Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Al-Khwarizmi

Al-Khwarizmi

WANNEER mense hulle weeg of die koste van hulle kruideniersware bereken, gebruik baie van hulle Hindoe-Arabiese syfers. Waarom “Hindoe-Arabies”? Die grondslag van die moderne getallestelsel wat die syfers nul tot nege gebruik, het blykbaar in Indië ontstaan en is deur Middeleeuse geleerdes wat Arabies geskryf het, na die Weste gebring. Die vernaamste onder hulle was ’n man met die naam Muhammad ibn-Musa al-Khwarizmi. Hy is omstreeks 780 HJ gebore, waarskynlik in wat nou Oesbekistan is, en word die “groot held van Arabiese wiskunde” genoem. Waarom word al-Khwarizmi so genoem?

“HELD VAN ARABIESE WISKUNDE”

Al-Khwarizmi het oor die praktiese gebruik van desimale breuke geskryf en het ook ’n metode om sekere wiskundige probleme op te los, uiteengesit en gewild gemaak. Hy het die metode in sy boek oor herstel en balansering, Kitab al-jabr wa’l-muqabal, verduidelik. Die Arabiese woord al-jabr in die titel is die bron van die woord algebra. Algebra, sê die wetenskapskrywer Ehsan Masood, word beskou as “die allerbelangrikste wiskundige hulpmiddel wat nog ooit ontwikkel is, ’n hulpmiddel wat in elke faset van die wetenskap gebruik word”. *

“Tallose geslagte hoërskoolleerders wens dat [al-Khwarizmi] liewer nie die moeite gedoen het nie”, sê een skrywer grappenderwys. Hoe dit ook al sy, al-Khwarizmi het gesê dat dit sy oogmerk is om metodes uiteen te sit om berekeninge te vereenvoudig in die handel, die verdeling van erflatings, landmeting, ensovoorts.

Eeue later het Westerse wiskundiges, insluitende Galileo en Fibonacci, hoë agting vir al-Khwarizmi gehad weens sy goeie verduidelikings in verband met die gebruik van vergelykings. Al-Khwarizmi se beskrywings het die weg gebaan vir verdere studies in algebra, rekenkunde en trigonometrie. Laasgenoemde het Midde-Oosterse geleerdes in staat gestel om waardes vir hoeke en sye van driehoeke te bereken en om studies in die sterrekunde te bevorder. *

Algebra: “Die allerbelangrikste wiskundige hulpmiddel wat nog ooit ontwikkel is”

Diegene wat voortgebou het op al-Khwarizmi se werk, het nuwe maniere gevind om desimale breuke te gebruik en het nuwe tegnieke ontwikkel om oppervlakte en volume te bereken. Midde-Oosterse argitekte en bouers het hierdie gevorderde metodes gebruik lank voor hulle Westerse eweknieë, wat gedurende die Kruistogte daarvan geleer het. Hulle het later hierdie kennis in hulle tuisland bekend gemaak, met die hulp van geleerde Moslemgevangenes en -immigrante.

ARABIESE WISKUNDE VERSPREI

Later is al-Khwarizmi se werk in Latyn vertaal. Daar word algemeen aanvaar dat die Italiaanse wiskundige Fibonacci (ca. 1170-1250), ook bekend as Leonardo van Pisa, Hindoe-Arabiese syfers in die Weste gewild gemaak het. Hy het daarvan geleer gedurende sy reise in die Middellandse See-gebied en daarna sy boek oor berekeninge, Liber Abaci, geskryf.

Dit het eeue geneem voordat Al-Khwarizmi se verduidelikings welbekend geword het. Maar nou is sy metodes en die wiskunde wat daarmee verband hou, die lewensaar van die wetenskap en tegnologie, om nie te praat van die handel en nywerheid nie.

^ par. 5 In moderne algebra word onbekende syfers deur letters voorgestel, soos x of y. ’n Voorbeeld is die vergelyking x + 4 = 6. As jy 4 van albei kante van die vergelyking aftrek, toon dit dat x gelyk is aan 2. 

^ par. 7 Griekse sterrekundiges het baanbrekerswerk gedoen in die berekening van die sye en hoeke van driehoeke. Islamitiese geleerdes het trigonometrie gebruik om die rigting van Mekka te bepaal. Moslems wil met hulle gesig in die rigting van Mekka bid. Volgens tradisie moet die dooies met hulle gesig in die rigting van Mekka begrawe word en moet Moslemslagters met hulle gesig in die rigting van Mekka staan wanneer hulle diere slag.