppervlak van die vel afloop en in ’n netwerk van halfoop kanale, of groewe, tussen die skilde invloei. Hierdie kanale is met mekaar verbind en loop na die kante van die bergduiwel se bek.

Maar hoe oorkom hierdie akkedis swaartekrag deur water op trek—vanaf sy bene, oor sy liggaam en tot in sy bek? En hoe neem die bergduiwel vog van nat oppervlakke op deur sy maag daarteen te vryf?

Navorsers het blykbaar die bergduiwel se geheim opgelos. Die kanale op die veloppervlak is deur middel van buisies aan nog ’n netwerk van kanale onder die akkedis se vel verbind. Die struktuur van hierdie kanale maak kapillêre werking moontlik—’n verskynsel waar water selfs teen swaartekrag in nou spasies opgetrek word. Die akkedis se vel tree dus soos ’n spons op.

Janine Benyus, die president van die Instituut vir Biomimikrie, sê dat tegnologie wat vogabsorbering naboots, ingenieurs kan help om ’n stelsel te ontwerp wat vog uit die lug verwyder om geboue doeltreffender af te koel en ook om drinkwater te verkry.

Wat dink jy? Het die vogabsorberende vel van die bergduiwel deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?